Dr JP Botha
Lees reeks by Die Beleg van Mafeking
HOE DIE WÊRELD REAGEER HET OP DIE ONTSET VAN MAFEKING
Die nuus dat Mahon se troepemag die beleerde dorp bereik het en daarin geslaag het om Baden-Powell en sy troepe te ontset, is deur middel van ‘n offisiële berig wat op Vrydagoggend, 18 Mei 1900 in Pretoria deur De Volksstem gepubliseer is, wêreldkundig gemaak. ‘n Korrespondent van Reuter se nuusagentskap het hierdie berig nog dieselfde oggend na Londen getelegrafeer en ‘n rukkie na 9 uur daardie aand het die berig die Britse hoofstad bereik. Die reaksie wat dit teweeggebring het, is ‘n treffende bewys van die geïdealiseerde beeld van die beleg van Mafeking, wat die Britse publiek vir hulle self gedurende die vorige sewe maande opgebou het.
Nadat die nuus die aand om halftien in die strate van Londen bekend geword het, het dit verbasend vinnig deur die hele stad versprei en groot skares het die strate en openbare pleine begin volstroom om met uitbundige vreugde fees te vier. Die burgemeester het op ‘n balkon van Mansion House verskyn en die skare toegespreek. Hy het onder andere gesê: I wish the music of your cheers could reach Mafeking. British pluck and valour, when used in a right cause, must triumph.
Oral in die groot stad se strate, op die pleine en in die teaters het die duisende Londenaars met wapperende vlae hul volksliedere luidkeels laat weerklink. Die feesvierings het aangegroei tot ‘n wilde, ongetemde demonstrasie van duisende en nogmaals duisende mense wat die kluts skoon kwytgeraak het en sulke reusagtige afmetings aangeneem het dat hierdie massahisterie in sy intensiteit en omvang die grootste was wat die Britte nog ooit in hul geskiedenis beleef het.
By seven o’clock London seemed to have gone altogether mad, skrywe Gardner. Lamp posts were climbed. Hats and caps were thrown wildly away. . . They waved not only flags, but every sort of thing they could get hold of, including blankets, table cloths, towels and various feminine undergarments. Alle verkeer in die groot stad het eenvoudig tot stilstand gekom en die ongekende betogings van luidrugtige vreugdeuitbarstings het deur die nag heen onverpoosd voortgeduur.
Die nuus het dieselfde nag oor die hele land versprei en die feesvierings het in die verskillende stede, waar dit ook met klokgebeier gepaard gegaan het, dieselfde ongekende afmetings aangeneem.
Hierdie Vrydagnag - Mafeking Night - was maar die begin daarvan. Gardner skryf: On Saturday the British went wild. It was to last for five days. As an outburst of patriotic emotion and immense relief at a timely proof of British superiority, and as the expression of a newly discovered freedom, they were to be the most remarkable five days of the Victorian era.
In ander dele van die Britse ryk is die nuus met byna net soveel geesdrif ontvang. Klokgelui, kanongebulder, juigende en singende skares met wapperende vlae in Montreal, Melbourne, Brisbane en Wellington het aangetoon dat die ganse Britse ryk gedurende die paar dae wat die ontset van Baden-Powell se troepe gevolg het, aan hierdie gebeurtenis ‘n waarde toegeken het wat buite enige verhouding tot die werklike betekenis daarvan was. In Amerika het die New York World geskrywe: Colonel Baden-Powell and his men have written a new page in the annals of human heroism.
In teenstelling tot hierdie wilde tonele van entoesiasme in Londen, Melbourne en elders, het die inwoners van Mafeking hul nuutgevonde vryheid gladnie gevier nie. Hulle was maar alte bly om uit gevangenskap en hongersnood verlos te wees. Daar was egter ‘n gewoel in die strate, want die sakeondernemings het hul besighede hervat. Alhoewel hulle hul verheug het in die wete dat hul uiteindelik verlos was van die Boerekommando’s wat hulle 7 maande lank geteister het kon Mafeking ná 17 Mei 1900 nie gou weer van die letsels herstel wat deur die oorlogsbedrywighede aldaar veroorsaak is nie. Dit sou nog lank duur om die spore van verwoesting wat die groot aantal bomme aan geboue in die dorp gelaat het, weer uit te wis. Selfs wat die vervulling van die inwoners se daaglike behoeftes betref, was daar geen onmiddellike verbetering nie. Tot aan die einde van Mei moes hulle nog steeds met dieselfde gehalte en hoeveelheid voedselrantsoene oor die weg kom. Al welkome verandering was die vervanging van perdevleis met beesvleis. Ander voedselvoorrade het skaars gebly, omdat daar geen noemenswaardige hoeveelhede van elders af verkry kon word nie.
(Hierdie was die laaste aflewering oor die beleg van Mafeking. Ons vertrou dat u dit interessant gevind het).