DE LA REY (9)

Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by

De la Rey

NOOITGEDACHT

OP ’n aand kamp die De la Rey-kommando weer op hul ou terrein in ’n moot aan die westelike helling van die Magaliesberge uit.

Die burgers is opgewek en plesierig, ten spyte van die vermoeienis wat hulle die afgelope weke moes verduur en oral word opgewek gelag en gepraat...

Eenkant, by ’n eensame vuurtjie, sit Rudolf Naude. Hoewel hy ook gelukkig voel dat hulle nou weer, na soveel weke se vermoeide vlug en inspanning, rus kon vind, bly ’n voorgevoel van onrus en onsekerheid in sy gemoed nalewe.

Hy sit diep in gedagte versonke langs sy vuurtjie waarop hy besig is om koffiewater te kook. Rudolf merk nie die lang, leniggeboude man wat in die donkerte na sy vuurtjie aangestap kom nie.

 

“Is jy Rudolf Naudé ... ?”

Rudolf skrik toe die stem skielik vlakby hom praat, maar as hy merk wie dit is, kom hy verbouereerd orent en salueer. Dis een van genl. De la Rey se luitenante.

“Ja, Luitenant...” antwoord hy.

“Die Generaal wil jou sien,” sê die kêrel vriendelik, “jy kan sommer nou saam met my kom ...”

Sonder aarseling stap Rudolf saam met die luitenant in die rigting van die General se tent.

“Gaan maar binne,” se die luitenant as hulle by die tent kom, “die Generaal is binne...”

Rudolf gaan binne. In gedagte verdiep sit die Generaal met ’n aantal rapporte voor hom op die tafel oopgesprei. Hy merk Rudolf nie dadelik as hy binnekom nie.

“Naand, Generaal...”

Die Generaal kyk effens versteurd op, maar onmiddellik verander die trek op sy gesig tot een van vriendelikheid as hy Rudolf merk.

“O, jy, Naudé... sit... sit ’n oomblikkie, asseblief...”

Nog ’n rukkie is die Generaal besig met die bestudering van die rapporte voor hom voordat hy sy aandag aan Rudolf wy.

“Kyk, Naudé,” se hy eindelik, “ek het jou laat roep omdat ek ernstige dinge met jou te bespreek het...” Hy kyk Rudolf ’n oomblik met sy deurvorsende oë aan voordat hy vervolg: “Uit rapporte wat ek ontvang het, blyk dit dat die Engelse, Clements se magte, weer in sterk getalle hier iewers aan die saamtrek is — blykbaar met die doel om ons te omsingel. Dog waar hulle presies saamtrek, weet ek nie. Dis juis dit wat ek wil hê jy moet gaan uitvind. Kies vir jou ’n paar van die betroubaarste kêrels uit en spring more vroeg, douvoordag, weg. Bespied die wêreld noukeurig en probeer die Engelse se bewegings uitvind.”

“Goed, Generaal, ek sal my bes doen...”

Douvoordag die volgende oggend ry Rudolf en sy twee maats van die laer af weg. Die omgewing is nog in die skemerte van die nanag gehul en alles om hulle slaap nog.

As hulle reeds myle ver weg, heeltemal aan die noordwestelike kant van die berghange is, kom die son eindelik op. Vroeg in die dag begin die son skroei en teen elfuur se kant is dit so warm dat die verkenners dit nouliks in hul saals kan uithou.

By ’n naburige fonteintjie, in ’n bosbegroeide kloof, klim hulle af en laat hul perde suip. Hulle rus ook self’n oomblikkie in die koelte om hul verhitte liggame ’n bietjie af te koel.

Vanuit hul skuilplek kan hulle ver oor die vlaktes en vleie voor hulle uitsien. Rudolf bring sy verkyker ongeêrg aan sy oë en bespied die wêreld voor hom ’n oomblik noukeurig. Daar is geen teken van lewe op die uitgestrekte grasvlaktes voor hom nie.

