Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Abraham Lincoln: “Ek is en was nog nooit ten gunste van die maatskaplike en politieke gelykskakeling van die blanke en swart rasse nie. Ek is en sal ook nooit ten gunste daarvan wees om Negers stemgeregtigdes of jurielede te maak of met blankes te laat ondertrou nie. In hierdie opsig is die verskil tussen blankes en swartes net te groot om gelykheid en saamwonery toe te laat”. (Vry vertaal uit The Collected Works of Abraham Lincoln deur Roy Basler).
VOORTREKKER- PIONIERS (14)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Die buitelandse handel misluk (1)
Soos reeds vermeld, was een van die vernaamste oogmerke wat die Boere hulle met die verhuising na Ohrigstad gestel het, die opbou van gesonde en gereëlde betrekkinge met die buiteland oor die Portugese hawe Delagoabaai. Die 'vrye weg naar see', sodat hulle sonder enige belemmering met die nie-Britse wêreld, insonderheid hulle ou stamland Nederland, handels- en ander betrekkinge kon aanknoop, was hulle hoofdoel. Om dit te bereik, moes hulle egter ‘n goeie handelsweg na die baai vind en dit was juis die knoop: Die streek wat hulle van die baai geskei het, was besmet met malaria en tsetsevlieë en was bowendien bewoon deur vyandiggesinde naturellestamme wat vir hulle ‘n voortdurende bedreiging gevorm het. Vir die Boere het die daarstelling van ‘n gereelde verbinding met die buiteland dus in die eerste plek beteken die ontdekking van ‘n veilige en gesonde weg na die Portugese hawe, Lourenco Marques. Daaraan het hulle hul dan ook van die staanspoor af gewy.
Na aanvanklike teleurstellings het hulle, soos reeds aangetoon is, berig gekry van die Portugees, Joao Albasini, dat hy van ‘n maklike en vliegvrye pad na die baai weet wat loop deur die gebied van Manukozi, en toe met groot geesdrif begin om voorbereidings te tref om met Albasini as gids gedurende die winter van 1847 ‘n tog na die baai te onderneem.
Helaas, die tweedrag wat daar te Ohrigstad tussen die Potgieter-party en die volksraad geheers het, het op dié stadium reeds sulke afmetings aangeneem dat daar van ‘n eendragtige optrede geen sprake meer was nie. Inteendeel, toe die volksraad uiters dankbaar vir die aangebode hulp van Albasini besluit om sy diens met ‘n erf te Ohrigstad te beloon, het hy dadelik te doen gekry met hewige weerstand van ‘n aantal ondersteuners van Potgieter wat teen dié voorbarige besluit geprotesteer het omdat hulle nie kon insien waarom ‘n erf aan die Portugees gegee moes word nie.
Hieraan het die volksraad hom nie gesteur nie en voortgegaan om voorbereidings vir die ekspedisie te tref. Aangesien hulle ernstig gevrees het vir moeilikhede met die opperhoof Manukozi en vir die moontlikheid dat hulle in dié geval die onmin van die Portugese goewerneur op die hals sou haal, het hulle aan laasgenoemde kennis van hul voorneme gegee en in afwagting van sy goedkeuring ‘n aansienlike kommando georganiseer, om die tog te onderneem. Hierdie kommando is grotendeels saamgestel uit burgers van Potchefstroom en Magaliesberg. Uit hierdie geweste alleen is 240 manskappe verwag.
Intussen het hulle dit ook raadsaam geag om Potgieter en sy mense wat niks met die ekspedisie te doen wou hê nie, te waarsku om nie ‘n soortgelyke ekspedisie te onderneem nie, aangesien die Portugese goewerneur gesteurd mag voel indien daar moeilikheid met Manukozi sou ontstaan.
Onderwyl hulle nog besig was met voorbereidings vir die voorgenome tog, het die volksraad op 16 Maart 1847 ‘n brief van Smellekamp ontvang, gedateer Lissabon, 9 September 1846, waarin hy meedeel dat hy by die Portugese gaan hulp soek het aangesien die Nederlandse regering bang was om op die grondgebied van ‘n ander in te meng. Hy hoop om binne ses maande persoonlik in Delagoabaai te verskyn, miskien nog vergesel van Hollandse predikante en onderwysers wat in elk geval binnekort gestuur sou kon word.
Só dankbaar was die volksraad om dié nuus te ontvang, dat daar besluit is om vir Smellekamp te Ohrigstad ‘n huis te bou aan ‘n straat wat dan Smellekampstraat genoem sou word.
