VOORTREKKER-PIONIERS (21)

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Versoeningspogings  (1)

Aan die begin van 1848 het dit geskyn asof daar maar min hoop bestaan het dat die verspreide en twistende groepe emigrante noord van die Vaalrivier in ‘n nouer eenheidsband saamgetrek sou word.  Daar is reeds aangetoon dat met die ontvolking van Ohrigstad die aantal inwoners in die omgewing van Potchefstroom en Magaliesberg weer heelwat vermeerder het, aangesien die getal ook aangevul is deur Trekkers uit, die deur Engeland verowerde Natal. As gevolg van die afwesigheid van Potgieter in hierdie streek, het hierdie groep emigrante hulle nie as onderhorig aan sy gesag beskou nie en was hulle dus eintlik leierloos.  Die invloed wat die Ohrigstadse volksraad op hierdie streek uitgeoefen het, was maar baie onbeduidend omdat hulle aandag grotendeels deur die swart gevaar en mislukte handelstryd in beslag geneem is, soos alreeds beskryf is.

Ná Potgieter se verhuising na Soutpansberg het die volksraadsparty nog enige maande lank die haat teen eersgenoemde  sterk aangeblaas, maar uiteindelik moes die kookpot tog maar afkoel omdat die hoofkommandant self nie daar was om aanleiding tot nuwe onenighede te gee nie.

Ten spyte van die rusies was die drang tot eenheid egter ook steeds lewendig, selfs by die volksraadsparty, soos gesien kan word in die oproep van JJ Burger aan die publiek om bymekaar te kom om te sien of daar nie verandering en verbetering. . . . waar dood vereeniging onder ons en daardoor versterking kan geboren worden, bewerkstellig kan word nie.

Tot op hierdie stadium was die groepe wat deur die onenigheid en skeuring in groot mate geraak is, nog hoofsaaklik tot die volksraadsparty en die Potgieter-groep beperk.  Albei partye het, soos in hoofstuk drie aangetoon is, gedurende die eerste fase van die struweling heelhartig na die koms van Smellekamp verlang omdat hulle hom in staat geag het om ‘n oplossing vir al die probleme te verskaf.   Omdat Smellekamp getalm het om te kom, het die twee partye se eie geesdrif en verlange om die geskille by te lê, gaandeweg verflou en is die verdeelde toestand met die verhuising van Potgieter na Soutpansberg as ‘n onvermydelike euwel aanvaar.

Smellekamp het per brief vanaf Delagoabaai in Julie 1848, nadat hy met die Animo anker gewerp het, die hoop weer laat opvlam met die woorde:. . . . ik twyfel geenzins, indien men elkander wel begrypen wil, dat best alle deze onaangenaam hedenuit de weg te ruimen zyn, waartoe ik volgaarne met myne besten raad wil bystaan, waarom ik Ued. verzoek. . . naar hier te komen, ten einde daarover te beraadslagen. . . .

Al bydrae tot die oplossing van die probleme wat hy egter kon lewer, was om HT Bührmann, ‘n kantoorkneg van Amsterdam wat een van die passasiers op die Animo was, na die Trekkers te stuur  om de betrekking van Schoolmeester by u te vervullen. Daar is geen aanduiding dat Smellekamp Bührmann as arbiter in sy plek aagestel het nie, alhoewel Bührmann self daarop aanspraak gemaak het dat Smellekamp hom in zyn plaats benoemd had.

Met hierdie doel voor oë het Bührmann daarin geslaag om Ohrigstad te bereik en het onmiddellik begin om uitvoering aan sy planne te gee.

Intussen was die koms van Andries Pretorius na Transvaal daarvoor verantwoordelik dat gaandeweg ‘n nuwe indeling van groepe noord van die Vaalrivier ontwikkel het.  Kort nadat Pretorius besluit het om sy plaas Welverdiend in Natal te verlaat, omdat hy dit daar nie meer onder die Engelse bewind se naturellebeleid kon uithou nie, het sir Harry Smith op 3 Februarie 1848 vanaf die Tugelarivier die proklamasie uitgevaardig wat die hele Vrystaat onder Britse  beheer geplaas het.

Pas vantevore het Pretorius nog planne beraam om Natal weer te gaan bevry, maar na die anneksasie van die Vrystaat het hy onmiddellik begin organiseer om hierdie gebied weer te ontset en het die hulp van die Ohrigstadse volksraad ingeroep.

