Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Ohrigstad word verlaat (3)
Ohrigstad het na Potgieter se verhuising na Soutpansberg al hoe meer ‘n sukkelbestaan begin voer deurdat Jacobus Burger met sy volksraadsgroep in ‘n groot mate magteloos aan hulleself oorgelaat was. Klein in getal, omring deur talryke vyandige naturellestamme en menigmaal in die hoop op ‘n florerende handel met die buiteland bedroë, het hulle verarming en agteruitgang in die gesig gestaar. Hulle het nog steeds gehoop dat Smellekamp spoedig sal opdaag en het só reikhalsend na sy koms uitgesien dat ‘n mens die indruk kry dat hulle geglo het dat sy teenwoordigheid alle probleme sommer in ‘n oogwenk sou wegtower. Onderwyl die maande vrugteloos verbygesleep het, het hulle mekaar oor die mislukking begin verwyte toeslinger en in ‘n toestand van moedeloosheid verval.
Die somer van 1848-1849 het aangebreek en ‘n hewige malaria-epidemie het weer eens sy verskyning gemaak.
Na aanleiding van berigte wat Andries Pretorius te Magaliesberg bereik het, het hy aan ds Faure op 4 Maart 1849 geskrywe: Wy moeten u met droefheid mededeelen dat d(e) geele koors met het skeiden des somers. . . . heeft gewoed te Ohrigstad en selfs te Zoutpans(berg). Er is rykelyk menschen gestorven.
WJ Grobler het aan sy neef te Magaliesberg geskrywe: De koorssiekte is fan dit jaar feel erger als anders. Hier is verschy(dene) gestorven. . . . Myn schoonmoeder en broer Jan du Pree en een fan zyn soons is doot en ben nog veel sieken.
In ‘n brief van Jacobus Burger aan Jacob de Clercq meld hy die erns van die toestand met hierdie woorde: Het gaat hier in de ronte ellendig met de trekken en sterfgevallen. In Mei 1849 is Burger self aan die gevreesde malaria oorlede.
Dit word beweer dat daar naderhand selfs drie persone in een graf begrawe moes word en dat daar soms niemand was wat die dooies kon begrawe nie. In Origstad lê daar 47 grafte, by Nooitgedacht 12 en naby die samevloei van Steelpoort- en Spekboomrivier 46, terwyl op elke plaas ongeveer ‘n halfdosyn grafte die laaste rusplaas van die slagoffers van die epidemie aantoon.
Onderwyl die sterfgevalle toegeneem het, het die oorblywendes alreeds begin om al hul besittings op te pak en suidwaarts na ‘n hoërliggende streek, waarvan Krugerspos die sentrum was, weg te trek. ‘n Rukkie later, gedurende Augustus 1849, het landdros Versveld sy kantoor ook na Krugerspos verskuif en spoedig was die dorpie Ohrigstad geheel en al verlate. Die paar winkels, die goewermentskantoor, die halfklaar kerk, die tronk en die stuk of 40 woonhuise het daar bly staan tot diens van die naguile, slange, vlermuise en spinnekoppe.
Op 19 September 1849 het die volksraad op Krugerspos byeengekom en nog dieselfde dag besluit om ‘n nuwe dorp, nog meer suidwaarts op die plaas Boshoek, Waterval en Enkeldoorn, wat aan A Fick, J Malan en P Schoeman onderskeidelik behoort het, op te rig. Die genoemde eienaars sou vergoeding vir die verlies van hulle plase ontvang in die vorm van “regte” en erwe op die nuwe dorp en uitbetaling van verbeteringe op die plase aangebring. ‘n Kommissie is benoem om voorsiening te maak vir die aanleg van ‘n watervoor, die uitmeting van erwe en strate, uitsoek van geskikte plekke vir ‘n kerk, ‘n “kantoor” en ‘n markgebou en die verkoping van erwe aan die hoogste bieders.
Die volgende dag, 20 September, het die volksraad besluit om die nuwe dorp met die naam Lydenburg te doop en om fondse in te samel om eenen gebouw opterichten op het nieuw dorp om de godddienst uitteoefenen.
Nadat ‘n begin gemaak is met die aanleg van die watervoor, is daar bevind dat die beskikbare watervoorraad nie genoeg was om in die behoeftes van ‘n dorp te voorsien nie. Daarom het die volksraad op 23 Januarie 1850 te Potchefstroom besluit om die drie plase weer aan hulle vorige eienaars terug te gee en om die plaas Rietspruit wat aan Johannes Coetzer behoort het, vir die uitleg van die dorp te gebruik.
Daar is weer met haas voorbereidings getref vir die oprigting van ‘n “pale huis-kantoor” en die aanlê van water na die terrein, sodat in Mei 1850 die uitleg van die dorp alreeds sover gevorder het dat die volksraad daar kon byeenkom.
By die sitting van die volksraad te Potcefstroom is daar alreeds op 16 Oktober 1850 gepraat van den hooftplaats Lydenburg en was hierdie dorp tegen den breeden bergrug. . . .op eene tamelyk uitgestrekte grasvlakte. . . dat de naam verkreeg van het lyden aan de geele koors door onzen landgenooten te Ohrigstad doorgestaan, bestem om in die eersvolgende jare ‘n belangrike rol in die wordingsgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek te speel..
‘n Tydgenoot soos ds Van der Hoff het egter nie alte gunstig in 1854 oor die toestand en vooruitsig van hierdie nedersetting aan professor Lauts gerapporteer nie. Lydenburg dat zoo fraai als hoofdplaats in debrochure van de Amsterdamche Commissie prykt, is een ellendig nest; 10 á 12 huizen of liever hutten, ter nauwernood voor de helft bewoond, van hier byna ongenaakbaar dood de hooge en klipperige berg ruggen; enfin een nest,dat even als Ohrigstad schynt opgegeven zullen worden: men bood my althans een erf aldaar te koop voor een pond, en hier te Mooirivier moet men van 35 tot 70 pond betalen.
Lydenburg het in elk geval nou die plek en status ingeneem wat Ohrigstad voor die verlating beklee het, naamlik die setel van die regering van die Voortrekkerstaat, waarvandaan die aanhangers van die volksraadsparty onder nuwe aanvoering van HT Bührmann, C Potgieter en WH Jacobs, na Jacobus Burger se dood, probeer het om hierdie ontvolkte geweste sy bevoorregte status te laat behou.