BROKKIES GESKIEDENIS (12)

Lees reeks by Brokkies Geskiedenis

DIE DROOGTE VAN DRIE-EN-DERTIG

Nog dekades ná die 1932-1933-droogte is dikwels verklaar: die ergste sedert 1933; eers die 2015-2016-droogte was erger. Droogte was deel van die lewe in Suid-Afrika. Die "grote droogtevraagstuk", in 1922 so genoem in 'n verslag van 'n kommissie van ondersoek, was dan ook die tema van verskeie artikels, boeke en amptelike verslae.

In een daarvan, Dorre Suid-Afrika (1921) skryf 'n Brandfortse geneesheer, JD Schonken, dat droogte die grootste beletsel in die vooruitgang van Suid-Afrika genoem is. As die land elke jaar sy berekenbare vaste reënval gehad het, sou die ander moeilikhede en strawwe niks gewees het nie, "maar teen die droogtes staan ons magteloos".

Enige boer van die distrikte random die Karoo kan mens vertel hoe die veld nog in sy tyd verander het van '"n vrygoeie grasveld" na egte karoo. Ondergrondse water gee in. Cradockse watervoorraad het in 1919 opgeraak. "In Bloemfontein had ons 'n tyd gelede amper die ergste graad belewe, nl. dat 'n hele stad se bewoners op die punt was om te trek, omdat die stad ten gevolge van waterskaarste onbewoonbaar geword het, toe op die kritieke moment 'n stortreën verlossing gebring het."

Die droogte van 1932-1933 was nie die eerste groot droogte wat geboekstaaf is nie - daar was ook dié van 1864, 1903 en 1916. Maar eersgenoemde was die ergste. Koerante het berigte geplaas oor duisende skape wat dood lê op die veld; skaars tien distrikte het naderhand genoeg gras gehad.

'n Ekonoom, C van H du Plessis, skryf in SESA 4 (1979) dat die droogte so ernstig en algemeen was dat dit die landbou in sommige dele van die land verander het. Groot dele van die Vrystaat en Transvaal het van wolboerdery na landbou oorgegaan. In 1930 het die land 66 887 000 stuks vee gehad (beeste, skape en bokke), in 1963 nie meer nie as 56 952 000.

Behalwe baie beeste het boere in 1932 sowat 2 354 000 en in 1933 7 451000 stuks kleinvee verloor. In 1939 (en 1963) het Suid-Afrika nog byna 10 miljoen minder skape gehad as in 1930.

Elizabeth Vermeulen, skryfster van 'n drietal romans oor die pioniers van "die Noordweste", (dit was die noordweste van die Noord-Kaap) gee in Elsa ‘n beeld van die lyding en ontberings van mense en diere in daardie streek. Honderde gesinne het al hul vee verloor en na die dorpe getrek, ander is met hul maer skape na lande soos Betsjoeanaland om daar veld te probeer huur. Die spoorweë het hulle teen 'n verlaagde tarief vervoer. Die droogtetreine het geen passasierswaens gehad nie, en die trekboere, hul gesinne en bediendes is op waens, karre en motors op oop trokke vervoer. In dié roman word die skape afgelaai by 'n stasie aan die hoofspoorlyn na Rhodesië (Zimbabwe). Daar heers hongersnood, en wanneer die trein stop, bestorm swart mense die trein en bied aan om die lewende diere af te laai in ruil vir die eetbare karkasse op die trein.

Só het droogtes bygedra om die vooruitgang van ons land te kortwiek.