MET RYPERD EN MAUSER (21)

Dr JP Botha

VREDE  ( Slothoofstuk)

Ons was nog hard besig om brood en beskuit te bak om ons weer vir die verdere stryd toe te rus  -  want ons het geensins vermoed dat die Oorlog se einde reeds aangebreek het nie  -  toe ons aan die begin van Mei 1902 na Rietvlei opgeroep word, waar al die ander kommando’s onder generaal De la Rey vergader was.

Ons moes toe stem of ons by vredesonderhandelinge gewillig sou wees om die onafhanklikheid van die Republiek prys te gee en of ons nog bereid is om vir hierdie saak die stryd voort te sit.  Die Engelse was glo onder die indruk dat ons burgers lank tevore reeds onvoorwaardelik sou oorgegee het as ons offisiere ons nie so aangemoedig het nie.

Die burgers wat gewillig was om die stryd te beëindig deur onvoorwaardelike oorgawe, word toe gevra om net so te bly staan waar hulle was en dié manne wat nog kans sien om onder die haglike omstandighede die onafhanklikheid van ons dierbaar Vaderland met die wapen teen die invaller te beskerm, word versoek om oor te skuif na die anderkant.  Daar het nie ‘n enkel burger bly staan nie.

Nadat die offisiere vertrek het, het ons maar daar bly wag op die uitslag van die onderhandelinge wat ons regering besig was om met die vyand op Vereeniging en Pretoria te voer.

                                          *                       *                          *                           *

Op ‘n sekere dag in Junie 1902 sien ons ‘n ruiter op vinnige galop naderkom, met ‘n wit vlag wat bokant hom aan ‘n stok wapper.  Met stille verwagting staan ons die man se koms en afwag. Dit was nie nodig om ons bymekaar te roep nie, want toe hy stilhou, het ons almal nadergestaan en om hom saamgedrom.

“Burgers,” sê hy, “Ek is gestuur om julle te kom meedeel dat dit vrede is.”

“Ja, maar wat van die Republiek?” word van alle kante gehoor.

Hy laat sak sy kop en sê:  “Ons moes hom prysgee.”

‘n Paar oomblikke lank heers daar ‘n doodse stilte.  Wat in elkeen van die bedrukte gemoedere omgegaan het, is nie lig te beskryf nie.  Met trane in die oë staan ons mekaar spraakloos en aanstaar, terwyl menigeen se gedagtes weer terugdwaal na die opofferinge en ontberings in ‘n lang en bittere stryd wat alles tevergeefs was. Maar onderwyl ons so staan, probeer ons ook om in die donker toekoms in te staar. . .

Generaal De la Rey se burgers moes voor ‘n Engelse offisier en ‘n klompie Kakies op Swartruggens gaan wapen aflê.  Die vernedering om voor my vyand my wapen neer te lê, sal ek nie lig vergeet nie.

Daarop het die offisier ons toegespreek en ons beduie dat elkeen van ons wat ons Regering tot die einde getrou gebly het, sy grootste respek wegdra.  Hy belowe om toe te sien dat ons gelyke behandeling met sy mense in die land sal ontvang.  Hy maak die voorstel dat ons almal saam aan die offisiere drie hoera’s moes skree en begin met lord So en So; maar ons swyg almal stroef.  Daarop begin hy maar met die Boeregeneraals se name waarop ons soos één man juig dat dit luid oor die vlaktes weergalm!

‘n Mens kan net jou kop in verbasing skud vir soveel dwase vermetelheid om van ‘n oorwonne vyand te verwag om skielik sy seëvierende veroweraar toe te juig!  Die verraaiers en hensoppers sou dit seer seker kon doen, maar hulle was toe nie daar nie.

Ek het my perd, Vêrplie, behou om met hom dieselfde pad wat ek gedurende die Oorlog te voet moes aflê, weer terug te ry, oor bulte en vlaktes wat nie meer die eiendom van my volk was nie, na ‘n tuiste waar net afgebrande swart ruïnes as stom getuies gestaan het van die verwoesting en vernielsug, wat die oorsaak van soveel naamlose verdriet en smart was.

Die Oorlog was verby.

                          *                               *                                  *                                   *

Ek wil graag as afsluiting van hierdie interessante oorlogsherinneringe van die oudstryder en bittereinder  Johannes Botha, iets oor hom sê:  Hy was my pa en het geleef van 1873 tot 1963.    In 1946, meer as 40 jaar na die einde van die Tweede Vryheidsoorlog, het ek hom oorreed om sy herinneringe aan hierdie heroïese stryd op te skryf.  Wat u in Met ryperd en mauser gelees het, is net wat hy na al die jare nog daarvan onthou het.

Dr  J P Botha