POLITIEKE SLUIPMOORDE IN SUID-AFRIKA (4)

Lees reeks by Politieke sluipmoorde in SA

BOSS-SPIOEN MOES LIEWER SAAMGEWERK HET...

"Laat my weet wat die lykskouingsverslag sê," het Van den Bergh gesê. "Ek is seker die bevinding sal wees dat sy dood 'n ongeluk was. Sulke goed gebeur wanneer 'n mens nie versigtig is nie."

Op 11 November 1969 het 'n dapper politikus, dr Albert Hertzog, in 'n koerantonderhoud geen doekies omgedraai oor wat hy van die nuwe intelligensie-instelling dink nie:
"Dit is een van die gevaarlikste stukke wetgewing nog in die wetboek," het hy gesê. "Die gewone publiek word ernstig bedreig met 'n organisasie so stil en so magtig soos BOSS wat in die agtergrond skuilhou." Hy het geen twyfel gelaat in die gemoed van Suid-Afrika nie: Hendrik van den Bergh het effektief beheer verkry oor alle insameling van intelligensie in die land en sy posisie het 'n stempel van wettigheid op alle spioenasiebedrywighede geplaas. Gevra om kommentaar, het Van den Bergh gesê BOSS is met een doel voor oë gestig en dit is om die staat en sy burgers te beskerm. Hy was bereid om enigiets te doen om daardie doel te bereik. En verder: "Ons is nie net bereid om te waag ter wille van Suid-Afrika se belange nie, maar... dis vir ons natuurlik om gevaarlik te lewe... wanneer die belange van die land op die spel is."

Die ontstaan van BOSS was Van den Bergh se breinkind wat in samewerking met Vorster en PW Botha dié organisasie die lig laat sien het.

Alles moes deur een instelling gekanaliseer word "met die oog op behoorlike beheer, evaluering en optrede of teen-optrede."  Natuurlik...

In Augustus 1968 is daar ingestem tot die stigting van 'n nuwe gesentraliseerde intelligensieliggaam. Lt.genl Hendrik van den Bergh het die geleentheid benut om absolute beheer oor Suid-Afrika se intelligensienetwerk te kry. Die noodgedwonge verhouding tussen die polisie en die weermag was nie sonder konflik nie en teen die einde van die jaar kon dit as gespanne, eerder as gesond bestempel word. Eers in Mei 1969 is die bestaan van die Buro vir Staatsveiligheid amptelik aangekondig. Die media het dit onmiddellik BOSS gedoop, na aanleiding van die Engelse afkorting Bureau of State Security. Op kabinetsvlak was daar gemengde gevoelens oor die feit dat Van den Bergh in beheer was van wat 'n baie magtige instelling kon word. Baie was nie soseer besorg oor sy buitegewone vermoë om op die regte tydstip op die regte plek op te duik nie, maar eerder omdat hy dikwels op die verkeerde tydstip op die regte plek was. Hulle het geweet baie min ontsnap die aandag van dié lang man.

Van den Bergh se rooi telefoon het gelui. Dit was sy eweknie in die CIA met die nuus dat die nuutverkose Amerikaanse president van plan was om Amerika se steun vir ander lande te hersien. Richard Nixon het spesifiek Suid-Afrika en sy "besetting" van Suidwes-Afrika genoem.

"Wat van Suidwes?" het Van den Bergh gevra.
"Nixon bevraagteken Suid-Afrika se aanspraak op die land. Hy voel sterk dat lande onafhanklik moet wees."
"Dis twak! Suidwes behoort aan Suid-Afrika. Dis ons buffer teen Angola en al die gemors wat van die Noorde kom."
"Ek sê maar net vir jou wat in die kaarte is," het die CIA-hoof gesê.

Iets het lankal in die BOSS-baas se kop gestalte begin aanneem. Stadig maar seker het Van den Bergh se plan om sy eie moordspan saam te stel vaste vorm gekry. Dit sou uit die leier genaamd Sharp en twee agente bestaan, naamlose twee oudpolisiemanne en bewese agente. Albei het hulle staal gewys tydens opleiding in Parys, Frankryk. Al drie die manne was enkellopend en nie een het belang gestel om sy alleenloperskap en swaar drinkery te verruil vir 'n neulende vrou en kinders nie. Van den Berg sou opdragte direk aan Sharp gee en die ander twee sou hul opdragte van hul leier kry. 'n Goeie salaris en bonus vir elke suksesvol afgehandelde taak sou die res doen. Van den Bergh het die telefoon nadergetrek.

"Ja!"
"Ons moet praat," het Van den Bergh gesê.

Van den Bergh en Sharp het nooit oor enigiets anders as 'besigheid' gepraat nie. Die twee mans het net een gemeenskaplike eienskap gehad: hulle was albei totaal harteloos.

"Ek het 'n nuwe blyplek vir jou gekry," het Van den Bergh gesê.
"Daar is niks verkeerd met my plek nie."
"Dis klein en ons gaan uitbrei, maar moet jou nie kwel nie, ek bel jou."
"Wanneer trek ek?"
"Gou," het Van den Bergh gesê.

Tot nou toe het Sharp al die vuilwerk gedoen. Die agent het hom nog nooit in die steek gelaat nie en hy het nooit sy ervarings met iemand anders gedeel nie. Sharp was sterk, genadeloos en heeltemal sonder ambisie. Die perfekte professionele moordenaar. Die ander twee Afrikaanssprekende agente het soortgelyke eienskappe gehad en was goeie spanlede.

