DUITSE WESIES (4)

AFRIKANERS KIES HITLER SE NASIONAAL-SOSIALISME BO SMUTS

(Lees reeks by Duitse weeskinders 1948 )

Werner (Shellack) van der Merwe

"Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het die Unie-parlement na 'n lang en vurige debat oor oorlogsdeelname met 'n meerderheid van 80 teenoor 67 stemme vir deelname (teen Duitsland) besluit... Duisende nasionaalgesinde Afrikaners was bitter ontevrede met die uitslag... Oor een saak was die Afrikaners eensgesind: Duitsland was nie die vyand van die Boerevolk nie."

Daar is baie menings en teenstrydige gevoelens oor Adolf Hitler. Die meeste mense weet egter net wat aan die groot klok gehang is sonder dat hulle indiepte ondersoek gedoen het. Wat Afrikaners betref het die opkoms van Hitler se Nazi-Duitsland na 1933 die hoop laat ontvlam dat hulle met Duitse ondersteuning die Britse oorheersing finaal sou kon afwerp. Baie Afrikaners het begin droom van 'n herstelde Boererepubliek onder die beskerming van Berlyn. Daarom was daar toenemende kontak tussen die Duitsers en Afrikaners.

Duitsland het sy verlore krag weer herwin en onder leiding van Hitler het die Duitsers daarna begin streef om van Duitsland die toonaangewende staat in Europa en wêreldwyd te maak. Natuurlik het hierdie strewe Duitsland in konfrontasie met Brittanje gebring.

In hul strewe na die verwesenliking van 'n onafhanklike republiek, is talle Afrikaners meegesleur deur die propaganda van die nasionaal-sosialisme. Hulle was beïndruk met die Nazi's se sterk klem op nasionalisme, en veral op rassesuiwerheid. As oortuigde Christelik-nasionale Calviniste het die Afrikaners besondere lof gehad vir Hitler se striemende aanvalle teen die 'godlose kommunisme'. In die algemeen het hulle die opkoms van Nazi-Duitsland as 'n positiewe gebeurtenis beskou en was hulle dus begerig om hul bande met hierdie 'nuwe Duitsland' te verstewig.

Etlike Afrikaners was so begeesterd met die ideologie van die nasionaal-sosialisme dat hulle dit self in Suid-Afrika wou naboots. In Oktober 1933 het LT Weichardt byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Nasionaal-Sosialistiese Bond (Gryshemde) gestig. Die Gryshemde was in feitlik alle opsigte 'n bloudruk van die Duits Nasionaal-sosialisme. Hulle het ook die beginsel van totale rassesuiwerheid onderskryf en Weichardt se beoogde volkstaat sou slegs deur blankes van suiwer 'Aries-Europese' afkoms  bewoon word. In navolging van Duitse anti-Semitisme het die Gryshemde verkondig dat die Jode  'n 'volksvreemde en onassimileerbare' element in die volkslewe van die Afrikaner was. Anti-Semitisme het 'n wesenlike faktor in die Suid-Afrikaanse politiek geword.

Talle Afrikaners waaronder ook sommige stigterslede van die DKF, het in die jare vóór uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog Duitsland besoek en teruggekeer met positiewe indrukke van Hitler en sy nuwe bedeling. Etlikes is sodanig deur die nasionaal-sosialisme meegesleur dat hulle Suid-Afrika ook in 'n tipe Nazi-staat wou omskep.

Toe die Olimpiese Spele in 1936 in Berlyn gehou is, het minstens twee vooraanstaande Afrikaners die Duitse hoofstad besoek. Robey Leibbrandt het die Unie se swaargewigbokser op die Spele verteenwoordig. Die ander besoeker was die administrateur van die Oranje Vrystaat ( latere hoofleier van die Ossewa-Brandwag en beskermheer van die DKF) dr JFJ –Hans van Rensburg. Albei het sterk onder die invloed van die nasionaal-sosialisme gekom. Leibbrandt het besluit om in Duitsland agter te bly en het aan die Ryksakademie vir Liggaamlike Opvoeding verder studeer. Met die uitbreek van die oorlog het hy van die Duitsers opdrag ontvang om na die Unie terug te keer om genl Smuts om die lewe te bring.

