Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowige mense kyk na die dood soos Columbus sy eerste ontdekkingsreis na die kus van Spanje beskou het – hy kon nie sê presies wat aan die oorkant lê nie maar was oortuig dat in God se volmaakte skepping, die see ook 'n oorkant sou hê.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (5)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Diep in die nag word Demas wakker. Iets het beweeg, iets groot en dis nie ver van hom af nie. Die nag is baie donker, met die maan wat nog nie opgekom het nie en die vlieswolke wat die sterrelig weghou.
Daar is dit weer, na sy linkerkant en hoër op teen die berg. In die donker is dit sinneloos om sy geweer te probeer gebruik, maar as die gevaar naby genoeg kom, kan hy dit eerder met die rewolwer en mes bykom. Hy wens hy het ‘n flits, al is dit net ‘n kleintjie, met ‘n effense liggie.
Die blare ritsel weer en skielik is daar die mees onaardse ding wat hy nog gesien het. Die ogies is klein en hy kan sweer dit is effens rooierig, met lang, digte, swart hare en ‘n dik, stewige lyf. Die geluid wat die ding maak is ‘n kruis tussen ‘n snork en die geluid wat ‘n perd sou maak as hy seerkry.
Demas rig die rewolwer op die dier en trek die sneller. In die flits wat die skoot maak, is die dier nog meer angswekkend. Die ding het dik, lang tande en dit lyk nie asof die swaar koeël uit die Webley se bek enigiets aan die spoed waarmee hy storm doen nie. Hy skiet weer en weer, totdat die ses skote in die rol op is, laat val die mes om met sy linkerhand die ding weg te hou, terwyl hy effens orent kom.
Die dier is op hom. Demas val agteroor, vanwaar hy effens gehurk was en slaan die gedierte met die leë rewolwer. Vir die eerste maal hoor hy ‘n geluid wat klink asof die dier seerkry. In die harwar het hy die mes laat val, maar as hy agteroor val en die dier is amper op hom, kry hy dit in die hande en dryf wild na die oop bek.
Na ‘n effense weerstand gly die skerp, gepunte lem deur die verhemelte van die dier en diep sy kop in. Steeds skud hy sy massiewe kop en ruk die lem uit Demas se hande. Die volgende oomblik spuit ‘n donker, dik straal bloed uit sy mond, hy val op Demas en pen hom teen die grond vas.
Hierdie keer veroorsaak die paniek ‘n bruis van adrenalien wat hom laat wurm en slaan, terwyl hy met mag en krag opstaan. Die geweer staan langs hom teen ‘n skraal boompie. Hy pluk die slot oop en toe, druk die tromp van die loop teen die dier se kop en trek die skoot, wat weergalm teen die rotse en in die kloof is. Die ding lê nou uiteindelik stil.
Demas het sy eerste kennismaking gedoen met die kruis tussen ‘n bosvark en wilde Amerikaanse varke wat iemand skelm veertig jaar gelede ingevoer het maar wat uit die hokke ontsnap het.
*
Soos die kraai vlieg vanaf waar Demas die varkbeer geskiet het, is dit nie baie ver nie en gaan sit Dorkas regop. Rondom haar, in komberse van alle kleure en geure toegevou, van kop tot tone, lê die manne onnet langs en om die vuur soos ‘n kleuter sy speelgoed sou rondgooi.
Sy het wakker geword van die eerste skoot, met die vyf ander wat vinnig daarop gevolg het. Terwyl sy sit, met haar ore gespits, is daar ‘n paar sekondes stilte en daarna klap nog ‘n skoot. Hierdie een is harder en dra beter deur die stilte, maar sy het selfs die ander gehoor.
Die geskreeu van die gekweste vark hoor sy ook. Sonder om die ander wakker te maak, staan sy op, haar lang, sterkgespierde lyf weerkaats vir ‘n oomblik die paar vuurkole wat af en toe ‘n vinnige vlammetjie opskiet en weer bedaar.
Sy vat haar pistool, mes en ‘n reep gekookte boerbokvleis, wat sy in ‘n stuk harige vel toedraai en in haar baadjiesak sit. Sy sal water in die veld kry. Sy loop kaalvoet, in die tradisie van Chaka, haar oer-oupagrootjie se impi’s. Sy rol haar dun kombersie op en sit dit onder haar linkerarm.
Behalwe vir haar gelaatstrekke, het sy nog twee dinge van hom geërf: absolute wreedheid en ‘n diepgewortelde haat vir die blankes. Sy is baie seker vanuit watter rigting die skote gekom het. Die onaardse geskreeu van die vark onstel haar ‘n bietjie, maar nie so baie dat sy terugdraai nie.
