VOORTREKKER-PIONIERS (5)

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Vestiging van die Ohrigstadse gemeenskap  (1)

Om aan die besluit wat op 6 Mei 1845 deur die vergadering te Potchefstroom geneem is, uitvoering te gee en klaarblyklik ook omdat die onmiddellike handhawing van wet en orde noodsaaklik was, is daar op 30 Julie 1845 op die nuwe dorp ‘n byeenkoms gehou om die regering weer te reorganiseer en ‘n nuwe volksraad op te rig.  Die eerste nege lede wat deur die publiek gekies is, het die volgende dag vergader om die ampseed af te lê.  Casper Kruger het as president of voorsitter gedien en Jacobus Burger as sekretarius, terwyl Potgieter self ook as volksraadslid ingesweer is.

Tevore is reeds ‘n skrifstuk  Regulatien en Instruktien voor den Volksraad van het volk aan Andries Orieg Stad en omliggende land opgestel, wat aan die lede tydens die inswering voorgelees is.

Hierdie Regulatien en Instruktien is op enkele wysigings en ‘n paar toegoegings na ‘n afskrif van die Regulatien en Instruktien wat vanaf 1838 in die Natalse Republiek gegeld het. Die vernaamste wysigings het op die samestelling van die raad betrekking gehad.  Dit sou uit 22 persone bestaan en nie uit 24 soos in Natal nie en sou deur die publiek gekies word.  Die prosedures en besluite het heelwat afgewyk van die voorskrifte in die Natalse regulasies.

Dit skyn asof die veranderings op die aandrang van die Potgietermense gemaak is, klaarblyklik om te voorkom dat Engelsgesinde intrekkers (uit Natal en elders) tot volksraadslede verkies sou word en ook om te verseker dat vakatures gereeld in die raad gevul sou word.  Aan die einde van elke jaar sou die helfte van die raadslede – deur loting aangewys – uittree. Die res moes dien tot die volgende verkiesing.  Die voltallige raad sou voorlopig nog net uit agt persone bestaan.

Die land moes in veldkornetskappe verdeel word, waaruit ook die raadslede verkies sou word.  Elke raadslid sou ‘n ernstige ampseed moes aflê.  Daar is bepaal dat alle besluite deur driekwart van die lede se stemme beslis sou word.  ‘n Belangrike bepaling is gemaak dat geen wette wat nie die goedkeuring van die publiek wegdra, gemaak sou word nie.  ‘n Kommissieraad bestaande uit vyf volksraadslede, is in die lewe geroep om spoedeisende sake af te handel.

Die nuwe Volksraad het op 1 Augustus 1845 sitting geneem en sy werksaamhede begin.  Die nege lede was:  Casper Kruger (voorsitter),  AH Potgieter,  JGS Bronkhorst,  JL Venter,  Dawid Snyman,  DS Joubert, TA van der Walt, PS Snyman, en die moeilikheidmaker  JJ Burger as raadslid en sekretaris.

By hierdie eerste sitting het ‘n netelige vraagstuk opgeduik.  Die hoofkommandant het naamlik sy aanstelling as kommandant en algemene “bestierder”  deur die publiek van Potchefstroom van 6 Mei  aan die raad voorgelê en versoek dat dié liggaam dit bekragtig.  Hierteen het eenigen leden beswaar aangeteken.  Hulle houding was dat die aanstelling slegs van krag was gedurende die verhuising self en (om)dat er weder een Volks Raad bestaat, geen hoofdbestierder zal bestaan die in gezag boven de Raad zal zyn d(us) die aanstelling besschouwde in zo lang (van) kracht te zyn voor dat de Vol(ks) Raad was opgerigt, dus nu ophoude(n) moet, en geen hoger regering onder onze maatschappy zal bestaan dan (de) Volks Raad. Die vereiste driekwart meerderheid vir die bekragtiging van Potgieter se aanstelling as “bestierder” kon nie verkry word nie maar die raad het geen onjectie zyn Ed ho(oft) comm. zal blyven. Dit was ‘n amp waarvan die bevoegdhede nie beskryf was nie.

(Vervolg...)