GENERAAL KOOS DE LA REY (1)

Lees reeks by Generaal Koos de la Rey

Hennie de la Rey was teen 1914 die oudste oorlewende seun van generaal Koos de la Rey. Soos hyself vertel, het hy die rol van ’n privaatsekretaris vir sy pa vertolk. As sodanig was hy oor die laaste dekade van sy pa se lewe baie na aan hom. In hierdie reeks vertel hyself meer van sy pa.

My pa was lid van die Eerste Volksraad in die ou ZAR. Van sy verslagvergaderings het hy dikwels op die plaas Korannasfontein gehou. Hier het veral die burgers van die distrik Wolmaransstad na hom kom luister. En dit is hier waar generaal Koos de la Rey se paadjie met die van Nicolaas van Rensburg gekruis het.

Die Van Rensburgs het op die plaas Lakensvlei gebly. Dit was een van die plase in die Wolmaransstaddistrik. Terloops, die dorp Ottosdal is aangelê op die plaas Korannasfontein.

Om wie ookal eendag hierdie herinneringe van my lees, te help om sy eie gevolgtrekkings oor Nicolaas van Rensburg te maak, wil ek sommer uit die staanspoor van ’n persoonlike ondervinding vertel.

Daar was mense wat Nicolaas van Rensburg as ’n dromer of as ’n siener of selfs as ’n profeet beskou het.

Ek het self op die plaas Kromdraai naby Baberspan gewoon. Dit was omtrent 25 myl van oom Nicolaas van Rensburg se plaas. Dit was in 1913 en ek het vir die naweek opgekom na my ouers op die plaas Elandsfontein naby Lichtenburg.

So met die groet aan die einde van die naweek sê my pa vir my dat hy van plan was om die volgende naweek by my op die plaas ’n draai te maak. Hy sê toe dat ek hom die Saterdagaand kan verwag. Hy voeg by dat hy oom Nicolaas van Rensburg lank nie gesien het nie.

Hy vra my toe om vir oom Nicolaas te laat weet dat hy die naweek in die omgewing sou wees en dat hy graag oom Nicolaas ook sal wou sien.

Terug op my plaas het ek dadelik een van my werkers met ’n brief met die boodskap na oom Nicolaas op Lakensvlei gestuur.

Die Saterdagmiddag waarop ek my pa verwag het, was ek nog met die vee besig toe ek ’n perdekarretjie sonder tent by die huis op die werf sien aankom. By die huis aangekom, vind ek toe dat dit oom Nicolaas is. Nadat ons gegroet het, gaan ons toe die huis in vir ’n koffietjie.

Ons het oor ditjies en datjies gesels. Toe die son be­gin sak, staan ek op en kyk by die deur uit oor die lang kaal vlaktes of ek nog nie my pa sien aankom nie. Daar was egter niks te sien nie.

“Vir wat kyk jy, Hennie?” vra oom Nicolaas skielik hier agter my.

“As die Generaal soos gewoonlik vroeg van Lichtenburg vertrek het, is dit nou omtrent tyd dat hy hier sal aankom,” antwoord ek.

“Nee, Hennie,” sê oom Nicolaas met sy kenmerkende laggie, “ons hoef nie oom Koos vanaand te verwag nie.”

Vir ’n oomblik was ek uit die veld geslaan. Oom Nicolaas verduidelik toe dat toe hy die oggend by die huis weg is, hy vir sy vrou gesê het dat dit snaaks is dat hy nog nooit generaal de la Rey ontmoet het sonder dat hy vooraf gesien het hoe hulle bymekaar kom nie. Hy het toe vir haar gesê dat hy nog niks gesien het nie.

Dit was nie normaal nie.

Oom Nicolaas vertel toe dat hy, onderwyl hy onderweg na my was, ’n gesig gesien het. Hy het generaal de la Rey in ’n motor met iemand anders gesien. Die motor was in die ooste en dit wou lyk asof hulle onderweg na Pretoria was.

Aangesien oom Nicolaas reeds vir die mense langs die Brakspruit belowe het dat hy die volgende dag daar ’n diens sou hou, het hy maar deurgekom na my plaas, hoewel hy geweet het dat die generaal nie daar sou wees nie. So het hy my vertel. [Oom Nicolaas van Rensburg was ’n ouderling in die Hervormde Kerk en ’n bekende lekeprediker - red.]

