Lees reeks by Die Keeromstraat-kliek
POLITIEKE DUBBELBED
Dr At van Wyk
Die Burger se bekendmaking van die onderhandelinge tussen genls Hertzog en Smuts, en sy verwerping van die koalisie-gedagte, het uiteenlopende gewaarwordinge by sy lesers gewek. Sommige het geglo dat die bittere "rassestryd" op 'n einde gekom het; ander wou weet of die Afrikaner en die Engelsman se worsteling van die vorige geslagte dan net 'n gejaag na wind was. Terwyl Geyer en sy blad téén 'n politieke koalisie van watter aard ookal gekant was, was hulle in die minderheid wat Jan Alleman betref.
Die Burger het inderdaad teen die hoofstroom geswem, want die vooruitsig van politieke rus en vrede wat 'n samewerking tussen Hertzog en Smuts ingehou het, het wye steun onder Afrikaners en Engelse oor die hele land geniet. Die kennelikste teken hiervan was dat geen Suid-Afrikaanse regering ooit groter perssteun as dié van genl Hertzog van 1933 tot 1939 geniet het nie. Baie, veral Afrikaners, het gehoop dat koalisie vir hulle uitkoms sou bring, uit die ekonomiese rampspoed van die wêrelddepressie wat deur die groot droogte van 1933 vererger is. Vas daaraan gekoppel maar uit 'n heeltemal ander gesigs- en leefkring, was Hoggenheimer se geloof wat nie beskaam sou word nie, dat vir hom groot voordele uit koalisie te haal was.
Bo-op hul ekonomiese beweegredes het plattelandse Afrikaners van albei politieke parte al sedert die Botha-Hertzogskeuring van 1912 na 'hereniging' gehunker en veelal nie meer in vyandskap met mekaar gelewe nie. Die Sap-boer was, soos Geyer dit stel, sat van sy politieke geselskap in 'n oorwegend Engelse party, en die NP-boer het die SAP alleen gesien soos verpersoonlik deur sy Sap-buurman – dus, aanvaarbaar.
Vir die Engelse, wat nie in dieselfde mate as die Afrikaners deur onderlinge verdeeldhede verswak is nie, het 'n byeenkom van hul party met dié van die Afrikaners net politieke voordele ingehou deurdat hulle van deelname aan die regering verseker sou word. Daarom kon hulle en hul pers dit bekostig om hoog op te gee oor die noodsaak van 'n beswering van die stryd tussen die taalgroepe.
Of Hertzog in sy hart daarvan oortuig was dat die twee kultuurstrome die punt van ineenvloeiing bereik het, om so sy tweestroombeleid tot verwesenliking te bring, kan nie buite twyfel beantwoord word nie en moet trouens bevraagteken word. Dit wil eerder voorkom asof hy onder dwang van politieke werklikheid besluit het om sy aartsvyand as bedmaat te kies – 'n geval van politieke dienstigheid.
Dit was ook die afleiding van die Glasgow Herald op 16 Februarie 1933 in die verre Skotland. Die blad het geglo dit was die gevaar dat hy deur die Roosiete tot 'n val gebring sou word, wat Hertzog toenadering by Smuts laat soek het. "General Hertzog has therefore made a virtue of a necessity by approaching General Smuts on the subject of party co-operation in the government. He probably likes the idea as little as he has always done but he like even less the prospect of defeat and party disintegration."
En genl Smuts – waarom was hy, toe sy oponient hom in die moeilikheid bevind het, bereid om met hom saam te werk en boonop tweede viool te speel?
"Slim Jannie", het hulle hom genoem, en daarmee het sy opponente onder die Afrikaners eintlik bedoel hy was geslepe. Dat hy in hierdie saak politiek skerpsinniger as Hertzog was, wil blyk uit die feit dat hy in die oorlogsdrama van September 1939 die wenner was – en steeds sy kleur van die voorafgaande dekades behou het. Maar dit beantwoord nie die bostaande vraag nie.
