Lees reeks by Generaal Koos de la Rey
Hennie de la Rey was teen 1914 die oudste oorlewende seun van generaal Koos de la Rey. Soos hyself vertel, het hy die rol van ’n privaatsekretaris vir sy pa vertolk. As sodanig was hy oor die laaste dekade van sy pa se lewe baie na aan hom. In hierdie reeks vertel hyself meer van sy pa.
Generaal Beyers, generaal De Wet, die Siener en my pa se dood
My pa het geweet dat generaal Christiaan Beyers hom wou spreek. Toe hy dus in Pretoria was, het hy ’n draai by die kommandant-generaal gemaak.
Generaal Beyers was toe reeds op hoogte van die regering se planne. Hy het generaal De la Rey meegedeel dat hy wou bedank omdat hy in sy hoedanigheid as kommandant-generaal die planne nie kan steun nie. Daar is toe besluit dat generaal Beyers met sy bedanking sou wag tot nadat die Parlement die oorlogsverklaring goed- of afgekeur het.
Generaal De la Rey het onderneem om, indien die pariement die oorlogsverklaring goedkeur, dadelik na Transvaal terug te keer. Generaal Beyers kon dan as kommandant-generaal bedank en my pa sou as hoofbestuurslid van die Suid-Afrikaanse Party bedank.
Saam sou die twee ’n reeks protesvergaderings hou. Hulle het beplan om die eerste van die vergaderings op Rustenburg toe te spreek.
Feite vermeng met gerugte en stories het by die ou heId onder die helde, generaal CR de Wet, in die Vrystaat uitgekom. Hy het besluit om sy ou krygsmakker, generaal Koos de la Rey, op Elandsfontein op te soek. Heeltemal onverwags het hy by my pa opgedaag.
Generaal JH de la Rey net na die Anglo-Boereoorlog.
Ek was op die plaas toe generaal De Wet daar aangekom het. Tot laatnag het die twee generaals die toestand oorweeg, planne beraam en later die Voorsienigheid om leiding in die donker toekoms gevra en gesmeek.
In sy gebed het my pa die woorde “As my lewe my volk kan red, neem dan my lewe,” gebruik. My moeder was baie aangedaan toe sy my pa so hoor bid.
“As julle twee nou so bid, wat moet van my word?” wou sy van generaal De Wet weet.
“God sal voorsien,” was al wat die ou krygsheld geantwoord het.
Snaaks dat hierdie voorval uitgelek het en dat baie verdraaide weergawes hiervan die wêreld ingestuur is. Een was dat generaal De la Rey sou gebid het dat die Here hom moes wegneem as hy verkeerd sou wees.
Toe generaal De Wet die volgende oggend groet voor hy ry, vat hy my pa sy hand en sê: “Oom Koos, as dit jou plan is, sal daar niks van Botha en Smuts oorbly nie.”
Generaal De la Rey het onder die gewone burgers ’n groot aanhang geniet en generaal De Wet het verwys na my pa se voorneme om uit die Suid-Afrikaanse Party van generaals Botha en Smuts te bedank as die Parlement besluit om oorlog teen Duitsland te verklaar. Generaal De Wet was toe reeds lid van generaal Hertzog se nuwe Nasionale Party.
Die Nasionale Party was reeds in Transvaal gestig en voor die sitting van die Parlement die jaar begin het, het my pa op uitnodiging van Tielman Roos ’n vergadering van hierdie Party bygewoon. Hy het geen toespraak gelewer nie en net gaan luister. Baie mense het gewonder of dit nie die eerste tree van die generaal in die rigting van die Nasionale Party was nie. [Hier is Hendrik de la Rey se weergawe nie korrek nie. Die Nasionale Party in Transvaal is eers teen die einde van Augustus 1914 gestig. De la Rey het wel by die vergadering gepraat - red.]
Die aktiewe burgermag, waarvan ek ’n lid en offisier was, was reeds opgeroep vir oefeninge by Potchefstroom. Majoor Jan Kemp was hier die bevelvoerder.
’n Uiters gespanne toestand het daar in die kamp geheers. Die lug was swaar gelaai met gerugte dat die Vierkleur weer gehys sou word.
Die een wou van die ander weet wat gaande is. Van niemand kon jy egter ’n reguit antwoord kry nie. Dit was asof almal net oorgehaal gesit en wag het vir die bevel “Storm”. Niemand wis egter waarheen of teen wie nie. [Daar is ’n bekende staaltjie uit die tyd dat ’n ander kamp se bevelvoerder op die oproepinstruksies gereageer het deur aan generaal Botha ’n telegram te stuur: “Manskappe gereed. Teen wie veg ons? Die Engelse of die Duitsers?” - red.]
