Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander ook daardeur kan leer. Net 'n dwaas besin nie oor sy woorde aan ander nie – hy maak dus nie die keuse om wyse dinge te sê nie en ploeter net voort.
VOORTREKKER-PIONIERS (22)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Versoeningspogings (2)
Op 9 Februarie 1849 is ‘n groot vergadering te Hekpoort gehou waar Potgieter verslag gedoen het van die uitslag van sy sending na Southey. Op hierdie vergadering het die byeengekome publiek die beperkte onafhanklikheid wat die Engelse hulle aangebied het, geheel en al verwerp.
Andries Pretorius was ook op hierdie vergadering saam met Potgieter en Bührmann teenwoordig. Omdat Bührmann gedurende die kort periode wat hy hom onder die Transvalers bevind het reeds veel agting by die gemiddelde Trekker verwerf het en dit hom ongetwyfeld na die hoof gestyg het, het hy gekrenk gevoel dat Pretorius hom nie ook op die hande gedra het nie. Bührmann het hom tewens ook die reg aangematig om op hierdie vergadering Pretorius te betig oor sy opstand teen die Engelse in die Vrystaat en Pretorius het beloof om in soortgelyke toestande nie weer so iets te doen nie.
Ongelukkig is met hierdie voorval ‘n twis ontketen wat geen heilsame invloed op die vredespogings uitgeoefen het nie. Bührmann het verklaar dat Andries Pretorius hom geweldig gehaat het maar hy het ook erken dat hy Pretorius baie verwyt en beskuldig het.
Tydens die vergadering het die publiek besluit dat die tyd ryp was om ‘n einde aan die ou onenighede te maak en dat daar ‘n sterk regering opgerig moes word, met die volksraad as hoogste gesag en dat alle offisiere en amptenare daaraan gehoorsaam moes wees. Potgieter het sy goedkeuring aan hierdie besluit geheg en daarna na Soutpansberg teruggekeer, nadat ooreengekom is om op 20 Maart 1849 ‘n vergadering aan die Olifantsrivier by Van der Merwesdrif te hou waar al die groepe in die republiek teenwoordig moes wees ten einde de zoo lang gewenste vereeniging tot stand te brengen.
Bührmann het in die Magaliesberg-omgewing agtergebly om Pretorius se invloed teë te werk omdat hy bang was dat laasgenoemde net sou wag tot ik van hier ben om te zien of hy niet een of ander op kan werken om de twist weder aan de gang te brengen.
Soos begryp kon word, het Bührmann se beledigings en die feit dat hy hom aan Potgieter se kant geskaar het wat staatkundige opvattings betref, veral in sake die Trekkers se verhouding met Engeland, glad nie daartoe bygedra om Pretorius se toegeneentheid tot laasgenoemde twee persone te laat toeneem nie. Hy skrywe byvoorbeeld op 12 Februarie 1849: Het komt my voor of den Hollander ons allen onder den commandantschap van Potgieter wilt bringen, maar dat zal hy van my niet gedaan krygen. Ik en de myne wil onder een onpertydigen Volksraad staan, maar nooyd onder Potgieter.
Maar dat Pretorius baie sterk vir vereniging van alle groepe gestaan het, blyk duidelik uit sy skrywe aan ds Faure in Maart 1849: Voorts kan ik U.E.W. met blydschap zegge dat de zeer noodzakelyke eengezendheid onder ons sterk toeneemt, zoodat hier tans weinig onder ons gevonden worde die niet eensgezind ben. Myne groo(t)ste tegenstanders is nu byna myn beste vrinden.
Nieteenstaande die ontketende twis tussen Bührmann en Pretorius het dit dus op hierdie stadium geskyn of daar geen groot struikelblokke meer in die weg van algehele eenheid gelê het nie. Afgesien van die verskil in mening by die twee Voortrekkerleiers aangaande optrede teen die Britse owerheid, was altwee nou gewillig om hulle aan die gesag van ‘n sterk sentrale regering, naamlik, ‘n volksraad, te onderwerp. Daar was nog maar een groep wat weens tuisprobleme en die aard van hulle afsondering nog geen bydrae tot verwerwing van eenheid gemaak het nie. Bührmann het die Ohrigstadse volksraad volledig ingelig oor die Hekpoortse besluite en hulle uitgenooi om die vergadering aan die Olifantsrivier te kom bywoon.
Die volksraad het laat weet dat hulle niets meer wenschen dan een algemene vereniging met alle uitgewekene Emigranten, maar die feit dat Pretorius en Potgieter hulle met die Engelse gaan bemoei het, was volgens dié party regstreeks teen die raadgewing en bevele van Smellekamp en voordat laasgenoemde nog nie opgedaag het om die regte leiding te gee nie, het hulle nog nie kans gesien om enigiets met die verenigingspogings te doen te hê nie. Hulle het ook nie kans gesien om met so ‘n kort kennisgewing betyds gereed te wees om die vergadering aan Olifantsrivier by te woon nie. Benewens hierdie beswaar was hulle ook bevrees om hul families weerloos op die dorp en plase agter te laat.
