DIE KEEROMSTRAAT- KLIEK (6)

Lees reeks by Die Keeromstraat-kliek

AANDELEBEURS-HISTERIE

Dr At van Wyk

" Hertzog: 'Ek gaan die Kongres belê om te besluit of ek reg gehandel het en as die Kongres my handelswyse afkeur dan sal ek bedank. Dan kan julle 'n ander leier kies.' "

Dit is seker nie toevallig dat die Suid-Afrikaanse "Kaffirs" juis op 1 Februarie die Londense aandelebeurs erger op hol gehad het as sedert die goudstormloop van 1895 nie. Die Londense Daily Express van 2 Februarie skets die toneel in sy hoofvoorbladberig onder die opskrif "Kaffir Boom Excitement in City Open-air Market – Big Share Deals in Street – Share Prices Leap":
" 'n Stoeiende skare kopers en verkopers van aandele het gisteraand 'n opwinding in Throgmorton Street veroorsaak soos nie sedert die goudstormloop van 1895 belewe is nie. Tot laataand was aandelemakelaars, klerke en klante saamgehok in 'n opelug-aandelebeurs, vasbeslote om die opvlamming in "Kaffirs" ten volle te benut. Die pot was die afgelope weke aan't prut en die onmiddellike oorsaak daarvan was Suid-Afrika se afstapping van die goudstandaard. Aandele wat enkele weke gelede nog konstant was is nou die middelpunt van spekulasie, en sommige het verdubbel en verdriedubbel in waarde.
"Daar word geraam dat die totale waarde die afgelope week met 10 000 000 pond gestyg het, en met sowat 50 000 000 pond oor die afgelope agte weke. Die Randse goudmynbelange word nou op meer as 2000 000 000 pond getakseer.
"Kopersopdragte vir "Kaffirs" het gister die Londense beurs oorstroom; transaksies is tot in Amerika en Kanada gesluit.

  "Daar was 'n konstante stroom kabelgramme en telefoonoproepe na Suid-Afrika.
"Tot op die nippertjie is opdragte uit Parys ontvang. Die beurs het gesluit eerder weens die fisieke uitputting van die deelnemers as weens 'n tekort aan transaksies – en toe het die makelaars na hul kantore gegaan om tot middernag die winskope van die dag te bereken.
"Voordag Suid-Afrika die goudstandaard verlaat het, het sy produsente 84s 10d per ons gekry; vandag kry hulle 120s per ons."

Hierdie stormloop het bes moontlik begin  by 'n gefluister op die Johannesburgse aandelebeurs – "broeines van politieke gerugte", soos Die Burger dit op 6 Februarie genoem het – dat Havenga namens die Regering en Duncan die Opposisie onderhandelinge aangeknoop het met die oog op koalisievorming.

Sou sir Abe Bailey daar iets mee te doen gehad het? 'n Hertzog-Smuts-koalisie het vir Hoggenheimer oneindig meer moontlikhede ingehou as die Roos-Smuts-koalisie waarvoor hy hom aanvanklik beywer het. 'n Beswering van die taalgroepstryd tussen leiers soos Hertzog en Smuts, gekoppel aan die reeds sigbare voordele van Suid-Afrika se afstapping van die goudstandaard, het nuwe en meer opwindende vergesigte vir die manipuleerders van grootgeld geopen, en hul opwinding het die Londense aandelebeurs die bewerasie laat kry.

Te midde van die koalisiegerugte het Hertzog steeds probeer om die skyn te bewaar. Op Saterdag, 4 Februarie, het FC Erasmus, sekretaris van die Kaaplandse Nasionale Party, Hertzog gewys op die kwaad wat die gerugte doen, en hom gevra om dit teen te spreek. Hertzog was verontwaardig oor Die Burger se hoofartikel van die vorige dag onder die opskrif: "Nasionaliste, Pasop!" en toe Erasmus dit later die dag aan Geyer vertel, het hy vir die eerste keer besef dat Hertzog koalisie goedgesind was. Op Hertzog se versoek via Erasmus het Die Burger se politieke korrespondent, die latere so bekende EA Malga, hom dieselfde Saterdagaand in Groote Schuur besoek waar hy die koalisiegerugte ondubbelsinnig weerspreek het. Hy het dan van niks geweet wat Havenga aanleiding sou kon gee om met Duncan oor koalisie te onderhandel nie. Dat Havenga saam met Duncan te sien was, het hy nie vreemd gevind nie want waarom mog hulle nie byeenkom nie? Wat die gerug betref: "Dis onsin! Dis praatjies en daar is niks vanwaar nie. Ek weet niks van sodanige onderhandlinge of planne nie en die praatjies behoort teengespreek te word."

Met die verskyning van hierdie berig in Die Burger op Maandag, 8 Februarie, het mev Emmie du Toit, jongste dogter van pres MT Steyn en eggenote van die medikus dr JS du Toit, dit gaan wys aan haar politikus-broer, dr Colin Steyn.
Laasgenoemde, wat ook geglo het dat onderhandelinge tussen Hertzog- en Smutsmanne aan die gang was, se reaksie op die berig was: "Hertzog lieg; ek weet uit ondervinding hoe hy kan lieg!"

Die berig was nogtans 'n emmer koue water op die koalisie-hoop in SAP-kringe. Dit het Die Burger die geleentheid gegee om die draak te steek met hul "ydele" pogings om die Nasionale Party te breek.

