VOORTREKKER- PIONIERS (19)

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Ohrigstad word verlaat  (2)

Nadat die skeuring tussen hoofkommandant Potgieter en die volksraadsparty op 8 Junie 1846 plaasgevind het, het die tempo van verlating nog meer versnel,  sodat Potgieter op 10 Desember 1846 aan Gert Kruger te Magaliesberg geskrywe het 'dat de grootste gedeelte van mynen menschen van tyd tot tyd uittrekken en onze party hier zoo zwak laat dat ik vrees, als wy van U niet spoedig hulp kreygen, onze zaak onherstelbaar zal verloren gaan.'

Ohrigstad was dan ook bevoorreg om daarna tydelik ‘n veel groter bevolking te huisves as waaraan die nedersetting die afgelope jaar gewoond was, toe baie burgers van Magaliesberg en Potchefstroom aan Potgieter se oproep gehoor gegee het en op sy plaas Strydfontein vergader het om die volksraad te beteuel.

Nietemin het die aantal vaste inwoners hiervandaan teen ‘n sneller tempo verminder, sodat Stuart verklaar het dat Ohrigstad teen 1847  'alreeds nagenoeg vervallen was'.

Alhoewel die verskille tussen die Potgieter-party en die volksraadsparty deur die ooreenkoms van 2 Maart 1947 bygelê is, het die onderlinge wantroue in mekaar se doen en late Potgieter laat besef dat daar op hierdie stadium geen hoop meer bestaan het om Ohrigstad aan sy oorspronklike doel te laat beantwoord nie.  Hy het nog ‘n laaste poging aangewend om ‘n geskikte handelspad na Delagoabaai te ontdek en het te Lourenco Marques van die Portugese goewerneur toestemming verkry om ‘n nuwe pad na die kus deur Portugese gebied te soek.

Hierdie nuwe pad sou nie vanaf Ohrigstad na Delagoabaai wees nie, maar vanaf die Soutpansberg na Inhambane want Potgieter het besef dat Ohrigstad vir suksesvolle handel met Delagoabaai ongunstig geleë  was. Omdat die nedersetting ook nie vir suksesvolle veeboerdery geskik was nie en omdat die malaria alreeds ‘n aansienlike aantal slagoffers geëis het, het die gedagte by hom posgevat om met sy volgelinge self die Ohrigstadse nedersetting permanent te verlaat, waarvoor die voorgenome tog na Inhambane as voorbereiding moes dien.

Potgieter het dan ook op 12 Junie 1847 aan die hoof van 230 manskappe na die noorde vertrek en na ‘n afwesigheid van drie maande weer te Ohrigstad aangekom, na ‘n skermutseling met Mzilikazi ver noord van die Limpopo en sonder dat daarin geslaag kon word om Inhambane te bereik.  Potgieter het tydens hierdie tog die geleentheid gehad om aan die hang van die Soutpansberg ‘n geskikte terrein vir die uitlê van ‘n nuwe dorp uit te soek en het nou gereed gemaak om daarheen te verhuis. Die trek het Ohrigstad vroeg in 1848 verlaat op pad na die Olifantrivier.  Potgieter het die trek hier onder toesig van Jan Valentyn Botha gestel en self met ‘n paar volgelinge na Potchefstroom afgereis, weer oor Ohrigstad teruggekeer en sy trek na Soutpansberg gevolg waar hy ‘n nuwe nedersetting, Schoemansdal, aangelê het.

Vir Ohrigstad het hierdie uittog van Potgieter en sy mense geen heil ingehou nie aangesien die getal agterblywendes alreeds op ‘n handjievol gereken kon word.  Vir die volksraad het hierdie toestand ‘n netelige probleem geskep want in weerwil van die onveiligheid van die verswakte nedersetting teenoor die dreigende swart gevaar, het nog heelwat meer van die inwoners wat nie veel simpatie met die volksraadsparty gehad het nie, hulle gronde verlaat en na die weste verhuis.  Die raad het hulle twee maande kans gegee om terug te keer of anders sou hul plase aan ander toegeken word.

Die volksraad het gevrees dat nog meer persone om veiligheidshalve verplicht zullen zyn dat alhier te verlaaten en het gevolglik besluit om die ontvolkte gebied vir inwoners aan die voorposte oop te stel, ten einde die nedersetting weer te beveilig.  Die raad het al self begin wanhoop aan die toekoms van Ohrigstad maar was nietemin nog vasbeslote om die nedersetting te blyven vast houden zolank dat immer mogelyk is.

In April 1848 het daar nog steeds berigte van mense wat gereed gemaak het om te trek die volksraad bereik, sodat besluit is om ‘n algemene byeenkoms van die inwoners op te roep om de verwarring onder het publiek voortekoomen en voor de beste veiligheid te waken. Die dorp self is deur die trekkery in so ’n weerlose toestand gelaat dat veiligheidsonthalwe aan almal wat gewillig was, toestemming verleen is om die verlate erwe te kom bewoon en te bewerk.

Ten einde die kern van getroues nog meer te sentraliseer, is aan persone wat meer as vier uur te perd van die dorp af gewoon het, vryheid verleen om hul plase te laat verval en om binne die bepaalde grenslyn ander plase te kom uitsoek, mits hulle gewillig was om op hierdie gronde of op die dorp self te kom woon.

Strydfontein, die plaas van kommandant Potgieter, het eweneens verval en is tot een colonies plaats ingetrokken. Die publiek het die reg gekry om van hierdie en ander vervalle plase tydelik vir eie voordeel gebruik te maak.

Selfs van die getroustes het aan die belange van die nedersetting ontrou geword, want in April 1848 het drie van die volksraadslede self  Ohrigstad verlaat.  Daar was toe nie meer geskikte persone beskikbaar om die vakatures weer aan te vul nie.