DUITSE WESIES (8)

GENL SMUTS DIE STOK IN DIE SPEEK

(Lees vorige aflewerings onder Duitse weeskinders 1948 )

Werner (Shellack) van der Merwe

" Uiteraard was die bestuurslede as oortuigde nasionaalgesinde Afrikaners in beginsel gekant teen die Verenigde Party van genl Smuts en het dus nie geskroom om die regering in 'n swak lig te probeer plaas nie."

Soos in die vorige aflewering genoem, was dit van belang om eers die Duitse reaksie te toets om te weet of die hele skema van Duitse wesies na Suid-Afrika, daaraan goedkeuring sou verleen, maar nou moes die Suid-Afrikaanse regering met genl Smuts aan die stuur eers sy goedkeuring gee. Ook was die kwessie van die fondse 'n belangrike saak en moes skenkings begin inkom. Prof WP de Villiers, hoogleraar in Duits aan die Universiteit van Pretoria, het onderneem om 250 pond te skenk.

 Een na die ander huisvergaderings is gehou, sommige minder suksesvol maar die meerderheid persone wat dit bygewoon het was ten gunste van die skema en het dit ondersteun.

Aanvanklik het die gedagte bestaan dat slegs Afrikaners met Afrikanerkapitaal by die skema betrek sou word maar op 'n voorstel van mnr Wm. Bürhmann is daar later besluit om ook welgestelde Duitssprekendes by die Fonds se werksaamhede te betrek. Daar is in die eerste plek aan die afstammelinge van Berlynse en Hermannsburgse sendelinge gedink, want ofskoon die meerderheid van hierdie afstammelinge Duitssprekend was, het hulle hul volkome met die Afrikaners geïdentifiseer. Vir alle praktiese doeleindes was hierdie afstammelinge eintlik 'Duitse Afrikaners'.  Gevolglik is daar ook om bydraes by die Prozeskys van Boksburg, die Bürhmanns van Ermelo, die Hesses van Kroondal naby Rustenburg, en die Schulenburgs van Lichtenburg aangeklop.

Teen die einde van September 1945 het die Fonds reeds beloftes van skenkings ten bedrae van 2 150 pond ontvang maar eers in November sy eerste 100 pond in ontvangs geneem. Aan die begin van Oktober het die komitee reeds in meer as 40 dorpe soveel belangstelling gaande gemaak dat daar in elkeen van hierdie dorpe 'n klein plaaslike komitee bestaande uit drie lede elk, in die lewe geroep kon word. Hulle was verantwoordelik vir die insameling van fondse in hul omgewings. Verder is dit aan die plaaslike komitees opgedra om die saak steeds wyer en wyer bekend te stel en sodoende meer steun te probeer werf.

Die 'groot' vergadering is op 8 Oktober 1945 in die Voortrekker-Gedenksaal in Pretoria gehou. Dit is deur sowat 42 persone bygewoon en die Nasionale Party-volksraadslid, dr AJ Stals, is tot voorsitter benoem. Die skema is in beginsel goedgekeur om 10 000 'Dietse' kinders na die Unie te bring. Die breë komitee is ook hier verkies, bestaande uit 12 lede met later 'n verdere 6 wat gekoöpteer sou word.  Die komitee se eerste vergadering is op 6 November in die Afrikaanse Koffiehuis in Pretoria gehou: Die benoeming van 'n dagbestuur, die benoeming van beskermhere en trustees en die opstel van 'n geskrewe uiteensetting van die DKF se doelstellings, was die drie sake wat hier hanteer is.

Die dagbestuur het uit sewe lede en die reg tot koöptering bestaan. Hulle eerste taak was om 'n skriftelike uiteensetting van die Fonds se doelstellings op te stel vir verspreiding aan plaaslike komitees, beskermhere, trustees en ander belangstellendes.  Hierin is daar na die "Afrikaners se ereskuld teenoor hulle 'stamlande'  " verwys en dat dit tyd was om hierdie skuld te vereffen.

