Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onthou: God sal jou nooit ‘n kruis gee wat te swaar is nie. En as jy ‘n baie swaar een dra, weet Hy dat jy dit kan dra. Dank Hom daarvoor!
VOORTREKKER – PIONIERS (28) (Slot)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Lydenburg skei af (3)
Lydenburg het Van der Hoff nou as Pretorius se predikant begin beskou en was vasberade om hom teë te werk. Die Lydenburgse kommissieraad het die gemeente se voornemens om ‘n eie predikant te beroep, ondersteun. Daarop het die Lydenburgse kerkraad die kommissieraad gevra om hulle behulpsaam te wees om by die Kaapse sinode aan te sluit omdat Van der Hoff om zyn wanstaltig levensgedrag, zyn ampt onder ons, zich heeft onwaardig gemaakt. Die kommissieraad het sy goedkeuring aan hierdie kerklike afskeiding geheg en beloof om so ver moontlik daarmee behulpsaam te wees.
Kommissieraadsbesluite moes egter deur die volksraad goedgekeur word. Wat die Lydenburgse gemeente se belange betref om ‘n predikant te beroep, het die volksraad in Junie 1855 te Rustenburg dit dan ook goedgekeur en bekragtig. Die kommissieraad se besluit om aansluiting by die Kaapse sinode te soek, is egter afgekeur en Cornelis Potgieter wat voorsitter van die betrokke kommissieraad was, is berispe en met 5 Rds beboet omdat hy die kommissieraad toegelaat het om teen die besluite van die volksraad van November 1853 te handel.
Daarmee was die saak egter nog nie afgehandel nie want op hierdie vergadering was die Lydenburgse lede van die volksraad in die meerderheid. By die volgende raadsvergadering wat op 11 September by Pienaarsrivier gehou is, was Lydenburg egter in die minderheid en is die sinodekwessie weer behandel.
MW Pretorius het in ‘n brief wat hy voor die raad gelê het, geëis dat die lede van die Lydenburgse kommissieraad gestraf moes word omdat hulle buite hulle bevoegdheid gehandel het, om die volgende redes: Alleen die algemene kerkvergadering van die republiek het reg om oor so ‘n versoek soos dié van die Lydenburgse kerkraad te beslis en nie die kommissieraad nie. Die feit dat laasgenoemde liggaam ook nog sy steun aan die kerkraad toegesê het en daarby al die ander gemeenstes van die republiek tot ‘n vereniging met die kerkbestuur van ‘n buitelandse moondheid wou insleep, het van moedswillige handelwyse getuig. Die genoemde komissieraad het verder ook geen reg gehad om namens die volksraad aan die verbanne Smellekamp ‘n brief te skrywe nie. Hulle het daarmee die landswet oortree en meineed gepleeg.
Die saak is deur die volksraad na ‘n competente geregshof verwys bestaande uit die vier landdroste en die heemrade van die vier distrikte – tesame 20 persone, wat die agt lede van die Lydenburgse kommissieraad, naamlik WH Jacobs, C Potgieter, LJ Nel, AT Spies, JH Breytenbach, GC Schoeman, JJ Scheepers en JW Grobler tot ‘n boete van 150 Rds elk gevonnis het en hulle as volksraadslede afgesit het deur hulle as onwaardig om enige betrekking binnen deze landpalen te bekleeden te verklaar. Die volksraad het die vonnis eenparig goedgekeur en die landdros van Lydenburg kennis gegee om vir die volgende sitting vyf lede te laat kies, maar die Lydenburgse publiek het geantwoord dat hulle die gedeperteerde lede nog steeds as volksraadslede beskou terwyl het tot hiertoe nog niet gebleken of bekent gestelt is wat de misdaad der leden was waardoor sylieden eerloos verklaard kon worden.
Nietemin het landdros De Clercq die geskorstes tot ‘n kommissievergadering opgeroep om te beraadslaag wat hulle te doen staan. Op die vergadering is twee briewe voorgelees van die Lydenburgse publiek wat ten volle met die geskorste lede gesimpatiseer het, terwyl laasgenoemdes hulself ook as onskuldig beskou het en gemeen het dat hulle volkome reg gehad het om die Kaapse sinode te erken en aan Smellekamp ‘n brief te skrywe.
Die inwoners van Lydenburg het verklaar dat aangesien hulle volksraadslede gevonnis en geskors is omdat hulle volgens MW Pretorius landverraders en wetverbrekers sou wees, verkeer die hele Lydenburgse gemeenskap gevolglik ook onder dieselfde blaam en het derhalwe ‘n herondersoek van die saak geëis. Hulle het die volksraadsbesluite te Pienaarsrivier as onwettig beskou, totdat die hele saak weer ondersoek en opgelos sou wees, en zien wy ons verplicht om ons tot zoolang van de thans aldaar bestaande Volksraad te onthouden tot der tyd dat het ons blykt dat de wet en de recht aldaar behoorlyk gehandhaafd word.
