VOORTREKKER-PIONIERS (2)

VOORTREKKER-PIONIERS IN OOS-TRANSVAAL

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Potgieter verhuis na Ohrigstad  (2)

Toe dit duidelik geword het dat Natal permanent Engels sou bly, het ‘n aansienlike getal Trekkers gereed gemaak om hul gewese tuiste vir goed te verlaat om hulle in die omgewing van Winburg en Potchefstroom-Magaliesberg te gaan vestig.  Veral na April 1845, met die aankoms van die Engelse landmetergeneraal in Natal, het die verhuising na die noordweste oor die Drakensberge ‘n algemene verskynsel geword as gevolg van die nuwe bepalings ten opsigte van uitgifte van plase in Natal.  Vir die Trekkers het dit geskyn asof die Britse goewerment deur buitensporig hoë grondbelasting die emigrasie wou help bevorder.  Stuart meen dat goed tweederdes van die Natalse Trekkers hierdie gebied na die anneksasie verlaat het.  Hiervan het die oorgrote meerderheid hulle noord van die Vaalrivier gevestig.

Die aanwesigheid van hierdie Natalse groep, ten minste van die seksie wat onder leiding van JJ Burger gestaan het, was nie bestem om die eenheid van die republiek wes van die Drakensberge te bevorder nie.  Die verantwoordelikheid daarvoor rus, soos later aangetoon sal word, gedeeltelik op hul skouers, maar nie uitsluitend nie.  Die burgerraad het naamlik op sy sitting van 9 April 1844, toe die Drie-en-dertig Artikels, die grondslag van die bestuursinstellings van die republiek wes van die Drakensberge, aangeneem is, sekere bepalings van krag gemaak, wat so vertolk kon word dat van die Natallers verhinder kon word om onbelemmerd ‘n aandeel in die bestuur van die republiek te neem.  Volgens artikels 9 en 10 van die betrokke stuk kon van die gewese Natallers, byvoorbeeld JJ Burger, ‘n aktiewe aandeel in die bestuur van die republiek wes van die Drakensberge ontsê word.

Aanvanklik het daar egter geen moeilikhede ontstaan nie en kon Potgieter onbelemmerd sy aandag wy aan die verlossing van die republiek uit isolasie deur verkryging van ‘n weg na die see oor Portugese gebied.

Reeds in 1843 is ‘n kommissie wat glo deur Potgieter georganiseer is, na Delagoabaai waar hulle tot die ontdekking gekom het dat die vriende van die Voortrekkers in Nederland hulle geensins vergeet het nie, maar dat die Brazilië ‘n tweede maal deur Ohrig, hierdie keer bygestaan deur J Swart en A Kooy, na Natal gestuur is, weer eens met Smellekamp as opperstuurman.  Van die skip self, soos tewens van Smellekamp, het hulle niks gewaar nie, maar wat hulle wel ontmoet het was ds Ham wat met die skip meegekom het, juis as predikant van die Voortrekkers en van hom kon hulle die treurige geskiedens van die tog onderneem.

Die skip het naamlik reeds op 7 Mei 1843 in Port Natal aangekom, maar die Britse owerheid aldaar, van wie Smellekamp wat nog niks van die anneksasie verneem het nie natuurlik niks wis nie, wou hom nie toelaat om van sy lading ontslae te raak en met die Trekkers in verbinding te tree nie.

Die Brazilië moes derhalwe maar noodgedwonge sy stewe na Mosambiek rig en het daarvandaan na Madagaskar geseil en het uiteindelik die Portugese hawe Delagoabaai aangedoen.  ‘n Onderwyser wat daar vir die Voortrekkers aan boord was, ene Martineau, is intussen op see oorlede, en ds en mev Ham het, onderwyl die skip sy reis na Batavië  verder voortgesit het, te Delagoabaai agtergebly in die hoop om op een of ander wyse hiervandaan die Trekkers in die binneland te bereik.  Teëspoed het hulle egter oorval.  Tydens haar bevalling is mev Ham en haar baba albei in Lourenco Marques oorlede, terwyl ds Ham malaria opgedoen het.