Ek het niks gesê nie. Ek het egter sterk aan die ‘gesig’ van die oubaas getwyfel. Dit was toe omtrent so agtuur die aand. Daar was ’n klop aan die deur. Toe ek oopmaak, staan daar ’n konstabel met ’n telegram.

Dit was van my pa. Generaal Smuts het onverwags by hom op Elandsfontein opgedaag. Hy moes vir dringende sake per motor saam met generaal Smuts na Pretoria gaan en kon nie meer na my kom nie.

Dit is verstaanbaar dat wat hier gebeur het, ’n diep indruk op my gemaak het. Ek kan nie sê dat dit onverwags was nie, want ek het vir jare reeds na dergelike gebeurtenisse geluister. Dit was egter die eerste keer wat dit nie ’n geval van hoor en vertel was nie, maar ’n persoonlike ondervinding. My gedagtes het rondgesweef soos ek geprobeer het om ’n verduideliking vir die gebeurtenis te vind.

Oom Nicolaas het die aand by my in die kamer geslaap. Die onstuimigheid in my gemoed wou maar nie gaan lê nie. Dit is toe wat ek besluit tot hiertoe en nie verder nie. Nou gaan ek die oubaas vra.

“Oom Nicolaas,” begin ek versigtig. “ek weet Oom praat nie sommer oor die dinge nie. Maar sê my hoe en waar en wanneer word die gesigte wat Oom so sien aan Oom geopenbaar? As Oom nie wil praat nie, is dit ook reg so.”

“Nee, Hennie,” begin die ou man, “dit is ’n lang storie wat baie jare gelede begin het. Maar ek sal jou vertel.

“Toe ek so ’n jong seun was, so ’n penkop, het ek soms die snaaksste drome gehad. Ek het my nie veel daaraan gesteur nie. Ek het gedink ek droom maar soos enigiemand anders en dat dit iets doodnatuurliks was.

“Ek het egter begin opmerk dat soms lank nadat ek gedroom het, en soms net kort na ek gedroom het, goed gebeur het net soos ek dit in my drome gesien het. Ek het eers vir niemand hiervan vertel nie, maar later het ek tog oor een van die drome met my broers gepraat.

“Die klomp het die hele ding in ’n spottery laat ontaard. Ek het toe besluit om maar stil te bly en die drome vir myself te hou. Ek het egter waargeneem hoe my drome bewaarheid is, maar ek kon met niemand daaroor praat nie.

“Hennie jong, die storie is ’n lang storie,” het oom Nicolaas homself onderbreek.

“Nee, gaan aan, Oom. Ek luister,” por ek hom aan.

“Wel,” gaan hy voort, “toe ek al ’n man in my middel dertigs was, het gerugte van ’n komende oorlog sterk die rondte begin doen. Die Volksraad het verdaag en die lede moes by die burgers gaan uitvind hoe hulle voel oor die kwessie van oorlog of nie en ook of ons gewillig sou wees om aan die uitlanders na vyf of drie jaar stemreg te gee.

“Jou pa, oom Koos, het op Korannasfontein met die burgers kom praat. Ek was ook daar. Hy het gesê dat die land nie vir ’n oorlog gereed is nie en dat tyd ten alle koste gekoop moes word. Hy het verduidelik dat Engeland in geval van ’n oorlog alle invoere na die Transvaal sou stop en dat daar in ’n uitgerekte oorlog net een uitslag kon wees. Ons sou ons vryheid verloor en alles waarvoor ons gestaan het.

“Nadat hy gepraat het, het die meeste burgers teen ’n oorlog gestem. Ek was egter ten gunste van ’n oorlog en het by die vergadering in die minderheid gestem,” het oom Nicolaas vertel.

“Terug in Pretoria,” gaan oom Nicolaas voort, “was die meerderheid lede van die Volksraad ten gunste daarvan om sonder verdere onderhandelings ’n ultima­tum aan Engeland te stuur. Slegs ses lede van die Volksraad, waaronder generaals De la Rey en Botha, het teen die besluit gestem.