Skielik merk hy iets wat sy belangstelling dadelik gaande maak: Ver onder teen die hang van ’n rysige bultjie sien hy drie swart stippeltjies wat stadig in hul rigting beweeg. Hy vestig sy maats se aandag hierop en nou hou hulle aldrie die swart stippeltjies dop.

“Ek kan nie uitmaak wat dit is nie,” se Gert van Buren, een van die kêrels, met ’n toon van ongeduld in sy stem, “ek sou graag wou weet of dit mense en of dit bokke of skape is...”

“Hulle is nog bietjie te ver om presies vas te stel,” sê Rudolf afsydig, “ons sal wel nou-nou kan uitmaak wat dit is, want hulle kom in ons rigting ...”

Die drie stippeltjies het nou skielik in ’n vlei aan die voet van die berg weggeraak, dog na ’n rukkie kom hulle weer, veel nader aan die Boere, teen die duskantse helling te voorskyn.

“Dis mense; sonder twyfel,” laat Van Buren weer opgewonde hoor. “Maar wat sal dit wees: Engelse of Boere ...?”

“Dis ... vroue ...!”

Riekert, wat tot dusver niks gesê het nie, kan nou self nie sy opgewondenheid beteuel nie. “Kyk hulle het kappies op en bont rokke aan ...”

“Magtig, ja, ek dink jy is reg,” beaam Rudolf sy woorde; “dis gedoriewaar vroue ... Ek wonder wat hulle hierheen dryf...”

Sonder verdere aarseling bestyg die drie verkenners nou hul perde en ry die vroue tegemoet. Van veraf kan hulle sien dat dit Boervroue is.

“En waar is die reis so haastig heen, Niggies?” vra Rudolf, as hulle nog ver aankom.

“Ons vlug vir die Engelse, neef,” se die een vrou: “Hulle het hier naby kamp opgeslaan op die plaas Nooitgedacht...”

“So....!” Rudolf luister verbaas na die vrou se verhaal. Sy hart klop skielik wild. Dit moet natuurlik die laer van Clements wees wat daar kamp geslaan het; juis die man na wie hy op soek is.

“Ja,” gaan die vrou voort, “vroeër vanmiddag het ’n aantal offisiere onverwags by ons op die plaas aangekom. Ons het groot geskrik, want jy weet, neef, ons is gewoond om te vlug as ons hoor dat die Engelse kom... Hulle het hulself egter goed gedra en ons met rus gelaat...”

“Waarheen is die Engelse toe ...?”

Rudolf se stem klink nou gretig en opgewonde.

“Hulle het gesê dat hulle eers na Rustenburg gaan om die garnisoen daar te gaan uitbetaal; dan sou hulle terugkom om De la Rey te kom vang... Hierop het ek aan hulle gesê: 'Julle moet oppas, De la Rey is hier naby en sal julle vang ...’ Hulle het lekker gelag en gesê: ‘De la Rey kan maar kom, ons is nie vir horn bang nie...’”

“Later die middag het die hooflaer van die Engelse op die plaas aangekom en daar kamp geslaan... Ons het dit toe raadsaam geag om gisteraand die wyk te neem, want ons was bang dat die soldate ons later sou molesteer ...”

“En waarheen is jul reis nou ... ?”

“Ons wil oor die berg probeer kom na my suster se plek aan die anderkant,” antwoord die vrou met ’n moeë sug. “Dit is nou te gevaarlik om op die plaas te bly... maar ons is al so uitgeput van die stap in die warm son dat ons dit byna nie meer kan uithou nie...”

“Dink julle nie dis beter dat julle vanaand liewer by genl. De la Rey se laer oorbly nie?” vra Rudolf met kenbare meegevoel in sy stem, “dis bietjie gevaarlik vir vroue om so alleen hier deur die woesteny te stap; vernaamlik met die oog op die talryke swart spioene wat hier in die omgewing is ...”