Van Rensburg het wel nie in Duitsland agtergebly nie maar met sy terugkeer in Suid-Afrika het hy entoesiasties van sy ondervindinge in Hitler se Nazi-staat vertel. Hy het gedurende sy verblyf in Duitsland 'n uitnodiging ontvang om die jaarlikse partykongres van die Nazi-party (die Reichsparteitag) in Neurenberg by te woon. Die gedissiplineerde kolonne van Hitler se partyleër (die sogenaamde Schutzstaffel – SS) het 'n groot indruk op hom gemaak. Die hoogtepunt van sy besoek was egter 'n persoonlike ontmoeting met Hitler. Van Rensburg het met byna grenslose bewondering van Hitler gepraat, en later vertel: "Nadat ek die hoë eer gehad het om die Führer in die oë te kyk, het dit vir my duidelik geword waarom die Duitse volk sy leier so liefhet en hom so vereer."

Van Rensburg het feitlik as 'n 'bekeerde' nasionaal-sosialis na Suid-Afrika teruggekeer. In talle toesprake het hy in nasionaal-sosialisme sy geloof uitgedruk as 'n suksesvolle poging om 'n balans tussen nasionalisme en sosialisme te vind. Hy het tot die oortuiging gekom dat die Duitse stelsel ook in Suid-Afrika toegepas moet word. Toe Van Rensburg in 1940 die hoofleier van die Ossewa-Brandwag (OB) geword het, het die OB gaandeweg al hoe meer in 'n proto-tipe van Duitse nasionaal-sosialisme ontwikkel. (Die OB was 'n Afrikaner massabeweging wat na aanleiding van die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 gestig is met die doel om Afrikanerbelange op alle lewensterreine te bevorder).

Die OB se belangrikste doelwit was om 'n onafhanklike Afrikanerrepubliek te stig en alle bande met die Britse Ryk te verbreek. Om hierin te kon slaag, het Van Rensburg die steun van Duitsland gesoek. Uiteraard was die Duitsers gretig om die Boere te help aangesien hulle in Brittanje 'n gemeenskaplike vyand gehad het. Ofskoon die Duitse hulp hoofsaaklik die vorm van morele steun aangeneem het, het Hitler nietemin in 'n stadium oorweeg om wapentuig aan die OB te verskaf ten einde hulle in staat te stel om van Smuts ontslae te raak. Toe Duitsland egter in Junie 1941 Rusland binneval, het Hitler van die Afrikaners begin vergeet.

Die Ossewa-Brandwag het groot steun onder die Afrikaners geniet en na beraming het die beweging teen 1941 nagenoeg 400 000 lede gehad. Die OB was beslis die grootste en sterkste pro-Duitse Afrikanerbeweging, maar die Afrikaners wat nie OB-lede was nie, was alles behalwe anti-Duits. Trouens, die Herenigde Party van dr DF Malan en die OB het nie oor hul pro-Duitse sentimente verskil nie, maar wel oor die metode wat gevolg moes word om 'n Afrikanerrepubliek te stig. Van Rensburg en die OB was weliswaar bereid om die regering met geweld omver te werp, terwyl Malan verkies het om op konstitusionele wyse verandering teweeg te bring.

Die sterk pro-Duitse sentiment was egter geensins net tot die republikeins-nasionaalgesinde Afrikaners beperk nie. Inteendeel, binne die regerende Verenigde Party onder leiding van genls Smuts en Hertzog was daar diegene wat hegter samewerking tussen Duitsland en die Unie bepleit het. Een van die sterkste voorstanders van 'n pro-Duitse koers was Oswald Pirow, die Unie se Minister van Verdediging. Vir Pirow (hy was van Duitse afkoms) was dit byna vanselfsprekend dat die Unie sy heil eerder in samewerking met Berlyn as met Londen moes soek. In die ses jaar voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog (1933 – 1939) het Pirow alles in die stryd gewerp om Suid-Afrika se verhoudinge met Nazi-Duitsland te verbeter.

In November 1938 het Pirow die Duitse diktator besoek en (soos Van Rensburg twee jaar voor hom) na Suid-Afrika teruggekeer met 'n positiewe beeld van die nasionaal-sosialisme. 'n Jaar later het sy dogter Else (soos tewens baie ander jong Afrikanermeisies in dié tyd) een van die talle Duitse jeugkampe bygewoon. Gaandeweg het Pirow tot die oortuiging gekom dat Suid-Afrika se toekoms in die aanvaarding van die een of ander vorm van 'n nasionale sosialisme gelê het.  Gevolglik het hy in 1940 die sogenaamde Nuwe Orde gestig. Op die keper beskou was die Nuwe Orde 'n blote mengsel van Christelike nasionalisme en nasionaal-sosialisme om by die Afrikaners se lewens- en wêreldbeskouing aan te pas.

