GENERAAL KOOS DE LA REY (4)

Lees reeks by Generaal Koos de la Rey

Hennie de la Rey was teen 1914 die oudste oorlewende seun van generaal Koos de la Rey. Soos hyself vertel, het hy die rol van ’n privaatsekretaris vir sy pa vertolk. As sodanig was hy oor die laaste dekade van sy pa se lewe baie na aan hom. In hierdie reeks vertel hyself meer van sy pa.

Die laaste veertig dae van generaal Koos de la Rey

Die verhaal van generaal Koos de la Rey se laaste dae is sover deur sy seun, Hendrik, vertel. Hy het dit vertel soos hy dit beleef het en soos hy dit onthou het. Omdat die laaste drie maande van De la Rey se lewe krisismaande in die geskiedenis van die Afrikanervolk was, het verskeie ander mense met ander perspektiewe ook oor dié tydperk geskryf.

In ’n poging om alles in fokus te plaas, sal ons aan die hand van die bekendste bronne oor die tydperk poog om De la Rey se spoor oor die laaste dae van sy lewe te volg.

28 Junie 1914 tot 3 Augustus 1914

  • Om 11:30 op 28 Junie 1914 het ’n Bosniese student, Gavrilo Princip, die kroonprins van die Habsburg-dinastie van Oostenryk-Hongarye, aartshertog Franz Ferdinand, in Sarajevo vermoor. Hierdie enkele daad sou die ganse wêreld in ’n oorlog dompel waarvan die omvang voorheen nie geken was nie.

’n Maand later, op 28 Julie, het Oostenryk oorlog teen Serwië verklaar. Op 1 Augustus 1914 verklaar Duitsland oorlog teen Rusland en op 3 Augustus teen Frankryk. Op 4 Augustus 1914 verklaar Brittanje oorlog teen Duitsland.

Brittanje regverdig sy toetrede tot die oorlog deur te beweer dat hy oor die jare altyd die regte van die klein volke van die wêreld beskerm het!!! en dat hy dit nou weer sal doen (verwysende na België).

Majoor Jan Kemp, Potchefstroom, 1914.

In verre Suid-Afrika word die aankondiging deur die Afrkanervolk met totale ongeloof aangehoor. Was dit nie dieselfde Brittanje wat ’n skamele twaalf jaar tevore die klein Boerevolk van Afrika vertrap het, sy vroue en kinders op barbaarse wyse vermoor het en sy ekonomie vernietig het deur sy plase tot die grond af te brand net om beheer oor die goudmyne aan die Witwatersrand te verkry nie?!!!

In dieselfde tyd het ’n eenvoudige boer in Suid-Afrika, Nicolaas van Rensburg, visioene gehad. Van Rensburg was onder die Boeregemeenskap in Wes-Transvaal ’n bekende persoonlikheid. Reeds gedurende die Anglo-Boereoorlog het hy met sy visioene groot bekendheid en die bynaam ‘Siener’ verwerf.

Daar was mense wat sy visoene skepties benader het, maar waarskynlik die grootste gedeelte van Wes-Trans­vaal het sy visioene met dodelike erns bejeën. Onder diegene wat die Siener ernstig opgeneem het, was De la Rey. Veral wanneer dit gekom het by die krygsbewegings van die Engelse, het die generaal na Siener geluister.

Brigadier Jack de la Rey, die generaal se kleinseun, vertel dat daar mense was wat beweer het dat Siener glad nie so psigies was nie, maar dat hy net goeie logika gebruik het. As die Boerespioene laat weet het dat daar van die plaaslike swart bevolking by die Engelse was, het Siener De la Rey gewaarsku dat die Kakies in die nag kon aanval. As die Engelse nie van die plaaslike bevolking onder hulle gehad het nie, het Siener ’n rustige nag voorspel!

Volgens wat De la Rey se dogter, Polly, aan Johannes Meintjes vertel het, en wat hy net so in sy boek oorvertel, het die Siener op 11 Julie 1914 by De la Rey op sy plaas Elandsfontein, net buite Lichtenburg, opgedaag. Polly de la Rey beskryf die visoen wat Siener kom oordra het, so:

Ek sien ’n wit papier met twee swart letters daarop

-      'n een en ’n vyf (15). Die wit papier met die swart vyftien hang oor Lichtenburg. Dan sien ek generaal De la Rey. Hy is kaalkop. Dan sien ek dit word laat in die aand. ’n Swart lamferdoek hang oor die dorp.

Ek sien ’n groot blou water. Op die water dryf kurkproppe, groot kurkproppe, dan sien ek iets baie klein onder die water - iets soos ’n voertuigie

-      as die klein voertuigie boontoe skiet, sink die groot prop.

