Lees reeks by Brokkies Geskiedenis
Kruger aan Leyds: "Ek het elke dag vir jou GEBID”
Die begin van die einde lê in 'n geskiedenis wat later deur Henriette Grove uitgebeeld is in 'n drama, Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het (1975). DF du Toit het die Vierkleur gehys oor 'n betwiste gebied aan die grens. Die wêreld het dit as anneksasie gesien en die gevolg was groot verontwaardiging. Brittanje het in 1885 ingegryp en die gebied wes van Transvaal en suid van 22 grade Suiderbreedte tot Britse protektoraat geproklameer. Transvaal kon dus nie meer weswaarts uitbrei nie.
Minder ernstig was Du Toit se bemoeiing met St Luciabaai. Toe die Duitsers in 1884 in besit van die baai wou kom, het hy gereken hy moet hulle daarmee help om te verhinder dat Engeland dit inpalm. Toe dit aan die lig kom, moes hy sy bemoeiinge staak. Min mense was hiervan bewus, maar vir Kruger het dit oortuig dat daar beter raadgewers is as Du Toit. Van hierdie tyd af het Du Toit se houding teenoor Kruger en Transvaal vyandiger geword, veral nadat hy in 1891 terug is Paarl toe. Hy was baie sterk teen die Hollanders in die landsbestuur. Hoewel staatsprokureur EPJ Jorissen so 'n besielende rol voor en tydens die Vryheidsoorlog gespeel het, het Du Toit in 1883 sy ontslag help bewerkstellig omdat Jorissen vrysinnig was. Mettertyd het Du Toit alles uit Nederland as liberaal verdoem. Ook van dr. Leyds, nuwe staatsprokureur en later staatsekretaris, het hy nie gehou nie.
In dié opsig het Du Toit teenoor Kruger gestaan. Pres. Kruger was die eerste Suid-Afrikaanse staatsman wat die Britse invloed en die uitbreiding van Engels as taal vir die Afrikaner aktief teengegaan het. Vir sy beleid was Hollands onontbeerlik en, solank daar nog nie genoeg opgeleide Afrikaners was nie, ook Nederlandse amptenare. Hoewel baie Transvalers anti-Hollander was, het die president baie steun gehad en die Volksraad het Leyds in 1892 met groot meerderheid tot staatsekretaris herkies. Die invloed van die Nederlanders is erg oordryf. In 1897 het die ZAR 1958 amptenare gehad, van wie 306 Hollanders was, 682 Transvalers, 478 Kolonialers, 105 Vrystaters, 42 Natallers, 107 Britte en 66 Duitsers. Baie van "Krugers Hollanders" het hulle sterk met Transvaal vereenselwig en in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel.
Kruger, miskien die grootste Afrikaner van die 19de eeu, was skynbaar 'n eenvoudige man maar het beskik oor 'n merkwaardige intellek, fenomenale geheue, ingebore juridiese vermoë, welsprekendheid en sin vir waardigheid. Van Leyds het hy 'n hoë dunk gehad. Toe Leyds in 1896 terugkeer na 'n Europese besoek, het Kruger hom op die stasie gaan ontvang. Dit was 'n seldsame eerbetoon en Leyds was sprakeloos van ontroering toe Kruger sy hand in syne neem en bewoë se: "Doktor, ek het jou so gemis; en so lank jy weg was, het ek elke dag vir jou gebid. Jou bloed is warm en my bloed is warm en as ons aan mekaar raak, dan vlieg die vuur. Maar ek sal jou sê waarom ek tog nooit my vertroue in jou verloor het nie: jy sê my alles in die gesig; jy doen nooit iets agter my rug nie."
Ons stuur graag die skakel van die volledige elektroniese Bybel aan u. Die voordele van die e-Bybel is dat daar blitsvinnige naslaanwerk gedoen kan word deur middel van die subskakels. Ook kan u dit in groot skrif op u rekenaar lees. Laai die Bybel op u rekenaar af en bêre dit volgens die aanwysings hieronder.
Die Bybel - Afrikaans (1933 1953-vertaling).pdf
of
Sodra u hom kliek sal hy oopmaak in 'n nuwe venster. Na 'n paar sekondes behoort hy regs bo-aan 'n "Download" knoppie te wys. Kliek "Download", kies "Direct download" en bêre hom op u hardeskyf waar u dit maklik sal vind.
As daar intussen 'n Dropbox-intekenvorm oopgaan, maak hom maar net toe.
Die finale pdf-lêer is sowat 30 Mb groot.