Die nasionaalgesinde Afrikaners wou nie bloot 'n onafhanklike republiek in samewerking met Duitsland stig nie, maar hulle wou die Afrikanergeledere ook versterk deur geselekteerde immigrasie uit die 'stamlande' aan te moedig. Die Afrikaner se droom van 'n eie volkstaat het Swartes, Indiërs, Kleurling en Jode uitgesluit, maar omdat die Afrikaner getalsgewys in Suid-Afrika die minderheid was, was dit noodsaaklik om sy getal met 'uitgesoekte stamverwante immigrante' aan te vul – verkieslik uit die Germaanse en Nordiese lande.

Namate die Afrikaners in die dekades na die Eerste Wêreldoorlog al hoe meer na Duitsland begin opsien het, het die gedagte van immigrasie uit Duitsland begin veld wen. Omdat Duitse sendelinge en koloniste in die 19e eeu 'n belangrike bydrae tot die opbou van Suid-Afrika gelewer het, het die oortuiging bestaan dat Duitsers op die duur die beste tipe immigrant was. Soos daar aangetoon is, het genl Hertzog in 1926 reeds te kenne gegee dat hy graag wou sien dat meer Duitse immigrante hulle in die Unie vestig.

Die jonger Afrikanernasionaliste van die dertiger- en veertigerjare het eweneens immigrasie uit die stamlande aangemoedig, maar in navolging van Duitse nasionaal-sosialisme het hulle die klem op 'rassesuiwerheid' laat val en was dus nie daarmee gediend om die Afrikanergeledere bloot deur 'blankes' te versterk nie. Manne soos Van Rensburg, Pirow, Weichardt, Malan en andere was gekant teen Joodse immigrante omdat die Jode nie tot die 'regte ras' behoort het nie en boonop godsdienstig en polities onassimileerbaar was. Die vermoede bestaan dat hierdie mense werklik daarvan oortuig was dat die sogenaamde 'Ariese ras' (waarvan die Duitsers die beste voorbeeld sou wees) 'n tipe 'meesterras' (Herrenvolk) was. Die Nazi-propaganda het beslis 'n goeie gehoor in Suid-Afrika gevind.

Toe Van Rensburg in 1936 in Duitsland was, het hy in gesprekke met Nazi-leiers skerp teen die Unie se toelating van Joodse immigrante te velde getrek en hom ten gunste van Duits-Ariese immigrasie uitgespreek. Een van dr Malan se getroue volgelinge, dr HF Verwoerd, het in sy hoedanigheid as redakteur van die nasionaalgesinde dagblad Die Transvaler heftig teen die Jode te velde getrek en gepleit vir die 'immigrasie van blonde blouoog Ariërs van Protestantse herkoms'. Dr Verwoerd kon sy voorkeur vir Duitse immigrante sekerlik nie duideliker geformuleer het nie. By geleentheid het dr Malan eweneens sy sterk voorkeur vir 'Aries-Nordiese' immigrante te kenne gegee. Sodanige immigrante moes aldus Malan die Afrikaners bystaan om 'n 'front teen Kommunisme, die inboorlinge en die Jode te vorm.'

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het die Unie-parlement na 'n lang en vurige debat oor oorlogsdeelname met 'n meerderheid van 80 teenoor 67 stemme vir deelname besluit. Vir 'n tweede keer in minder as 40 jaar het Suid-Afrika hom dus weer in 'n oorlog teen Duitsland bevind. Duisende nasionaalgesinde Afrikaners was bitter ontevrede met die uitslag van die parlementêre debat, maar omdat hulle leiers 'n beroep om vrede en berusting  gedoen het, het daar nie weer 'n gewapende protes teen die regering uitgebreek nie. Die Afrikaner se politieke eenheid was egter aan skerwe. Oor een saak was die Afrikaners wel eensgesind: Duitsland was nie die vyand van die Boerevolk nie.

In die volgende aflewering meer oor hoe die Afrikaners die Duitsers tydens die oorlog ten spyte van Smuts se verklaring bygestaan het.