As ek weer oor die blou water kyk, is die kurkproppe weg. Ek sien anderkant die water ’n groot man. Hy bly nie daar nie; hy bly hier in ons land. Hy is baie mooi aangetrek; hy het goue knope aan sy baadjie en goud aan sy hoed. Hy het ’n lang swaard aan sy sy. Wanneer hy terugkom na ons land toe, sien ek weer die wit papier met die swart syfer vyftien daarop. Ek sien weer vir generaal De la Rey. Hy is kaalkop. Die man wat teruggekom het trek toe sy mooi klere uit, haal sy swaard af en toe sê hy hy wil dit nie meer dra nie.

Ek sien aan die noordekant 'n lang wa wat met stoom werk. Ek sien nie juis mense in die wa nie. Net ’n paar mense. Ou tante is ook daar met die kinders. Daar is pragtige blomme. Net blomme waar jy kyk. Daar is ook baie kos in die wa. Hulle eet nie. Die generaal is ook daar. Hy is kaalkop. Dit is nie goed nie. Die man met die mooi klere is ook in die wa. Die wa staan op baie plekke stil. Dan kom daar baie mense saam. Hulle is baie treurig. Dit het iets met die generaal te doen. [Meintjes, Johannes: De la Rey - Lion of the West. pp 320 - 321]

Polly de la Rey het aan Meintjes vertel dat sy by was toe Siener van Rensburg die visioen aan haar pa vertel het. Volgens haar was die Siener baie hartseer en het hy gesê dat die gesig niks goeds vir die generaal voorspel nie.

Soos die Siener die gesig aan die generaal vertel het, sou, volgens Polly, die generaal gedeeltes aan haar uitgelê het. Die man met die mooi klere was Beyers, wat volgens Polly juis toe oorsee was, die kurkproppe was bote wat deur torpedo’s gekelder word.

Hierdie weergawe van die visoen word ook deur Adriaan Snyman herhaal in Siener van Rensburg - Profeet van God. [p 69.]

AWG Raath gee ’n ander weergawe van die visioen in Siener van Rensburg en die Rebellie. Volgens hom het Siener van Rensburg op 15 Julie 1914 die visioen aan Pieter Mussmann geopenbaar. Volgens Mussmann het - die Siener... gesê in die Driejarige Oorlog het hy die syfer 15 voor hom sien staan in die lug, met vergulde syfers geskrywe. Maar hy sê vir my dat gister het ek die syfer 15 voor my gesien en die syfer is in bloed geskryf. Die dinge sal hier by Lichtenburg begin. Hy sê: ‘Ek sien ’n donker wolk oor Lichtenburg lê; dit is moeilikhede. ’ Hy sê hy sien dat die Parlement ontbind en oom Koos de la Rey kom haastig daarheen. Almal gaan haastig huis toe, behalwe oom Koos de la Rey gaan deur Johannesburg na Pretoria. Daar sien hy die volgende dag kom oom Koos en genl Beyers terug van Pretoria in ’n karretjie en dan in die strate van Johannesburg daar sien hy net een stofwolk.

Hy sê daar verdwyn oom Koos de la Rey vir hom uit die gesig. Toe sê hy aan my: ’Nou sal ek jou vertel waar ek oom Koos de la Rev weer sien. Kyk dit moet 'n groot gebeurtenis wees, want ’n massa mense gaan na Lichtenburg en oral tussen daardie mense word die Vierkleur gehys.Treine loop tot in Lichtenburg en daar stop hulle. In Lichtenburg sien ek ’n groot gebou met ’n deur aan die suide en ’n deur aan die noordekant. Ek sien ’n massa mense aan die suidekant voor daardie deur. Ek sien ses persone dra ’n doodskis, maar hulle kom in by die deur aan die noordekant en die kis word in die middel van die gebou neergesit op stoele. Maar die persoon se gesig is onder ’n sluier. Maar een van die ses persone steek sy hand uit en ontbloot daardie gesig en toe hy die gesig ontbloot is dit oom Koos de la Rey se gesig. ’ [p 104]

Later in dieselfde werk haal Raath vir Boy Mussmann oor die gesig aan - Siener (het) ’n tyd tevore vertel dat hy sien oom Koos kom haastig en kaalkop deur Johannesburg.

Hy sien ’n stofstorm en oom Koos raak weg. Dan sien hy hom in ’n trein vanaf Johannesburg. Die trein is swart, maar nie soos ’n gewone trein nie, naamlik “ ’n rou-kleur” swart. Hy sien in die trein die Vierkleur en oor die Vierkleur is baie kranse en blomme. Die trein kom na Lichtenburg. Dan sien hy as die trein op Lichtenburg kom sak ’n donkerwolk op Lichtenburg neer en dan sien hy van sy huis ’n steil afdraende pad na Lichtenburg.