“Is die De la Rey-laer ver hiervandaan ... ?”

“Seker ’n paar uur te perd ... Maar as julle nie omgee nie en aangesien julle reeds so uitgeput is, kan ons julle gou met die perde wegbring tot daar naby ...”

“Ons sal baie dankbaar wees, neef,” sê die vrou waarderend:

“Dis darem bietjie kwaai vir ’n vrou om soveel myl aaneen in die warm son af te stap ...”

Die drie verkenners laai elkeen ’n vrou voor op hul saals en ry met hulle terug op die pad waarlangs hulle vroeër die oggend gekom het.

Dit gaan nou op ’n stywe galop, want Rudolf is haastig om terug te keer en die Engelse se bewegings te gaan bespied.

Etlike myle verder weg op die rug van ’n suidwaarts uitlopende hang van die berg laai hulle die vroue af.

“Daar is die laer uitgekamp,” se Rudolf terwyl hy in ’n suidwestelike rigting dui, “daar is die moot wat skuinsaf na die vlakte loop... Julle kan enkele van die tente tussen die doringbosse sien as julle stip kyk...”

“Dankie, neef... Hartlik dankie vir al jul vriendelikheid...”

Rudolf en sy twee maats ry haastig terug. Hulle weet nou presies waar die Engelse laer uitgekamp is en wil geen gras onder hul voete laat groei om die posisie tot in die fynste besonderhede te gaan verken nie.

Vroeg die namiddag bevind hulle hul in die onmiddellike nabyheid van die Engelse. Vanuit hul skuilplek, in ’n bosbegroeide lopie teen die hang van die berg, kan elke beweging in die kom onmiddellik onderkant die berg noukeurig gevolg word.

Dis ’n geweldige Engelse laer wat daar saamgetrek is; blykbaar die hooflaer van Clements. Die soldate beweeg in die laer rond, rustig en op hul gemak, niksvermoedend van enige gevaar wat in hul nabyheid mag skuil nie.

Die drie verkenners neem die posisie van die Engelse onderkant hulle noukeurig op: Die sterkte van die magte wat op verskillende punte saamgetrek is, die ligging van die gebied met die oog op ’n aanval wat die Boere op hulle kan onderneem.

Dié nag kon Rudolf ’n noukeurig uitgewerkte verslag in verband met Clements se posisie aan die voet van die Magaliesberge in die rigting van Rustenburg aan die Generaal verstrek.

Die Generaal, wat lank reeds van plan was om die Engelse aan te val en nog net op die rapporte van sy ander verkenners gewag het, tref nou die laaste voorbereidings. Rapporte word onmiddellik aan genl. Beyers, wat op daardie oomblik met sy kommando agter die berg in die Bosveld was, asook aan kmdt. Potgieter gestuur. Eersgenoemde moes die volgende nag van die berg se kant af aanval, terwyl laasgenoemde met sy magte by genl. De la Rey moes aansluit, wat van die vlakte se kant af die aanval op die Engelse sou loods.

Die volgende middag was die kommando in slagorde opgestel. Teen sononder se kant word opgesaal. Elke burger word aangesê om genoeg voer vir sy perd saam te neem, want hulle sou die nag digby die Engelse laer afsaal.

Die opmars in die donkerte teen die berg uit, vorder moeilik en langsaam. Elke keer raak ’n burger van sy kommandantskap verdwaal en dan is dit ’n gesukkel van die ander wêreld om weer reg te kom.

Later die nag maak die kommando tussen hoë bloekombome op ’n naburige plaas halt om ’n bietjie te blaas. Die burgers gaan oral rondlê om ’n paar oomblikke slaap te probeer kry. Middemag blaas die fluit weer vir opsaal. Nou gaan dit tussen rante en spruite deur in die rigting van die vyandelike laer.

