Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons kan vandag uitbundig lewe met hierdie wete: Soos die geloof, is ook die volharding in daardie geloof 'n genade, 'n weldaad, wat God aan ons skenk. Laat ons dan hierdie geskenk waardeer en gebruik!
VOORTREKKER-PIONIERS (16)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
DIE BUITELANDSE HANDEL MISLUK (3)
Die kommissie, bestaande uit 29 man met 11 waens het op 15 Mei 1851 na die baai afgereis. Hulle sending het egter slegs ‘n ryke oes aan teleurstelling opgelewer. In die eerste plek kon hulle nie daarin slaag om ‘n behoorlike terugvrag vir die skip bymekaar te maak nie omdat die olifantjag misluk het en toe hulle in die baai aankom, het hulle osse die een na die ander begin vrek aan ‘n 'onverwachten en heevigen ziekten', met die gevolg dat hulle verplig was om op 25 Julie, nadat hulle ongeveer 100 trekosse verloor het, afgesien van een van die lede van die geselskap wat langs die pad gesterf het, huiswaarts te keer, vyf dae voor Smellekamp se aankoms in die baai! Hulle het gekla dat die water in die baai vir die osse ongesond was om te drink en dat die pad vanaf die Lebombo na die see met volop tsetsevlieë besmet was.
Op hulle terugreis moes hulle nog boonop die 'vyandigen gezindheid en handelwyze' verduur van Umswaas wat geweier het om hulle in hul nood aan trekosse te help. Afgesien van die giftige vlieë was dit dus ook nog gevaarlik vir ‘n klein reisgeselskap om deur Umswaas se landstreek te trek.
Die sending van die kommissie was dus ‘n volslae mislukking. Ten spyte van die ontbering en gevoelige verliese wat die geselskap gely het, het hulle van Smellekamp niks gewaar nie en dus niks nadergekom aan die verwesenliking van die vurig gekoesterde ideaal van ‘n gereëlde verbinding met Holland nie.
Vir Smellekamp wat op 30 Julie in Delagoabaai geland het, was dit ‘n bittere teleurstelling om te verneem dat die kommissie vertrek het. Hy het die volksraad dan ook onverwyld per brief van sy aankoms verwittig. In die brief sê hy dat hy ‘n skeepsvrag goedere het in ruil vir ivoor, wol, gezouten of goed gedroogde huiden en vellen, ossen en renoster hoorns. Die raad, wat die brief in Augustus 1851 ontvang het, het egter nie kans gesien om onmiddellik ‘n kommissie baai toe te stuur nie omdat hulle op hierdie tydstip baie besig was met kommandering en ander oorlogsmaatreëls om die dreigende oproerigheid van die swart stamme in die omgewing die hoof te bied.
Smellekamp se teenwoordigheid in die Portugese hawe het die ingesetenes van Lydenburg nogtans met nuwe moed besiel en die oú vertroue wat die Trekkers in hom gehad het, weer lewendig laat opvlam, omdat zyne tegenswoordigheid onder ons van al te grote aanbelang is. Toe omstandighede dit ook toelaat het daar aan die begin van 1851 ‘n kommissie onder leiding van Bührmann, C Potgieter, WF Joubert en JJ Burger na die baai afgereis om Smellekamp te gaan ontmoet en om handel te dryf. Hulle was egter te laat vir die Hollander wat op 30 Augustus aan die volksraad geskrywe het dat hy na Mosambiek vertrek om aldaar met die hoër outoriteite in verbinding te kom met die oog op die bestendiging van die handel en dat hy eers weer in Desember na Delagoabaai sou terugkeer.
Die kommissie wat op 27 September 1851 in die baai aangekom het, het darem ‘n kwart van die skeepsvrag onder sorg van Smellekamp se agent daar aangetref en kon dus wel sake doen. Tot hul teleurstelling het hul eie produkte egter veel minder opgelewer as wat hulle verwag het. Wel het die horings en ivoor redelike pryse behaal, maar die velle en ander produkte was baie swak op prys. Die pryse van die handelsartikels wat Smellekamp meegebring het, was daarenteen buitensporig hoog. Volgens Stuart was dit feitlik deurgaans hoër as wat die Boere aan deurtrekkende handelaars moes betaal, terwyl minder waarde aan die goedere van die Voortrekkers toegeken is as wat hulle gewoond was om van dié handelaars te ontvang. Daarom is die kommissie tot die slotsom gedwing dat den handel met ons op zoodanigen voet was ingerigt dat dezelven onmooglyk eenen goede uitkomst kan opleveren.
Die Boere het dan ook, sover ons kon vasstel, in Desember 1851 nie weer ‘n kommissie na die baai gestuur om Smellekamp te gaan ontmoet wanneer hy van Mosambiek af sou terugkeer nie; gelukkig ook maar, want Smellekamp het eers in Februarie 1852 in Delagoabaai aangekom sonder dat hy iets van belang in Mosambiek uitgerig het. Al wat die ekspedisie hom blykbaar geleer het, was, soos hy dit in ‘n brief aan die volksraad uitgeruk het, dat die Portugese geene andere zaken voorstaan dan die hen, in hun paticulier, geld in de zak kunnen brengen.
