MET RYPERD EN MAUSER (6)

(Lees reeks by Met Ryperd en Mauser)

MAFEKING ONTSET

Dr JP Botha

Aan die begin van Mei 1900 het gerugte die rondte gedoen dat kol. Mahon met ‘n sterk troepe-afdeling aan die nader is om vir 'Barend Paul' (Baden Powell)  uit sy benarde posisie te kom verlos en Mafeking te ontset. Van Vryburg af was ‘n ander afdeling van die vyand aan die kom, met wie die Boere by Kraaipan slaags geraak en ‘n paar van hulle minder gemaak het.  Hulle het toe langs ‘n wye omweg getrek totdat hulle by eersgenoemde mag aangesluit het.

Elke dag het van ons patrollies van hul verkenningswerk teruggekeer sonder om tekens van die vyand te gewaar. Tot op die aand van die 15e Mei kon hulle nog geen nuus van die Engelse bring nie.  Een van die windmakers, ‘n sekere Diederiks, sê toe aan die kommandant:  “Gee my agt goeie kêrels, dan sal ek môreaand vir hulle kom sê waar die Engelse is!”

Die agt man is daarop aangewys en ek is jammer om te sê dat ek ook een van hulle was.

Teen hierdie tyd het ons perdekommando nie meer in die laer geslaap nIe, maar buite teen die hang van ‘n bult, want ons wis dat ons in die nag op die hoogte meer sigbaar vir die vyand sou wees.

Op die 16e Mei  -  dit was my verjaarsdag  -  is ons agt toe van die kommando af weg.  Ons het die hele dag in ‘n suid-westelike rigting getrek om op die spoor van die vyand wat van Vryburg se kant af nader, te probeer kom.

Teen die middag kom ons by ‘n verlate wit huis.  Aan die agterkant van die huis tref ons ‘n saal met volle uitrusting teen die muur aan, maar die Kakie-eienaar kon ons nie raakloop nie. Die ruie vaalbos-begroeide omgewing was in sy voordeel.

Byna sononder kom ons op die spoor van die vyand wat toe al ongeveer twee dae gelede daar verby is.  Daar het ‘n Engelsman, ene Wright, gewoon by wie die vyand ‘n paar gewondes agtergelaat het, want soos ek alreeds vermeld het, het ‘n klompie burgers die aankomende vyand onder die lood gesteek.

Daar dit toe al te laat was om nog verder agter die Engelse aan te trek, het ons besluit om maar terug te gaan.  Laat in die nag kom ons toe weer op die bult uit waar ons die kommando moes ontmoet.  Ons bespeur tot ons verbasing dat die kommando weg is.  Ons sien vuurtjies in die rigting van Mafeking brand en besluit om maar daar te bly totdat dit lig word.  Ek en Koos Dreyer gaan toe verken om vas te stel wie se vuurtjes dit was.  Ons moes maar versigtig te werk gaan om nie met die wagte deurmekaar te raak nie en kon dus nie ons lyf te naby waag nie.  Naderhand lê ons na die gedreun van die stemme en luister want die hele laer was besig om gedemp rondom die vure te gesels, maar hoe ons ons ookal inspan, kon ons nie uitmaak watter taal gepraat word nie.  Ons moes maar weer onverrigter sake terugkeer.

Terug by ons leier, kom ons agter dat hy te lugtig is om te slaap en verwag dat ons al agt die heel nag moet wakker sit om ‘n moontlike vyandelike aanval betyds te gewaar.  Dit wou ons nie doen nie en ‘n paar van ons gaan toe lê en sê aan hom om ons na ‘n uur te roep vir die wag.  Gou is alles gereël en die anderdagmôre voel ons redelik uitgerus. Ons probeer weer die identiteit van die vreemde laer vasstel, maar kon nog nie daarin slaag nie.