Omdat kommandant-generaal Schoeman van Soutpansberg met die Lydenburgers gesimpatiseer en die volksraad se handelwyse afgekeur het, het hulle aan hom geskrywe dat hulle twee afgevaardigdes sou stuur om ‘n protesvergadering soos deur hom voorgestel is in Desember 1855, op Rustenburg by te woon. Hulle het verklaar dat hulle hul nog aan die ooreenkoms en besluite te Olifantsrivier in Maart 1849, te Ohrigstad in April en te Krugerspos in September 1849 hou en hulle as verenigd beskou met almal wat ook daaraan hou. Almal wat daarteen werk, is verbrekers van die vereniging en as daar skeuring ontstaan, sou Lydenburg hom as verenigd beskou met almal wat hierdie wette regverdig bly handhaaf en dat zy stellig besloten hebben om zich des noods geheel aftezonderen van allen die daartegen zyn, omreden het onmooglyk is om na zoo veel ondervinding en zwaren lyding noch langer op zulk een voet als vroeger voort te gaan.
Die gedagte aan afskeiding het by Lydenburg nou al sterk op die voorgrond getree, indien hy nie daarin kon slaag om die westelike deel van die republiek aan sy eise te laat toegee nie en soos dit uit die voorgaande blyk, het hy geredeneer dat dit in daardie geval Rustenburg-Potchefstroom sou wees wat van die res afskei omdat hulle die ou ooreenkomste sou verbreek het.
As gevolg van hierdie stand punt het Lydenburg benewens Soutpansberg ook nog die inwoners van Utrecht, wat ‘n stuk grond aan die Buffelsrivier van Panda vir 100 beeste in 1854 geruil het, tot hul sienswyse probeer oorhaal. Hulle het aan JC Kloppers en AT Spies geskrywe dat die volksraad nie weer ‘n nuwe verkiesing van lede vir Lydenburg oopgestel het nie, dat die volksraad Lydenburg sy regering ontneem het en gesorg het dat daar nie weer een opgerig kon word nie en dat hulle die Lydenburgse publiek ook nie in kennis gestel het vir watter misdade hul raadslede afgesit is nie. Indien almal op die voorgenome vergadering op Rustenburg hulle aan die ou ooreenkomste gaan gou, sal Lydenburg met hulle verenigd bly, maar indien nie, zal dit Distrikt van de anderen afzonderen, en weder op zich zelven blyven bestaan. Daarom wou hulle graag met Utrecht verenig.
Dit was nie net alleen die sinode- en Smellekampkwessie en die daaropvolgende gebeurtenisse wat Lydenburg al ernstig aan afskeiding laat dink het nie, maar ook die verskil in mening wat daar oor die opstel van ‘n grondwet vir die republiek bestaan het en die verwikkelinge wat in verband daarmee plaasgevind het. Die volksraad het in Junie 1854 besluit om ‘n nuwe grondwet te laat opstel, maar het onmiddellik die teenkanting van Lydenburg uitgelok. Laasgenoemde was van mening dat dit nie nodig was nie en te veel onkoste sou teweegbring, dat die meerderheid in die volksraad nie die “wet van die land” is nie, maar die publiek wat die “koningstem” uitmaak.
Nietemin is deur die volksraad tydens sy sitting te Pienaarsrivier in September 1855 ‘n kommissie benoem om die grondwet op te stel en by die volgende sitting van die raad in November van dieselfde jaar, waar geen Lydenburgers teenwoordig was nie, is die konsep voorgelê en aanvaar.
Die Lydenburgers het na die volgende vergadering van die volksraad te Rustenburg in Maart 1856 gekom om die grondwet te kom bespreek, maar die raad het geweier om vyf van hulle, wat gevonnis is, as lede in te sweer. Hierdie vyf persone het weer heftig teen hulle vonnis te velde getrek en het verklaar dat dit onwettig was, veral omdat MW Pretorius wat die aanklaer was, ‘n swaer was van landdros J Kok wat die vonnis gevel het. Daarop het nege van die agtien teenwoordige lede wat die vonnis help vel het dit as ‘n belediging teen hulle self beskou en die vergadering verlaat.
Daar kon dus nie met die werksaamhede in verband met die grondwet se opstel aangegaan word nie en die oorblywende lede het bepaal dat die saak weer by die volgende vergadering in Oktober 1856 te Lydenburg te berde gebring sou word.