Dit was in herdie toestand dat die bogemelde Boerekommissie in 1843 ds Ham in Delagoabaai aangetref het.  Dat hulle baie bly was oor hulle predikant en hom baie graag sou wou saamneem, is natuurlik begryplik maar deur die rampe wat hom getref het, het die dominee nie nou meer sy weg oopgesien om met hulle mee te gaan nie.  Hy wou onder omstandighede maar eerder terug na sy vaderland en die kommissie moes onverrigtersake terugkeer. Van die energieke Smellekamp wat toe op see was, het hulle niks gewaar nie en toe dié weer in Delagoabaai aankom, was hulle reeds weg.

Hier vanuit Delagoabaai waar hy agtergebly het onderwyl die Brazilië met ds Ham aan boord voort is na Kaapstad, het Smellekamp ‘n brief aan die Natalse volksraad gerig wat hulle deur middel van die Zoeloekoning Panda ontvang het en waarin hy hulle meegedeel het dat hy hulle geen militêre hulp kon aanbied nie maar sou meewerk tot hulle ekonomiese opheffing, wat die weg tot staatkundige onafhanklikheid moes voorberei.

Die Natallers was baie bly om van Smellekamp te hoor en het dadelik ‘n kommissie bestaande uit Joachim Prinsloo, Gert Rudolph en ‘n jong man Diederik Bezuidenhout, na Delagoabaai gestuur om hom te spreek.  Hulle het nie alleen met Smellekamp gesprekke gevoer nie, maar ook met die Portugese goewerneur wat aan die hand gedoen het dat die Trekkers Natal moes verlaat en hulle in die gebied agter die Portugese hawens ten noorde van die 25e graad suiderbreedte moes vestig met die oog op toekomstige handelsmoontlikhede,’n gedagte wat vurig deur Smellekamp ondersteun is, wat daarop gewys het dat die Boere dan nie alleen in staat sou wees om met die Portugese handel te dryf nie, maar via Delagoabaai ook met Holland in verbinding kon kom.

Die kommissie het na ‘n rampspoedige terugtog waartydens al hul perde dood is en twee man aan die koors beswyk het, Natal weer bereik.

Die berig dat hierdie Natalse kommissie daarin geslaag het om Smellekamp te spreek, was vir Potgieter ‘n aansporing om weer eens ‘n poging aan te wend om hierdie simpatieke heer uit Holland in die Portugese hawe te probeer bereik.  Ook het hy ‘n ekspedisie noodsaaklik geag met die oog op die daarstelling van ‘n verbinding met die buitewêreld via Delagoabaai, waaraan daar as gevolg van die Britse verowering van Port Natal, ‘n baie groot behoefte was en met die oog op die handel,  want die handel met Port Natal was veels te stadig na sy sin, weens die lang pad waarlangs die transportwaens moes trek.  Vir die bewering van dr Preller dat hy die tog onderneem het om by die Portugese die weg vir ‘n tweede verhuising te gaan voorberei, kon ons geen bewys vind nie.

Hoe dit ook al sy, Potgieter wat op hierdie tydstip in die Rustenburgse wêreld op die plaas Buffelshoek agter die Magaliesberg gewoon het, het sonder versuim byeenkomste laat hou om die mense se sienswyse aangaande die voorgenome ekspedisie te verneem, en in die somer van 1843 het hy die tog onderneem met ‘n geselskap van tagtig Winburgers en Potchefstromers onder bevel van homself, kommandant Mocke en landdros Vermeulen.  Carel Trigardt het hulle as tolk vergesel.

Die geselskap het die pad langs die Olifantsrivier af tot by die sameloop van die Elandsrivier gevolg.  Hulle is met 16 waens deur Rhenosterpoort langs die rivier af, maar in plaas van om links na Strydpoort se kant toe te swaai, het hulle regs gedraai met die doel om in die buurt van Krokodilpoort oor die rivier te kom. Weens milde somerreëns was die Olifantrivier egter onbegaanbaar en alhoewel hulle veertien dae lank daar vertoef het in die hoop dat dit sou afloop, het dit onbegaanbaar gebly.  Gevolglik het hulle met die oog op die malariagevaar in hierdie tyd van die jaar asook die tsetsevlieg, uiteindelik besluit om maar liewer om te draai en die tog in die winter weer te hervat.

(Word vervolg)