Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As kankerpasiënt weet ek nou dat die kuns om positief te lewe niks met geld, duur motors of skoonheid te doen het nie. Die min dae wat voor my lê hou ek net vol liefde en vergifnis vir almal naby my, en ek dank God vir hulle liefdevolle ondersteuning.
VOORTREKKER- PIONIERS (4)
VOORTREKKER-PIONIERS IN OOS-TRANSVAAL
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Potgieter verhuis na Ohrigstad (4)
As leier was Potgieter vir hierdie nuwe groot trek by uitstek geskik want ofskoon konserwatief, koppig en afkerig van inmenging van persone van buite (DW Kruger) volgens die oordeel van een van ons vooraanstaande historici, was hy inderdaad ‘n pionier, ‘n beproefde leier op wie staat gemaak kon word, ‘n man van naam in hierdie verband. Niemand het dan ook beswaar gemaak teen sy leierskap by die verhuising self nie. Daar was egter mense, veral van die nuwe intrekkers uit Natal wat Potgieter net wou gebruik as “trekleier” totdat die verhuising sy bestemming bereik het en hom dan wou uitskakel. Hulle wou hom benut om die trek na die nuwe gebied te organiseer en deur te voer en hom dan later uit sy pos lig en deur iemand anders vervang. Hierdie praatjies het Potgieter ter ore gekom en hom diep verontrus. Hy wou nie graag op sy oudag so’n belediging aangedoen word nie en het van die publiek verlang om hom skriftelik te verseker dat so iets nie sou gebeur nie.
Met die oog hierop is daar op 6 Mei 1845 ‘n vergadering op Potchefstroom gehou waar 114 mense ‘n dokument onderteken het waarin hulle verklaar het dat (wy) ons tans door den band van liefde en getrouwhyd aan elkanderen verbind en AH Potgieter dien tot hiertoe onsen bestierder is geweest en onsen saken heeft bewerksteld, verkies als onssen hoofd Commmandant en bestierder. . . van nu en voortaan so lange het blyken zal te doen gelyk hy tot heeden toe gedaan heeft, om onsen zaken verder te bewerkstellen tot onsen besten. Daar sou van tyd tot tyd deur hulle manne op ‘n raad gekies word wat die wette saam met die hoofkommandant moet handhaaf. Potgieter sou te alle tye in hierdie raad die beslissende stem hê. Alle ander kommandante wat van elders af mag kom, moet hulle onder ons maatskappy onderwerp en geen heerskappy oor ons voer nie.
Dit is van belang om daarop te let dat Jacobus Johannes Burger wat te Ohrigstad die siel van die oposisie teen Potgieter sou wees en nog drie ander Natallers ook die stuk onderteken het.
Of en in hoeverre hierdie dokument Potgieter gerusgestel het, weet ons nie. Hy was egter nie die man wat ‘n saak wat hy eenmaal aangepak het, nie deurgedryf het nie en toe die winter van 1845 aanbreek, het die verhuising begin in groepies waarvan mense van Winburg en Natal glo op die voorpunt was.
Daar word beweer dat sommige van die Trekkers teen hierdie tyd alreeds in so’n mate verarm het, dat hulle geen waens meer besit het nie en per slee moes trek. Hoe dit ook al sy, die trek het plaasgevind.
Die Kruger-broers, Gert en Casper en laasgenoemde se seun Paul wat Potgieter se staatmakers was, het die trek meegemaak maar het spoedig weer na die weste teruggekeer, alhoewel hulle verderaan nog steeds deur dik en dun by Potgieter gestaan het.
Die mense wat uit Pretoria se omgewing afkomstig was het die pad deur Rhenosterpoort (Trigardtspoort) langs die Olifantrivier af gevolg tot by Kommissiedrif en die Trekkers uit Magaliesberg en Potchefstroom is langs die Elandsrivier af en ook deur dieselfde drif, waarna almal die nuwe verblyfsoord vanaf die westekant binnegetrek het. Hulle is Magneetshoogte oor, deur die Steelpoortsrivier en verder langs die rivier af deur Olifantspoortjie, waarvandaan hulle die Spekboomsrivier by De Groote Boom deur is en toe Joubertshoogte uit na die nuwe terrein wat Andries Ohrigstad sou word.
Onderwyl hulle nog op trek was, het die Bapedi-kaptein, Sekwati, te Korenkoppies by hulle gekom en op 5 Julie 1845 ‘n verdrag met Potgieter gesluit waarby hy al sy regte op die grond tussen die Bapedi-vesting in die Loeloeberge en Swaziland in die suide aan die Boere oorgedra het in ruil vir beskerming teen Mswasi. Sekwati het verklaar dat hy voortaan Potgieter se “hond” sou wees, soos hy vroeër die “hond” van Soboesa was.
