'GERMAANSE VOLK OP DIE VOORPOS' STAAN BY DUITSERS IN OORLOG
(Lees reeks by Duitse weeskinders 1948 )
Werner (Shellack) van der Merwe
" Die Duitsers het ook gepoog om met behulp van Robey Leibbrandt (die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigbokser) vir Smuts om die lewe te bring (Operasie Weissdorn)".
Hoewel die Duitsers steeds daarmee rekening gehou het dat Suid-Afrika aan Britse kant teen Duitsland sou oorlog verklaar, was die Nazi-leiers nietemin bewus van die sterk pro-Duitse sentiment onder die Afrikaners. Gevolglik wou hulle hierdie sentiment aanblaas om sodoende die wêreld vir genl Smuts moeilik te maak. Hul taak is aansienlik vergemaklik omdat bewegings soos die Gryshemde en die OB reeds vurige vriende van Duitsland was.
Na die uitbreek van die oorlog het die Duitsers, in samewerking met die OB, dade van sabotasie en terreur teen die Smuts-bewind beplan in die hoop om die regering in Suid-Afrika tot 'n val te bring en daarna 'n pro-Duitse bewind aan die mag te plaas. In 'n sekere sin was die OB die handlanger van Duitsland se uitbreidingstrewe in Suidelike Afrika en veral in die Duitsers se begeerte om weer Duitswes te herower. Die regering was verplig om talle lede van die OB in interneringskampe te plaas.
Die Duitsers het ook gepoog om met behulp van Robey Leibbrandt (die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigbokser) vir Smuts om die lewe te bring (Operasie Weissdorn), maar dit het op 'n grootskaalse fiasko uitgeloop.Dit was egter op die propagandaterrein waar die Duitsers hul grootste welslae teen die Smuts-bewind behaal het. Nazi-Duitsland het oor een van die mees gedugte propagandamasjiene van die 20e eeu beskik, en die hoof van die propagandadiens, dr Joseph Goebbels, het daarin geslaag om vir Duitsland talle vriende in die buiteland te wen. Een van die uitvloeisels van hegter Afrikaans-Duitse betrekkinge was juis die behoefte om ook oor die Duitse kortgolfsender, Zeesen, programme in Afrikaans na Suid-Afrika uit te saai. Vanaf November 1936 het Zeesen reeds op 'n gereelde basis Afrikaanse programme uitgesaai.
Teen 1939 was Zeesen egter 'n suiwer propaganda-instrument in die hande van die Nazi's. Die Duitsers het presies geweet hoe om die Afrikaner se diepste sentimente aan te spreek. Zeesen het in sy uitsendings 'n baie sterk anti-Britse koers ingeslaan en die Britte is tereg voorgehou as 'landrowers en moordenaars van duisende vroue en kinders in konsentrasiekampe'. Die Smuts-bewind was 'n blote 'handlanger van Britse imperialisme'. Maar Zeesen se sterkste aanklank by die Afrikaners was ongetwyfeld die feit dat Duitsland Afrikaners belowe het dat, sodra hy die oorlog gewen het, die ou Boererepublieke onder die magtige beskerming van Hitler se Derde Ryk herstel sou word. In afwagting op daardie heuglike dag het Zeesen al van die Afrikaners begin praat as die 'Germaanse volk op die voorpos' van die nuwe Duitse wêreldorde.
Om nog meer gewig aan die uitsendings van Zeesen te verleen, is daar besluit om Afrikaners vir die uitsendings te werf. In 1939 byvoorbeeld, het Eric Holm, (hy was van Duitse afkoms) die hoof van die Afrikaanse uitsending geword. Holm is later deur nog drie Afrikaners bygestaan. Onder sy leiding is daar noukeurig sorg gedra dat die Afrikaanse uitsendings in die korrekte idioom uitgesaai word. Die Afrikaners se gebruik om ouer persone as 'oom' en 'tannie' aan te spreek, is byvoorbeeld streng eerbiedig.