MW Pretoius het egter intussen op ‘n kommissieraadsvergadering te Pretoria in Mei 1856 die grondwet stuk vir stuk laat afhandel met die verskoning dat die enigste oplossing om die verdeeldhede uit die weg te ruim, sou wees om die bestaande regeringsvorm te verander en die regering op ‘n vaste grondslag te plaas. Op ‘n kommissieraadsitting te Potchefstroom in Januarie 1857 is besluit om die grondwet in werking te stel en is MW Pretorius as president ingesweer.
Die volksvergadering wat vir Oktober 1856 te Lydenburg bepaal was, kon nie deur die Rustenburgse en Potchefstroomse lede bygewoon word nie weens inboorlingmoeilikhede op die wesgrens. Die Lydenburgers het egter op hierdie stadium vergader en omdat die ander geweste van die republiek nie teenwoordig was nie, het hulle nou finaal onder die indruk gekom dat die res niks met hulle te doen wou hê nie en daarom van Lydenburg afskei. Daarom het hulle op hierdie vergadering die ontbrekende aantal lede aangevul en as ‘n selfstandige volksraad opgetree en besluit om dit distrikt onder een afzonderlyk bestuur te brengen.
Hulle het gegrief gevoel omdat die grondwet sonder hul teenwoordigheid deur die kommissieraad te Pretoria afgehandel is en die konsep nie voor alle groepe vir goedkeuring voorgelê is nie. Daarbenewens was hulle bevrees dat aan MW Pretorius as president onder die nuwe grondwet te veel gesag toegeken sou word, want Bührmann het vertel dat Pretorius met geweld als koning over het geheelen land wil regeren en dat ds Van der Hoff deur die hysing van die vierkleur die republiek en sy inwoners as wettige eiendom van Pretorius erken het.
Hulle het dus nog steeds die ou vrees gekoester dat die gesag van die volksraad deur ‘n “eenhoofdige bestuur” en deur die aanname van die grondwet ondermyn sou word en was nie gewillig om die lydende aandeel in staatsake wat hulle sedert die Ohrigstadse tydperk besit het, prys te gee nie. Dit was een van die vernaamste redes dat de bevolking dier plaats zich tot eenen afzonderlyken Staat heeft gekonstitueerd.
Die eerste Lydenburgse volksraad het daarna op 16 Oktober 1856 by die Steenkampsberge vergader, waar die afskeiding ‘n voldonge feit geword het. Op 11 Maart 1857 het hulle hul offisieel verklaar tot De Republiek Lydenburg in Zuid-Afrika en het ‘n grondwet wat hulle al in 1853 self opgestel het met enige wysiginge aanvaar.
Volgens Lydenburg was die onmiddellike faktore wat tot die afskeiding aanleiding gegee het, Smellekamp se vonnis, hulle pogings tot vereniging met die Kaapse sinode wat deur die ander distrikte teëgewerk is, die skorsing van die lede van die Lydenburgse kommissieraad en hul vergeefse pogings om die vonnis weer opgehef te kry, die ander distrikte se onttrekking aan die gesamentlike volksraadsittings en hulle pogings om sonder Lydenburg ‘n nuwe grondwet in te stel.
MW Pretorius het egter nie lank getalm om weer die vriendskapshand aan Lydenburg te reik nie en het hulle in September 1857 uitgenooi om eene verzoening aan te knoopen, waardoor de vroeger bestaande vriend- en broederschap, die zoo ongelukkig gebroken is geworden weder geheeld kon worden. Dit het daartoe gelei dat C Potgieter en HT Bührmann in Februarie 1858 die kommissieraadsvergadering te Rustenburg bygewoon het, waar die grondwet weer hersien is. Die Lydenburgers is in die wysiging van die grondwet tegemoet gekom, met die gevolg dat hulle dit aanvaar het en in 1860 weer met die Suid-Afrikaanse Republiek verenig het.
Daarmee is toe eindelik beëindig wat ons mag noem die “Ohrigstadse tydperk” in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek, dit wil sê die tydperk waarin ‘n minderheidsgroep gekonsentreerd in die Oos-Transvaalse laeveld, eers te Ohrigstad en daarna te Lydenburg, probeer het om die totstandkoming van ‘n behoorlik ingerigte gereëlde bestuur en van ‘n verenigde Transvaalse staat te dwarsboom. Ook is daarmee die grondslae voltooi waarop die Z A R as één sterk verenigde staat kon gedy tot ‘n toonaangewende mag in die ry van Suid-Afrikaanse state en kolonies.