Eindelik is die Boere digby die vyand. Nou word krygsraad gehou. Die verskillende kommandantskappe word vir die aanval uitgestel.

Genl. De la Rey gee opdrag aan genl. Smuts en kmdt. Boshoff om ’n ronde kop na die suide en die slote ten weste van die kop in besit te neem; kmdt. Potgieter word aangesê om met sy kommando die slote tussen die berg en die kop te beset en genl. De la Rey self tree op die linkervleuel uit om die rantjies ten weste met die artillerie te neem.

Die verskillende kommando’s kom in beweging om stelling in te neem. Terwyl hulle optrek, merk Rudolf, wat moeilikheid met sy perd gehad het en op die agterpunt van die kommando volg, skielik dat ’n kêrel te perd na horn aangery kom:

“Wie se mense klim in die kop ... ?” vra die kêrel as hy sy perd by Rudolf inhou.

“Ek dink dis genl. Smuts s’n,” antwoord Rudolf.

“Nee,” sê die kêrel, skynbaar ontsteld, “kmdt. Potgieter se mense moet in die kop wees ...”

“Maar genl. De la Rey se uitdruklike bevel was dat kmdt. Potgieter se mense die moot tussen die berg en kop in besit moes neem,” hou Rudolf vol.

“Maar kmdt. Potgieter het die moot sowel as die kop in besit,” antwoord die kêrel, “dis ’n misverstand...”

Een van die ander kêrels wat die gesprek tussen Rudolf en die vreemdeling aangehoor het, ry dadelik die nek uit om aan genl. Smuts, wat intussen sy burgers in die aangewese rigting laat stelling inneem het, mee te deel wat hy vemeem het.

Hierop trek genl. Smuts sy magte terug uit hul oorspronklike posisies en laat hulle stelling in ’n sloot omtrent seshonderd tree ten suidweste van die kop inneem.

Toe dit lig word en genl. Beyers se Boere op die berg begin skiet, sien die Boere tot hul verbasing hoe die Engelse met twee lang spanne diere twee kanonne die kop uitsleep.

Dadelik word genl. De la Rey van die gebeure in kennis gestel.

“Daar is verraad gepleeg,” se die Generaal bitter toe hy verneem wat gebeur het, “my uitdruklike bevel was dat genl. Smuts en kmdt. Boshoff die kop in besitmoes neem: kmdt. Potgieter se mense moes stelling in die slote ten weste van die kop inneem...”

Die moot was dus nou nog vry en oop vir die Engelse om deur uit te vlug.

Intussen het die geveg reeds losgebars. Van alle kante bestook die Boere nou die laer: genl. Beyers van die berg se kant af; genl. De la Rey en sy aanvoerders van die vlakte af.

Die Engelse ly ontsettende verliese onder die hewige dwarsvuur van die Boere. In ’n warboel word die vyand uitmekaar gejaag.

Skielik begin die verbysterde Engelse deur die moot, die enigste onbeleërde uitgang vanuit die gevegstoneel, verwilderd die wyk te neem.

’n Afdeling Boere kruip in ’n sloot op om die vlugtende vyand in die nek voor te keer. Dit geluk hulle om heelparty Engelse in die vlug dood te skiet, dog onder die vernietigende gevolg van kanon- en kleingeweervuur moes hulle terugval.

’n Paar oomblikke later val genl. Beyers se manne skielik van die berg se kant af die Engelse laer binne en nou vlug die soldate in ’n ontsettende warboel deur die oop nek. Die Boere laat die vlugtendes maar begaan. Hulle het oorgenoeg buit gemaak en hulle ’n afdoende harde hou toegedien.

In die geveg self is enige honderde Engelse doodgeskiet en verwond, teenoor ’n geringe aantal Boere en die buit wat die Boere aan kosvoorrade en toerusting gemaak het, was groot.

Ook die Engelse aanvoerder, genl. Clements, het sy been in die slag verloor.