Ondertussen was Bührman ywerig en met geesdrif doenig. Al het hy gedurende sy sesmaandelange verblyf in Transvaal nog geen stuiwer as skoolmeester verdien nie en geen vaste woonplek gehad nie, het hy hom met die gedagte gevlei dat dit alles gedoen word ter wille van die zeer verdrukte volk, het welk door vele misleiding in oneenigheid was. Volgens hom was sy taak reeds amper afgehandel.
Uiteindelik het die volksraad dit tog oorweeg om miskien ‘n deputasie na Olifantsrivier te stuur, maar toe die vergadering op 22 Maart aldaar byeengekom het, was hulle tog nie teenwoordig nie.
Die byeengekome publiek het weer eens besluit dat ‘n volksraad voortaan die hoogste gesag sou uitmaak en dat geen persoon ooit weer as enkeling met groter gesag as die volksraad beklee sou word nie. Alle amptenare en offisiere sou aan die raad onderdanig moes wees. Potgieter word vergun om hoofkommandant te bly totdat hy eendag ontslaan sou word weens ouderdom, siekte of ander oorsake, maar daarna sou daar geen hoofkommandant meer aangestel word nie.
Voorts is daar ook besluit om ‘n buitengewone hof saam te stel wat al die ou twiste moes ondersoek en die skuldiges moes straf.
Die saak moes nou nog net met Ohrigstad in die reine gebring word om die vereniging volkome te maak. Sommige inwoners van Ohrigstad se omgewing het die byeenkoms bygewoon en hulle goedkeuring aan die besluite geheg. Die ooreenkoms is deur 90 persone onderteken, waaronder ook die handtekeninge voorkom van WH Jacobs, HT Bührmann en AH Potgieter. Soos te begrype is, was Andries Pretorius nie op hierdie vergadering teenwoordig nie.
Daar word beweer dat Bührmann op die vergadering ‘n baie aanmatigende houding ingeneem het en die Ohrigstadse volksraad en ook Potgieter verwyt het dat hulle net hul eie belange probeer bevorder het. Hy het homself glo hoog aangeprys en daarop aanspraak gemaak dat hy die kroon bo Potgieter se hoof gehou het deur hom as hoofkommandant te laat aanbly. Na ondertekening van die besluite het hy verklaar dat hy al sy kragte sou inspan om Potgieter onder te bring met die gevolg dat laasgenoemde hom vererg het en sy handtekening op die ooreenkoms teruggetrek het. Potgieter is daarop met sy gevolg na Soutpansberg terug waarop hy hom andermaal afgesonder het.
Met die Olifantsriviervergadering is ook besluit om ‘n deputasie bestaande uit 5 lede, waaronder ook WH Jacobs en HT Bührmann was, na Ohrigstad te stuur om die volksraad tot vereniging te gaan oorhaal. Met die uitsondering van JJ Burger wat die saak uitgestel wou hê totdat Smellekamp sou opdaag, het al die ander persone wat by die samesprekings teenwoordig was hul goedkeuring aan die Olifantsrivierbesluite geheg en toegestem om die eerste sitting van die nuwe volksraad te Derdepoort, die plaas van Roelof Jansen, op 22 Mei 1849 by te woon, op voorwaarde dat vir elke drie sittings van die raad, twee daarvan te Ohrigstad moes wees en een te Derdepoort. Ohrigstad sou ook die reg hê om die helfte van die volksraadslede te kies maar het voorgestel dat uit het publiek van voren 2 delen meer gekozen worden daar ieder rys de helft van te Ohrigstad kunnen persent zyn. Daarbenewens moes Ohrigstad ook die hoofd plaats van die verenigde republiek bly.
Jacobus Burger wat teen die vereniging was, het ‘n hele paar griewe gekoester naamlik dat Pretorius en Potgieter hulle in weerwil van Smellekamp se vermanings vermoei het met gronde waarop die Britse regering aanspraak gemaak het. Hy kon ook nie begryp hoe die schoolmeester nou skielik in ‘n Commissaris ontpop het nie want Bührmann het geen opdrag van die Ohrigstadse volksraad gehad om hom met hierdie sake in te laat nie en hy kon ook nie bewys dat Smellekamp hom in sy plek as arbiter aangestel het nie.
Die mening word gehuldig dat Burger se gramskap te wyte was aan die feit dat hy in die nuwe, meer verteenwoordigende volksraad nie meer oor dieselfde magsposisie en invloed sou beskik as wat hy homself tot dusver toegeëien het nie.
Kort daarna is Burger aan malaria te Ohrigstad oorlede en sou daar dus uit hierdie geweste nie meer struikelblokke in die weg na eenheid gelê word nie. Daarna het ook die idee van ‘n reddende Smellekampshand stadigaan weggekwyn.