Daar kan aanvaar word dat Smuts as praktiese politikus daarop ingestel was om weer sy party aan die bewind te kry maar 'n oorwinning by die stembus was geen uitgemaakte saak nie. Hy kon nie met sekerheid sê wat die Roosiete in sy party in 'n verkiesing sou doen nie. Hy het 'n begeerte gehad om Engelsman en Afrikaner byeen te bring – dit loop soos 'n draad deur sy politieke verhaal sedert 1902. Dié ideaal kon nie verwesenlik word solank vyandskap tussen die twee partye juis die taalgroep-verdeedheid onderstreep en bevorder het nie. Om gou weer deel te kon hê aan die regering van die dag was samewerking met Hertzog die voor-die-hand-liggende keuse. Ook in sy geval het dit om politieke dienstigheid gegaan en was dit, oppervlakkig beskou, 'n groter dobbelspel as vir Hertzog, want hy sou nie aan die stuur staan nie.
By al die moontlike beweegredes moet eerlikheid in hul politieke spel aan sowel Smuts as Hertzog toegegee word, of miskien moet Smuts se optrede juis hierom bevraagteken word. Norman Howell, parlementêre verslaggewer van die Cape Times in die Tweede Wêreldoorlog, het na Smuts se dood die verskil tussen hom en Hertzog só geskets teenoor Harry G Lawrence, kabinetslid onder Smuts van 1939 tot 1949: " Hertzog had the obstinacy of honesty; Smuts had the flexibility of dishonesty!"
Omdat Smuts se bekwaamhede bekend was en hy geen "Engelsman-hatige Afrikanernasionalis" was nie, het sy strategie in sy onderhandelings met Roos en Hertzog en sy bereidwilligheid om onder Hertzog te dien, in sekere kringe groot indruk gemaak. JE Coulson, 'n hoë amptenaar in die Britse departementvan buitelandse sake, het Smuts geloof vir sy verwerping van Roos se aanbod en sy geloofskrag om te wag vir 'n "ware" saambinding van alle politieke elemente in die Unie: hy het met versiendheid opgetree op gevaar af dat hy die grootste aantal van sy eie ondersteuners aanstoot kon gee. Sir William Clark, wat sir Herbert Stanley as Hoë Kommissaris in Suid-Afrika sou opvolg, sou jare later gewag maak van Smuts se grootmoedigheid om hom bereid te verklaar tot diens onder Hertzog – 'n man wat polities nie sy gelyke was nie.
Dit is 'n te enkelvoudige siening van Smuts se optrede, want, soos hierbo aangetoon, was dit dwang van omstandighede, gekoppel aan hul ideale, wat die twee generaals in een kamp gejaag het.
Die politieke dubbelbedwat hulle aan die maak was, het dorings bevat wat algaande al hoe seerder sou steek. Van die dorings was die radikale onversoenlikheid wat nog altyd die verhouding tussen die twee generaals gekenmerk het.
Hoe sou hulle mekaar na 'n politieke vyandskap van goed 20 jaar weer in die oë kon kyk? Dr Wennie du Plessis het op 3 Augustus 1983 by die opneem van 'n skool-radioprogram oor koalisie, die twee generaals se herontmoeting vyftig jaar tevore geskets. Du Plessis, wat genl Hertzog se sekretaris was, het genl Smuts in sy kantoor in die Parlementsgebou gaan haal vir sy eerste byeenkoms met Hertzog. (Toe hulle in die lang gang af stap val dit hom op dat genl Smuts nie gewone skoene dra nie maar militêre stewels). By genl Hertzog se kantoor klop hulle en stap in. Dit is 'n baie emosionele oomblik maar hul wedersydse groet is niksseggend komieklik. Genl Hertzog wat van sy rusbank af opstaan, sê: "Wel, wel, wel, Jannie..." Byna gelyktydig sê Smuts met sy oë op die vloer en in sy effens hoë bry-stem: "Hier's ons! Hier's ons! Hier's ons!"
So het die twee aartsvyande politieke bedmaats geword, en in albei kampe is gewonder hoe lank dit sou duur voordat hulle mekaar sou probeer afskop. Juis om hierdie rede was Geyer, soos hy reeds onomwonde in sy blad verklaar het, onder diegene wat liefs alleen wou bly slaap; maar die drang na die behoud van partyeenheid sou hom ook op die bed laat klim.
Hertzog se sewe voorwaardes vir koalisievorming met Smuts het wye publisiteit in Suid-Afrika en oorsee geniet. Dit kan so saamgevat word.
- Suid-Afrika sou geregeer word volgens Nasionale beginsels en in ooreenstemming met sy soewereiniteit soos deur die Statuut van Westminister gewaarborg.
