SLEGS 83 VAN DIE BEPLANDE 10 000 HET IN SUID-AFRIKA AANGEKOM
Werner (Shellack) van der Merwe
Die Dietse Kinderfonds (DKF) het as beskermheer opgetree vir 'n groep van 83 Duitse weeskinders wat in 1948 na Suid-Afrika gebring is. Hierdie deel van ons geskiedenis word oor die algemeen nie onder die belangrikste Suid-Afrikaanse geskiedenis gesien nie omdat daar van die beplande 10 000 wesies uiteindelik slegs 83 hier geland het. Indien die DKF wel daarin geslaag het om 10 000 kinders na Suid-Afrika te bring, sou die verhaal van die Duitse weeskinders gewis binne die hoofstroom van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geval het, en sou hulle naas die Britse Setlaars van 1820 sekerlik onder die belangrikste immigrantegroepe na hierdie land getel het.
In een opsig het hulle koms egter nuuswaardigheid bevat. Die Suid-Afrikaanse Premier, dr DF Malan, het een van die Duitse kinders, Marietjie, aangeneem.
Die stigterslede van die DKF was almal vurige Afrikanernasionaliste met 'n byna grenslose bewondering vir die Duitse volk. Hulle het die plan om 10 000 Duitse weeskinders na die afloop van die Tweede Wêreldoorlog uit die verpletterde "duisendjarige Nazi-ryk" van Adolf Hitler na Suid-Afrika te bring as "volksdiens deur 'n besielde Gideonsbende" beskou.
Natuurlik het die Smuts-bewind wat in bondgenootskap met Brittanje ses jaar lank teen Duitsland oorlog gevoer, die DKF se plan buitensporig gevind. Daarom is daar toestemming verleen dat slegs 100 Duitse wesies gebring mog word. Die regering het vereis dat die DKF eers bewys moes lewer dat hy in staat is om die eerste 100 kinders suksesvol te bring en aan goeie pleegouers toe te vertrou. Dan sou hulle dit oorweeg om nog meer weeskinders te laat kom. Weens talle onvoorsiene probleme het die DKF egter nie eens daarin geslaag om 100 kinders gekeur te kry nie, en teen 1950 is die hele gedagte laat vaar om verdere kinder-emigrasie na Suid-Afrika te bevorder.
Ek was een van die jongste kinders wat met die groep gekom het. Oor die jare heen het ek waardevolle inligting oor hierdie geskiedenis versamel, ook omdat ek vandag 'n historikus van beroep is. Buiten die talle koerant-en tydskrifberigte wat oor die jare heen oor die Duitse kinders verskyn het, berus my skrywe hoofsaaklik op die amptelike stukke van die DKF (Aanwins 1732 in die Staatsargief in Pretoria), en is verder aangevul deur gegewens wat ek in Duitsland versamel het en onderhoude wat ek met voormalige bestuurslede van die DKF gevoer het. Baie van die kinders van 1948 het my ook van waardevolle materiaal voorsien.
Ons kyk in aflewering twee in hierdie reeks na die rol wat Duitsland in die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner gespeel het.