(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)
WEER NA DERDEPOORT
Dr JP Botha
Eers in Februarie 1900 het ons klompie vrywilligers uiteindelik verlof gekry om ‘n bietjie huis toe te gaan. Sommige van die burgers - ek inkluis - ly toe alreeds aan malaria. Ek kon die huis skaars haal en moes ‘n tydjie in die bed deurbring.
Oom Flippie van Vuuren, ons veldkornet, was ook met verlof. Vroeg op ‘n sekere oggend kry ons van hom kennis om op die plaas Brakspruit bymekaar te kom. Daar aangekom vorm ons ‘n kommando’tjie van omtrent vyftien man sterk. Hy vertel ons dat hy berig ontvang het dat die laer by Derdepoort deur die Bagatlas omsingel en vasgekeer is. Ons moes dadelik soontoe gaan om te kyk wat ons aan hulle haglike posisie kon doen. So begin ons reis weer die boswêreld in. Hierdie tog het my uithoudingsvermoë tot amper op sy breekpunt gespan, want die koors het my toe nog kwaai beet.
Voordat ons die bewoonde wêreld heeltemal verlaat het, ry ons op ‘n plaas aan waar ‘n ou oom en tante en ‘n paar groot dogters gewoon het. Hulle was baie gasvry en die ou tannie nooi ons vriendelik na binne en vra of ons nie elkeen ‘n bietjie dikmelk wil drink nie. Amper tegelyk het al die kêrels ja gesê. Met die uitsondering van twee was ons almal nog jongkêrels en het maar baie na die kant van die mooi jongmeisies geloer!
Die tante het nog ‘n aantal van die groot bont kommetjies besit wat sy met behulp van haar dogters toe volgemaak en op die tafel geplaas het.
“Help julle maar self, neefs, “ nooi sy ons. ‘n Hele paar spring tegelyk op. Ons het darem al te lus vir die heerlike versterking gehad! Onderwyl een van die kêrels buk om die groot kommetjie met albei hande op te tel, neem ‘n tweede een sy kommetjjie sommer bo-oor hom. Die eerste kom skielik orent, met die gevolg dat sy kop hard met die boom van die kommetjie bots sodat dit vinnig omkeer en die hele inhoud mooi netjies oor hom uitstort. Jy sien net dikmelkstraaltjies deur sy hare, oor sy rug tot in sy haakskene tap. Meteens is daar ‘n doodse stilte. Die twee kyk mekaar beteuterd, sonder ‘n woord aan. Die meisies kyk na mekaar en sê ook eers niks nie. ‘n Paar van ons kies die deur en skater dit toe buite uit. Ek kan my nie voorstel dat ons klompie ooit weer gedurende ons kommandolewe so ‘n vermaaklike voorvalletjie belewe het nie. As die leser die veroordeelde uitdrukking in die wilde oë van ons bedikmelkte vriend kon sien, sou u heerlik saamgelag het.
Ons was omtrent sestig kilometer die boswêreld in, toe die malaria my weer straf beetpak. Die son is ondraaglik warm en die los, swart turfvlaktes strek eindeloos na vorentoe uit. Die arme perde word tam om sonder pad deur die bedrieglike turfpotte te sukkel. Van water is daar nie eens meer sprake nie; die bietjie wat jy nog het is so warm soos die son self.
Uiteindelik kom die bevel om af te saal en ‘n bietjie te rus. By die perde word ‘n paar wagte geplaas, want die gebeure by Kaja-se-put het ons op ons hoede geplaas teen ‘n verderflike verraderlike aanval van die swartes.
Die manne lê met koppe teen die saals en rus. Ons was só moeg dat die meeste kêrels gou-gou vas aan die slaap was. Ek lê eenkant met toe oë en met ‘n kop wat van die stekende pyn kon bars. Skielik knal daar vlak by ons ‘n paar oorverdowende poena-skote en ons hoor ‘n harde geskree: “Swartes! Swartes!”
Alles is dadelik in rep en roer soos ons opspring en vaal van die skrik met geweers in die hand in alle rigtings loer. Toe hoor ons meteens oom Flippie se skaterende gelag en sien hom ‘n endjie daarvandaan staan terwyl hy die uitwerking van die poets wat hy ons gebak het met ondeunde oë gadeslaan en geniet. Maar alhoewel ons verligting groot was, kon niemand juis saamlag nie, want ons skrik was nog groter. Ons wis maar al te goed dat daar geen genade vir ‘n burger sou wees wat in die hande van die swartes sou val nie. Jy gaan eenvoudig ‘n wrede marteldood tegemoet wanneer jy oorgee. Hierdie petalje het my hoofpyn nog vererger.
‘n Endjie verder kom ons ‘n klompie burgers teë wat ons verseker dat dit ‘n vals gerug is dat die Derdepoortse laer vasgekeer is. Al die moeite en ontbering was dus boonop nog onnodig!
Daardie twee dae terug huis toe staan in my geheue gegrif as die swaarste rit wat ek nog ooit te perd moes aflê. Die warm son is vir iemand met ‘n strawwe koors gewoonlik onuithoubaar en dit val te begrype hoe lastig jou geweer en patroonbande onder hierdie omstandighede kan word. Daarby kom nog die gevoel dat die gestamp van die moeë perd se pote teen die harde turfknoppe niks anders is nie as jou kop wat daarteen stamp, ‘n gewaarwording wat nie daartoe bydra om jou humeur binne redelike perke te hou nie.
In die nabyheid van Mabieskraal, ‘n swart statjie, kom ons weer in veilige veld en gewaar ‘n klompie hoë apiesdoringbome. Ons besluit om daar af te saal en onder die heerlike koeltebome te rus. Ons was almal baie moeg en kort daarna was die meeste van ons reeds vas aan die slaap.
Na ‘n rukkie kom daar by ons ‘n ou Engelsman aangestap. Hy was ‘n Rooms-Katoliek. Ons het hom almal geken omdat hy so baie rondgetrek het. Sy besoek was hoogs onwelkom, want ons wou liewers ongestoord rus. Hy begin toe met ‘n paar van my maats te gesels en ewe grootpraterig vertel hy vir hulle hoe dwaas die Boere is om teen ‘n magtige wêreldmoondheid soos Groot-Brittanje te veg. Toe ek naderhand sy slimstories nie meer kon utstaan nie, ook weens die geprikkelde toestand waarin ek verkeer het, lig ek my kop uit die saal, neem my mauser en beveel hom om onmiddellik sy geklets te staak en te maak dat hy wegkom, of anders plant ek ‘n mauserkoeël in sy groot maag.
Dit was nie nodig om my dreigement uit te voer nie, want hy het dadelik op onwaardige wyse die aftog geblaas.