Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En dink aan ju Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie – Prediker 12.
VOORTREKKER – PIONIERS (27)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Lydenburg skei af (2)
As die leiers van die Lydenburgse gemeenskap gematige mense was wat in opregtheid na samewerking met die ander distrikte gestrewe het, kon die afskeiding heel waarskynlik afgeweer gewees het. Helaas, hierdie Lydenburgse leiers wat hulle vanaf die dae van die twis met Potgieter beskou het as die kampvegters vir demokrasie teen ‘n “eenhoofdige bestuur” , het die leidende figure in die weste steeds as ‘n gevaar vir die demokrasie beskou en in plaas van om met hulle saam te werk, het hulle verkies om met hulle te twis. So byvoorbeeld het hulle Andries Pretorius, wat na Potgieter se trek noordwaarts die groot leier in die weste geword het, van die staanspoor af geopponeer. Hy was vir hulle die nuwe verpersoonliking van ‘n “eenhoofdige” bestuur en daarom het hulle die benoeming van ‘n kommandant-generaal in vredestyd so bitter teengestaan.
Dit was waarskynlik ook een van die redes waarom hulle Pretorius se planne om die Engelse uit die Vrystaat te verdryf so heftig bekamp het. Hulle het gevrees dat dit sy invloed sal laat toeneem.Soos Jacobus Burger, die eertydse leier van die Ohrigstadse volksraadsgroep die stryd teen Potgieter tot die bitter einde volgehou het, so het die leiers van die Lydenburgse gemeenskap, op wie Burger se mantel na sy afsterwe geval het, te wete C Potgieter, WH Jacobs en HT Bührmann, teen Andries Pretorius geveg en geagiteer en na sy afsterwe in Julie 1853, ook teen sy seun. MW Pretorius. Hierdie persoonlike rusies tussen die voormanne van Lydenburg en dié van die weste het beslis daartoe bygedra om Lydenburg op die pad van afskeiding aan te help.
Tydens die Sandrivier-onderhandelinge was Bührmann só met wrewel teen Andries Pretorius vervul dat hy planne beraam het om laasgenoemde om die lewe te bring. Daarom het die volksraad op 17 Maart 1852 te Rustenburg Bührmann ontslaan as landdros van Lydenburg en bepaal dat hy twee persone voor die landdroshof moes lewer om vir sy goeie gedrag borg te staan os anders sou hy dadelyk in verzekerde bewaring gehouden worden.
Bührmann het uiters gebelg gevoel oor die vonnis wat hom opgelê is en het in elke geval in gebreke gebly om die twee borge te lewer. Op Lydenburg het hy Pretorius met hernude ywer geloop en beswadder en soveel simpatie het die Lydenburgers vir hom gehad dat hulle by wyse van ‘n petisie teen die raad se vonnis geprotesteer het.
Soos ook reeds vroeër aangetoon is, het Bührmann met sy ondersteuners vurig teen die Sandrivierse traktaat geagiteer. Hy het sy eie wraakgevoelens probeer bevredig deur middel van sy pogings om die hele Lydenburgse gemeenskap teen Andries Pretorius op te maak en die feit dat die Lydenburgse kommissieraad hom in Junie 1855 van alle blaam onthef het en oordeelt het te swaar voor den heer HT Bührmann om langer onder die blaam te blyven, bewys dat hy daarin suksesvol was. In Lydenburg het die straat waarin hy gewoon het “Bührmanstraat” geheet en volgens ‘n Hollander wat Lydenburg in 1858 besoek het en met Bührmann kennis gemaak het, heeft hy zich zoo diep in het vertrouwen dezer onnozele liedenweten intedringen, dat men hem als een bekwame staat kundig persoon besschouwd.
Het die bebeure met Bührmann ‘n diep wig tussen die Lydenburgse kommissieraad en die lede van die volksraad elders in die republiek ingedryf, dan het die optrede van die volksraad teen JA Smellekamp, wat hom intussen in die republiek kom vestig het en wat soos reeds aangetoon is baie hoog deur die Lydenburgers geag was, ‘n onoorbrugbare kloof tussen Lydenburg en die res van die republiek veroorsaak.
Smellekamp het in die gedrang gekom vanweë sy optrede teen ds Dirk van der Hoff, die eerste predikant van die Voortrekkers, wat gedurende 1852 deur professor Lauts in Holland vir Transvaal verkry is en wat op 16 Mei 1853 te Potchefstroom aangekom het. Die Lydenburgers was blykbaar nie danig gediend met hom nie en het van die staanspoor af gekla dat die salaris wat aan hom toegeken is vir die landsomstandighede te hoog was.