Sy loop stadig, maar doelgerig en seker. Teen skemer wag sy by ‘n stroompie water, waar sy haar dors les, haar kombers oopgooi en dadelik aan die slaap raak. Sy het nie ver geloop vandag nie, maar weet instinktief dat dit die roete is wat die man moet afkom van die berg af. Die feit dat hy gewapen is, dat hy van hulle mense geskiet het, maak geen oomblik vir haar saak nie.
Behalwe vir die bonatuurlike is daar niks wat haar bang kan maak nie. Die natuurlike wêreld is sigbaar en tasbaar en enigiets wat daaraan voldoen, kan sy doodmaak.
*
Demas vind uit dat ‘n mes met ‘n te lang lem nie goed werk as jy iets slag nie. Veral as dit by die punt kom waar jy die vel moet afhaal, is dit ‘n groot gesukkel. Na ure se gespook is dit uiteindelik los en af, al het hy hier en daar ‘n gat ingesny. Die bosvark se vleis is anders as’n vlakvark s’n en nie so wrang en wit nie. Eintlik lyk dit meer na bees as vark.
Ten spyte van die feit dat hy tyd verloor, besef hy die waarde van die dier en skraap elke stukkie vet van die vel se binnekant af. Vanuit die vel maak hy ‘n dun riem om die vel mee te bind as hy dit oprol en saamdra. Hy moet tot sy skaamte erken dat die riem maar kokaai loop, met plekke waar dit breër en ander plek baie dun is. Hy weet ook genoeg dat hy iewers binnekort sout moet kry, anders gaan die ding vrot.
Na lang oorweging besluit hy om nie die kop af te sny nie, maar net die skedel uit te haal. Dit vat lank met die lompe lem, maar uiteindelik is hy trots op sy produk.
Teen laat-middag is hy klaar met die slagtery, sny ‘n stuk uit die boud wat min of meer vir hom na ‘n steak lyk en braai dit oor kole. Al is dit sonder sout, smaak dit goed genoeg. Dis met leedwese dat hy ‘n groot genoeg stuk sny vir vanaand, maar besef dat die teen môre-oggend nie meer vars genoeg gaan wees vir eet nie.
Die dag gaan vinnig verby. Aanvanklik het hy gedink die vark sou hom net so ‘n uur of twee besig hou, maar uiteindelik is dit laatmiddag. In plaas van nou te begin loop, gaan hy weer hier kamp maak.
Teen vroegaand sak ‘n wolk oor die berg, dit misreën al vir ‘n paar ure en daarna is dit baie koud. Die grond is klam onder die boom en hy weet nou al dat teen môre-oggend gaan die koue deurslaan.
Na ‘n paar minute se oorweging, waarin hy aan die vel ruik en nog ‘n laaste paar vetterigheid afskuur met die lang lem, wen die koue teen sy reuksin. Hy gooi die vel oop op die klam aarde, en gaan lê met sy baadjie oor hom gedrapeer. Net sy bene steek uit en hy krul hulle op, sover as moontlik.
Die slaap wil maar net nie vanaand kom nie. Miskien omdat sy liggaam gewoond geraak het aan al die fisiese inspanning van die afgelope tyd en hy is nie so uitgeput as vantevore nie, maar sy gedagtes maal rondom die onlangse gebeure en wat hom te doen staan en waarheen hy op pad is. Een ding is seker – sy vorige lewe is finaal verby.
Demas se ore kry koud. Dis asof die goed net nie vanaand wil saamwerk nie. Hy hou sy bakhande teen hulle, maar hy kan nie so slaap nie. Koue wen uiteindelik teen walging en hy maak die kopvel van die vark met die riem teen sy kop vas. Die digte hare en dik vel maak sy kop en ore onmiddellik warm, maar dit veroorsaak ook dat hy nie mooi kan hoor nie.
Die Suiderkruis is al amper op sy draaipunt as hy aan die slaap raak.
*
‘n Diepe oerinstink laat Dorkas wakker word. Sy weet dit is ongeveer middernag en dis tyd om te doen wat sy moet doen. Sy eet die stuk bokvleis, trek al haar klere uit, en daarmee die laaste flenter beskawing, haal ‘n potjie Vaseline uit haar ander baadjiesak as waar die vleis was en smeer haarself van kop tot tone met die vetterige salf.
Die pistool los sy by haar klere en kombers – sy gaan nie vandag die ding nodig hê nie. Die lang Opinel mes slyp sy ‘n paar maal teen ‘n plat, gladde klip, waarop sy eers gespoeg het, toets die snykant teen haar duim en as dit ‘n lang, maar vlak, bloederige sny los, is sy tevrede, net soos die voorvadergeeste met die druppel bloedoffer. Sy staan op en soos ‘n skim verdwyn sy in die donkerte.