Lees reeks by Generaal Koos de la Rey
Hennie de la Rey was teen 1914 die oudste oorlewende seun van generaal Koos de la Rey. Soos hyself vertel, het hy die rol van ’n privaatsekretaris vir sy pa vertolk. As sodanig was hy oor die laaste dekade van sy pa se lewe baie na aan hom. In hierdie reeks vertel hyself meer van sy pa.
My pa, generaal Koos de la Rey, as politikus
Redenaarstalent, ’n wapen wat op politieke gebied net so onmisbaar soos ’n vuurwapen in die tyd van oorlog is, het by my pa ontbreek.
Nadat die Anglo-Boereoorlog met ’n iets net meer as ’n onvoorwaardelike oorgawe en vrede afgesluit is, moes land en volk op politieke gebied gered word. Van daardie tyd af tot met sy dood, het ek vir my pa as ’n soort privaatsekretaris opgetree. Ek het die meeste van sy korrespondensie behartig en so sy sienswyses, opvattings en oordeel goed leer ken.
Die diepste indruk wat op my gelaat is, was sy onwrikbare geloof dat ons land weer ’n onafhanklike republiek sou word.
Die Boererepublieke het verdwyn, die Engelse kolonies sou ook verdwyn en ’n groot Afrikaanse republiek sou verrys. Die vertroue is gesterk deur die wete dat die Afrikaner goed toegerus was met bekwame en talentvolle manne om die stryd suksesvol te voer.
Sy grootste ideaal was een groot vrye Afrikaanse nasie in ’n republiek. Sy vrees was altyd dat indien die strewe na ’n vrye onafhanklike Afrikanervolk in sy eie republiek sou verflou, dit die einde sou beteken van die Afrikaner se taal, sy godsdiens en alles wat eie aan ’n trotse volk behoort te wees.
Op politieke gebied het hy hom nooit deur mense laat lei nie. Die opvatting is foutief dat hy ’n volgeling van generaals Botha en Smuts was. Wat wel waar is, is dat niemand hom beter geken en verstaan het as Botha en Smuts nie. Hulle was beide bestem om ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse politiek te speel. Daar was by hulle egter geen misverstand oor sy sienings nie, aangesien hulle hom gereeld met groot aangeleenthede persoonlik kom raadpleeg het.
Die eerste stap wat die Engelse regering na die oorlog gedoen het, was om die generaals te nooi om aan die bestuur van die kroonkolonie, Transvaal, deel te neem. Die aanbod is eenparig geweier. Dit is duidelik aan die Engelse gestel dat hulle slegs deel sou wees van ’n regering wat demokraties verkies sou word.
Hiema het die generaals voortgegaan en die politieke party Het Volk gestig. Die Britse regering het toe met die bekende Lyttelton-grondwet vir Transvaal en die Vrystaat vorendag gekom.
Om die saak te oorweeg, is die hele volk na ’ n kongres in Pretoria opgeroep. Voor die Engelse se grondwet aan die volk gestel is, is dit eers deur Het Volk se hoofbestuur bespreek, waarop my pa sitting gehad het. Die hoofbestuur was, met die uitsondering van generaal De la Rey, bereid om by die vergadering aan te beveel dat die grondwet, al was dit maar ’n halwe eier, aanvaar word.
Generaal De la Rey het vasgeskop en gesê dat hy dit onder geen omstandighede by die volk kan aanbeveel nie. Hy het daarop gewys dat die Britse regering belowe het om aan Transvaal selfbestuur te gee. Hy was van mening dat die grondwet net ’n stap is om die skyn te wek dat die belofte nagekom is en die volk gevolglik geen reg op iets meer het nie. So sou volle selfbeskikking nooit verkry word nie.
Die aanbeveling van die hoofbestuur sou die volgende dag aan die volk voorgedra word. My pa het aan my vertel dat generaal Smuts tot laat in die nag pogings aangewend het om hom te oorreed. Hy was egter onwrikbaar. “Jannie, al stem ek alleen daarteen, moet die volk weet dat ek so ’n waardelose konstitusie nie sal aanvaar nie,” was sy allerlaaste antwoord.
Daar is toe besluit om nie die aanvaarding van die voorgestelde grondwet by die kongres aan te beveel nie en die kongres het toe ook hierdie aanbeveling aanvaar.
Dit was die geaardheid van my pa. Hy was ’n man wat nie bang was om in die minderheid te stem as dit was wat sy gewete van hom vereis het nie. Selfs later by die Nasionale Konvensie het hy nie geaarsel om oor ’n bepaalde saak van generaals Botha en Smuts te verskil nie. Hy het in hierdie geval ook teen hulle gestem.
Toe die Transvaalse onderwyswet ’n klousule bevat het wat Afrikaanse kinders verplig het om Engels te leer, maar geen klousule om Engelse kinders te verplig om Afrikaans te leer nie, het my pa dit beskou as ’n poging om die Afrikaner te verengels.
