DIE BELEG VAN MAFEKING (4)

Lees reeks by Die Beleg van Mafeking

Dr JP Botha

DIE AANVAL OP PLATBOOMFORT

Na die Boere se nouer insluiting van Mafeking kon niemand die dorp meer ongesiens binnekom of verlaat nie en is die beweegruimte van die garnisoen en inwoners aansienlik beperk en het die beskikbare weiveld vir die dorpsvee te klein geword.  Gulsige sprinkaanswerms het gedurende die vorige weke gehelp om die veld kort te hou en daarom het dit vir Baden-Powell noodsaaklik geword om ‘n poging aan te wend om die Boere op minstens een van die fronte terug te werp en hul stellings in die betrokke sektor te verower.  Aangesien dit vir hom broodnodig was om met Plumer se troepemag in die noorde te probeer kontak hou,  was dit die aangewese weg om die pad noordwaarts te probeer oopbreek.  Hy het gereken dat as hy die Boere se Platboomfort, wat te Game Tree Hill opgerig was, kon verower, sou hy ‘n oop pad vir die Rhodesiese regimente  bewerk en kon hulle van die noordekant af help om die burgermagte so besig te hou dat generaal Snyman nie in staat sou wees om enige versterkings vir ander fronte af te sonder nie en selfs genoodsaak sou word om nog meer burgers vir die beleg van Mafeking aan te vra.

Die Platboomfort was op ‘n lae heuweltjie, ongeveer twee kilometer noord van Mafeking en skaars 800 tree wes van die treinspoor, en het dus die pad van die Engelse na die noorde versper.  Die Boere het hier aanvanklik ‘n oop skans opgerig, maar het dit gedurende die voorafgaande twee weke tot ‘n baie sterk, toegeboude vesting versterk, met ruimte vir ‘n aansienlike besetting,  wat die vyand te Fort Ayr, Fort Millar en Fort Cardigan deur drie rye skietgate kon bestook. Hulle het die dak daarvan met dik houtblokke en ysterstawe gebou en met ‘n dik laag grond bedek sodat die fort, wat twee meter bokant die grond verrys het,  in staat was om hewige aanslae van kanonvuur te weer- staan.  Daarby was die vesting op die kant van ‘n beskermende sloot geleë en omring deur ruie doringbos, sodat Platboomfort inderdaad nie ‘n kat was wat sonder handskoene aangepak kon word nie.

Die Engelse was egter onder die indruk dat hulle ‘n maklike aanval teen ‘n swak verdedigde oop loopgraaf gaan loods en was só seker dat hul inligting aangaande die sterkte van die Boerevesting juis en betroubaar was,  dat hulle na die ontnugtering wat hulle te beurt geval het, volgehou het dat hulle aanvalsplanne op Kersdag deur ‘n verraaier in eie geledere aan die Boere verklap is, sodat die burgers gedurende die nag die stelling uitermate versterk en die besetting verdubbel het.  Hulle moes egter óf deur een van hul swart spioene mislei gewees het óf swak verkenningswerk gedoen het.  Platboomfort was immers lank voor Kersdag (1899) goed versterk met die doel om Mafeking aan die noordekant op doeltreffende wyse te isoleer.

Onbewus hiervan het Baden-Powell op Kersaand die finale reëlings vir die aanval met sy offisiere getref.  Die aanslag sou gelyktydig van twee punte af van stapel gestuur word.  Aan die oostekant sou dit aangeval word deur majoor Godley, wat sou beskik oor eskadron C van die Protectorate Regiment, aangevoer deur kaptein Fitzclarence van die Royal Fusiliers, en eskadron D van dieselfde regiment, aangevoer deur kaptein Vernon van die King’s Royal Rifles Hulle sou die regtervleuel van die aanvalsmag uitmaak, bygestaan deur 20 manskappe van die BSA Police onder beheer van kaptein Williams, wat deur middel van die gepantserde trein met ‘n eenponder Hotchkiss en ‘n maxim die nodige dekking aan die stormtroepe op hierdie vleuel moes verskaf. Verder sou hulle die bystand geniet van ‘n reserweafdeling van 70 man van die Bechuanaland Rifles onder aanvoering van kaptein Cowan.  Fitsclarence moes met sy eskadron reeds gedurende die nag gaan posisie inneem naby die treinspoor, reg oos van Platboomfort.

Die linkerflank van die aanvalsmag wat die suidekant van die fort moes aanpak, het bestaan uit drie seweponder kanonne, ‘n kavallerie-maxim en ‘n afdeling van eskadron A van die Protectorate Regiment onder aanvoering van majoor Panzera.  Die ander twee afdelings van eskadron A sou, onder bevel van lord Charles Bentinck, as reserwe vir die linkervleuel dien, wat as geheel onder beheer van kolonel Hore sou staan.