“Die ses lede is toe deur die ander manne gekoggel. Dit was toe dat generaal De la Rey opgestaan het en sy bekende toespraak gehou het. Hy het gesê dat hy hom in die siening van die meerderheid berus. Hy het belowe dat hy tot die bittereinde vir sy vaderland sou veg en het toe profeties bygevoeg dat van die agbare lede wat toe so entoesiasties ten gunste van ’n oorlog was, dalk teen daardie tyd nie meer in die veld sou wees nie.

“Ek self was baie entoesiasties oor die besluit van die Volksraad en kon nie wag dat die oorlog moes begin sodat ek die Engelse kon skiet nie. Ek het nie gewag vir oproepinstruksies nie, maar myself gaan aanmeld.

“Toe die oproepinstruksies kom, moes die kommando’s uit Wes-Transvaal hulle op Polfontein in die distrik Lichtenburg, aanmeld. Later is ons na Rietfontein op die grens van Transvaal verskuif. Op versoek van kommandant-generaal Piet Joubert is jou pa as veggeneraal aangestel.

“Terwyl die kommando’s hier by Rietfontein gewag het dat oorlog verklaar word, was dit die gewoonte dat die perde elke aand gespan word. En toe een oggend, is my perd weg. Ek het my broer se perd geneem en hot en haar tussen die duisend perde na myne gesoek, maar tevergeefs.

“Uit pure moedeloosheid ry ek toe so ’n ent terug op die pad na Wolmaransstad. En daar tel ek toe die spoor van twee gespande perde op. Ek het die spore tot by my huis gevolg.

“Daar sê hulle toe vir my dat die perde reeds vroeg die oggend daar aangekom het. Ek het dit vreemd gevind dat gespande perde so ver kon afdwaal, maar het niks gesê nie.

“Toe ek weer die pad wil vat, vra my vrou dat ek net ’ n bietjie moet vertoef, aangesien sy besig was om beskuit te droog. As ek wag, kon ek sommer van die beskuit saamneem.

“Met die wag het die tyd my ingehaal en het dit begin donker word voordat ek terug by die kommando kon kom. Aan die Hartsrivier kom ek toe by ’n klein vaal huisie. Net die vrou en haar kinders was daar, aangesien haar man reeds by die kommando was.

“Ek verduidelik toe aan die vrou dat ek die vorige nag met die perdesoekery



feitlik nie ’n oog toegemaak het nie. Ek vra haar toe of ek my nie net vir ’ n uur of wat kon neerlê nie.

“Nadat sy vir my kos gegee het, neem sy my na ’n kamer wat nie ’n deur in gehad het nie. Daar was net ’n gordyn waar die deur moes wees. Sy sê toe dat ek maar gerus kan slaap en dat sy my met ’n koppie koffie sal kom wakker maak. Ek het nog gesê dat sy nie moet moeite doen nie.

“Ek was so moeg dat ek dadelik aan die slaap geraak het. Ek weet nie hoe lank ek geslaap het nie, maar dit kon nie lank gewees het nie, toe hoor ek iemand die kamer binnekom. Toe ek my oë oopmaak staan daar ’n vrou voor my bed. In haar hand het sy ’n papier gehad, wat soos ’n koevert gelyk het.

“Ek het gedink dit is my gasvrou wat dalk iets in die kamer kom haal het. Ek vra haar toe of sy iets soek, maar sy antwoord my nie. Ek merk toe op dat daar op die koevert wat sy in haar hand hou iets geskryf staan. Die hand draai toe die koevert sodat ek duidelik kan lees wat daar geskrywe is.

“Daar staan toe ‘Gaan en werk vir die God van jou volk’. Teen die tyd het ek reeds regop gesit in die bed. Ek wou myself wysmaak dat dit maar net weer een van my drome was, maar hoe meer ek daaraan gedink het, hoe meer het ek besef dat ek deur die hele voorval helder wakker was.

“Skielik het ’n onbeskryflike vrees en angs my oorval. Ek het dadelik opgestaan en my perd opgesaal en die reis voortgesit. Ek het gehoop dat die vrees sal verdwyn as ek eers onderweg was.

“Algaande het dit erger geword. Nieteenstaande werklike pogings om te vergeet wat gebeur het en selfs na ek my toevlug tot gebed geneem het, het dit niks gehelp nie. Geen verligting of verandering het ingetree nie.

“Ek het uit moedeloosheid aan myself vertel dat ek besig was om kranksinnig te word. Ek moet erken dat kranksinnigheid dalk ’n verlossing sou wees uit die toestand waarin ek was.

