DUITSE WESIES (12)

KEURDER ARRIVEER IN LONDEN

(Lees vorige aflewerings onder Duitse weeskinders 1948 )

Werner (Shellack) van der Merwe

Met Schalk Botha, keurder en organiseerder, se aankoms in Londen op 29 April 1948 het dr Kriek, wie aangebied het om die Fonds gratis met die mediese keuring van die kinders behulpsaam te wees, by hom aangesluit. Die eerste taak wat die twee mans onderneem het was om aansoek te doen vir toegangspermitte tot Duitsland. Hulle is deur die Military Permit Officer meegedeel dat dit ongeveer tien dae sou neem om die permitte gereed te kry. Mnr Chitty van die Foreign Office het Botha in kennis gestel dat hy vir hom en dr Kriek die nodige vervoer- en verblyfreëlings in Duitsland sou tref. In die Britse sone sou mev M Wagstaff, hoof van die Public Health Branch in Bad Rothenfelde, Botha se kontakpersoon wees.

Alle reëlings het vlot verloop. Daar was egter nog redelike onsekerheid oor die wetlike aspekte van die aanneming van Duitse kinders. Mev Wagstaff het egter uit Bad Rothenfelde vir Chitty laat weet dat sy met die Suid-Afrikaanse militêre verteenwoordiger in Berlyn, majoor-genl Armstrong, in verbinding was en dat hy haar meegedeel het dat daar geen regsbesware teen die aanneming bestaan nie.

Suid-Afrikaners was dus in 'n gunstiger posisie as Britse burgers aangesien die Britse wet dit uitdruklik verbied het dat Britse onderdane Duitse kinders aanneem. Hoewel een van die belangrikste stuikelblokke dus uit die weg geruim is was daar nogtans onsekerheid oor wat die Duitse wet bepaal het.

Op 7 Mei 1948 het Botha aan sy vrou geskryf: " Dit is 'n groot en spannende werk om al die permitte en betaalmiddele te bekom om na Duitsland te kan gaan." Hy was egter optimisties dat sake teen 10 Mei gereed sou wees. Die permit vir die Britse sone was weliswaar op 10 Mei gereed maar nie die een vir die Amerikaanse sone nie. Omdat Botha moeg gewag was het hy besluit om dadelik na die Britse sone te vertrek en daar verder reëlings te tref vir toegang tot die Amerikaanse sone.

Op 11 Mei het Botha en Kriek met 'n Britse militêre vliegtuig in Duitsland, Buckeberg, aangekom vanwaar hulle verder met 'n Britse motor na Bad Rothenfelde geneem is om mev Wagstaff te ontmoet.

Die eerste reeks samesprekings met mev Wag staff was bemoedigend maar toe Botha met die Duitsers begin onderhandel het sake geensins so rooskleurig gelyk nie. Die twee Protestanste predikant, Diehl en Suhr, met wie Botha in Bielefeldgesels het, het hom meegedeel dat dit moeilik sou wees om 100 weeskinders te verkry aangesien Botha omstrent 18 maande te laat in Duitsland aangekom het.  In daardie stadium was die meeste weeskinders reeds in pleegsorg geplaas. Boonop het die twee predikante Botha daarop gewys dat dit vir die Duitsers van die allergrootste belang was om hul kinders vir die Duitse volk te behou. Gevolglik was hulle maar bra pessimisties dat die Duitsers oorreed sou kon word om hul kinders vir aanneming vry te stel. Pastoor Diehl het egter onderneem om die Hulpwerk van die Protestantse Kerke weer te vra om vas te stel of daar nie wel kinders vir aanneming beskikbaar was nie. Botha en Kriek was nie baie gelukkig met die uitslag van die samesprekings nie en daarom het Botha besluit dat hulle persoonlik die Britse sone moes deurkruis en na geskikte kinders soek.

Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland deur die geallieerdes in besettingsones verdeel. Brittanje het die noordwestelike deel van die vroeëre Duitse Ryk ontvang. Hierdie gebied het ongeveer 27% van die land se totale oppervlakte bestaan en met 'n inwonertal van nagenoeg 22,3 miljoen was dit tegelyk ook die digbevolkste streek van Duitsland. Die Ruhr, industriële slagaar van Duitsland, was onder andere deel van die Britse sone. Die Britte en die Amerikaners het besluit om hul sones in 'n federale staat te omskep en vir hierdie doel het hulle in 1946 reeds tot die stigting van afsonderlike federale state oorgegaan waaronder Schleswig-Holstein. In die Britse sones is vier state met beperkte plaaslike selfbestuur tot stand gebring. Gaandeweg het die Britte en Amerikaners toegelaat dat die Duitsers weer politieke partye stig. Veral twee belangerike partye het hierna op die voorgrond getree, die Sosiaal-demokratiese Party (SPD) en die Christen-demokratiese Party (CDU). In  1946 en 1947 is die eerste verkiesings gehou en is plaaslike regerings verkies.

Gedurende 11 Mei tot 4 Junie het Botha en Kriek kindertuistes en kampe in al die Britse state en Wes-Berlyn besoek. Dit was moeilik want hulle het onder beskerming van die Britse vlag moes reis en dit het die meeste Duitse inrigtings vertolk as nog 'n tipe skadevergoeding wat die verslane Duitse volk aan sy veroweraars moes betaal. Botha het wel probeer verduidelik dat sy bedoelings opreg was en dat die Afrikaners vriende van die Duitse volk was maar hy het nie hulle vertroue volkome gewen nie.  Sommige was oortuig dat die DKF die weeskinders vir slawe-arbeid na Suid-Afrika wou neem.