Op Lichtenburg sien hy ’n groot huis met een deur aan die noordekant en een aan die suidekant; hy sien ’n prosessie mense gaan by die een deur in en gaan by die ander deur uit. Hy persoonlik masjeer ook uit. Dan sien hy ’n doodskis staan. ‘n Hand trek 'n sluier van die gesig van die persoon in die kis en dan word die gesig van oom Koos de la Rey blootgelig. Dan sien hy ’n groot klomp mense bymekaar en tussen hulle die Vierkleur en die Vrystaatse vlag. [p 125]

  • As Polly de la Rey of Pieter Mussmann se weergawes aanvaar word, ontstaan die probleem dat die visoene bit­ter moeilik as goeie nuus vir generaal De la Rey en die Afrikaner vertolk kon word. En dit is algemene kennis dat in Wes-Transvaal geglo is dat die “15” dui op die dag waarop die Afrikaner weer vry sou word.

Polly de la Rey se weergawe is ook vreemd in die sin dat sy beweer dat De la Rey soos Siener gepraat het die visioen aan haar uitgelê het. Dit is bekend dat die generaal altyd besonder huiwerig was om Van Rensburg se visioene uit te lê - trouens Van Rensburg self was huiwerig. Hennie de la Rey se weergawe dat Siener op De la Rey se begrafnis baie hartseer was en hom verwyt het dat hy nie die einde van De la Rey kon sien nie, klop ook nie met die van Pieter Mussmann en Polly de la Rey nie.

  • Nog ’n weergawe van die visioen kom in May en Hamil­ton se boek voor. Volgens die boek was daar op 12 Julie 1914 ’n samekoms van ’n klomp leiers uit die Boeregemeenskap by die huis van Siener van Rensburg. [May, HJ, Hamilton, I: Die Dood van Generaal De la Rey. pp 83 - 84]

Die Siener het skielik in ’n beswyming gegaan en gesê hy sien die wêreld brand. Ses of sewe groot bulle baklei dat die aarde dreun. Uit die rooi en swart bul stroom die bloed. Die grys bul se kop is laag. Sy horings is vol bloed. Die grys bul wen die geveg.

Kort hierna het hy, volgens May en Hamilton, weer in ’n beswyming gegaan en toe ’n visioen gehad van ’n wolk oor Lichtenburg met die syfer 15 daarop. Uit die wolk het bloed gedrup. Dan het hy De la Rey sonder hoed gesien. Daar is baie blomme.

Of Siener van Rensburg ook voor die tyd soortgelyke visioene gehad het, is moeilik om te sê. Al verskil die weergawes almal, wil dit tog voorkom asof hy teen die middel van Julie 1914 twee merkwaardige visioene gehad het.

Die een was twee (of meer) bulle wat baklei en dat die grys bul wen. Die ander het te doen gehad met generaal De la Rey, die syfer 15 en Lichtenburg.

  • Ook oor die vriendskap tussen De la Rey en die Siener, is daar nie eenstemmigheid nie. J P Smit reken in sy verhandeling dat hulle weinig kontak na die Anglo- Boereoorlog gehad het. Hy skryf - Daar is geen bewyse dat die twee persone na vredesluiting in noue kontak met mekaar was nie en dit was eers met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog dat hulle deur bemiddeling van CP Nieuwenhuizen, ’n gesamentlike vriend, met me­kaar in aanraking gekom het. [p 133]
    • Toe Engeland op 4 Augustus 1914 oorlog teen Duitsland verklaar het, was dit vir die mense van Wes-Transvaal die vervulling van die eerste deel van Siener se visioen van die bulle wat baklei. Hulle het dadelik Duitsland as die grys (of vaal) bul en Engeland as die rooibul vertolk.

As die eerste deel van die visioen waar geword het, was dit tog logies dat die tweede deel en ook die tweede visioen waar sou word. So het hulle geglo.

Engeland sou die oorlog verloor. En die tweede visioen is vertolk as De la Rey op 15 Augustus die Afrikaner lei om sy verlore vryheid te herwin. Die presiese vertolking het gewissel, maar die algemene strekking het dieselfde gebly.

Dinsdag, 4 Augustus 1914

  • Brittanje verklaar oorlog teen Duitsland.

Woensdag, 5 Augustus 1914

  • Die nuus van Brittanje se oorlogverklaring bereik Wes-Transvaal en daar word reëlings getref vir ’n vergadering

op 15 Augustus 1914 op Treurfontein. De la Rey sou die hoofspreker wees en die mense moes gewere en kos vir agt dae saamneem.

Wie het aanvanklik die reëlings getref?

CP Nieuwenhuizen het vir Hennie de la Rey van die vergadering vertel. Toe Hennie de la Rey die generaal skakel, het hy ontken dat hy die vergadering byeen geroep het. Hy sou wel praat.

