Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geloof is nie die gevolg of die rede vir die uitverkiesing nie, maar die BEWYS daarvan dat ons weet God het ons uitverkies tot die ewige lewe.
VOORTREKKER-PIONIERS (15)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
DIE BUITELANDSE HANDEL MISLUK (2)
Intussen het die volksraad, in weerwil van die mislukking van die ekspedisie van 1847, die hoop om ‘n vliegvrye pad na Delagoabaai te vind, nie laat vaar nie en onderwyl die Animo onderweg na die suide was, planne beraam om weer ‘n ekspedisie na die kus te stuur om met behulp van Joas se volk ‘n veilige pad na die baai te soek. Hulle was van plan om tot by Inhambane deur te dring, om ook die handelsmoontlikhede daar te ondersoek.
Die kommissie wat ook onder andere Jacobus Burger, Dawid Joubert en Carolus Trigardt ingesluit het, het aan die begin van 1848 op hulle reis vertrek en was so gelukkig om in Delagoabaai aan te kom op dieselfde tydstip waarop die Animo, van wie se koms hulle natuurlik geen kennis gedra het nie, aldaar anker gewerp het. Hulle kon dus eindelik persoonlik met Smellekamp in aanraking kom.
Van handel was daar egter geen sprake nie. Smellekamp kon blykbaar in Lissabon nie daarin slaag om die Animo onder Portugese vlag te laat vaar nie en die Portugese owerheid te Delagoabaai het geweier om Smellekamp toe te laat om onder Hollandse vlag met die emigrante handel te drywe en die handelsartikels op die Animo kon dus nie aan wal gebring word nie. Al wat Smellekamp inderdaad aan die kommissie kon oorbring was die bo-aangehaalde brief van die bestuur van die Hollandse Handel en Redery Maatskappy, waarop hy ‘n onmiddellike antwoord versoek het en die versekering van ‘n suksesvolle handel in die toekoms, want ondanks die houding van die plaaslike Portugese owerhede was hy nog gladnie pessimisties nie en het hy die kommissie hand en mond belowe dat hy binne 15 maande onder Portugese vlag terug sou kom met ‘n nuwe handelsvrag.
Voorts het hy ‘n onderwyser vir hulle aan wal gesit, ‘n sekere HT Búhrmann, wat later ‘n groot rol in Transvaal sou speel. Daarna het hy Kaap toe geseil waar hy ‘n klein deeltjie van sy vrag verhandel het en het toe met die res teruggevaar Holland toe, waar hy twee dae voor oujaarsdag aangekom het. Hy het die antwoord van die volksraad op die handelsmaatskappy se brief van Januarie 1848 aan die bestuur oorhandig. Dit het besonderhede bevat aangaande die produkte wat die Voortrekkergebied kon uitvoer en van hul eie behoeftes, waarvan volgens hulle brief dié aan ‘n predikant en goeie onderwysers inderdaad die dringendste was. Origens het dit verwyte bevat, aan die adres van die oú maatskappy gerig as sou dié inderdaad daarvoor verantwoordelik wees dat hulle die trek na Ohrigstad aangepak het.
Die klaaglike mislukking waarop die ekspedisie uitgeloop het, het aan die maatskappy ‘n uitklophou besorg en Smellekamp se versekerings aan Pynappel dat daar wel ‘n suksesvolle handel met die Boere-emigrante tot stand gebring kon word, kon dit nie weer van die skok laat herstel nie. In April 1949 is dit ontbind en het nog ‘n goedbedoelde poging vanuit Holland om die Voortrekkers te help, in die sand verloop, tot groot misnoeë van Smellekamp aan wie die mislukking van die onderneming gewyt is.
Gelukkig maar het die Ohrigstadters, wie se poging om na Inhambane deur te dring ook misluk het, niks hiervan geweet nie. Hulle het dus, voortbouend op die beloftes van Smellekamp, onversaagd voortgegaan om sover dit in hulle vermoë was die struikelblokke wat die handel belemmer het, uit die weg te ruim. Hulle het intussen reeds minstens twee geskikte roetes na die baai ontdek, blykbaar redelik vry van vlieë en het hulle daarop toegelê om ter bespoediging en vergemakliking van die handelsverkeer, ‘n behoorlike pad na die baai te maak. Hierdie gebaande weg wat ‘n ruime afstand deur Umswaas se grondgebied sou loop, sou onder toesig van Jan de Beer en Willem Neethling tegelykertyd aan albei kante van die bergreeks aangepak word en ‘n groot deel van die koste daaraan verbonde sou uit vrywillige bydraes gedek word, by name die voedsel soos mielies, koring, slagvee en gereedskap soos koevoete, pikke ensovoorts wat vir die werkers nodig was en nou gekollekteer is.