Aangevuur deur die verwagting om Smellekamp te ontmoet en ook deur ‘n gerug wat Albasini versprei het as sou Delagoabaai deur Makkasana en ‘n klomp Zoeloes bedreig word, het die kommissie op 12 Julie 1847 na die baai afgereis, enersyds met die oog op die handel, maar ook om militêre bystand aan die Portugese goewerneur te gaan verleen. Die tog is onderneem sonder die mense uit Wes-Transvaal, wat helaas nooit opgedaag het nie. aangesien gerugte hulle bereik het dat daar strawwe koors te Ohrigstad geheers het en dat die Ohrigstadters ook nie van plan was om vir hulle te wag nie, daar hulle baie haastig was om te vertrek, ten einde Smellekamp wat hulle in die baai verwag het te ontmoet.
Die kommisie wat voor die einde van 1847 weer te Ohrigstad terug was, was egter ‘n volslae mislukking. ‘n Vliegvrye pad is nie ontdek nie. Inteendeel, die pad wat die kommissie hierdie slag gevolg het, was nog meer met tsetsevlieë besmet as enige ander. Dit het hulle egter toegeskryf aan hulle gidse, volk van die inboorlingkaptein Saradie, wat hulle dan heimlik kwaadgesind sou gewees het en hulle derhalwe moedswillig deur ‘n tsetsevliegstreek gelei het. Die Portugese goewerneur, De Zilveira, se agterdog is ook nie deur die aangebode hulp teen sy vyande uit die weg geruim nie en om alles te kroon was daar van die Hollander Smellekamp van wie so veel verwag is geen spoor nie.
As verskoning waarom hy nie sy beloftes kon nakom nie het Smellekamp aangevoer dat sy vorige ekspedisie ‘n groot geldelike verlies was en dat die mense gevolglik gehuiwer het om ‘n nuwe onderneming op tou te sit. Voorts het die onbestendige binnelandse toestand van Portugal sy onderhandelings met die Portugese regering belemmer. Hy en sy vriende was egter besig om sy voorgenome reis te bespoedig en as alles goed gaan, sou hy gedurende Maart 1848 in Delagoabaai aankom. Die Boere moes dus solank hulle ivoor, wol en velle gereed hou.
Hierdie berigte het skynbaar volkome vergoed vir hierdie en die vorige mislukte ekspedisies na die baai en die volksraad, wat nog steeds die grootste verwagtings van Smellekamp gekoester het. Hulle het derhalwe met blye gemoed ‘n boukommissie benoem om met die bou van die huis vir Smellekamp op Ohrigstad voort te gaan, uit waardering 'voor zyn onvermoeide pogingen, jaren agter een aangewend ter verkryging hunner begeerte'.
Smellekamp het ook nie stilgesit nie. Die ontbinding van die Hollandse handelsmaatskappy wat in 1842 deur Ohrig, Kooy en Swart opgerig is, ten gevolge van die groot geldelike verlies wat die vorige ekspedisies na die Voortrekkers opgelewer het, het sy ondernemingsgees en optimisme nie gedemp nie. Met onvermoeide ywer het hy voortgearbei om mense in Europa vir die handel met die Boere geïnteresseerd te kry en het dit werklik reggekry dat in Desember 1846 ‘n nuwe onderneming, te wete die Hollandse Handel en Redery Maatskappy , gesteun deur manne soos professor Lauts, A Hoogendyk en J Pynappel, in die lewe geroep is met die doel om die begeerde betrekkinge met die Boere aan te knoop.
Hierdie maatskappy kon egter nie al vroeg in 1847 ‘n skip na Suid-Afrika uitstuur soos Smellekamp gemeen het toe hy sy optimistiese brief aan die volksraad gerig het nie. Die nodige aandeelhouers moes nog eers gewerf en ander voorbereidende maatreëls getref word voordat daar aan die uitstuur van vragte gedink kon word en dit het baie tyd in beslag geneem, veel meer as wat Smellekamp vermoed het toe hy optimisties gedroom het om teen Maart 1847 in Delagoabaai te wees. Trouens dit was reeds Februarie 1848 toe die eerste vaartuig van die nuwe handelsmaatskappy, die Animo, met sy vrag bestem vir die Boere, die Hollandse kus verlaat en na Lissabon geseil het, waar die nodige reëlings getref sou word vir die skip om sy verdere suidwaartse reis onder Portugese vlag voort te sit. Dit was nie bedoel as ‘n handelstog nie, het die bestuur van die maatskappy aan die volksraad verduidelik, maar as ‘n ekspedisie om ter plaatse ondersoek te kom instel wat daar te handel is. Hulle sou dan ook graag inligting van die volksraad wou ontvang aangaande sake wat vir die voorgenome handel van belang was, soos byvoorbeeld die grootte, die aard en gesteldheid van die grondgebied, die bevolking, die produkte wat die Boere te koop kon aanbied en die artikels wat deur hulle benodig word.