Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om dood te gaan is nie 'n kuns nie; die slegste kry dit reg. Om te lewe is 'n kuns, die beste kry dit nie goed reg nie, sê onse Neelsie. Langenhoven se siening oor hoe moeilik dit is om nie 'n nuttelose lewe te lei nie laat mens onthou hoe die Psalmdigter bid: Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. Om u bevele uit te voer is my hele lewe. Ek het gesê: 'Dit is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.' Ps 119.
VOORTREKKER- PIONIERS (1)
VOORTREKKER-PIONIERS IN OOS-TRANSVAAL
Dr JP Botha
Ek wil in ‘n aantal aflewerings die baie interessante, maar meesal minder bekende geskiedenis vertel van die Voortrekkers se doen en late in Oos-Transvaal. Dit sluit in die verhaal van Hendrik Potgieter en die Trekkers se verhuising na Ohrigstad; hulle tevergeefse pogings om Delagoabaai as hawe te benut; die stryd tussen die Potgieterparty en die Volksraadparty; Potgieter se verhuising na Soutpansberg; die Republiek Lydenburg en die eenwording van die Voortrekkergroepe na die Sandrivierse Konvensie van 1852.
Potgieter verhuis na Ohrigstad (1)
Die bewering dat Andries Hendrik Potgieter steeds na die noorde gehunker het omdat hy in Natal nooit enige heil gesien het nie, aangesien hy dié gebied as nog te na aan die Engelse beskou het, is seer seker oordrewe, maar dit is te alle twyfel waar dat Potgieter dié pionier is wat die republikeinse gebied ten weste van die Drakensberge vir die Voortrekkers gewen het. Dit is hy wat die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier van die naturellekaptein Makwana vir die Voortrekkers geruil het en dit is ook hy wat die Oorvaalse streek van die naturellegevaar gesuiwer en vir die Voortrekkers bewoonbaar gemaak het. So het hy ook na die tweede straftog teen Mzilikazi te Derdepoort die gronde wat tot op dié datum deur die onderdane van die Matebelekoning bewoon was as Voortrekkerbesit geproklameer en die Kaapse owerheid sowel as Mzilikazi daarvan kennis gegee.
Op hierdie gebied, geleë ten noorde van die Vetrivier en ten weste van die Drakensberge, wat hy vir die Trekkers gewen het, het Potgieter blykbaar gemeen om die vrye republiek, wat die groot ideaal van die Trekkers was, te laat verrys. Hy het dan ook van die staanspoor af stappe gedoen om vir hierdie gebied ‘n verbinding met die see te vind, vry van Britse invloed, want hy het goed besef dat sonder ‘n onbelemmerde verkeer met die vrye wêreld oor die see die republiek se ondergang gedoem sou wees.
Aan ‘n eie seehawe het hy aanvanklik nie gedink nie want dit word ons vertel dat dit sy opvatting was dat waar die see is die Engelse ook sou wees. Van die staanspoor af was sy pogings dus daarop gerig om Delagoabaai wat in Portugese besit was te bereik en om deur middel van ‘n ooreenkoms met die Portugese hierdie hawe vir die Republiek te benut. Met die oog hierop het hy in 1836, na verkryging van die grondgebied tussen die Vet- en die Vaalrivier, sy bekende ekspedisie na die noorde gelei om Trigardt en Van Rensburg op te soek ten einde in samewering met hulle deur die Portugese gebied handelsverbinding met die see te soek. Deur die tussenkoms van die Matebele-oorlog kon hy Trigardt se ekspedisie na Delagoabaai nie meemaak nie, maar sy ekspedisie na die noorde was tog nie vrugteloos nie. Dit het hom in Banjailand met Portugese handelaars tussen die naturelle in aanraking gebring en dié feit het glo selfs gedagtes aan moontlike handelsbetrekkinge met Sofala en Inhambane by hom laat ontstaan..
Intussen het die oorloë teen die Matebeles en daarna teen die Zoeloes hom voortdurend besig gehou tot met die slag van Italeni toe hy na die gebied ten weste van die Drakensberge terug is en in die winter van 1938 sy pogings om met die Portugese aan die Ooskus in aanraking te kom, hervat het. Sy broer Hermanus en hyself is gedurende Julie 1938 voort op ‘n verkenningstog in die rigting van Lourenco Marques om die land te verken. Hulle is deur Rhenosterpoort en langs die Olifantsrivier af tot aan Strydpoort. Daarvandaan het hulle die loop van die Olifantsrivier tot aan die Lebomboberge gevolg, maar toe hulle daar berig kry dat die Trigardt-geselskap daar verby is op weg na die Baai, het hulle omgedraai, blykbaar in die hoop dat Trigardt die genoemde handelsverbinding sou bewerkstellig en daarna sou terugkeer om te vertel wat hy uitgerig het.
Die Voortrekkers ten weste van die Drakensberge wat feitlik uitsluitlik bestaan het uit Potgieter se mense, dit wil sê mense wat tot sy trek behoort het, het hulle in die tussentyd gevestig in die gebied wat deur Potgieter verkry is - dit is die hele streek ten noorde van die Vetrivier, insluitende die westelike en suidwestelike Transvaal - en ‘n gereëlde regering het daar net soos in Natal ontstaan. In laasgenoemde streek het die Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius die Zoeloegevaar gedurende 1838 tot 1840 aan bande gelê en die gebied wat deur Piet Retief van Dingaan geruil is, tesame met die streek wat na die vernietiging van Dingaan se mag deur Pretorius geannekseer is, is deur die Voortrekkers gewen en deur hulle bewoonbaar gemaak.
