DUITSERS EN AFRIKANERS VERSTEWIG BANDE
(Lees vorige aflewerings onder Duitse weeskinders 1948 )
Werner (Shellack) van der Merwe
In die jare na die Tweede Vryheidsoorlog was 'n pro-Duitse sentiment die keersy van 'n anti-Britse sentiment. In der waarheid wou die Afrikaners Duitse hulp inspan in hul stryd teen Brittanje. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog (1914) het dit juis onderstreep. Die Britse oorlogsverklaring teen Duitsland (4 Augustus 1914) het die destydse Unie van Suid-Afrika as integrale deel van die Britse Ryk outomaties by die oorlog betrek. Die Suid-Afrikaanse regering onder aanvoering van genl Louis Botha, was bereid om Brittanje daadwerklik te steun en Suid-Afrikaanse troepe het reeds in 1915 Duitswes-Afrika verower.
Toe die Unie-parlement egter besluit om Duitswes in te val, het 'n aansienlike groep Afrikaners onder die leiding van leiers tydens die Tweede Vryheidsoorlog, soos CR de Wet, JH de la Rey, CF Beyers en Manie Maritz in opstand teen die regeringsbesluit gekom. Genl Manie Maritz, bevelvoerder in die Noordwes-Kaap, het met ongeveer 1 000 man selfs die grens na Duitswes oorgesteek. Hy wou met behulp van die Duitsers die bewind van Botha omverwerp. In die Noordoos-Vrystaat en Wes-Transvaal het daar eweneens heftige gevegte tussen die opstandelinge (Rebelle) en die regeringsmagte uitgebreek. Nagenoeg 11 000 Afrikaners het teen hul land se oorlogspoging in opstand gekom. Aan die einde van 1914 het die regering weliswaar daarin geslaag om die sogenaamde Rebellie te onderdruk.
Omdat talle van die rebelle openlik met Duitsland gesimpatiseer het, het die Rebellie 'n sterk pro-Duitse inslag gehad. Vir baie Afrikaners was die plotselinge vyandskap met Duitsland ongevraagd. Hulle het nie vergeet hoe die Duitsers die Boere na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog gehelp het nie. Boonop het hierdie Afrikaners steeds Brittanje as die 'aartsvyand' beskou.
In die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrikanernasionalisme was 1914 ook van groot betekenis vir die Afrikaner setoekomstige gesindheid teenoor Duitsland. In daardie jaar het die Boereleier, genl JBM Hertzog, in reaksie teen Botha en Smuts se beleid van versoening teenoor Brittanje, die Nasionale Party gestig. Hertzog wou aan die Afrikaners gelyke regte met die Engelssprekendes beding en hy wou die Unie van Suid-Afrika se soewereiniteit verseker.
Die Afrikaners wat by Hertzog en sy Nasionale Party aangesluit het, was sterk voorstanders van die herwinning van die onafhanklikheid van die eertydse Boererepublieke. Hulle wou 'n eie Afrikanerrepubliek stig en die republikeinse ideaal was 'n belangrike bestanddeel van Afrikanernasionalisme. In hul strewe om Britse voogdyskap te beëindig, het baie Afrikaners hul hoop op Duitsland gevestig.
Nadat Duitsland en sy bondgenote in 1918 verslaan is, het die oorwinnaars (Brittanje, Frankryk, die Verenigde State en hul bondgenote) in 1919 in die Franse hoofstad Parys ontmoet om met Duitsland en sy bondgenote vrede te sluit. Die Unie van Suid-Afrika is deur generaals Botha en Smuts verteenwoordig. Die president van die VSA, Woodrow Wilson, het 'n leidende rol op die vredeskonferensie gespeel. Vir Wilson was dit belangrik dat daar 'n regverdige vrede gesluit word. Gevolglik het hy 'n aantal beginsels neergelê wat 'n regverdige vrede sou verseker. Een daarvan was dat elke nasie, hoe klein ook al, die reg op soewereine beskikking gehad het.
Hertzog en die Afrikanernasionaliste het dié selfbeskikkingsreg van nasies vertolk as 'n geleentheid vir Suid-Afrika om van Britse oorheersing bevry te word. Met hierdie doel voor oë het 'n vryheidsdeputasie Parys in Mei 1919 besoek. Hulle het Brittanje versoek om op Wilson se beginsel van selfbeskikking aan Suid-Afrika sy volle onafhanklikheid terug te gee. Die arrogante Britte was egter nie bereid om hieraan uitvoering te gee nie en die deputasie moes onverrigter sake huiswaarts keer. Hierdie terugslag het Hertzog net meer vasbeslote gemaak om in die toekoms die herwinning van die Unie se volle onafhanklikheid te verseker.
Intussen het die 'vredemakers' die Verdrag van Versailles met Duitsland onderteken. Dit het uiters ongunstige bepalings vir Duitsland neergelê. Daar is onder andere bepaal dat die Duitsers een vyfde van hul grondgebied afstaan. Duitsland is ontwapen, van sy kolonies gestroop en moes vir alle oorlogskade vergoed. Die enkele bepaling wat die Duitsers egter die meeste gegrief het, was dat hulle vir die uitbreek van die oorlog verantwoordelik gehou is.