Botha het in geradbraakte Duits vertel van Suid-Afrika se ruimtes en blink toekoms en dat die kinders aan uitgesoekte pleegouers gegee sal word, uitstekende opleiding tot op universiteitsvlak sal geniet, en hulle vertel dat die meeste Afrikaners teen die oorlog teen Duitsland gekant was.

Dat die meeste volwasse Duitsers van die Afrikaners se betaan bewus was kan geredelik aanvaar word aangesien Hitler se Minister van Propaganda, dr Joseph Goebbels, meer as 'n dekade lank hulle aan die "heldhaftige Boere" voorgestel het wat "so dapper teen die wrede barbaarse Britte" oorlog gevoer het. Die meer algemene beeld wat die Duitsers van die Boere en Suid-Afrika gehad het was egter nie soseer die beeld van Paul Kruger en sy mense nie maar eerder van 'n land van leeus, tiers en slange, Negers en wrede tropiese son.

Oral waar Botha en Kriek gekom het is hulle diep getref deur die nood en ellende wat daar drie jaar na die oorlog steeds in Dutisland geheers het. Die lot van die weeskinders het hulle egter die diepste geraak. Na 'n besoek aan drie kindertuistes in Hamburg het Botha aan sy vrou geskryf dat al die kinders tog so graag Suid-Afrika toe wou gaan: "Arme goedjies, baie van die outjies glo tog dat hulle mammies en pappies eendag weer sal opdaag. Hulle is armoedig en skraal geklee maar netjies en skoon. Gister het ek sommer lus gevoel om 'n seun van 8 jaar al in my sak te druk. Maar ek is tog ook so bang dat baie van die outjies dalk swaar gaan kry om in nuwe omgewings aan te pas, maar as 'n mens weer aan die vooruitsigte dink dan is dit tog die beste wat vir hulle gedoen kan word".

Na 'n besoek aan Kiel en Lübeeck op 23 en 24 Mei het Botha geskryf: "In daardie deel – Schleswig-Holstein, is daar baie kinders, ag en te oulik. Hulle wil sommer almal saamgaan na Suid-Afrika, die land van 'olifante en leeus!' "

Botha het ook in hierdie streek 'n perskonferensie belê. Na wye mediadekking was Hansestadt Hamburg die eerste staat wat onderneem het om vir die DKF na geskikte weeskinders te soek. Onderhoude wat Botha met welsynsinrigtings gevoer het was ook bemoedigend. Nadat regsadvies ingewin is was dit ook duidelik dat die verskillende Duitse kinderwette asook die Duitse gemenereg wel met die Unie van Suid-Afrika se kinderwette versoenbaar was.

Die Minister van Volksopvoeding in die staat Schleswig-Holstein, senator Kuklinsko, het ook onderneem om die hele aangeleentheid aan die volle kabinet van die SPD-regering voor te hou, wat op 30 Mei toe bespreek is. Twee ministers het hulle sterk daarteen uitgespreek. Daar is besluit dat toestande in Suid-Afrika te onseker sou wees vir grootskaalse kinderemigrasie en die DKF sou nie daarvoor toestemming ontvang nie.

Onwetend van die verwikkelinge het Botha en Kriek op 4 Junie na Nederland en Brittanje vertrek om die finale reëlings in verband met die mediese keuring en die vervoer van die kinders te tref. Botha was besonder optimisties dat die skema binne afsienbare tyd afgehandel wou wees. Hy het besluit om op eie verantwoordelikheid en sonder die toestemming van die dagbestuur nie sonder kinders na die Unie terug te keer nie.

Die verkiesingsoorwinning van die Nasionale Party in Suid-Afrika op 23 Mei 1948 en dat Smuts in die kiesafdeling Standerton verslaan is, het Botha met groot vertroue na die toekoms laat kyk. Uiteindelik het Afrikanernasionalisme in Suid-Afirka getriomfeer en kon die beginsels van die Christelik-nasionale lewensopvatting meer as ooit vantevore in die praktyk toegepas word. Wat die DKF betref was Botha verheug dat 'n uitdruklike pro-Duitse bewind voortaan aan die roer van sake gestaan het en die wesies sou meer as net welkom wees in Suid-Afrika. Só optimisties was Botha dat hy die dagbestuur in kennis gestel het om dadelik te reël dat dr Vera Bührmann in Londen by hom aansluit.

In Nederland het Botha van dr Kriek afskeid geneem wat sy studie daar voortgesit het.  Hy het ook onsusksesvol probeer om vir die kinders passaat op 'n Nederlandse boot te reël. Omdat daar eers in September plek beskikbaar was, het Botha besluit om in Londen vervoer te probeer kry. Volgens hom was die Nederlanders geensins so gretig om hom van hulp te wees nie. Dit is begryplik wanneer ingedagte gehou word dat die Duitsers in 1940 'n ongevraagde aanval teen die neutrale Nederland geloods het. Wat baie Nederlanders egter ook gegrief het was dat hulle "stamverwante broeders" aan die suidpunt van Afrika toe openlik die kant van die Duitsers gekies het.

Op 12 Junie het Botha in Londen op dr Bührmann se aankoms gewag terwyl hy vir die soveelste keer gepoog het om vir die kinders vervoer te kry. Dié keer was hy suksesvol en het op die Winchester Castle plek gekry.

In die volgende aflewering: dr Bührmann kom in Londen aan om met die finale keuring behulpsaam te wees ...