Die Potugese goewerneur van Mosambiek het geweier om ‘n vorige belofte van hom na te kom, naamlik om die vestiging van ‘n handelskantoor aldaar en ook by die ander Portugese hawens toe te staan en het so’n ongunstige houding ingeneem dat Smellekamp al weer planne begin beraam het om die Boere vanaf Kaapstad of Port Natal te bereik. Die lede van die Hollandse handelsmaatskappy het egter, met wrewel teenoor Smellekamp vervul, besluit om die redery te ontbind omdat die ekspedisie met die Vasco da Gama, soos trouens alle vorige pogings, misluk het. Daarmee het dan ook aan Smellekamp se avonture ‘n einde gekom. Hy het nou besluit om na Transvaal te verhuis met die voorneme om hom hier as handelsagent te kom vestig, ten einde ook de zedelyke belangen dier vrienden bevorderlyk te wezen...voor zoo verre myne geskiktheid daartoe strekt.
Soos reeds aangetoon is, het Smellekamp de Portugese daarvan beskuldig dat hulle onwillig sou wees om die handel met die Boere in die binneland te bevorder. Nieteenstaande ‘n vriendskapsverdrag in 1850 met die Portugese owerheid in Delagoabaai gesluit, het die Boere self ook tot die ontnugtering gekom dat die Portugese in die baai hulle feitlik vyandiggesind was en dat die Boere se teenwoordigheid in Lourenco Marques skaars meer geduld word. Hulle het die Engelse van konkelry in hierdie verband verdink omdat hulle redeneer het dat die Kaapse owerheid graag die alleenhandel met die Boere in die binneland wou bly behou.
Waarom die Portugese owerheid dié houding ingeneem het, is nie heeltemal duidelik nie. Die gedagte bestaan dat hy die Groot Trek as ‘n bedreiging vir sy koloniale ryk vanaf Lourenco Marques tot by Quelemane beskou het en dit daarom selfs oorweeg het om in militêre samewerking met die Engelse teen die Trekkers op te tree.
Hoe dit ook al sy, die handelsvoordele wat die Boere in die binneland aan die Portugese hawe kon besorg, is nie deur Lourenco Marques benut nie. Vreemde skepe kon by Mosambiek anker werp, maar is feitlik nooit by die ander ondergeskikte hawens aan die Afrikaanse ooskus toegelaat nie en Portugal self het gedurende hierdie tydperk selde ‘n skip na Delagoabaai gestuur. Die destydse onbestendige binnelandse toestand van Portugal het daartoe bygedra dat die Portugese owerheid weinig of geen belangstelling vir die handelsmoontlikhede met die Boere gekoester het nie omdat Portugal op hierdie stadium in ‘n toestand van uiterste swakheid op die suid-ooskus van Afrika verkeer het.
Afgesien van hierdie struikelblokke het die Portugese handelsregulasies die uitstuur van handelsvaartuie alleen oor Lissabon moontlik gemaak sodat dit die reëlings van Hollandse handelsmaatskappye aansienlik bemoeilik het.
Engeland was bewus van die Portugese magteloosheid om Delagoabaai, de schoonste haven van geheel de Afrikaansche kust, deur suksesvolle handel te laat opbloei en het begeer om hierdie hawe self te besit. Omdat die Britse regering gevrees het vir die moontlikheid dat die Boere se handel met die buiteland oor Delagoabaai hierdie hawe se opbloei sou bevorder, tot skade van die handel oor Kaapstad, is die toestand noukeurig dopgehou.
Die Kaapse owerheid het deur middel van majoor Smith en luitenant-goewerneur Pine gedurig verklarings van reisigers uit die Trekkergebiede aangaande die handelstoestand met Delagoabaai afgeneem en inligting hieroor aan die Britse owerheid gestuur.
Toe kaptein Van der Meyden van die Animo in 1848 in Kaapstad aankom, is hy noukeurig ondervra oor watter ware hy alles in Delagoabaai aan wal gesit het, veral wat die hoeveelheid buskruit betref en of hy doeanebelasting daarop betaal het.
Die Britse owerheid het selfs in Holland inligting ingewin en daarop aangedring dat die uitvoer van wapens en ammunisie na die Trekkergebiede uit Nederlandse hawens verbied moes word. Hieraan is uitvoering gegee en volledige vraglyste van die Hollandse skepe wat na Delagoabaai sou seil, is aan die Britse gesante oorhandig nog voordat hierdie skepe die Hollandse hawens verlaat het. Daar is selfs volledige inligting oor die swaar verliese wat die Hollandse handelsmaatskappye tydens hulle togte na Lourenco Marques gely het, aan die Britse owerheid verskaf.
In 1848 het Britse handelsmaatskappye alreeds op groter geriewe te Delagoabaai aangedring, maar hulle het spoedig bemerk dat Britse handelsbelange nie ‘n ernstige bedreiging deur die Trekkers se handelsverkeer met die Portugese kusgebied hoef te vrees nie.