Die rektor van die Universiteit van Pretoria, prof MC Botha, was egter nie bereid om as beskermheer van die DKF op te tree nie. Hy het dit nie teen die Duitse kinders gehad nie maar wel teen die hele beginsel van kinderimmigrasie as sodanig. Hy het sy besware aan die dagbestuur verduidelik. Volgens hom was die toestand in Duitsland en Oostenryk in daardie stadium eenvoudig te chaoties om 'n skema te loods soos die een wat die DKFbeoog het. Die moontlikheid dat dit suksesvol deurgevoer kon word, was so gering dat dit glo uiters onredelik was om van mense te verwag om geld daarvoor te skenk. Botha se alternatiewe voorstelle om Europa te help, het ingesluit om eerder 'n paar duisend huisgesinne na Suid-Afrika te bring. Nie alleenlik sou dit aan die land 'n goeie gehalte werker verseker nie, maar die groot voordeel was dat die kinders binne hul ouerhuise opgevoed kon word. Botha was oortuig dat die geallieerdes weer sou toelaat dat Oostenryk en Duitsland op die been gehelp word, en hy kon hom "nouliks voorstel dat enige selfrespekterende volk sy weeskinders sal wil wegstuur om deur 'n ander volk opgeswelg te word."

Die dagbestuur het hom egter nie deur al hierdie besware laat afskrik nie. Die meerderheid  wou die saak met graagte deurvoer. Die leiers van die vier belangrikste Afrikaanse politieke partye en bewegings nl dr Malan, mnr Havenga, dr Van Rensburg en adv Pirow, het almal hul benoemings vir beskermhere as 'n groot eer en voorreg beskou. Die uiteindelike 25 beskermhere en beskermvroue van die DKF was verteenwoordigend van al die vertakkinge van die Afrikanersamelewing.

Nou moes die toestemming van die Suid-Afrikaanse regering verkry word. Aanvanklik wou die dagbestuur die saak met die Eerste Minister, genl JC Smuts, bespreek, maar om een of ander onbekende rede is daarvan afgesien en is besluit om eers met die Sekretaris van Volkswelsyn, mnr GA Kuschke, wat self van Duitse afkoms is, te gesels. Hy het die afvaardiging vriendelik ontvang. Kort na die onderhoud met Kuschke het die dagbestuur van hom 'n memorandum ontvang waarin hy die probleme verbonde aan die DKF se skema uiteengesit het. Hy het dit baie duidelik gestel dat die toelating van weeskinders tot die Unie 'n saak was waaroor slegs die regering 'n besluit kon neem. Nogtans was daar sekere praktiese wenke wat hy uit hoofde van sy ondervinding as Sekretaris van Volkswelsyn onder die bestuur se aandag wou bring. Volgens hom was dit belangrik dat die bestuur oor 'n sterk fonds moes beskik. Die regering sou wou weet watter bydrae die Fonds gaan maak en watter verpligtinge daar op die skouers van die regering geplaas sou word. Of die kinders nou deur pleegouers aangeneem word of nie, het Kuschke gevoel dat die bestuur minstens 50 pond per jaar per kind benodig het om die skema enduit deur te voer. Indien die DKF dus 10 000 kinders wou uitbring, sou dit prakties beteken het dat die Fonds oor die bedrag van 500 000 pond moes beskik.

Kuschke was van mening dat die Fonds se oogmerk om 10 000 kinders na die Unie te bring, buitensporig was. Indien die skema wel geslaagd was, het hy aangevoer, sou dit nog steeds beteken dat daar tot tyd en wyl die kinders by hulle pleegouers uitgeplaas was, vir huisvesting gesorg moes word. Hy het beraam dat die uitplasing van die kinders tot so lank as ses maande kon duur. Vir hierdie tydperk sou die Fonds vir die huisvesting van die kinders verantwoordelik wees wat maklik 'n ekstra 30 pond per kind per halfjaar kon beloop.