Laat in Desember het Van den Bergh Sharp aanwysings na sy nuwe woonplek gegee. Die agent het 'n drie-ton trok gehuur en saam met een van die nuwe spanlede suidwaarts gery. Van den Bergh het hulle op die oewer ontmoet waar 'n dowwe kennisgewing met die opskrif "Proklamasie", uitgereik deur die "Offisier in Bevel", die publiek gewaarsku het om van die eilande in die dam af weg te bly. Ná drie togte het die leier van die naamlose moordebende al sy aardse besittings van sy voertuig na sy nuwe woonplek geneem. Die nuwe plek was afgesonderd, het 'n wonderlike uitsig gehad en was net mooi perfek. Naas die eintlike doel van die plek kon dit ook vir 'n onbepaalde tyd 'n aantal gaste huisves. Die oorplasing van die ander twee BOSS-agente na die nuwe plek het glad verloop. Vir die verandering het Sharp dit geniet om geselskap te hê.

Van den Bergh het daarna met twee lede van sy personeel Portugal toe vertrek. Hulle het in 'n hotel in Lisssabon gebly waar hulle samesprekinge met die Portugese en Rhodesiërs gehou het. Pleks van saam met die ander huistoe te gaan, is Van den Bergh Den Haag toe. By die Suid-Afrikaanse ambassade het hy Eschel Rhoodie, die persbeampte, besoek. Daar was 'n vreemde kameraderie tussen dié twee.

Rhoodie het van een van sy briljante planne om negatiewe menings oor Suid-Afrika teen te werk, vertel. Hy het ondersoek ingestel na die moontlikheid om 'n tydskrif te begin wat in die geheim gebruik kon word om Suid-Afrika se beleid te bevorder. Van den Bergh het sy goedkeuring uitgespreek. Hulle het saam na Rhoodie se voorstelle vir moontlike titels vir die publikasie gekyk. Van den Bergh se keuse was To The Point – toevallig ook die titel waarvan Rhoodie die meeste gehou het. Rhoodie het geweet as hy eers Van den bergh se goedkeuring het, sal Vorster en die ander daarby inval.

Brittanje was Van den Bergh se volgende bestemming. Een van sy BOSS-agente het dringend 'n ontmoeting gevra. Keith Wallace was 'n Suid-Afrikaanse joernalis wat by die Daily Mail in Londen gewerk het. Hy het in 'n woonstel in Kensington gebly. Die twee mans het buite in die tuin 'n drankie geniet. Wallace het, soos Van den Bergh, 'n sterk persoonlikheid gehad en die twee het heftig verskil oor 'n deurslaggewende aspek wat ook 'n beginselsaak was. Nie een was gewillig om van sy standpunt af te sien nie. By sy terugkeer in Pretoria het Van den Bergh Wallace gekontak en hom ingelig dat sy dienste as BOSS-spioen nie meer nodig was nie. Ná 'n woedende Wallace die telefoon neergesmyt het, het Van den Bergh Jordan Winter in Londen gebel. Dae later het die gevreesde oproep gekom.

"Ons het moeilikheid op hande," het Winter gesê. "Ons vriend het kopverloor. Hy sê hy is weggesmyt."
"Twak!" was Van den Bergh se reaksie. "Wie dink hy is aan stuur van sake?"
"Luister hierna: hy praat van alles uitblaker oor BOSS se bedrywighede in Londen. Ek het gesê hy moet wag tot ek eers met jou gepraat het maar hy sê as dinge nie gou reggestel word nie, sal hy weet wat om te doen... so eenvoudig is dit," het Winter gesê.

"Hou hom kalm. Gee my 'n paar dae, ek maak 'n plan." Skaars het Van den Bergh die gehoorstuk neergesit of hy tel dit weer op. Hy het die nommer wat hy skakel lankal gememoriseer.

"Ja!"
"Als reg?" het Van den Bergh gevra.
"Als reg," het Sharp geantwoord.
"Ek het jou en een van die manne nodig om die volgende vliegtuig Londen toe te haal."
"Ek sal die reëlings tref."
"Ek bring jou vanaand op hoogte, sien jou later."

Vier dae later, net ná sonsopkoms in Pretoria, lui die telefoon. Van den Bergh antwoord: "Ja! Jordan?"
"Het jy die nuus gehoor?" vra 'n bekommerde Jordan Winter. "Wallace is dood. Sy lyk is vanoggend gevind."
"Regtig? Wat het gebeur?"
"Ek is verbaas dat niemand jou gesê het nie."
"Gaan jy my vertel of moet ek raai?"
"Hy het in 'n ventilasieput naby sy woonplek in Kensington geval."

Ofskoon Sharp reeds berig het 'n transaksie het suksesvol verloop, het hy nie oor die omstandighede uitgewei nie.

"Wel, niemand van ons is van dag tot dag seker van ons lewe nie," het Van den Bergh gesê.
"Wat 'n manier om te gaan! het Winter gesug. "Dink jy dit was selfmoord?"
"The good, the bad and the ugly... hulle beland almal in 'n wensput."
"Die arme vent."

In Pretoria het die hoof van BOSS 'n glimlag op sy gesig gehad. Sharp het regtig 'n goeie verbeelding.
"Laat my weet wat die lykskouingsverslag sê," het Van den Bergh gesê. "Ek is seker die bevinding sal wees dat sy dood 'n ongeluk was. Sulke goed gebeur wanneer 'n mens nie versigtig is nie."

Ná 'n stewige ontbyt is Van den Bergh na die motorhuis. Hy tel 'n matjie oor 'n verskuilde kluis op, spesifiseer die kode, en die deur gly oop. Hy haal sy swart dagboek uit en maak 'n enkele inskrywing:

DATUM: Februarie 1970     NAAM: Keith Wallace       RAU TEM       Ongeluk