DIE KEEROMSTRAAT- KLIEK (2)

Lees die reeks by Die Keeromstraat-kliek

TOUTJIES AGTER SKERMS: TIELMAN ROOS (B)

Dr At van Wyk

"M.E.R. het geskryf: 'Ek het al verskillende tye van volkskrisis deurleef. Hierdie een is eienaardig; sy kenmerk is verwarring wat soms dreig om oor te gaan in paniek. Só 'n verwarring was daar nie by die Hertzog-Botha-kwessie nie, nie by die rebellie nie, nie by die oorlog tussen Engeland en die republieke nie."

Vroeg in 1932 het 'n anonieme Nataller 23 000 pond tot Roos se beskikking gestel om dit vir hom moontlik te maak om vry en ongebonde in die politiek op te tree. Hy het dit van die hand gewys uit vrees dat die geldskieter hom sy beleid sou wil voorskryf. Volgens Henry Libberman van Johannesburg het die geldmanne tog 'n houvas op Roos verkry. Sir Herbert Stanley, Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, getuig dat 'n Johannesburgse magnaat hom vertel van samesprekinge wat hy indertyd met Roos gevoer het. Dit was 'n voortsetting van onderhandelinge sedert vroeg 1930 om Roos weer in die politiek te kry. Stanley het vermoed dat die gesprekvoering 'n stadium bereik het waar Roos nie langer kon uitstel nie.

Of die anonieme magnaat sir Abe Bailey was, kan nie met sekerheid gesê word nie, maar daar is grond vir so 'n vermoede. Sir Abe en Roos het sedert 1926 al nader aan mekaar gestaan in hul begeerte om 'n middelparty, selfs 'n samesmelting van die twee hoofpartye, tot stand te bring. Mnr Charles te Water het Hertzog einde Oktober 1931 gewaarsku dat sir Abe uit Londen na Suid-Afrika vertrek het om die land van die goudstandaard te probeer afdwing.

Of sir Abe deur JH Thomas, Britse minister van dominiale sake, daartoe aangemoedig is, was nie vir hom duidelik nie, maar hy het geen twyfel gehad nie dat die Britse regering elke middel sou aangryp om Suid-Afrika se afstapping van goud te verseker: Te Water lewer ook getuienis dat elke man indertyd steeds sy prys gehad het in die oë van sommige. Byvoorbeeld, pas nadat hy in 1929 Hoë Kommissaris in Londen geword het, het 'n Suid-Afrikaanse magnaat-Volksraadslid wat hy by die naam noem, gespog dat hy hom sou omkoop; maar hy het nie daarin geslaag nie.

Sou dit waar wees dat Roos gedwonge gevoel het om in te gryp, dan het die uitslag van die Germistonse tussenverkiesing op 30 November 1932 die regte klimaat geskep. Adv JGN Strauss (ná Smuts se dood leier van die Verenigde Party-opposisie) het die setel namens die Suid-Afrikaanse Party by die Pakt afgevat deur die Nasionale kandidaat te verslaan. HH Moll, LV vir Christiana en later apostel van Roos, was die Nasionale Party se organiseerder. By Die Burger het dr Geyer vermoed dat Moll nie sy volle gewig by die Nasionale Party ingegooi het nie; trouens, dat hy "toe reeds verraad gepleeg het".

Vir die Regering was die uitslag onstellend. Genl Smuts het dit as 'n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika beskou en as die ondertekening van die Regering se doodsertifikaat. Tot in die verre Skotland is geglo dat die Germistonse neerlaag 'n rietjie was in die wind van die Regering se toenemende ongewildheid by die kiesers vanweë hul ekonomiese ellende.

Die toestand het hierna 'n vinnige wending geneem, maar dat dit op 'n enorme politieke krisis sou uitloop, is nie verwag nie. Op 15 Desember nog het sir Herbert Stanley aan sy regering voorspel dat die land 'n rustige politieke Kersfees te wagte was. Net die volgende dag, Geloftedag, het Roos op Haakboslaagte naby Lichtenburg in 'n toespraak te kenne gegee dat sy kop politiek toe staan en wel as teenstander van die Nasionale Party, waarvan hy tevore Transvaalse leier was.

Hoe min die land 'n skielike krisis verwag het, blyk daaruit dat 'n berig oor Roos se toespraak eers die week daarop in die pers verskyn het – in The Star. Die Kaapse koerante het dit eers op Dinsdag, 20 Desember 1932, in die Reuter-nuus teëgekom en die volgende dag gepubliseer.

Die Sap-koerante het soveel politieke munt moontlik uit die berig probeer slaan. Hier was 'n voormalige leier van die Nasionale Party wat laat blyk het dat hy die regbank kon verlaat om die Regering aan te pak, van die goudstandaard te dwing en met sy aansienlike kiesersteun onder sowel Nasionaliste as Arbeiders 'n koalisie met die Sappe te vorm. Vir dié koerante was dit 'n gulde geleentheid om toe te sak op die Regering, wat deur die Opposisie alleen, nie van goud gedwing kon word nie.

En Die Burger? Die redaksie het geglo dat die Regering die posisie betyds sou beredder. Hertzog het immers pas 'n maand of wat tevore verklaar dat hy eerder sou bedank as om van goud af te stap. Daarom volstaan die blad op Dinsdag, 21 Desember, "met 'n teregwysing aan die adres van 'n appèlregter wat durf politiek praat".

Op 22 Desember word Roos se hertoetrede tot die politiek aangekondig. Sap-koerante soos die Cape Times pluk hom stewiger nader om die Regering te probeer breek.

