(Lees reeks by: Met Ryperd en Mauser )
TERUG NA KOMMANDO
Dr JP Botha
Dit was op ‘n Saterdag toe die Engelse my tweede perd gekommandeer het en ek weer voetganger geword het. Daardie Sondag lê ek weer plat van die malaria se kouekoors. Omstreeks twaalfuur dieselfde nag maak iemand my wakker en vertel dat veldkornet Van Tonder die volgende dag op Teerputsfontein, twintig kilometer daarvandaan, op ons sou wag. Haastig maak ons toe gereed want buiten my vader, was daar ook nog vyf ander burgers op die plaas.
In dieselfde rigting waarin ons dié nag moes stap, het ‘n groot Kakielaer gestaan, sodat ons langs ‘n taamlike omweg moes gaan. Die saal wat ek intussen weer in die hande gekry het, dra ek op my rug. Ons moes baie versigtig in die donker aansukkel want jy weet nooit hoe ver Kakie sy wagte geplaas het nie. Jy durf jou voete nie te hard teen die vaal grond laat neerkom nie. Graspolle en kaal kolle lyk net eenders.
Meteens struikel ek oor ‘n groot miershoop en kom anderkant op hande en voete te lande, onderwyl die gerinkel van die stiebeuels ver in die stil naglug hoorbaar is.
Benoud wag ons ‘n paar oomblikke in ademlose spanning, dog daar gebeur niks nie. Dis nog veilig en ons sit ons nagtelike tog voort.
Ons bereik ons bestemming die volgende dag en vertrek die middag saam met ‘n klein perdekommando in die rigting van Olifantsnek in die Magaliesberge. Nie ver vanwaar ons die Veldkornet ontmoet het nie, vang ons ‘n paar Kakies wat besig was om perde van die burgers op die plase te kommandeer.
By Olifantsnek aangekom, moes die voetgangers almal oor die nek met ‘n paar waens saamgaan. Ek en my pa vra toe aan die Veldkornet om met hóm saam te gaan. Ons klim toe op ‘n muiltrollie wat die benodighede van die honderd man vervoer het.
Van die nek af trek ons in die rigting van Moedwil. In Rustenburg was ‘n klompie Australiërs wat, soos die mense ons later vertel het elkeen vyf sjielings (vyftig sent) wou betaal om ‘n “fight” met die Boere te hê, want hulle was onder die indruk dat die oorlog verby was. Ons trekkende kommando’tjie is dié dag deur hulle wag raakgesien. Haastig word toe ongeveer vierhonderd troepe uit Rustenburg gestuur om die klompie Boere te kom kafloop. Sommer daardie selfde nag al het ons brandwagte hulle by Rooipoeierspruit terug geskiet. Ons kommando’tjie het ‘n endjie van die grootpad af geslaap en toe dit begin lig word, het ons posisie ingeneem. Die vyand het die huise en rivierwalle as beskutting gehad, maar die burgers het hulle terdeë bestook.
Die vyand se perde wat vir krygsdiens nog totaal ongeoefen was, het die loop geneem en sommer verwilderd deur die bosse gestorm. Toe ek dit sien, het ek so vinnig as wat my bene my kon dra daarheen gehardloop om een in die hande te probeer kry. Uiteindelik kon ek daarin slaag om ‘n perd tussen die haak-en-steek vas te keer en na ‘n paar oomblikke sit ek toe in die saal.
Ek sien ‘n ander ruiter tussen die bome aangery kom. Toe hy naby kom, sien ek dit is Hennie Riekert wat ook so pas ‘n Engelse perd in die hande gekry het. Daarna ry ons saam deur die bome waar ook nog van die ander burgers besig was om perde te vang. Ons gaan oor ‘n rantjie en gewaar ‘n stuk of sewentig perde van die vyand, wat in ‘n bondel teen ‘n doringdraad gestuit het. So ‘n ryk buit was amper te goed om waar te wees! Ons keer hulle versigtig aan en vorder stadig in die rigting van ons eie perde agter die koppie. ‘n Endjie verder kom ons ‘n paar van die ander burgers teë. Ongelukkig probeer hulle toe om van die perde te vang. Die verbouereerde diere maal onrustig in die rondte en meteens begin die hele trop in volle vaart op loop sit. Ons jaag agterna om hulle weer terug te keer, maar dit was alles tevergeefs. Vér op die bulte kon jy naderhand nog net die rooi stowwe sien opslaan soos hulle vlug.
Dit was ‘n ryk buit wat in ‘n groot verlies omskep is. Maar nietemin het ons darem byna al die vyand se perde wat een-een die bosse ingehol het, in die hande gekry.
Laat die middag toe die Marico-kommando vanuit ‘n ander rigting opdaag, kon ons alreeds ‘n groot aantal burgers aan perde help. Ook ek en my pa het van hierdie dag af goeie perde gehad.
Ons het die dag hier by Rooipoeierspruit twee man verloor.
‘n Sekere ou oom Snyman wat deur ons ander gewoonlik “Ou Wolf” genoem is, kom dié middag op ‘n Australiër af wat onmiddellik sy perd die spore gee en voet in die wind slaan. Ou Wolf se groot hoed en sy lang bos baard het hom seker nie aangestaan nie! Ou Wolf sit die Kakie agterna en haal hom stadig maar seker in. Toe hy naby kom, skree hy vir die Australiër: “Hensop!” Sy slagoffer kyk terug en verneem benoud: “Do you want to kill me?” Ou Wolf verstaan of die Kakie wil weet of hy moet oorgee en skree: “Yes!” Dit was seker die enigste Engelse woord wat hy geken het. Dan haal sy arme slagoffer alles wat hy kan uit sy perd, onder die indruk dat sy lewe op die spel is, want as hy so na agter toe loer, sien hy ‘n vreesaanjaende gevaarte stadig maar seker naderkom. Ou Wolf se grootranthoed is laag oor sy oë getrek en die wind kloof sy welige baard in twee wegstaande horings oor sy skouers. Naderhand skree hy in Tswana vir sy slagoffer: “Gooi weg jou geweer!” Die arme Engelsman begryp daar natuurlik niks van nie en vertolk die vreeslike geskree as nog ‘n verskriklike doodsdreigement.
Ou Wolf se perd was egter beter as die Engelsman s’n en uiteindelik het hy hom. Hierdie Australiër het daarna vertel dat hy gedink het dat al die Boere so vreesaanjaend en genadeloos lyk en dat hy bae verbaas was om daarna in aanraking te kom met ‘n klompie penkoppe wat geensins onmensliker gelyk het as lede van sy eie nasie nie.