Toe ek na die kamp is, het my pa my gevra om aan majoor Kemp te sê dat hy onderweg na die Kaap vir die sitting van die Parlement sy reis vir ’n dag op Potchefstroom sal onderbreek. Die storie het vinnig onder die offisiere en manskappe versprei. Allerlei afleidings is sonder enige rede gemaak.
Generaal De la Rey het gekom en gegaan sonder dat enigiets noemenswaardig gebeur het. Geen vergadering is toegespreek nie. Hy het bloot aan majoor Kemp gevra om kalm en bedaard te bly.
Ek en majoor Kemp het generaal De la Rey die aand na die stasie op Potchefstroom geneem. Wat ek nie geweet het nie, was dat ek my pa daar vir die laaste keer sou groet.
Sy laaste woorde aan my was: “As die Parlement die oorlogsverklaring goedkeur, sal ek dadelik terugkeer. Ek sal aan jou ’n telegram stuur sodra ek vertrek.”
Die telegram wat ek ontvang het, het bloot gelui: “Verwag my Maandag te Potchefstroom.”
Dit was die Saterdag. Majoor Kemp het self die telegram aan my oorhandig. Ek het dit toe aan hom voorgelees.
“Generaal Beyers het as kommandant-generaal bedank. Ek gaan ook bedank,” het majoor Kemp aan my gesê.
“Wat van my? Moet ek ook bedank?” wou ek weet.
“Nee, julle offisiere moet op julle poste bly,” was sy opdrag.
In die kamp was alles in rep en roer. Almal het voorberei om huis toe te gaan. Die kommandant-generaal het bedank, majoor Kemp, die bevelvoerder, het bedank. Almal wou net wag om te hoor wat generaal De la Rey Maandag sê.
Sondagoggend het majoor Kemp na my tent gekom. “Ek het met generaal Beyers gepraat. Hy het gesê dat hy Maandag saam met jou pa hier sal wees. Hy is van plan om die kamp te ontbind,” het majoor Kemp my meegedeel.
Hy sê toe dat generaal Beyers dit wenslik ag dat oom Nicolaas van Rensburg, die Siener, ook hier moet wees wanneer hy en generaal De la Rey op Potchefstroom aankom.
“Ek twyfel of oom Nicolaas met enigiemand saam sal kom. Ek dink jy moet hom gaan haal. Ek sal vir jou ’n privaatmotor met ’n bestuurder gee. Wag tot donker. Jou bestuurder sal ’n Botha wees,” se majoor Kemp toe.
“Ek ken die Botha nie, majoor,” antwoord ek toe, “en jy weet hoe befoeterd oom Nicolaas kan raak. Hy kan maklik weier om saam met ’n vreemde in die kar te klim.”
“Moenie bekommerd wees,” het majoor Kemp my verseker.
Terloops, dieselfde Botha is later in dieselfde motor met oom Nicolaas en majoor Kemp en die protesterende burgers deur die woestyn na Duits-Suidwes-Afrika.
Ek het net na sononder vertrek en teen elfuur die aand was ons by oom Nicolaas op die plaas. Ek het vermoed dat hy lankal sou slaap en was verbaas toe ek sien daar brand nog ’n lig.
Toe ek aanklop, het hy op sy gewone stadige manier uitgekom. Toe ek hom groet, sê hy “O, Hennie, is dit jy?”
Hy het ons ingenooi en ek het oor ditjies en datjies begin praat. Ek merk egter op dat dit lyk asof oom Nicolaas besonder bedruk is.
Dit was asof ek nie sy aandag kon behou met wat ek sê nie. Aangesien ek hom goed geken het, het ek vermoed dat die persoon wat saam met my was, die probleem was.
“Ja, Hennie,” val oom Nicolaas se vrou my skielik in die rede, “jy sal dit seker eienaardig vind dat ons nog wakker is, maar oom Nicolaas het vir my gesê dat ek maar kan gaan slaap. Hy sien egter iemand aankom en dit sal nie help as hy gaan lê nie.”
Ek sê toe vir oom Nicolaas dat ek jammer is om so laat by hom aan te kom, maar dat ek ’n dringende boodskap vir hom het.
“Kan ons na ’n ander kamer gaan sodat ek dit vir Oom kan gee,” vra ek.
“Nee, Hennie, daar is niks verkeerd met die kamer nie. Jy kan maar praat,” sê Siener.
Ek vertel hom toe van die besluit van die Parlement om saam met Engeland oorlog teen Duitsland te maak en die bedanking van generaals Beyers en Kemp.
“Almal sal Maandag op Potchefstroom wees. My pa ook. Majoor Kemp dink dat dit belangrik is dat oom ook daar moet wees. Dit is hoekom hy my met die kar gestuur het en ek belowe om Oom na die vergadering self weer terug te bring,” sê ek toe.
