Lees reeks by Die Beleg van Mafeking
Dr JP Botha
VOORVALLE TYDENS BOMBARDERING
Nadat die Engelse met hulle aanval op Platboomfort ‘n verpletterende neerlaag gely het, het hulle dit nie weer gewaag om enige van die Boereforte rondom Mafeking enigsins met mening aan te durf nie. Baden-Powell het hom daarop toegelê om die forte, verskansings en bomskuilings van die dorp meer effektief te maak, want die Boere het, nadat generaal Cronjé in November 1899 Mafeking verlaat het, die dorp feitlik elke dag bestook met ‘n 94-ponder “Long Tom” Franse kanon. Ewe as Cronjé het sy opvolger, generaal Snyman, gemeen die lewensverlies van die Boerekommando’s sal verskriklik wees indien hulle dit sou waag om die dorp aan te val en het daarom maar ewe gedwee voortgegaan om die dorp te beleër met die hoop dat die inwoners en garnisoen só uitgehonger sou raak dat hulle maar sou moes oorgee. Intussen het hulle die dorp maar met hul kanonne en met Long Tom bestook.
Alhoewel sy daaglikse bombardemente die lewe vir die inwoners van Mafeking beslis onveilig gemaak het, is die ongevallelys wat daardeur veroorsaak is betreklik laag gehou as gevolg van die voorsorgmaatreëls wat Baden-Powell daarteen getref het. Bomskuilings was volop in die dorp en sommige daarvan was heel gerieflik ingerig, soos dié een wat vir lady Sarah Wilson gebou is. Feitlik in elke agterplaas in die dorp het die inwoners een of ander beskutting teen bomme gemaak.
Om te verseker dat die dorpsbewoners in tye van gevaar hul skuilings betyds bereik, het Baden-Powell ‘n stel van waarskuwingseine gebruik. ‘n Paar persone het met verkykers vanaf ‘n staaltoring en ander hoë waarnemingsposte die doenigheid van die Boereartilleriste by Long Tom dopgehou en die dorp met klokgelui gewaarsku wanneer die Boere ‘n skoot sou afvuur.
Die inwoners het naderhand onverskillig geword en nie meer ag geslaan op die waarskuwingseine nie. Op ‘n dag het ‘n soldaat van die Protectorate Regiment in die perdestalle lustig gestaan en sing toe ‘n bom van Long Tom hom letterlik uitmekaar geruk het. Kort daarna het twee bomme op die markplein gebars en splinters daarvan het deur die apteek se vensters getrek en die personeel met stof, glasstukke en houtsplinters besaai, maar niemand beseer nie terwyl splinters van die selfde bomme ‘n swarte op die markplein feitlik in twee gesny het en ‘n man wat 100 tree daarvandaan gestap het, se been vergruis het. Op 25 Januarie 1900 is ‘n deel van Bradley se hotel deur ‘n Long Tom-bom in puin gelê, terwyl ‘n groot skerf daarvan met onheilspellende lawaai oor die BSAP-fort, bykans ‘n kilometer daarvandaan gefluit het.
Die vorige dag het ‘n koeël van die groot kanon twee slagoffers in die Barolongstat geëis. Die swartes was minder versigtig as die blankes en het hulle makliker blootgestel as moontlike slagoffers van barstende bomskerwe. By een geleentheid het ‘n swarte aan die kant van die straat staan en werk toe die gesuis van ‘n kanonkoeël hoorbaar word. Hy het eenvoudig sy graaf beskermend oor sy kop gehou terwyl ‘n Engelsman daar naby sonder seremonie onder ‘n groot bolseil ingekruip het.
Huis- en troeteldiertjies het ook teen wil en dank met die bombardering gemoeid geraak. Op ‘n dag in Februarie het ‘n bom deur een van die woonhuise getrek en ‘n hokkie met ‘n kanarie daarin saam deur die venster gevoer. Een van die skerwe het ‘n tweede huis en ‘n naaimasjien en ‘n nuwe rok waaraan die eienares pas drie minute tevore sit en werk het, verwoes. ‘n Mak aap wat aan die personeel van die poskantoor behoort het, het gereeld wanneer hy die alarmklok hoor, blitsvinnig sy paal verlaat en onder ‘n leë blik ingeduik. Een van die dorpshonde het gewoonlik die klein maxim-koeëls agternagesit en al blaffende die splinters probeer vang.
Die koeëls van die bommaxim het baie maal nie ontplof nie en hulle was onder die blanke inwoners van die dorp sterk in aanvraag as aandenkings van die beleg. Hulle was nie veel groter as peperpotjies nie en het, indien mooi blink gevryf, ‘n hoë uitstalwaarde gehad. Die swartes het gou agtergekom dat hulle so ‘n vonds winsgewend van die hand kon sit en het na elke bombardement ywerige soektogte daarna onderneem.
Die hantering van onontplofte bomme het weens die nalatigheid en onverskilligheid van sommige soewenierjagters ook slagoffers geëis. Dit het veral gebeur wanneer sulke persone met nie-ontplofte 94-ponders van Long Tom gepeuter het. Selfs ‘n lid van die Protectorate Regiment wat van beter moes geweet het, het die lewe ingeskiet toe hy met ‘n gelaaide 94-ponder gelol het.
Namate die Boereloopgrawe en –forte nader aan die dorp geskuif het, het verdwaalde mauserkoeëls ook af en toe slagoffers in die strate van Mafeking geëis, want dit het vir die Boere moontlik geword om die dorp self met kleingeweervuur te bereik omdat hulle aan die oostekant daarvan tot effens meer as ‘n kilometer vanaf die dorpsgrens gevorder het. Dit was egter die naaste waar die burgers gedurende die beleg van die dorp gekom het, wat egter te ver was om doelwitte in die dorp duidelik te onderskei en met die mausers akkuraat daarna te skiet. Aan die einde van Maart het die burgers die steenvelde ontruim, waarna die Engelse in die dorp weer vryer kon asemhaal.