Op 9 Augustus 1853 is tydens die sitting van die Rustenburgse kommissieraad, wat hul vergadering as ‘n volksraadsbyeenkoms beskou het, ‘n algemene kerkvergadering gehou waar ds Van der Hoff benoem, aangestel en erken is as wettige en geordende leraar van die land. Die vergadering het ook besluit om voorlopig nog nie die kerk van die republiek by die Kaapse sinode in te lyf nie omdat daar vir hulle geen predikante uit die Kaapkolonie gestuur is nie en hulle hul nie aan die Kaapse kerkwette kon onderwerp nie.
Omdat die Lydenburgers gladnie by hierdie vergadering teenwoordig was nie het daar oor dië besluite ontevredenheid bestaan. Die volksraad wat op 19 September 1853 te Lydenburg sitting geneem het en waar die Lydenburgers in die meerderheid was, het ds Van der Hoff erken as predikant vir Potchefstroom, Rustenburg en Soutpansberg, maar hulle het dit aan die Lydenburgse gemeente self oorgelaat om te besluit of hulle hom as predikant wou hê aangesien hulle nie teenwoordig was toe hy te Rustenburg bevestig is nie. Hulle wou ook nie die Rustenburgse besluit om die kerk in die republiek nie by die Kaapse sinode in te lyf nie, bekragtig nie.
Die Lydenburgse gemeente het op hierdie tydstip gekla dat dit vir hulle gelyk het asof hulle als niets beschouwd word, maar hulle het ds Van der Hoff nogtans as predikant aanvaar.
In November 1853 het die volksraad te Potchefstroom finaal besluit om nie die kerk by die Kaapse sinode in te skakel nie. Bührmann en die Lydenburgers het Van der Hoff verwyt dat dit aan sy toedoen te wyte was dat die Transvaalse kerk nie by die Kaapse sinode ingelyf is nie. Die Lydenburgse gemeente het egter nou verkies om ‘n eie predikant te hê en in Junie 1854 het die volksraad toegestem om ‘n leraar vir Lydenburg en Soutpansberg te beroep.
Smellekamp het aan die begin van 1854 in Transvaal aangekom en gedurende Februarie van dieselfde jaar vir ds Van der Hoff te Lydenburg ontmoet, alwaar sommer onmiddellik onenigheid tussen die twee ontstaan het as gevolg van Smellekamp se planne en reëlings om ‘n predikant uit Holland vir Lydenburg te werf sonder samewerking van professor Lauts.
Daarna het Smellekamp Rustenburg toe gegaan en onder andere daar rondvertel dat Van der Hoff geen geordende leraar was nie en dat hy en die hele kerkraad Godverloogchenaars was. Die kerkraad het Smellekamp voor die volksraad wat op Rustenburg in sitting was, aangekla, maar laasgenoemde was huiwerig om ‘n beslissing te vel en wou die saak liewer deur die hof beslis hê. Hulle het Smellekamp egter voor die raad gebring, waar hy ontken het dat hy sou beweer het dat Van der Hoff nie georden was nie.
Daarop het die kerkraad by die krygsraad om hulp gaan aanklop, waarop laasgenoemde veldkornet Paul Kruger na die volksraad gestuur het om te gaan verneem waarom die kerkraad niet naar behooren zyn beschermd geworden. Die volksraad het die verskoning aangebied dat hulle nie oor genoegsaam getuienis oor die saak beskik het nie. Die krygsraad lewer toe twee persone om getuienis af te lê en eis dat ‘n besluit wat die vorige jaar geneem is, uitgevoer moes word, naamlik om persone wat die kerk belaster met 500 Rds te beboet en by ‘n tweede oortreding te verban. Daarop het die volksraad Smellekamp met 500 Rds beboet en hom gewaarsku om hom stil en rustig te gedra en hom nie met kerklike of politieke sake te bemoei nie of anders sou hy verban word.
‘n Rukkie later het Smellekamp op Potchefstroom aangekom. Sy gramskap het nou ook teen MW Pretorius, as voorsitter van die krygsraad ontvlam. Nadat hy ‘n beledigende brief aan laasgenoemde gerig het, het die landdros van Potchefstroom hom gelas om die republiek te verlaat. Hy is dus verban en het ‘n dag of wat later na Bloemfontein vertrek.
Die Lydenburgers was oor hierdie gebeurtenisse baie ontevrede en het hulle skerp uitgespreek oor die feit dat Smellekamp sonder die gebruiklike gehoor gevonnis is, dat die krygsraad hom met die aangeleentheid bemoei het en dat aan Smellekamp geen reg tot appél toegestaan is nie. Hulle het net soveel wrewel as Smellekamp teenoor ds Van der Hoff en MW Pretorius gekoester en toe Smellekamp dan ook ‘n paar maande later vanaf Bloemfontein, waar hy intussen as provisionele landdros aangestel is, sy lot oor sy vonnis by die Lydenburgse kommissieraad bekla het, het hulle ‘n paaiende en vertroostende brief aan hom gerig en beloof om die “misverstand” uit die weg te ruim en hom van hulle vriendskap verseker.