“Hennie, is jy seker dat jou pa ook daar sal wees?” was sy wedervraag.
Ek haal toe die telegram van my pa uit en wys dit vir hom. “Ek glo nie dit is ’n grap nie,” sê ek.
Hy sit toe ’n rukkie doodstil.
“Nee, Hennie,” begin hy toe weer, “ek sal nie gaan nie. Jy weet ek het oom Koos nog nooit ontmoet nie of ek sien die ontmoeting vooraf en ook waar ons mekaar ontmoet. Dit sal hierdie keer nie op Potchefstroom wees nie.
“My kar staan voor die deur en die perde is in die stal gereed om dadelik ingespan te word. Ek wag net vir ’n boodskap. Ek het jou sien kom, maar jou boodskap is nie die een waarop ek wag nie.
“Ek het ’n gesig gesien van iets wat sommer baie naby is. Ek sal sekerlik na Lichtenburg geroep word. Dit sal so haastig wees dat ek die kar en perde maar gedurig gereed hou.
“Ek sien in Lichtenburg ’n baie groot vergadering. So groot as wat daar nog nooit was nie. Mense kom uit alle oorde aangestroom. Ek sien my in my perdekar onderweg na daardie vergadering. Naby Lichtenburg hang daar ’n pikswart wolk oor die dorp. Dit is so donker dat ek die dorp byna nie kan sien nie. Naby die dorp is die rietvlei afgebrand, maar die swart riete staan nog regop.
“In die dorp op die plein is ’n groot klomp mense. Ek sien die Vierkleur.
“Ek sien hoe ek met die perdekar op die hoek van ’n straat stilhou. ’n Groot motor belaai van blomme kom aan. Voor my staan ’n man sonder baadjie met ’n wit hemp en sy moue opgerol. Toe die motor by ons kom sê die man vir my ‘Daar is ons generaal’, sluit oom Nicolaas af.
“Oom Nicolaas, jy weet tog my pa is nie iemand wat sê hy kom en dan sommer wegbly nie,” probeer ek weer.
“Ek sien julle kamp op Potchefstroom, Hennie. In die middel van die kamp brand ’n sterk vuur. Op die vuur is ’n pot. Dan spring die vuur in die pot en daar slaan net ’n rookdamp op,” antwoord hy.
Al my pogings het misluk om oom Nicolaas die aand te beweeg. Ek moes onverrigter sake na Potchefstroom gaan en aan generaal Kemp verslag doen.
Ek het nie van die gesigte van Oom Nicolaas vertel nie, maar net dat hy volhou dat my pa nie op Potchefstroom sal wees nie.
Die Maandag op Potchefstroom het soos al die ander dae verby gegaan. Stories het die rondte bly doen en ek kon nie anders as om die selfbeheersing van die offisiere en manskappe te bewonder nie.
Ek het vroeg gaan slaap. Kort na tien het majoor Kemp my wakker gemaak. “Jou pa is geskiet,” was sy eerste woorde. “Jy moet dadelik na die polisiestasie op die dorp gaan. Generaal Beyers wil met jou praat.”
Ek het dadelik gegaan. Generaal Beyers was in die polisiestasie op Langlaagte en het vandaar af met my gepraat.
“Ons was onderweg na Potchefstroom. By Langlaagte het ’n polisieman van agter op die motor geskiet. Die koeël het jou pa getref en hy het in my arms geval. ‘Dit is raak, Christiaan,’ was sy laaste woorde.
“Toe ek die polisieman vra of hy besef wat hy gedoen het, was sy antwoord ‘I acted on instructions.’
“Gaan kry jou ma dadelik op Lichtenburg en bring haar Pretoria toe. Sê vir haar dit is moord en die bloed roep om wraak,” het generaal Beyers my kortliks toegelig.
Toe ek by my moeder kom, was sy rustig. “Jou vader het gebid dat as sy lewe sy volk kon red, hy bereid was om dit te gee. Sy lewe is geneem en as dit die wil van die Here was, moet ons ons daarin berus. Meer as sy lewe kan niemand vir sy volk offer nie,” het sy gesê.
Wat vir my die vreemdste is, is dat nie ek of oom Nicolaas besef het dat die gesigte wat hy gesien op die begrafnis van generaal De la Rey gedui het nie.
Toe ek Oom Nicolaas by die begrafnis ontmoet, was hy baie verdrietig. “Ag, ou Hennie, as ons maar geweet het wat wag, wat sou ons nie gedoen het om dit te verhoed nie. Maar dit was verborge en dit was die wil van God,” het die Siener gesê.
Vervolg...