Hierdie verwikkelinge het Hendrik Potgieter ook na Potchefstroom laat kom waar die twee leiers albei teenwoordig was op ‘n vergadering wat op 15 Mei 1848 gehou is.  Potgieter het die sienswyse gehuldig dat Smith die Vrystaat geannekseer het as gevolg van Andries Pretorius se bemoeiinge met die Engelse en ‘n beleid van nie-inmenging voorgestaan om te verhoed dat Transvaal miskien ook geanneksser kon word.  Potgieter se sienswyse het op hierdie vergadering geseëvier, maar nogtans het Pretorius ‘n paar maande later die gewapende opstand in die Vrystaat aangedurf wat met die mislukte slag te Boomplaas geëindig het.  Met hierdie gebeurtenis het Pretorius hom onder andere die misnoeë van WH Jacobs, die gewese landdros van Winburg, op die hals gehaal, omdat Jacobs sy eiendomme verloor het en genoodsaak was om Transvaal toe te vlug, aangesien die Engelse hom saam met Pretorius as die sondebok en oorsaak van die onluste gebrandmerk het.  Jacobs het op Ohrigstad gaan woon en het die volksraadsparty teen Pretorius beïnvloed.

Die Boomplaas-voorval het die verhouding tussen die twee Voortrekkerleiers, Potgieter en Pretorius, nog verder versleg.  Pas na die anneksasie van die Vrystaat het sir Harry Smith al probeer om die twee leiers teen mekaar te laat uitspeel, met die hoop dat Potgieter die meeste invloed sou verwerf, ten einde vir Pretorius skadeloos te stel.  Deur middel van korrespondensie tussen Potgieter en Smith het die goewerneur nou na die slag van Boomplaas ‘n poging aangewend om Potgieter aan die hoof van die Voortrekkergemeenskap noord van die Vaalrivier te stel, onder ‘n liberale goewerment, onder Britse beheer.

By die onderhandelinge wat daarna tussen Potgieter en Southey, as Smith se verteenwoordiger, aan die Vaalrivier plaasgevind het, was Bührmann ook teenwoordig.  Potgieter het nie kans gesien om so ’n beperkte onafhanklikheid vir Transvaal te aanvaar nie.  Hy het saam met Bührmann na Potchefstroom teruggekeer, waarna aan die publiek oor die onderhandelings met die Engelse verslag gegee moes word.

Bührmann het nou ook weer geleentheid gehad om met sy selfopgelegte taak van vredemaker voort te gaan.  Hy het dusver nog met Potgieter se sienswyse oor staatsake akkoord gegaan en Andries Pretorius se handelwyse veroordeel.

Bührmann het alreeds kort na sy aankoms in Ohrigstad in Oktober 1848 na Soutpansberg gereis, waar hy aan Potgieter te kenne gegee het dat die mense van Ohrigstad begerig is om die ou geskille by te lê en met Soutpansberg te verenig. Hy het toe alreeds ‘n paar voorstelle op skrif gestel wat as basis vir die voorgestelde vereniging moes dien en het hulle aan die Soutpansbergers vir kommentaar voorgelê, te wete:  Alle partye moes gewillig wees om die ou struweling en die dade wat daaruit voortgespruit het, te vergewe en te vergeet en bereid wees om die volksraad as hoogste gesag in die republiek te erken.  Verder moes Potgieter onder die gesag van die volksraad hoofkommandant bly, om de zaak te bevorderen.

Potgieter en sy mense het egter na rype oorweging geaarsel om hul goedkeuring aan twee van die artikels te heg omdat dit moeilik was om te vergeet dat die volksraadsparty hulle plase te Ohrigstad gekonfiskeer het en omdat hulle hierdie misdryf nog nie kon vergewe nie.  Bührmann het die volksraad aangeraai om die vervalle plase ter wille van die vrede weer aan hulle voormalige eienaars terug te gee en het die volksraadsparty se aandag ook daarop gevestig dat dit onregverdig en ook ‘n groot belediging vir Potgieter sou wees indien sy hoofkommandantskap hom ontneem sou word, al was hy miskien nie meer geskik vir die amp nie.

Nietemin was Potgieter tot onderhandelinge geneë en het hy die volksraad uitgenooi om ‘n vergadering aan die Olifantsrivier te kom bywoon, waar kalm oor die wegruiming van die moeilikhede gepraat kon word.

Bührmann het ook agtergekom dat die Potgieteraanhangers die volksraadsparty daarvan verdink het dat hulle Pretorius in sy handelinge met die Engelse ondersteun het en dat die volksraadsaanhangers weer Potgieter van samewerking met Pretorius verdink het.  Hy het sy bes gedoen om hierdie twee wanbegrippe by die twee partye uit die weg te ruim.

Hierna is Bührmann saam met Potgieter na die suide om te sien of hy nie met die onderhandelinge met die Kaapse goewerneur ‘n handjie kon bysit nie.  Die eerste geleentheid wat hy daarna gekry het om weer versoeningspogings tussen die verskillende groepe aan te wend, was vroeg in Februarie 1849, onderwyl hy besig was om by die mense van Magaliesberg rond te kuier en die eenheidsaak te propageer.