Hierdie Bakwena- of Bapedi-stam het ‘n aantal jare tevore onder Sekwati se voorvader Tulare suidwaarts oor die Olifantsrivier beweeg en hulle in die Loeloeberge gevestig, maar onderwyl Mzilikazi verslaan is, het Sekwati teruggekeer en die oorblyfsels van die stam weer versamel. Hy het dus behoefte gehad aan die vriendskap van die witman as beskerming teenoor sy vyande.
Magneetshoogte was die voorpos van die nuwe nedersetting, want hiervandaan het verskeie verhuisers begin halt roep om hul nuwe plase aan te lê. Alhoewel alle Trekkers nie tegelyk by die nuwe nedersetting aangekom het nie, het die meeste gedurende Julie 1845 opgedaag, sodat daar teen Augustus 1845 reeds meer as 1 000 persone of ruim 300 huisgesinne in die nuwe gebied gesetel was. Rondom die terrein waar die dorp sou verrys, geleë binne twee weke se reis na die baai en naby die kant van die Drakensbergpasse waarlangs Trigardt gegaan het, kon reeds ‘n groot aantal beeste, perde, skape en waens bespeur word., sodat die gesig sterk aan die vroeëre Voortrekkerlaers herinner het.
Die naam van die nuwe dorp sou Andries Origstad wees, ter ere van Andries Hendrik Potgieter en George Gerhardus Ohrig, die Amsterdamse koopman wat later na Suid-Afrika gekom het en te Kaapstad op 20 Junie 1852 in die ouderdom van 38 jaar oorlede is. Alhoewel Lauts en Stuart beweer dat die dorp gedeeltelik na Smellekamp vernoem is, is dit duidelik dat dit nie die geval was nie, daar Smellekamp se voornaam nie Andries was nie.
Potgieter het vir hom ‘n plaas aan die noordelike grens van die dorp en geleë aan die Dorpsrivier op 2 Augustus 1845 aangeteken en die naam Strydfontein daaraan gegee. Feitlik grensende aan die plaas van Potgieter het Jacobus Burger sy plaas Nooitgedacht, aangeteken en op 6 Augustus 1845 aangelê.
Die verhuising na Origstad was egter nog nie voltooi nie want groepies trekkers uit Natal wat reeds aan die Vet- en Modderrivier gestaan het en sommige by die Vaalrivier en ander wat intussen by Magaliesberg aangekom het, het ook gereed gemaak om na die nuwe hoofsetel, van die Voortrekkerrepubliek te verhuis.
Die gemeenskap te Ohrigstad het die benaming Maatschappy der Zuidhollandsche Emigranten binnen de 26ste Graad ZB, achter de Portugeesche Havens aangeneem en Potgieter en sy mede-Trekkers het baie van hierdie nuwe verblyfsoord verwag. Afgesien van die handelsmoontlikhede met Holland en die Portugese, het hulle gehoop dat die veeboerdery hier suksesvol sou wees en dat tabak en koring goed sou aard. Die omgewing was ‘n natuurskone oord, deur berge ingesluit en waterryk, met ‘n half-tropiese klimaat, volop hout, goeie weiveld en vrugbare grond..
Uit ‘n militêre oogpunt gesien, sou Origstad, wat feitlik van die begin af die huidige distrikte Middelburg, Lydenburg, Carolina en Ermelo ingesluit het, ook goedgeleë wees want daar was geen swart stamme in die onmiddellike nabyheid teenwoordig nie aangesien die Swazies en die Zoeloes die omgewing daar skoongemaak het. Die Bapedi het wes van die Steelpoortrivier gewoon, terwyl die oorblyfsels van die Swazimag suid van die Komati was. Die Kaalswartes en Knopneuse het in die berge oos van Caspersnek gewoon en verder na die laeveld het Manukozi met sy Zoeloes en oorblyfsels van Sjangaan en Knopneuse huisgehou.
Gedurende die eerste maande van die bestaan van die nedersetting het alles dan ook ongetwyfeld voor die wind gegaan, want op 27 Oktober 1845 skrywe Potgieter aan landdros Visagie op Potchefstroom dat die toestand op Origstad nog rustig en stil is. Hulle het goeie reëns gehad, die veld is mooi en die beeste vet en hulle vind die streek tot sover toe baie gesond.
Hierdie rooskleurige toestand sou egter nie voortduur nie.
(Vervolg)