Vir die bestaan van hierdie twee Voortrekkermaatskappye wat albei op demokratiese grondslag bestuur is, was daar geen regverdiging nie en gevolglik is hulle op 16 Oktober 1840 met mekaar verenig onder een sentrale volksraad waarvan die setelplaas Pietermaritzburg sou wees. As kommandant-generaals is benoem Andries Pretorius vir die distrik Natalia, oos van die Drakensberg en AH Potgieter vir die distrik Potchefstroom, dit is die hele gebied ten weste van die Drakensberg, waar daar ook ‘n adjunkraad sou bestaan, volkome aan die volksraad onderhorig om Potgieter by te staan.
Ten gevolge van hierdie verwikkeling het Potgieter nou tydelik nie meer die behoefte gevoel om met die Portugese in verbinding te tree nie, want die Republiek Natalia het mos nou sy eie hawe, Port Natal gehad. Die ongelukkige afloop van die Trigardttrek het, so word vertel, meegewerk om sy belangstelling vir Delagoabaai te laat taan, maar na my mening was dit die feit dat die Voortrekkers nou in staat gestel was om deur middel van hul eie hawe die buitewêreld te bereik, wat by hom die deurslag gegee het.
Die nuwe hawe was doeltreffend en toe kort daarna ‘n berig Potgieter bereik dat ‘n Nederlandse handelsvaartuig, die “Brazilië”, Port Natal aangedoen het, spesiaal deur ‘n Nederlandse maatskappy (Ohrig, Klein en Kie.) afgevaardig om ‘n gereelde handelsverkeer met die emigrante te bewerkstellig, het die kommandant-generaal wes van die Drakensberg blykbaar begin glo dat die besit van ‘n eie seehawe net so voordelig was as om deur die hawens van ander nie-Britse moondhede met die buitewêreld die nodige verbinding te bewerkstellig. Die koms van die skip waarvan die opperstuurman die heer Jean Arnaud Smellekamp was, kantoorbediende van die heer CG Ohrig, was soos bekend, die gevolg van die bemoeiinge van professor UG Lauts, die groot Boerevriend in Holland, in belang van die Voortrekkers, ten gevolge waarvan in 1841 daar ‘n redery of handelsmaatskappy tot stand gekom het wat ten doel gestel het om in die tydelike en geestelike behoeftes van die Voortrekkers te voorsien.
Dit het egter geblyk dat Potgieter tog reg was. Die besoek van die Brazilië het Groot Brittanje se aandag gevestig op die belangrikheid van Port Natal as ‘n lewensaar om die pasgestigte Voortrekkerstaat sterk te maak en toe die Boere weer hulle oë uitvee was hulle verplig om na die wapen te gryp ter verdediging van hul duurgekogte vaderland teen ‘n Engelse troepemag wat in 1842 gestuur is om die hawe te beset en Natal te onderwerp. Die afloop van die stryd wat gevolg het, is welbekend. Groot-Brittanje het geseëvier en die Voortrekkergebied ten ooste van die Drakensberge het met hawe en al in 1843 in Britse hande geval.
Potgieter het, nadat hy verslag ontvang het van dié gebeure van die vyf lede van die adjunkraad wat as volksraadslede na Pietermaritzburg gestuur is om die vergadering van die volksraad by te woon en daar aanskou het hoe die ander lede van die volksraad ‘n akte van oorgawe aan die Engelse onderteken, op 3 Oktober 1843 aan die Engelse gesaghebbendes in Natal kennis gegee dat die gebied ten weste van die Drakensberge hom nie deur die anneksasie getref ag nie en dus nie deur Natal se onderwerping aan Brittanje gebind is nie, maar volkome onafhanklik bly. Potgieter het dadelik weer begin roer om sy ideaal te verwesenlik, naamlik om deur middel van die Portugese hawens verbinding met die buitewêreld te bewerkstellig.
Die bestuur van die gebied ten weste van die Drakensberge is herorganiseer, onder andere deur die daarstelling van ‘n “burgerraad” of volksraad om die adjunkraad te vervang en die Voortrekkerrepubliek was nou inderdaad beperk tot die gebied wat deur Potgieter gedurende die tydperk 1836 tot 1838 verwerf is. Die burgerraad het egter in 1844 aan Cloete laat weet dat die grens van hul gesag tot aan die Oranjerivier strek. Die bewoners van hierdie gebied was egter nie slegs Potgieter-aanhangers of lede van die Potgieter-trek nie. Afgesien van die blanke bewoners van die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier, waaronder ‘n groot aantal was wat Britsgesind was, het daar na die anneksasie van Natal ‘n groot aantal Voortrekkers wat nie onder Britse bewind wou staan nie uit die gebied ten ooste van die Drakensberge na die Voortrekkerrepubliek ten weste van die bergreeks getrek en hulle daar gevestig. Onder hulle was ook die voormalige sekretaris van die oorlede Natalse volksraad, naamlik die heer Jacobus Johannes Burger.
(Word vervolg)