Een van die Boere in Wes-Transvaal, PJK van Vuuren, het later getuig dat hy van die vergadering by Danie Theron, ’n boer van die omgewing met dieselfde naam as die beroemde boererapportryer, gehoor het. Toe hy aan Theron vra waar hy van die vergadering gehoor het, het hy gesê by kommandant Izak Claassen. Toe Van Vuuren vir Claassen gevra het waar hy dan van die vergadering verneem het, het hy gesê by Andries Esterhuisen.

Die regterlike kommissie van ondersoek het bevind dat FGA Wolmarans die hooforganiseerder van die vergadering was. HS Webb van die Pretoria se prokureurs Webb & Dyason en die prokureur vir CR de Wet in die hoogverraadsaak beweer in sy boek Oorzaken van de Rebellie dat Wolmarans alles behalwe die vergadering belê het. Hy was, volgens Webb, daarteen en het sy bes gedoen om dit te keer. De la Rey self het die vergadering belê!

Izak Claassen het ook later, tydens die hoogverraadverhoor van die rebelle, toe De la Rey reeds dood was, sy storie verander. Hy het toe gesê dat hy nie by Andries Esterhuisen nie, maar by “Baas Koos” opdrag gekry het om die vergadering te reël. “Baas Koos” sou ook gesê het dat die mense moet onthou om “pyp en vuurhoutjies” saam te bring. Hy wat Claassen is het dit vertolk asof De la Rey meen die mense moet gewere en ammunisie na die vergadering saambring.

Vrydag, 7 Augustus 1914

  • Kaptein GJ Greeff getuig voor die geregtelike kommissie dat hy op dié dag na De la Rey is om gerugte oor die vergadering van 15 Augustus 1914 op Treurfontein met hom te bespreek. Greeff sê dat hy die generaal se optrede vreemd gevind het. Die generaal het gedurig verwys na die visoene wat Siener gehad het. Hy het besluit om oor die onderhoud aan Beyers te skryf.

Maandag, 10 Augustus 1914

  • Majoor Kemp en kolonel Apie Bezuidenhout besoek Lichtenburg om ’n nuwe skietbaan te inspekteer. Volgens Kemp se boek, Die Pad van die Veroweraar, het hulle toe besluit om by De la Rey te vertoef in ’n poging om hom van sy dwase (volgens Kemp in sy boek) plan te laat afsien.

Op die plaas het hulle De la Rey in ’n vegtersbui aangetref. Hy wou nie na rede luister nie en het twee Vierkleure uitgehaal en gesê: “Onder hulle gaan ek veg.” [Die storie van die generaal en sy twee Vierkleure word deur baie vertel. Elke keer wissel die plek waar die generaal die vlae sou uitgehaal het. Party beweer dat hy met die vlae in Bloemfontein by die onthulling van die Vrouemonument opgedaag het. Brigadier Jack de la Rey vertel dat die twee Vierkleure vlae was wat vroue gedurende die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe gemaak en aan die generaal geskenk het.]

Die generaal sou toe weer aan hulle sy planne herhaal het om op 15 Augustus na Pretoria op te ruk en daar sy vriend Louis Botha tot president van die nuwe republiek in te sweer.

Kemp vertel in Die Pad van die Veroweraar [p 129] dat terwyl hulle by De la Rey aan huis was, landdros JC Juta hom van Lichtenburg geskakel het. Hy het die landdros toe ingelig oor die generaal se planne en beloof om by Juta ’n draai te maak wanneer hy van die plaas af terugkeer.

Dit sover dit Kemp se getuienis in sy boek aangaan. In sy beëdigde verklaring by sy hoogverraadverhoor het hy ’n ander weergawe van die gebeure gegee. Daarvolgens sou die landdros net ’n boodskap vir Kemp by De la Rey gelaat het dat hy hom wou spreek.

Belangriker egter is dat hy toe onder eed verklaar het dat hy aan De la Rey gevra het wat Louis Botha en Jan Smuts van sy planne te sê gehad het. “ Ek gee nie om nie!” sou De la Rey uitgeroep het.

In sy boek vertel Kemp dat hy Juta op die dorp gaan spreek het en aan hom vertel het dat hy bekommerd is oor die generaal se planne. Hy het toe, volgens hom, die landdros gevra om dadelik ’n verslag oor die generaal se planne na Pretoria te stuur. Hy het onderneem om dieselfde te doen.

Juta het voor die regterlike kommissie getuig dat Kemp hom uitgelag het toe hy hom oor die vergadering van 15 Augustus uitgevra het. Volgens die landdros het hy daarna met De la Rey self gepraat. Die generaal het hom versoek om die vergadering nie te belet nie, en hom verseker dat dit vreedsaam sou verloop.

Vervolg...