DIE REGERING VRA 'N WAARBORG
(Lees reeks by Duitse weeskinders 1948 )
Werner (Shellack) van der Merwe
Soos daar in die vorige aflewering aangetoon is het die regering in September 1947 aan die DKF toestemming verleen om 'n 100 Duitse wesies na die Unie te bring. Uiteraard wou die Fonds graag baie meer kinders gebring het en daarom ontstaan die vraag of die onderneming ter wille van 100 kinders nog enigsins die moeite geloon het. Die dagbestuur was egter daarvan oortuig dat die skema uitgevoer moes word. Die belangrikste rede hiervoor moet daarin gesoek word dat die regering die Fonds te verstane gegee het dat, indien die eerste 100 kinders suksesvol uitgebring word, die regering geneë sou wees om op 'n latere tydstip nog kinders na die Unie te laat kom.
Die regering se toestemming om 100 Duitse weeskinders na Suid-Afrika te bring, was egter aan 'n baie belangrike voorwaarde gekoppel: Die DKF moes die regering van 'n waarborg voorsien dat die kinders tot en met hul mondigwording behoorlik versorg word sodat hulle nie van die staat afhanklik sou wees nie. In ruil vir hierdie waarborg het die regering onderneem om die vervoerkoste van die kinders en van ongeveer sewe volwasse begeleiders te betaal. Die regering het egter bepaal dat sy bydrae om die eerste 100 wese te bring nie die bedrag van 5 500 pond oorskry nie. Sou die Fonds wel daarin slaag om meer as 100 geskikte kinders te vind, was die Tesourie wel bereid om die bykomende onkoste te betaal.
Uit Tesourieskrywes aan die DKF is dit duidelik dat die regering bereid was om verdere kinderimmigrasie later weer te oorweeg indien die eerste poging geslaagd was. Vir die dagbestuur was dit ongetwyfeld bemoedigende nuus. Daarom is daar besluit om met die skema voort te gaan. Dat die regering daarop aangedring het dat die kinders fisies en geestelik gesond moes wees het die dagbestuur as byna vanselfsprekend aanvaar want dit was immers ook sy oogmerk.
Dit is eweneens begryplik dat die regering 'n waarborg van die DKF verlang het ten opsigte van die versorging van die kinders. Sonder sodanige waarborg kon dit gebeur dat die kinders mettertyd van die staat afhanklik raak. Omdat die DKF onseker was oor die soort waarborg wat die regering verlang het, is die saak met Kuschke bespreek. Hy was egter ook nie seker oor hoe daar te werk gegaan moes word nie aangesien sy departement nog nooit met soortgelyke sake te doen gehad het nie. Hy het aan die hand gedoen dat die Fonds die hele aangeleentheid met 'n versekeringsmaatskappy moes bespreek ten einde vas te stel of die Fonds teen mislukking verseker kon word.
In die lig van Kuschke se wenk het die dagbestuur die hele kwessie met 'n mediese praktisyn, ene dr Rompel, bespreek. Volgens hom moes die Fonds daarmee rekening hou dat ongeveer 10% van die totale getal kinders se aanneming en latere aanpassing onsuksesvol sou wees. Die Fonds moes derhalwe vir 'n mislukking van 10% begroot. Na aanleiding van Rompel se advies is daar besluit om twee versekeringsmaatskappye, SANTAM en SANLAM, te nader en te hoor of hulle die Fonds teen mislukking sou verseker. Die mees problematiese aspek aan hierdie soort versekering was om die premies te bepaal, aangesien niemand eintlik geweet het vir hoeveel geld die verloop van menselewens teen mislukking verseker kon word nie. Die DKF het gehoop dat die regering met 'n bedrag van 5 000 pond as eerste sekuriteit tevrede sou wees maar dit het geblyk dat die bedrag veel nader aan 10 000 tot 15 000 pond sou wees. Op 'n vergadering van die breë bestuur is daar besluit om so spoedig moontlik die bedrag van 10 000 pond in te samel om die waarborg te voorsien.
Intussen het die onderhandlings met SANTAM en SANLAM op niks uitgeloop nie. Die besturende direkteur van SANLAM, dr MS Louw, was die saak baie simpatiekgesind maar het die Fonds meegedeel dat dié soort versekering buite die perke van sy maatskappy geval het. 'n Soortgelyke antwoord is van SANTAM ontvang. Dr Louw het aan die Fonds voorgestel dat die maatskappy Lloyds genader moes word maar hy was nie juis optimisties dat Lloyds die versekering sou kon behartig nie aangesien daar eintlik niks konkreets was waarop gewerk kon word nie. Boonop sou Lloyds waarskynlik buitegewone hoë premies vir diésoort versekering verlang.