Reeds vroeg in September 1849 kon Jan de Beer aan die volksraad rapporteer dat die pad, sover dit oor die gebied van die republiek gegaan het, voltooi was en dat Umswaas ook die gedeelte wat in sy gebied geloop het, in orde gebring het. Die enigste stuk wat nog gemaak moes word, was die in die Portugese gebied en daarmee was swartes reeds besig in opdrag van die Portugese goewerneur wat onderneem het om vir die weg van die Portugese grens af tot by Delagoabaai te sorg.
Intussen het die raad ook nie nagelaat om met die oog op die buitelandse handel die samewerking en welwillendheid van die Portugese owerhede te verkry nie. Hulle was vasberade om teen elke prys ‘n herhaling van wat met Smellekamp se vorige besoek aan die baai gebeur het te voorkom en gevolglik het daar vroeg in 1850 weer ‘n kommissie bestaande uit Andries Spies, Cornelis Potgieter, Philip Coetzer, Hendrik Bührmann en Carolus Trigardt wat as tolk sou optree, na die baai vertrek om met die Portugese goewerneur, JC de Andrade, te gaan onderhandel. Dit sou gebeur met die oog op beter vriendskaps- en handelsbetrekkinge en ook om die oosgrens van die republiek nader aan die baai te probeer verskuif.
De Andrade was oënskynlik vriendelik genoeg en het selfs, sowat ‘n maand nadat hy met die kommissie ‘n voorlopige ooreenkoms aangegaan het soos deur hulle begeer is, persoonlik na Ohrigstad gekom waar hy verskillende mooi beloftes aan die volksraad gedoen het. Hy sou onder andere kanonne aan die Boere verskaf, hulle toelaat om vryelik ammunisie in die baai te koop, hulle teen naturelle beskerm, hulle toelaat om op Portugese gebied te kom jag en die Lebombogebergte as grenslyn tussen die Portugese en Transvaal erken, maar hoe vriendskaplik hy ook al gelyk het, sy base in Lissabon was geensins van plan om aan sy beloftes gevolg te gee en sy ooreenkoms met die Boere te bekragtig nie.
Die Trekkers het egter geglo dat alle moeilikhede nou uit die weg geruim was en het reikhalsend uitgesien na die volgende besoek van hul Hollandse vriend, JA Smellekamp, wat getrou aan sy belofte om onder Portugese vlag terug te kom, in 1849 al weer besig was om persone in Holland se belangstelling in ‘n nuwe ekspedisie na Suid-Afrika op te wek. Die heer Pynappel en professor Lauts het weer eens hierin belang gestel.
Teen April 1850 het sy planne alreeds sóver gevorder dat daar in Amsterdam ‘n prospektus, onderteken deur die broers Heemskerk, JCJ Knegt en M Weimar 'ten Cate gesirkuleer het vir eene op te rigten Reedery en ten doel hebbende het daarstellen eener Handels- en Zedelyke gemeenskap tussen Holland en die Boere in Ohrigstad'. Gedurende Julie van dieselfde jaar het Smellekamp met die Portugese in Lissabon oor die ekspedisie gaan onderhandel, maar sy planne wou nie na wense vlot nie. Hy kon eers geen Portugese skip bekom nie en die reis moes weer uitgestel word.
Na enige maande is Smellekamp se ywer egter met sukses bekroon en kon voorbereidings getref word vir die reis na die suide met die Portugese skip Vasco da Gama. Daar sou drie onderwysers, die here Poen, Van der Linden en Spruyt met die ekspedisie na die Boere saamgaan en benewens handelsware sou daar ook ‘n aantal boeke saamgeneem word.
Die Vasco da Gama het in Desember 1850 uit Texel vertrek en in Julie 1851 in Delagoabaai aangekom. Dit was egter net te laat vir die Boere wat, oorywerig om die 'goed gezouten huiden, ivoor, en schapenwol en ander handelsartikels' deur Smellekamp aangevra, bymekaar te maak en vir die handel gereed te maak, intussen al weer besluit het om ‘n kommissie na die baai te stuur om die pad weer ‘n slag in orde te bring. Hulle het verwag dat Smellekamp teen April, of op sy laaste teen Julie in die baai sou aankom en het dan ook besluit om hom te laat weet dat hy hulle onmiddellik na sy aankoms moes verwittig deur middel van twee rapporte wat oor twee verskillende roetes gestuur moes word.