Altesaam het die Engelse dus oor 390 man met 4 kanonne en ‘n maxim beskik. Die sterkte van die mag van die verdedigers, wat uit burgers van die kommando Rustenburg bestaan het, is nie bekend nie.

Reeds gedurende die nag is die drie seweponders so stil as moontlik na hul aangewese posisies wes van die treinspoor gesleep en skutwalle vir hul beskerming opgewerp, terwyl Baden-Powell self met sy stafoffisiere, majoor lord Edward Cecil, kaptein Wilson en luitenant Hanbury-Tracy, vergesel van die oorlogskorrespondente, na Fort Dummy, wat halfpad tussen die twee flanke van die aanvalsmag geleë was, beweeg het om die verloop van die aanslag op Platboomfort dop te hou. Teen drieuur die nag was al die troepeafdelings op die onderskeie flanke in posisie en was daar voorlopig niks meer te doen as om op die aanbreek van die dag te wag nie, wanneer die aanval moes begin.

Uiteindelik het die groepie waarnemers in Fort Dummy gemerk hoe die dagbreek oor die kaal veld sigbaar word en hulle het vol verwagting na links getuur om te kyk of majoor Panzera met sy seweponders gereeds was om die geveg te begin.  Dit was bykans halfvyf.  Meteens het ‘n flits die môreskemer verlig en ‘n wit rookwolk in die lug laat opstyg, terwyl oomblikke later die blits van die barstende bom in die omgewing van die fort sigbaar was.  Die kanonskote het mekaar een na die ander begin opvolg en weldra het ook die seweponder by Fort Ayr sy bomme op die fort begin giet, onderwyl die gepantserde trein volstoom uit die dorp noordwaarts gespoed het om by sy bestemming te kom.  Die waarnemers by Fort Dummy het die pantsertuig gretig dopgehou.  Dié het goed gevorder tot ‘n half-kilometer voor die aangewese plek en toe tot stilstand gekom omdat die spoor daar opgebreek was sodat die trein nie kon gaan tot waar die Engelse hom wou gehad het nie. Baden-Powell het nie geweet dat die burgers kort tevore die treinspoor hier opgebreek het nie en dat die trein dus nie ver genoeg sou kon vorder om die fort skuins van agter te bestook nie.  Hulle het egter duidelik gesien hoe die Boere in die ruie struikgewas links van Platboomfort uit verskuilde geweerstellings met hulle mausers en martini’s die bombardement beantwoord onderwyl die kavallerie-maxim sy vuur op hulle rig.  Die maxim op die trein se outomatiese geratel het hoorbaar geword, afgewissel met die skerp klap van die Hotchkiss, wat saam met die ander kanonne ‘n vlaag van koeëls en bomme oor die Boerevesting gesaai het.  Toe is ‘n enkele kort, skril fluit van die trein gehoor, wat die teken was dat kaptein Vernom gereed was om die fort te laat bestorm en dat die bombardement gestaak moes word.

In die lig van die eerste sonstrale het die manskappe van eskadrons C en D aan die regtervleuel langs die treinspoor opgespring en vinnig in skermutselingorde versprei; kaptein Fitzclarence en sy afdeling regs, kaptein Vernon in die middel en kaptein Sandford met sy afdeling aan die linkerkant.  Vanuit Fort Dummy kon duidelik gesien word hoe die troepe met kort stormlope die afstand na die fort verkort onderwyl hul aanhoudend op hul doelwit vuur, maar sodra hulle goed onder skoot was, het daar ‘n venynige vuur uit die rye skietgate van die fort en vanuit die verskuilde poste links, op die aanstormende troepe losgebreek.  Hullke het egter met die hoede in die lug gewuif en op mekaar geskree om te storm.  Met die offisiere vooraan, het hulle voortgebeur totdat gesien kon word hoe enkele van die kakiekleurige figure in die ruigte voor die fort verdwyn, wat die groepie waarnemers tot die slotsom laat kom het dat die troepe besig was om die fort te oorrompel en om die Boere, wat nog nie neergeskiet was of oorgegee het nie, met die bajonette af te maak.