Van meet af aan het die Duitsers alles in die stryd gewerp om die bepalings van die Verdrag van Versailles ongedaan te maak. Onder die Afrikanernasionaliste het die Duitsers se stryd teen die vredesverdrag sterk steun geniet. Die Afrikaners het by herhaling op die onbillikheid van die verdrag gewys en die oorreenkomste tussen die Verdrag van Versailles en die Verdrag van Vereeniging (wat net na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog gesluit is) beklemtoon. Die feit dat Brittanje 'n leeue aandeel aan die opstel van die Verdrag van Versailles gehad het, het die Afrikaners net nog meer pro-Duits gemaak. Die Afrikaners het voortaan die Duitsers nie meer bloot as 'n stamverwante volk beskou nie maar ook as 'n lotsgebonde volk.
Waar Afrikaners in 'n poging om die sterk Angel-Saksiese invloed vry te spring in die jare voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog hoofsaaklik na Nederland opgesien het vir kulturele leiding en inspirasie, het daar in die jare ná 1919 'n verskuiwing ten gunste van Duitsland ingetree. Mettertyd het die Afrikaners Duitsland as hul heel belangrikste 'stamland' beskou. Die vermoede bestaan dat Duitsland met sy nagenoeg 70 miljoen inwoners vir die Afrikaner groter belofte van daadwerklike steun ingehou het as die kleine Nederland met sy skaars 12 miljoen inwoners. Boonop was die Afrikanernasionaliste sterk aangetrokke tot die Duitse lewens- en wêreldbeskouing. Hulle het veral waardering gehad vir die Duitsers se uitgesproke nasionalistiese opvattings oor 'ras en volk'. Boonop het die Duitsers voortdurend die Angel-Saksiese pleidooi vir rassegelykheid teengestaan. Kortom, die Afrikaner was daarvan oortuig dat Duitsland sy gedugste bondgenoot sou wees in sy stryd teen Brittanje en die Angel-Saksiese wêreldbeskouing.
Toe genl Hertzog in 1924 aan bewind gekom het, het hy dadelik stappe gedoen om Suid-Afrika se afhanklikheid van die Britse Ryk te verminder. In 1926 het hy verteenwoordigers van Duitsland in Londen ontmoet. Hy het die Duitsers daarop gewys dat dit sy ernstige begeerte was om bande met Duitsland te verstewig. Volgens Hertzog het hy die Duitsers in die Unie se steun nodig gehad om die Afrikaner-element in die land te versterk. Die Suid-Afrikaanse leier het hom ook sterk ten gunste van Duitse immigrasie na die Unie uitgespreek. Dit is duidelik dat Hertzog die Engelse element in Suid-Afrika wou verswak – 'n begeerte wat deur talle Afrikanernasionaliste (onder andere ook die stigterslede van die DKF) gekoester is.
Hertzog se pro-Duitse sentiment het veral die gevoel van die jonger geslag Afrikaners weerspieël wat al hoe meer na Duitsland begin opsien het as hulle enigste waarborg teen, wat hulle geglo het, tot die onafwendbare en uiteindelike volkome 'verengelsing' van Suid-Afrika moes lei. Afrikaanse studente wat hul nagraadse studies wou voltooi, het begin voorkeur gee aan Duitse universiteite. Dit het die kontak tussen Afrikaners en Duitsers verder versterk. Voorts het die studie van Duits as belangrike Germaanse taal wat aan Afrikaanse verwant is, aan Afrikaanse universiteite soos Stellenbosch, Pretoria en Potchefstroom aan gewildheid toegeneem. Talle Afrikaanse hoërskole het ook Duits as derde taal tot hul leerplanne gevoeg.
Die Duitsers het op hul beurt ook daartoe bygedra om die Afrikaners se pro-Duitse sentiment te versterk. Die Afrikaners wat Duitsland besoek en daar studeer het, het tot hulle vreugde vasgestel dat die Duitsers 'n baie groot bewondering vir die 'volk van Paul Kruger' gehad het. In die Duitsers se stryd om die 'bande van Versailles' te verbreek, is daar dikwels na die Boere se heldhaftige stryd teen Brittanje verwys. Vir die jonger geslag Duitsers het die Afrikaners se vryheidstryd as inspirasie gedien in hul pogings om Duitsland se aansien weer in die wêreld te herstel.
Talle Duitsers het hulle ook ywerig bemoei om die kulturele bande tussen hulle en die Afrikaners te verstewig. Een van die eerste stappe in hierdie rigting was die instelling van Afrikaans as 'n volwaardige kultuurtaal aan die Universiteit van Berlyn in 1922. Afrikaans is dus in Duitsland as volwaardige en selfstandige Germaanse taal erken, lank voor dit in 1925 in Suid-Afrika tot amptelike landstaal verhef is. Die Duitse Akademie in München was eweneens gretig om hegter bande met die Afrikaners aan te knoop. Met dié doel het die Akademie 'n Suid-Afrika-komitee in die lewe geroep. Hieruit het die Duits-Suid-Afrikaanse Vereniging in 1932 ontstaan. In Suid-Afrika het die Duitse Akademie se oproep tot hegter kulturele bande tussen Suid-Afrika en Duitsland in dieselfde jaar tot die stigting van die Afrikaans-Duitse Kultuurunie gelei.
In die volgende aflewering kyk ons na die invloed wat die koms van Hitler in Duitsland ná 1933 op die Afrikanervolk gehad het.