Volgens dr Louw was daar egter 'n heel praktiese manier waarop die hele kwessie van die waarborg bevredigend die hoof gebied kon word. Die DKF moes erkende organisasies soos die ACVV en die SAVF versoek om tesame met die Fonds as medeborge vir die skema op te tree. Wanneer die skema deur erkende instansies geborg word sou dit waarskynlik nie te moeilik wees om die regering daarvan te oortuig dat 'n waarborg van 10 000 pond voldoende was nie.
Die dagbestuur het dadelik Louw se wenk opgevolg en by die kerke om hulp gaan aanklop. Op 5 November 1947 het die voorsitter en die sekretaris 'n onderhoud gevoer met die Sinodale Sekretaris van die NG Kerk, ds AJ Burger. Reeds die volgende dag het ds Burger die Fonds laat wees dat die kerk bereid was om as 'n medeborg vir die skema op te tree. Die kerk sou nie geldelik vir die sukses van die skema instaan nie maar was bereid om, indien sake skeef loop, minstens die eerste vyf uit die 100 kinders in een van sy weesinrigtings op te neem en tot en met die kinders se mondigwording te versorg. In Desember 1947 het die NH Kerk die Fonds in kennis gestel dat hy ook bereid was om vyf uit die 100 kinders te versorg. Van die Gereformeerde Kerk is daar geen reaksie ontvang nie.
Dit wil voorkom asof die DKF taamlik haastig was om die regering van die waarborg te voorsien want nog lank voordat daar van al die betrokke instansies antwoorde ontvang is het die bestuur vir Kuschke in kennis gestel dat die Fonds die suksesvolle uitvoering van sy skema kon waarborg. Die dagbestuur het onder ander vir Kuschke daarop gewys dat daar in daardie stadium reeds meer as 800 aansoeke van voornemende pleegouers ontvang is. Daar sou dus geen probleme wees om die 100 kinders geplaas te kry nie. Verder was die Fonds besig om ooreenkomstig Wet No 46 van 1926 hom as maatskappy te laat registreer wat sou beteken dat die DKF 'n regspersoonllikheid met beperkte aanspreeklikheid sou word. Origens is Kuschke se aandag daarop gevestig dat die kerke ingestem het om 10 wesies oor te neem indien nodig. Boonop het die Fonds reeds oor sowat 2 824 pond beskik. Die regering was met hierdie waarborg tevrede.
Omdat die regering van die DKF hierdie waarborg verlang het was dit nodig om die Fonds as 'n maatskappy te registreer. In September 1947 het die dagbestuur sy prokureur opdrag gegee om met registrasie te begin. Dit is in Mei 1948 afgehandel.
Aan die einde van 1947 het die DKF egter minder as 3 000 pond in die bank gehad. Daar was minstens 13 000 pond nodig. Die regering se 5 000 pond was darem al bymekaar. Dus was nog net sowat 5 000 pond nodig.
'n Brief wat die sekretaris in Desember 1947 van die hoofredakteur van Die Burger, dr AL Geyer, ontvang het was egter baie bemoedigend. Hy het hulle meegedeel dat die drie koerante van Nasionale Pers, Die Burger, Die Oosterlig en Die Volksblad, van voorneme was om 'n gedeelte van die geld wat vir hulle kersfonds ingesamel is aan die DKF te skenk. Geyer wou van Schalk Botha weet hoeveel geld die Fonds benodig het. Botha het hom laat weet dat die Fonds sover nog net een vyfde van sy beraamde onkoste kon dek. Aangesien Botha geen bepaalde bedrag genoem het nie het hy dit eintlik aan Nasionale Pers oorgelaat om te besluit hoeveel geld hulle wou skenk. In Maart 1948 het Geyer laat weet dat Nasionale Pers bereid was om sowat 3 000 pond aan die DKF te skenk.
Intussen is daar ook vir die NG Kerk vir 'n skenking gevra. Daar is besluit om op 'n pond-vir-pond-basis tot die maksimum bedrag van 2 200 pond by te dra.
Nasionale Pers en die NG Kerk het dus saam meer as 5 000 pond aan die DKF geskenk. Nou was daar genoeg geld om die skema suksesvol deur te voer.
Vervolg: Mediese keuring van die weeskinders...