Die teenoorgestelde was egter die geval.  Die twee troepeafdelings kon daarin slaag om redelik ongedeerd tot op 300 tree afstand vanaf die fort te vorder, maar was toe pragtig onder skoot en die Boereskerpskutters het nie op hulle laat wag nie.  Op die regterkant is kaptein Sandford, op die voorpunt van sy afdeling, deur ‘n koeël in die rug getref en neergeskiet en kort daarna het ook kaptein Fitzclarence gestruikel en bly lê met ‘n koeël deur die dy.  Luitenant Swinburne het dadelik die bevel oorgeneem en die Engelse vorentoe gedryf.  Maar hier oor die laaste onheilspellende afstand teen die heuweltjie op, het die hygende figure een vir een grond toe gesak en hulpeloos bly lê.  Die afdeling van kaptein Vernon was egter nog redelik ongedeerd en het nou met woeste gejuig oor die laaste 200 tree vorentoe gestorm.  ‘n Koeël het die kaptein tot stilstand geruk en luitenant Paton het aangedring dat Vernon moes terugval, maar hy het geweier en saam met die twee offisiere op die voorpunt van hul manskappe aangestorm totdat die groep op 25 tree afstand van die fort op die heuweltjie uitkom en oor die sloot heen ‘n blik op die massiewe wal waarop hulle nou blindlings gevuur het, kon werp, onderwyl die dood deur die rye skietgate op hulle aangeblits gekom het.  Oral het die kakiefigure neergestort en kapotein Vernon is ‘n tweede keer getref, maar hy het nog kans gesien om met die oorblywende groepie met gevelde bajonette deur die sloot te storm en die hardnekkige Boere tot oorgawe te probeer dwing.  ‘n Paar van hulle het die wal van die fort bereik, waaronder korporaal Pickard, sersant Ross en ook luitenant Paton en kaptein Vernon hulle nog steeds bevind het.  Hier is hulle snel afgemaai, maar Paton en Vernon het eers gesneuwel nadat hulle nog ‘n laaste wanhopige poging aangewend het om met hul rewolwers deur die skietgate te vuur.

‘n Tweede maal het daar ‘n luide gejuig tot die groepie waarnemers by Fort Dummy deurgedring en dit het die offisiere onder die indruk gebring dat die troepe die fort oorrompel het, dog dit was die oorwinningskreet van die Boere wat losgebreek het nadat die klank van die laaste geweerskote vervaag het omdat daar geen soldaat meer was om op te skiet nie, aangesien die enigste drie Engelse wat nog ongedeerd in die omgewing van die fort aangetref is, krygsgevange geneem is en die enkeles wat daarin kon slaag om aan die moordende kleingeweervuur te ontsnap, hulle reeds buite bereik van die mausers bevind het.

By Fort Dummy het op daardie tydstip ‘n rapportganger vanaf majoor Godley aan Baden-Powell berig gebring dat die aanslag op die Boerefort misluk het, dat die vesting blykbaar nie deur voetgangers ingeneem kon word nie en dat majoor Godley van mening was dat dit nie die moeite werd sou wees om weer te probeer nie.  Daarop het Baden-Powell opdrag gegee om die ambulanse uit te stuur om die dooies en gewondes te gaan versorg.

Die Boere het tot verbasing van die Engelse hulle gehelp om die dooies en gewondes op te spoor en te versorg en Baden-Powell het hom gedronge gevoel om uit erkentlikheid vir die diens wat die vyand aan sy troepe bewys het, ‘n spesiale brief van dank aan generaal Snyman te rig.

Die heer J Angus Hamilton, spesiale oorlogskorrespondent van The Times en van Black and White, kon egter nie die versoeking weerstaan om weer ‘n paar leuens kwyt te raak nie. Hy beweer, nadat hy die aard van die wonde van die gesneuweldes ondersoek het, dat dit beslis deur dum-dumkoeëls veroorsaak is.  Die ironie van die hele aangeleentheid is dat generaal Snyman op dieselfde dag na Pretoria getelegrafeer het dat die meeste patrone wat na die aanval van die Engelse gebuit is, van die dum-dum- of merk IV-tipe was.  Hamilton het dus sy beskuldigings aan die verkeerde deur gehang, want vir die mausers is daar nooit dum-dums vervaardig nie.

Met hierdie mislukte aanval op Platboomfort het Baden-Powell se troepe die  grootste verlies wat hulle gedurende die hele beleg opgedoen het, gely.  Die room onder die offisiere en troepe in die garnisoen het gesneuwel of is deur wonde buite werking gestel. Daar het 25 offisiere en manskappe gesneuwel en 23 ander manskappe is gewond en drie is vermis (deur die Boere krygsgevange geneem).  Die totale verlies van die Engelse het dus 51 man beloop.  Die Boere het ‘n verlies gely van een burger wat geneuwel het, 2 swaar gewondes en 6 wat ligte wonde opgedoen het.

Die vasgekeerde oorlogkorrespondente in Mafeking het weer allerhande  leuens in hulle koerante oorsee oor die geveg by Platboomfort kwytgeraak  Vir Baden-Powell het die neerlaag beteken dat hy geen hulp uit die noorde van kolonel Plumer kon verwag nie want die Boere het die beleg van die dorp noukeurig en vasberade toegepas en hom met sy garnisoen volkome ingesluit.