- Die uniale grondslag, soos beliggaam in die Suid-Afrika-Wet, sou van krag bly, en die Unievlag sou Suid-Afrika se selfstandigheid versinnebeeld.
- Gelyke taalregte sou van staatsweë gehandhaaf word.
- Na die belange van alle volksdele sou omgesien word maar die opbou van 'n gesonde boerebevolking sou in die besonder aandag geniet.
- Die beleid van "beskaafde arbeid" sou voortgesit word om 'n behoorlike lewenstandaard vir die werkersklas te verseker.
- Daar moes gepoog word om die swart kwessie op te los deur enersyds die swarman die reg op ontwikkeling te gun, maar andersyds die wit beskawing te handhaaf en afsonderlike politieke verteenwoordiging vaan die swartman te gee.
- Die land se ekonomiese hulpbronne sou ontwikkel en sy geldwese beskerm word.
Op die oog af is die hoofbeginsels van die Nasionale Party in hierdie sewe punte vervat maar dit het nie dr Geyer of sy kollega dr AJR van Rhyn van Die Volksblad bevredig nie. Vir Geyer was dit sewe gemeenplase, elkeen vatbaar vir 'n eie uitleg. Vir Van Rhyn het die 'papierwaarde' van die beginsels geen waarborg gebied dat dit deur Smuts in dieselfde gees aanvaar en toegepas sou word as dié waarin die Nasionale Party dit verstaan het nie. Albei redakteurs het verklaar dat die jarelange stryd tussen die NP en die SAP juis gehandel het oor die betekenis en toepassing van sake wat in die sewe punte genoem is. Geeneen het getwyfel aan wat Hertzog onder sy sewe punte verstaan het nie want die grondbeginsels van die Nasionale Party was daarin vervat, maar hulle het gewanhoop aan die vertolking wat die SAP-lede van 'n koalisiekabinet daaraan sou gee.
Boonzaaier het op 18 Februarie hieraan uitdrukking gegee in 'n spotprent van "Die Twee Slimmes", Hoggenheimer en Smuts, wat laggend teenoor mekaar sit terwyl Hoggie vir Smuts op die skouer klop en sê:" Natuurlik sal ons al hulle voorwaardes met oop arms aanvaar, maar die uitvoering daarvan is mos gans 'n ander saak, my liewe Generaal!"
Vir Geyer was dit betekenisvol dat die Cape Times die sewe punte entoesiasties aanvaar het. Selfs die punt ten opsigte van die belangrike swart kwessie, het hy betoog, het geen probleme gebring vir wat hy bestempel het as die ergste negrofilistiese blad in Suid-Afrika nie. Syns insiens was die "waarborge" vervat in die sewe punte nie die papier werd waarop dit gestaan het nie.
Hierdie hoofartikel van Die Burger is, soos baie ander, deur die kantoor van die Brits Hoë Kommissaris in vertaalde vorm aan die Britse regering gerapporteer want daar was 'n besondere belangstelling in die standpunt wat die blad sou inneem, veral vanweë sy verbintenis met dr Malan, leier van die Kaaplandse Nasionale Party. Die HoëKommissaris, sir Herbert Stanley, het Malan as die knapste en mees formidabele lid van die Kabinet beskou en geglo dat hy nie net die steun van 'n baie groot persentasie van die Kaapse Nasionaliste geniet het nie maar ook "feitlik in beheer" van Die Burger was.
Patrick Duncan het in private korrespondensie die taamlik algemene mening van Engelssprekendes vertolk dat Malan straks nie vir koalisie te vinde sou wees nie en met 'n belangrike deel van die Nattes, wat getalle en gehalte betref, sou wegbreek. Dit was wensdenkery want daar is geglo dat Malan die vlieg in die salf was. CP Robinson, een van die voorste politici in Natal en LV vir Durban-Stanford Hill, het al in die wantrouedebat gesê dat koalisie noodsaaklik geword het om van ministers soos dr Malan ontslae te raak – 'n stelling wat hy by die latere verkiesing sou herhaal. Andersyds is aan anti-Naionale kant probeer om verwarring in Nasionale geledere te saai deur voor te gee dat dr Malan koalisie goedgesind was. Dit het Die Burger sy lesers laat waarsku teen wat hy bestempel het as "hierdie spel" van die Sappe.
Hertzog en Smuts sit onderhandeling voort... vervolg