Generaal Smuts se houding was dat Suid-Afrika ’n tweetalige land was en dat geen persoon in die staatsdiens aangestel sou kon word indien hy nie beide tale kon praat nie. Hy wat generaal Smuts is, sou nie wou sien dat Afrikaanse kinders benadeel word omdat hulle nie Engels magtig is nie. Volgens generaal Smuts sou die tweetalige Afrikanerkind al die belangrike poste in die staatsdiens kon beklee. Vir die liggelowige was dit ’n sterk argument. Baie jare later was die staatsdiens egter steeds deur eentalige Engelse amptenare oorheers.
Generaal de la Rey was in die jare tussen 1902 en 1914 die rots waarvan die anti-Afrikaner liewer moes wegbly. Hy was bereid om met die Engelse saam te werk solank as wat samewerking beteken het dat daar nie sig verloor word van die einddoel - ’n onafhanklike Afrikanerrepubliek - nie.
As hy enige teken of stappe bespeur het wat na sy mening die einddoel kon benadeel, het hy dadelik sy stem van afkeer laat hoor. As dit nodig sou word, sou hy ook sy samewerking opskort. Generaals Smuts en Botha het dit terdeë besef.
Toe die krisis in die kabinet in 1912 om die kop van generaal Hertzog ontstaan het, het my pa dit as ’n groot terugslag vir die saak van die Afrikaner beskou.
Die Engelse het jare lank reeds groot sukses met hulle beleid van verdeel en heers gehad. Generaal Louis Botha se beleid van versoening het aan die Engelse die ideale geleentheid gebied om die Afrikaner weer te verdeel.
Met die eerste verkiesing in Transvaal het verskeie lede van die Progressiewe Party - die jingo’s - skielik Het Volk gesteun. Van hulle is ook in die kabinet opgeneem. Met die eerste uniale verkiesing was talle van die jingo’s in die geledere van die Suid-Afrikaanse Party te sien - die party waarin die Transvaalse Het Volk, die Vrystaatse Oranje Party en die Bondparty van die Kaapkolonie opgegaan het.
Dit kan seker gesê word dat die teenwoordigheid van die jingo’s in die regering dit vir die Britse regering makliker gemaak het om meer toegewings te maak. Vir die Engelse het dit die gevaar verminder dat Suid-Afrika later van die Britse Ryk sou wou afskei.
Generaal De la Rey was bereid om saam te werk solank dit beteken het dat meer regte en groter grondwetlike mag verkry kon word. Die volk sou later binne die grondwet van sy selfbeskikkingsreg gebruik kon maak om sy eie heil uit te werk.
In die jare net na Uniewording was die Afrikaner meer as ooit in sy geskiedenis verenig. Hierdie eenheid moes soos ’n kleinood bekerm word.
Dit was ook die jare waarin ek my vader die swaarste sien kry het. Gewoonlik was hy ’n man wat blitsvinnig ’n besluit kon neem. In die dae na die Hertzog-krisis het hy soms dae en weke geworstel om tot antwoorde te kom.
Die volk was geskok en in beroering. Generaal CR de Wet het dadelik aangekondig dat hy Hertzog steun.
In Pretoria het generaal De Wet ’n groot vergadering toegespreek. Ek was self daar en het die saal as ’n oortuigde nasionalis verlaat.
Toe ek dit vir my vader meedeel, sê hy: “Vir die toekoms van die Afrikaner is die ideale en strewe van Hertzog sekerlik die regte. Wat ons reeds reggekry het en wat ons as volk nog moet bereik, sal ons net kan behou en bereik as ons sonder verdeeldheid eendragtig saamstaan.
“Ons gaan ’n moeilike toekoms in. As ek generaals Botha en Smuts nou in die steek laat, lewer ek hulle aan die Engelse uit en sal hulle niks meer vir ons volk kan beding nie.”
’n Vergadering is op Rustenburg belê om die krisis om Hertzog te bespreek. My pa is versoek om as voorsitter op te tree. By die vergadering is hy gevra wat hy van plan was om te doen. Sy antwoord was dat hy ter wille van eenheid in Afrikanergeledere sal voortgaan om generaals Botha en Smuts te ondersteun. Ek wonder baie keer hoe die geskiedenis sou verloop het as hy daardie aand ’n ander besluit sou geneem het.
Die paar jaar na die krisis het stil verloop. Dit was tot die uitbarsting in Augustus 1914 in Europa gekom het en Engeland en Duitsland aanmekaar gespring het.
Tot in daardie stadium het my pa nie aanvaar dat generaals Botha en Smuts imperialisties gesind was nie. Hy het geglo dat die standpunte wat hulle soms ingeneem het, noodsaaklik was om hulle doel te bereik om meer en meer magte vir die Afrikaner met die oog op uiteindelike selfstandigheid te bekom.
Met die gerugte dat Suid-Afrika ook by die oorlog betrek sou word, het mense van heinde en verre na generaal De la Rey gekom om te kom hoor wat hulle nou te doen staan. Hy is gevra om ’n openbare vergadering op Treurfontein toe te spreek om in die krisis leiding aan die kiesers te gee.