Dr Geyer het toe reeds besef dat 'n ernstige krisis ophande was en dat die Regering kon val, maar hy was nie bereid tot vrede met Roos nie; daarom het hy hom vererg vir die houding van sy kollegas van Die Volksblad, die redakteur dr AJR van Rhyn en mnr LW Hiemstra, die later bekende taalkenner van die Nasionale Pers. Hulle wou, soos Hiemstra hom telefonies en skriftelik meegedeel het, dat die Nasionale Party 'n kompromis met Roos sluit en saam met hom en die Sappe 'n koalisie vorm – om so darem 'n staanplek vir die party binne die volgende regering te verseker. Geyer was nie eens bereid om met hulle daaroor te korrespondeer nie.

Voordat hy Roos openlik gepak, het, het hy eers op 22 Desember met die drie kabinetslede wat nog in die Kaap was, dr DF Malan, CW Malan en APJ Fourie, gaan beraadslaag. Die res van die kabinet was oor die land versprei. Geyer was gereed om 'n hoofartikel te skryf, "Die dolksteek in die rug", waarop dr Malan as opskrif voorgestel het, "Verraad in die kamp". Attie Fourie, die bra omstrede Minister van Mynwese en Nywerheid, wou niks sonder genl Hertzog se leiding doen nie, en dié kon nie bereik word nie. Laataand het Geyer die generaal se wens telefonies via mnr PGW Grobler, Minister van Lande, uit Pretoria verneem, dat Die Burger 'n gesamentlike verklaring van die Kabinet moes afwag, wat op Maandag 26 Desember 1932, in Pretoria sou vergader.

Nou gaan die Regering ingryp om die toestand te besweer, so is in Die Burger-redaksie geglo. Optrede was hoog nodig. Uit Pretoria het die blad se politieke korrespondent, EA Malga, immers berig oor gerugte dat die Regering gaan bedank, want daar is so 'n kapitaalvlug uit die land dat die Suid-Afrikaanse pond devaluasie in die gesig staar. Britse koerante voorspel dat Suid-Afrika van goud gaan afstap, met 'n daaropvolgende styging in die prys van goud en die begin van 'n tydperk van voorspoed.

Die Regering het nié ingegryp nie; trouens, die beloofde kabinetsverklaring is nooit uitgereik nie. Intussen het die krisis opgebou. Die druk uit politieke en finansiële kringe, sowel plaaslik as oorsee, het hand oor hand toegeneem. Toe Die Burger, by gebrek aan amptelike leiding, die volgende week hard begin slaan, was die koeël deur die kerk. Maar dit is steeds nie besef nie.

Vir die redaksie was die Kersnaweek van 24-25 Desember die rustigheid self. Toe hulle die Maandagmiddag die koerant van die volgende dag begin "aanmekaar timmer", het hulle vas geglo dat die goudstandaard en die Regering staande sou bly.

Dit was 'n wrede vergissing. Die stilte het net die storm voorspel – een van die mees dramatiese, met slepende nagvolge, in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis.

Roos se aankondiging van sy hertoetrede tot die politiek met die opset om die land van die goudstandaard te dwing en 'n koalisieregering tot stand te bring, is met "algemene verstomming" begroet en was vir Smuts net sy verbysterend soos vir Hertzog.  Dit was nie net dié nuus van die dag in Suid-Afrika nie, maar het ook die kabels na en van die buiteland laat gons en die diplomatieke possakke voller laat loop. Tot in die verre Indië is aan die hand van foto, vers en kapittel betoog dat die Hertzog-regering se vasklou aan die goudgod 'n onding was. Het Japan dit dan nie in sy eie belang nodig geag om van goud af te stap nie? Gerugte dat Hertzog sou bedank, het vrae in Britse regeringskringe opgejaag en lady Clarendon, eggenote van die pas aangewese Goewerneur-generaal, is glo met kommer vervul oor wat hul posisie in Suid-Afrika sou wees. Uit Ierland is voorspel dat, sou Roos die Regering dwing om van goud af te stap, dit 'n veel hoë styging in die prys van Suid-Afrikaanse goudmynaandele tot gevolg sou hê as wat reeds ingetree het; in Skotland is gemoraliseer dat die "isolationist traditions of the Voortrekkers" nie opgewasse was vir die eise van die moderne wêreld nie.

Die Burger het op 24 en 27 Desember 1932 die gerugte oor die voorgenome bedanking van die Regering en die afstapping van die goudstandaard met geloofsoortuiging teengespreek. Devaluasie sou 'n dwase stap wees, het hy aangevoer – 'n oorgawe aan die goudspekulante en geldwisselaars wat hulself wou verryk ten koste van die lydende bevolking. Die blad het gepraat op grond van wat hy geglo het in die beste belang van die land te wees, nie van wat die gevaartekens voorspel het nie. Dít het hy gedoen in die geloof dat die Regering vas sou staan.

Maar van 23 Desember af het 'n ongekende gejaag na en oppotting van goudmunt begin, in die verwagting dat Roos die Regering van goud sou afdwing en dat die opgepotte goud dan teen 'n wins gewissel sou kon word.

Die Reserwebank kon die wisselkoersposisie hanteer, maar geen bank kan 'n volgehoue vraag na goud vir oppotting weerstaan nie. Die Suid-Afrikaanse bankwese het gedreig om tot stilstand te kom. Samesprekings is onmiddellik tussen die handelsbanke en die Reserwebank gehou, met die slotsom dat die Reserwebank deur die Regering onthef behoort te word van die verpligting "om sy note in goudmunt inwisselbaar te maak". Die hoof van die Reserwebank het op 23 Desember aan die Minister van Finansies, mnr NC Havenga, 'n brief in dier voege gerig, wat hy eers op 26 Desember met sy terugkeer in Pretoria gekry het. Waarom nie spoediger opgetree is nie , is onbegryplik.

Vervolg: Die toestand versleg... (C)