Die dagbestuur het met groot waardering van Kuschke se memorandum kennis geneem en hom verseker dat die DKF besef dat slegs die regering aan sy skema goedkeuring kon verleen. Uit die dagbestuur se antwoord aan Kuschke word die indruk geskep dat sy memorandum die bestuurslede weer laat nadink het oor die oorspronklike plan om 10 000 kinders na Suid-Afrika te bring. Die dagbestuur het byvoorbeeld te kenne gegee dat hy nie langer bereid was om hom aan die getal 10 000 te verbind nie maar dat die skema tog die moeite werd gemaak moes word. Dit was vir die dagbestuur van die grootste belang om in beginsel die regering se goedkeuring vir die skema te verkry. Met dié doel het die dagbestuur telkens die regering versoek om aan sy beoogde skema aandag te skenk. Elke keer het hulle dieselfde antwoord gekry: "Die saak geniet aandag en wag op 'n finale beslissing van genl Smuts."

In April 1946 het die dagbestuur ten einde laaste 'n besliste antwoord van die regering ontvang waarin daar vermeld is dat die hele aangeleentheid weer terugverwys is na die Sekretaris van Volkswelsyn. Daar is besluit om dadelik met Kuschke in verbinding te tree. 'n Lang skrywe is weer aan hom gerig en die Fonds het dit weer beklemtoon dat die hele onderneming die staat niks sou kos nie. Al wat die Fonds verlang het, was regeringstoestemming.

Toe die 11e vergadering van die dagbestuur op 16 Mei plaasvind, het die voorsitter intussen 'n antwoord van Kuschke ontvang, allesbehalwe bemoedigende nuus:
"Dit is my opgedra om u mee te deel dat alle aspekte en implikasies van die skema sorgvuldige oorweging van die Regering geniet het. Die Regering het egter tot sy spyt tot die besluit geraak dat hy nie sy goedkeuring aan die skema kan heg nie."

Hoe teleurstellend hierdie nuus ook al was, die dagbestuur het hom nie van stryk laat bring nie. Die lede was bitter ontsteld dat die regering geen redes verstrek het waarom die skema summier afgekeur is nie. Daar is dus besluit om weer 'n skrywe aan Kuschke te rig waarin hy versoek word om die regering se weiering te motiveer. Aangesien die skema die belastingbetaler "geen enkele pennie sou kos nie", het die dagbestuur daarop aangedring om òf vir genl Smuts òf die waarnemende premier, JH Hofmeyr, te spreek.

Die dagbestuur het verder besluit om ook 'n volledige persverklaring uit te reik waarin die Afrikaanse publiek ingelig word dat die regering daarteen gekant was dat die DKF aan hawelose 'Dietse' wese in Suid-Afrika 'n heenkome wou bied. Uiteraard was die bestuurslede as oortuigde nasionaalgesinde Afrikaners in beginsel gekant teen die Verenigde Party van genl Smuts en het dus nie geskroom om die regering in 'n swak lig te probeer plaas nie.  Die persverklaring was kennelik daarop gemik om meegevoel vir Duitsland te wek en die indruk te skep dat die Smuts-bewind harteloos teenoor die ellende van Duitse kinders was. Die verklaring het onder andere gestel:
"Die nood in Duitsland en Oostenryk is sekerlik net so groot as ooit tevore en dit bly die plig van die Afrikanervolk om sy ereskuld te betaal, en alles in sy vermoë te doen om die groot leed te help versag. Christus het aan die kindertjies die Koninkryk van die Hemele belowe en sover ons weet het Hy nie Duitse kindertjies uitgesluit nie."

Ofskoon die DKF besluit het om in weerwil van die regeringsbesluit met die skema voort te gaan, het dit nietemin spoedig geblyk dat dit geen maklike taak sou wees nie, want sonder die regering se goedkeuring was daar eintlik geen vooruitsig dat iets van die hele skema tereg sou kom nie.

In die volgende aflewering meer oor die stryd wat met die Suid-Afrikaanse regering van genl Smuts voorgelê het.