“Toe ek eindelik die kommando’s nader, het die gewoel en gewerskaf daar my aan die verderf laat dink; of altans die verderf soos ek dit my uit die Bybel voorgestel het.

“By die kommando’s het ek niemand vertel van wat gebeur het nie. Ek het net daarna gesmag om alleen te wees. Sodra ek alleen was, het ek weer geworstel met die behoefte om by iemand te wees.

“Die dag nadat ek weer by die kommando was, het ons na Kimberley afgetrek. Dieselfde aand nog is die eerste skote van die oorlog by Kraaipan gevuur.

“Ek is saam na Kimberley, maar het altoos ‘n afstand tussen my en die kommando gehou. Ek het ook altyd op my eie geslaap. As die offisiere verneem het waar ek was, was die antwoord altyd: ‘Hy lê onder ’n bos’.

“By Kimberley het my toestand net vererger. Dit het so erg geword dat die kommandant my kom besoek het en my beveel het om na Lakensvlei terug te keer en om by my huis verligting te gaan soek.

“By die huis het ek geen verligting ondervind nie. Ek kon nie slaap nie en die toestand het al erger en ondraagliker geword. Ek besluit toe om maar weer na die kommando by Kimberley terug te keer.

“Toe ek naby die kommando kom, het ek afgesaal en in die koelte van ’n boom teen my saal geleun. Daar het ek my eerste gesig gesien.

“Ek het gesien hoe al ons kommando’s na die noorde terugkeer. Almal ry op donkies in ’n verwaarloosde en treurige toestand. Ek het ook groot groepe vrouens en kinders bymekaar gesien. Hulle het gestaan en huil. Dan het ek rook sien opstyg.

“Ek het die gesig nie verstaan nie, behalwe dat dit vir my na dood en verderf gelyk het. Hierdie gesig het nie my toestand verbeter nie. As dit iets was, was dit erger na die gesig.

“’n Paar dae later sien ek die eerste slagveld waar ek later aan ’n geveg sou deelneem. Ek het die rantjies duidelik gesien en ook ’n sloot of ’n spruit waarin die Boere posisie inneem. Ek het ook die klip of hopie gesien waar agter ek saam met van my familie lê. Een van hulle word geskiet. Ek het niemand hiervan vertel nie.

“’n Paar dae later kom die bevele aan die burgers om op ’n spesifieke plek stelling in te neem. Toe ek op die plek kom, was dit presies soos in my gesig. Die vreeslikste was toe die persoon wat in my gesig geskiet word, langs my kom stelling inneem het.

“Die geveg het ook net begin toe hoor ek die man langs my sug. Hy was swaar gewond. Toe gebeur iets wonderliks. Die angs en vrees wat my in daardie sta­dium vir dae reeds geteister het, het skielik verdwyn. Dit was of ek uit die dode na die werklikheid teruggekeer het. Ek en ’n ander burger het die gewonde man opgetel en hom na ’n plek van veiligheid afgevoer.

“Van daardie oomblik af het ek nooit weer vrees gehad nie. Waar ek voorheen dag en nag geworstel het en tot God gebid het dat Hy tog liewer iemand anders moes gebruik om met sy volk te praat, was ek nou rustig. Verdere gesigte het my gehelp om veilig deur die oorlog te kom,” het oom Nicolaas sy vertelling afgesluit.

Die gesigte van oom Nicolaas was meestal in die vorm van diere en beelde. My persoonlike ondervinding was dat oom Nicolaas altyd huiwerig was om die gesigte te vertolk.

“Ons sal maar moet wag en sien,” het ek die oubaas menig keer hoor sê. Omdat oom Nicolaas so huiwerig was om sy gesigte of drome uit te lê, het daar dadelik ’n aantal persone as droomuitlêers hulle verskyning gemaak. Dit is geen wonder nie dat hy later huiwerig was om aan mense, behalwe enkeles, van sy gesigte te vertel.

Talle gerugte en opgemaakte stories oor wat die ‘Profeet’ sou gesien het en wat dit sou beteken, is die land ingestuur. Hierdie stories en gerugte was oom Nicolaas nie waardig nie en het sy reputasie groot skade berokken. Soos die ou Hollandse spreekwoord sê: “Van horen en seggen, liegt men veel”.

Vervolg...