Op 13 Februarie het Die Burger berig dat die Nasionale Party nou in gevaar is om van bo tot onder te skeur oor koalisie, en dat die enigste man wat dit kan afweer Hertzog is.
Teen daardie tyd was Hertzog meer vyandig teenoor Die Burger as ooit tevore.
Die volgende oggend onderhandel hy nie met sy koukus nie maar stel 'n voldwonge feit aan die vergadering: hy gaan dieselfde middag nog 'n verklaring, met sy voorstelle vir samewerking, aan Smuts en die pers oorhandig. Hy ontken dat regstreeks of onregstreeks met Smuts onderhandel is; voer aan dat die Nasionale Party die volgende verkiesing gaan verloor en dat die kans tot samewerking met Smuts dáárom benut moet word; beweer dat daar 'n breuk in Sap-geledere tussen jingo's en Afrikaners is, en dat Smuts se hand van samewerking nie weggeklap moet word nie want dan word hy in die arms van die jingo's en die Natalse Federaliste gejaag; gee die versekering dat sy plan nie op samesmelting neerkom nie maar op die vorming van 'n Pakt-regering soos dié met die Arbeiders, en vervolg: "As Smuts na my kom en die onderhandelings word gevoer, dan sal ek die voorwaardes aan die Kabinet en hierdie koukus voorlê en dit met julle bespreek. Ek gaan die Kongres belê om te besluit of ek reg gehandel het en as die Kongres my handelswyse afkeur dan sal ek bedank. Dan kan julle 'n ander leier kies."

Oor watter bespreking in die koukus op Hertzog se aankondiging gevolg het bestaan nie uitvoerige getuienis nie. Die vergadering het lank geduur. Die kwessie is geopper of Hertzog se verklaring, sou dit vir Nasionaliste aanvaarbaar wees, as 'n stap in die rigting van koalisie beskou moes word, of bloot as inligting aan diegene in die SAP wat uit eie oortuiging met die Nasionale Party wou saamwerk. Menings het skerp uiteengeloop en dit is twyfelagtig aan watter kant die meerderheid sou geval het as oor die saak gestem was. Omdat nie gestem is nie het die koukus se anti-koalisiebesluit van 24 Januarie dus van krag gebly.

Hertzog se optrede, hoe ondiplomaties ook al, getuig nietemin van 'n kragfiguur wat onderskryf word deur die feit dat die koukus hom sy sin gegee het. Hertzog self het sy optrede so gesien: omdat die koukus verdeeld was het hy die verantwoordelikheid op hom geneem en juis daarom die koukus nie laat stem nie.
"Daar word gesê dat ek outokraties gehandel het. Ek het my plig besef as leier van my party en as sodanig opgetree. Watter bepalings van ons konstitusie belet my om met genl Smuts te onderhandel om te sien wat in die belang van die party gedoen kan word? Juis met die oog op die vertroue in my gestel as leier van die party, het ek gevoel dat dit my plig was om te handel en nie bang te wees nie maar die verantwoordelikheid te aanvaar."

Sy optrede sou nie lydelik aanvaar word nie. Reeds die middag van die koukusvergadering het dr Geyer met anti-koalisioniste in die Parlementsgebou vergader. Dr Malan wou dat daar die volgende oggend, gelyktydig met die bekendmaking van Hertzog se voorwaardes, 'n verklaring van hom by wyse van 'n persgesprek in Die Burger verskyn. Op Geyer se aandrang is ooreengekom dat Die Burger self die volgende oggend die toedrag van sake in 'n nuusberig bekend sou maak. Dr Malan het self die konsep voltooi, wat net in geringe opsigte op Geyer se aanbeveling gewysig of aangevul is.

Dié berig het op 15 Februarie 1933 naas Hertzog se sewepuntplan op die voorblad van Die Burger verskyn. Daarin is Hertzog se outokratiese optrede sterk beklemtoon. Ook is ontken dat Malan, soos die vorige berig deur die Kaapse SAP-pers, met Hertzog 'n ooreenkoms oor koalisie gesluit het: Malan het hom in die koukus teen koalisie uitgespreek en hom by sy standpunt gehou soos in die Volksraadsdebat gestel, en in ooreenstemming met die koukusbesluit van 24 Januarie. In 'n hoofartikel het die blad vir die eerste keer lynreg teenoor Hertzog stelling ingeneem:
"Vir enige Nasionalis is dit in die hoogste mate pynlik om van sy gevierde leier te verskil. Die vader van die Nasionale Party het egter sy volgelinge geleer dat hy van hulle meer verwag as bloot slaafse navolging van sy persoon, hoe hoog ons daardie persoon ook eer. Op die punt van koalisie met die SAP moet ons van hom verskil."
Bogemelde berig en hoofartikel is deur die Britse amptenare in Suid-Afrika volledig aan hul regering gerapporteer as synde die mening van die Malaniete. Wat in Die Burger verskyn het, het sekerlik die mening van die Malaniete teen koalisie weerspieël, maar nie in die sin dat die blad bloot aan dr Malan gehoorsaam was nie.

Nasionale leiers het hulle nie in die openbaar uitgelaat nie; die ministers het nie gedurf nie, want dan sou hulle kabinetsgeheime moes verklap; die Nasionale leiers wou nie want dan sou hulle party-eenheid in die gedrang bring. Van dr Malan het daar buiten die bekendmaking van sy teenkanting teen koalisie, tot in daardie stadium geen verklaring verskyn nie, want hy het die uitslag van die Hertzog-Smuts-onderhandelinge afgewag.

Met Geyer se standpuntstelling in Die Burger van 15 Februarie was die teerling gewerp en het die gordyn geval op die eerste bedryf van 'n drama wat die Nasionale Party in die besonder en die politiek in die algemeen onherroeplik sou raak. In die proses sou ook dr Geyer, die Ysterman, hom deur politici laat oorhaal om ter wille van party-eenheid 'n kompromis te sluit en in sy blad te propageer. Die so begeerde party-eenheid sou nogtans 'n lugspieëling blyk te wees.

Vervolgens: Politieke dubbelbed.