Wanneer dit in gedagte gehou word dat nagenoeg 300 000 Blanke Suid-Afrikaners, waarvan 'n aansienlik persentasie Afrikaners was, teen 1940 oor 'n radiolisensie beskik het, kan dit aanvaar word dat Zeesen grootliks in sy doel geslaag het. Baie Afrikaners het net na Zeesen geluister en is derhalwe heeltemal deur die Duitse propaganda meegesleur. Die stigterslede van die DKF wat almal OB- en Nuwe Orde-lede was, was onder die getrouste luisteraars van Zeesen.
Net hoe sterk die Afrikaners in die Duitse wentelbaan beland het, spreek duidelik uit dr Malan se gesindheid teenoor die Engelse toe Brittanje in 1940 verbete teen Duitsland geveg het (die Slag om Brittanje). Ten einde aan die Duitse bomaanvalle te ontkom het die Britse regering al die Statebondslande (dus ook Suid-Afrika) versoek om tydelik aan Britse kinders herberg te verleen. Die Unie-bewind was bereid om van hierdie Engelse kinders te neem maar Malan het baie sterk teen die hele gedagte te velde getrek en aangevoer dat dit bloot 'n versluierde poging van die Britte was om hul invloed in Suid-Afrika verder te verstewig.
Namate die oorlogsgety teen Duitsland begin draai het, het die invloed van die sterk pro-Duitse bewegings (veral die Gryshemde, die Ossewa-Brandwag en die Nuwe Orde) weliswaar begin afneem, maar nog het duisende Afrikaners nie hul rug op Duitsland gekeer nie. Selfs in die laaste dae van Hitler se Derde Ryk het dr Goebbels die Boere oortuig dat Duitsland se ondergang ' 'n trotse Ariese volk' vernietig het en dat die deure vir die 'Bolsjewistiese barbare uit die Ooste' (Rusland) geopen is.
Die uiteindelike ondergang van Duitsland (Mei 1945) was derhalwe vir baie Afrikaners sowel 'n groot skok as 'n tragedie. Hulle het genl Smuts vir die ondergang van die Duitse volk verantwoordelik gehou en aangevoer dat Suid-Afrika slegs gehelp het om die 'kommunisme tot in die hart van Europa te versprei'. Vir die Afrikaners was juis die kommunisme met sy slagspreuk van rassegelykheid die grootste bedreiging vir die toekoms van die Afrikaners as 'n selfstandige 'Blanke volk' op 'n Swart vasteland.
Dit verbaas dus nie dat die nasionaalgesinde Afrikaanse pers (veral Die Transvaler en Die Burger) die ondergang van Duitsland aan sy lesers as 'n geweldige katastrofe voorgehou het. Sodoende is daar nog meer meegevoel vir die Duitsers en Duitsland gewek. Toe dit met groot vertoon bekend gemaak word dat die Duitsers gedurende die oorlog sogenaamd miljoene Jode sistematies in gaskamers om die lewe gebring het (die Holocaust) het die Afrikaanse pers dit eenvoudig as geallieerde propaganda teen 'n verslane Duitsland afgemaak. In die gevalle waar die getuienis van die Duitse gruweldade te oorweldigend was het die Afrikaanse koerante gewoonlik Duitsland se skuld probeer versag deur sy lesers daaraan te herinner dat die Britte nie juis méér menslik opgetree het teen die duisende Boerevroue en –kinders in die konsentrasiekampe gedurende die Tweede Vryheidsoorlog nie. Die Afrikaners het eenvoudig geweier om die berigte van die Holocaust te glo en net meegevoel getoon met die onregverdige behandeling wat die Duitse volk van sy oorwinnaars ontvang het.
Selfs die Afrikaanse kerke se meegevoel was deur en deur by die Duitsers en hulle Nazi-leiers. So byvoorbeeld, het die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in Oktober 1946 vir Smuts versoek om sy invloed te gebruik om te verseker dat die vonnisse van die veroordeelde Nazi-leiers (die Neurenbergse verhore) versag word . Die stigterslede van die Dietse Kinderfonds was ook onder diegene wat bankvas aan Duitse kant bly staan het.
Volgende keer, onder meer 'n half miljoen Duitse kinders wie hulle ouers verloor het.