 

Daarop trek ons al agter die bult langs in ‘n poging om by die vreemde laer verby te kom na ons kommando toe, want dit word nou vir ons duidelik dat daar in ons afwesigheid iets buitengewoons moes gebeur het.  Waar ons laer was, is niks te sien nie.  ‘n Endjie verder ry ons weer teen die bultjie uit om te verken en kon toe uitmaak dat dit ‘n kommando was.  Hulle gewaar ons teen die bult en een, twee, drie was ‘n stuk of dertig ruiters in die saal en storm op ons af.  Ons wis op daardie oomblik nie of ons moes vlug of staan nie, want dit was baie moeilik om die ruiters te herken deurdat die son pas opgekom het en reg van voor in ons oë skyn.  Ek was elke oomblik gereed om by die geringste teken van onraad te laat spat, want ek kon op my perd staatmaak.

Toe hulle ongeveer tweehonderd tree van ons af was, skree een van hulle:  “Moenie skiet nie!”  Dit blyk toe dat hulle ons reeds herken het en ons sien ook dat hulle lede van ons artillerie is.  Ons hoor toe dat ons kommando op die middag van die 16e Mei in die nabyheid van die dorp met die vyand slaags was en hulle teruggehou het tot na sononder. Die kring om die dorp was baie wyd getrek en niemand kon juis sê waar die vyand sou probeer deurbreek nie.  Op verskeie strategiese punte is toe klompies burgers gelaat om die vyand te keer indien hulle in die nag sou probeer om in te kom.

Die walaer moes ook beskerm word.  Die vyand het vanaf ‘n paar plekke aanvalle geloods.  Een troepe-afdeling het met die Moloporivier reg op ons laer afgekom. Die walle van die rivier het goeie beskutting gebied sodat die Kakies se leemetfordkoeëls dit vir die kêrels in die laer so warm gemaak het dat hulle in allerhaas moes inspan en vlug. Met die artilleriste het dieselfde gebeur.  Daarom staan hulle toe die nag toe ons terugkom, vir ons op so’n verkeerde plek.

Nadat hulle ons met beskuit en lekker warm koffie gelaaf het, is ons verder óm die dorp langs om na genl. Snyman se laer te soek.  Die burgers was hard besig om die laer op te breek en in te span toe ons daar kom. Ons kon toe hand bysit om die Engelse te verhinder om die laer te oorrompel.

Die laers is toe verder terug tot by Malmanie. Daar het ons ‘n boodskap van pres. Kruger ontvang waarin hy ons aanmoedig en ‘n beroep op die burgers doen om tog nie mismoedig te word nie en ons land teen die invaller tot die bittere einde toe te verdedig.

Hier het ons ‘n paar dae versuim.  Intussen het my maat Frans du Toit, wat geen groot gretigheid getoon het om te veg nie, te perd weggeloop huis toe en sy wa en osse met drywer en leier en al agtergelaat. Aan my het hy niks gesê nie.

Later het ek van ‘n paar burgers wat toe pas van hul huise teruggekeer het waar hulle met verlof was, verneem dat hulle by Frans se huis aan was.  Hulle het onder die indruk verkeer dat hy ook met verlof was vir ‘n paar dae.  Om hulle nie te laat lontruik nie, kom hy toe saam met hulle, maar maak langs die pad by ‘n winkel die verskoning dat hy net gou iets binne moes gaan koop.  Hulle ry maar houtgerus aan en kom later agter dat ons vriend weer spoorloos verdwyn het!

Daardie middag het ek in die rivier gaan riete sny om in ons tent se vloer oop te sprei en moes kniediep in die water staan om dit by te kom. Van daardie aand af het ek al om die ander dag weer kouekoors van hernude malaria-aanvalle.

Die vyandelike magte het intussen só geweldig in getalsterkte toegeneem dat dit vir ons kommando’s onmoontlik geword het om doeltreffend weerstand te bied.  Die vyand druk ons vinnig in die rigting van Johannesburg en Pretoria terug.  Ons kommando’s moes toe in allerhaas deurdruk na Frederik-stasie in die Potchefstroomse distrik, sodat die perdekommando vandaar per trein na Kliprivier vervoer kon word. Die meerderheid van ons het nou eers begin besef watter reusagtige taak dit vir ons handjjevol burgers sou wees om ons Republieke teen die verwoede aanvalle van so ‘n verbete en getalsterke vyand te beskerm.Maar ons het die toekoms vol moed en selfvertroue aangedurf.