My pa het die mense gemaan om kalm en bedaard te bly en het beloof dat hy die vergadering op Treurfontein sou kom toespreek. Kennisgewing van die vergadering is deur die hele distrik gestuur.
Ek was op my plaas Kromdraai toe Cornelius Nieuwenhuizen my van die oproep kom vertel het. Die oproep was vir alle burgers om met ’n perd, saal en toom en proviand vir agt dae na Treurfontein op te ruk.
Allerhande gerugte en riemtelegramme, stories van rebellie, asook van gesigte wat oom Nicolaas van Rensburg, die profeet, sou gesien het, is op ’n groot skaal versprei.
Nieteenstaande die feit dat dit later geblyk het dat nie een van die stories waar was nie, het mense dit goedgedink om met die stories na die landdros op Lichtenburg te gaan. Ek weet nie hoeveel van die stories generaals Botha en Smuts bereik het nie.
Nadat Cornelius Nieuwenhuizen by my weg is, het ek dadelik my pa opgebel. Ek wou van hom weet of die storie van die perd, saal en toom en kos vir agt dae waar was.
Hy het my dadelik verseker dat dit alles onsin is en dat daar glad nie so ’n opdrag deur hom gegee is nie. Hy het gesê dat hy slegs toegestem het om ’n vergadering op Treurfontein toe te spreek omdat hy die mense tot bedaring wou bring. Hy het gevra dat ek dadelik na sy plaas Elandsfontein moes kom.
Op die plaas aangekom vertel my moeder my dat generaal Smuts generaal De la Rey na Pretoria ontbied het.
Nadat hy uit Pretoria terug was, het hy my die hele storie vertel. In Kerkstraat in Pretoria het hy Manie Maritz raakgeloop.
“Generaal, jy moet versigtig wees. Die regering se spioene is agter jou bloed. Generaal Beyers wil jou ook spreek,” het Maritz in sy oor gefluister. [Maritz se hoodskap was oorbodig. De la Rey het reeds op sy plaas ’n telegram waarin Beyers hom versoek het om ook hom te kom spreek, ontvang - red.]
My pa is daarna na die kantoor waar generaals Botha en Smuts saam met die Minister van Justisie, Nicolaas de Wet, op hom gewag het. Sommer met die intrapslag konfronteer hulle hom toe met ’n klomp rapporte en telegramme van magistrate, kommandante en veldkomette wat almal beweer dat hy besig was met die reël van ’n opstand of rebellie.
“Glo julle dit?” wou my pa weet.
“Nee, oom Kosie,” antwoord generaal Smuts toe, “maar daar lê die rapporte. Daar is groot onrustigheid in die land en ons wil Oom vra om die vergadering op Treurfontein af te stel.”
“Jannie,” antwoord generaal De la Rey toe, “die vergadering is juis belê om al die stories te weerlê en die mense tot bedaring te bring. Die stories wat by julle aangedra is, is nonsens. Ek is nie van plan om die vergadering af te stel nie, maar ek sal die verantwoordelikheid op my neem dat daar niks sal gebeur nie. Jy is welkom om te kom luister, Jannie.”
Hierop het minister De Wet hom in die rede geval: “Jy sal maak dat ek die wet op jou moet toepas, generaal De la Rey.”
“Kyk, man, doen jy jou werk, ek sal myne doen,” het generaal De la Rey De Wet vererg toegevoeg.
Generaal Louis Botha het hierna verduidelik dat die Unieregering reeds aan die Britse regering die versekering gegee het dat hy in die geval van ’n oorlog by hom sal staan. Die Parlement moes dit nog net bekragtig.
“Kyk Lewies,” (my pa het generaal Botha altyd Lewies genoem) het my pa hom geantwoord, “ jy kan nie van my verwag om te stem om teen ’n volk oorlog te verklaar wat die Afrikaner nog geen leed aangedoen het nie. Jy kan ook nie van my verwag om te stem om saam met ’n volk te veg wie se geskiedenis en optrede teen die Afrikaner in bloed geskryf is nie. Ek sal my mense na dese nooit weer in die oë kan kyk nie.”
Die argument het tot laat in die nag voortgeduur. Toe dit duidelik word dat niemand gaan ingee nie, sê generaal De la Rey aan generaal Botha: “Lewies, ek en jy loop al ’n lang pad saam. Ons het saam gely en gestry vir ons volk. As jy egter volhard met jou besluit om ons volk vir die onthalwe van Engeland in ’n oorlog te dompel, skei ons paaie. My plan is nie om wette te oortree of te verbreek nie. My plan is ook nie om my volk in die steek te laat nie. Ek sal my plig na die beste van my gewete en vermoë uitvoer.”
Op dié noot is die twee ou krygsmakkers uitmekaar.
Terug op Lichtenburg het generaal De la Rey voortgegaan en die vergadering op Treurfontein toegespreek. Hy het die skare gemaan om niks te doen wat verkeerd of onwettig is nie, maar om eers op die besluit van die Parlement te wag.
Vervolg..