Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons liewers sterf omdat ons die waarheid praat, as om te leef en oor leuens te swyg!
VOORTREKKER-PIONIERS (8)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Vestiging van die Ohrigstadse gemeenskap (4)
Ofskoon tot op dié tydstip die een groot doel wat die emigrante hulle gestel het naamlik die daarstelling van ‘n handel met Delagoabaai, nie verwesenlik kon word nie, het die emigrante nogtans nooit gebrek ondervind aan dié handelsware wat vir hulle lewensonderhoud en voortbestaan noodsaaklik was nie. Smouse wat dié goedere uit Natal en Kaapland gebring het, was daar voldoende. Vanaf die vroegste dae van die Groot Trek het handelaars vanuit Kaapland handelstogte na die Voortrekker-gebied onderneem en aanvanklik, solank die muntgeld wat die Trekkers besit het nog nie uitgeput was nie, veral in Natal goeie sake gedoen.
Hierdie handelaars, wie se vernaamste oogmerk was om soveel wins as moontlik te maak, het uiteindelik toe die muntgeld skaars geword en die koopkrag van die Voortrekkergemeenskap afgeneem het, ten gevolge waarvan wapens en ammunisie feitlik nog die enigste handelsware was wat ‘n redelike wins kon afwerp, ‘n vloek vir die gemeenskap geword. Van hulle het naamlik ter wille van ‘n groot wins nie geskroom om wapens en ammunisie ook aan die inboorlinge te verkoop nie en het hulle selfs beywer vir die anneksasie van die Voortrekkergebied deur die Britse owerheid, slegs met die oog op beter handelsgeriewe en meer winste! Om die Britse owerheid ten gunste van anneksasie te stem, het hulle onder ander die storie versprei dat die inwoners van Ohrigstad slawerny pleeg en dat self transporte by die slaweverkopings uitgereik word.
Hierdie wanpraktyke van sommige van dié handelaars en smouse het die Voortrekkers, veral dié in die Ohrigstadse wêreld, erg ontstem en hulle met ‘n diepe wantroue vervul, nie alleen teenoor die handelaars nie maar jeens alle vreemdelinge wat die Voortrekkergebied binnegedring het en selfs teenoor vreemde jagters wat die gebied enkel en alleen besoek het met die doel om olifante en ander grootwild te skiet, ‘n voorreg wat die volksraad uitsluitend vir sy eie burgers gereserveer het.
Dié wantroue het reeds voor die verhuising na Ohrigstad in so’n mate bestaan dat die gemeenskap hom daarteen verset het om enige uitlander toe te laat om die verhuising mee te maak. In dieselfde gees het Carel Trighardt en sy makkers tydens die bogenoemde handelsreis na Lourenco Marques geweier om ‘n sekere Adolph Coqui, wat hom op hierdie tydstip te Ohrigstad bevind het, die kommissie te laat meemaak.
Om aan die ondermynende bedrywighede van dié vreemdelinge perk en paal te stel, het die volksraad van Ohrigstad in Januarie 1846 besluit om JL du Preez aan te stel om die deurtog van alle vreemde handelaars aan die Olifantsrivier te kontroleer. Aan hom is die reg verleen om hulle te keur. Hy moes aan elke goedgekeurde handelaar skriftelike toestemming verleen om die handelstog na Ohrigstad voort te sit en moes tewens goedgekeurde handelslisensies teen 2 pond per wavrag negosie aan sodanige handelaars uitreik. Vir sulke goedgekeurde handelaars sou dit egter ten strengste verbode wees om enige handel met inboorlinge te dryf.
Handelaars wat dié gebod oortree of met ondermynende bedrywighede teen die Voortrekkergemeenskap voortgegaan het, is swaar gestraf. Dit was byvoorbeeld die geval met Joseph McCabe, wat op hierdie tydstip met ‘n paar vragte handelsware in die omgewing van Potchefstroom sake gedoen en daarna sy skrede na Ohrigstad gewend het. Omdat die owerhede te Potchefstroom egter agterdog gekoester het dat hy aan die naturellekaptein Sigela vuurwapens in ruil vir ivoor verskaf het, het kommandant Delport geweier om hom toestemming te verleen om ‘n tog na Ohrigstad te aanvaar. McCabe of Makeep, soos die Boere hom genoem het, het egter eie reg gebruik en teen die middel van Februarie 1846 te Steelpoort aangekom, waar Du Preez hom voorgekeer en verbied het om voort te reis.
McCabe is nou ook deur Du Preez by die volksraad daarvan aangekla dat hy die swart bediendes teen die emigrante opgestook en olifante langs die Olifantsrivier gejag het, waarop die raad sy gevangeneming gelas het, maar Du Preez het hom intussen vanaf Steelpoort na Mooirivier teruggestuur, sodat die volksraad alleen op ‘n wa en twee vragte goedere van McCabe wat agtergebly het, beslag kon lê.
In die beskuldigde se afwesigheid is hy vir sy oortredings met 500 Rds beboet, wat bygebring is deur sommige van McCabe se goedere waarop beslag gelê is, te verkoop. Omdat daar later tog geen definitiewe bewyse gelewer is dat McCabe werklik vuurwapens aan inboorlinge verruil het nie, is tydens ‘n provisionele raadsitting op 14 Mei 1847 besluit om die res van die goedere aan hom terug te besorg.
‘n Ander geval waar die volksraad verplig was om ‘n handelaar te vonnis, was dié van ‘n sekere Giesing wat gedurende die loop van die selfde jaar daarvan aangeklaag was dat hy hem bedient heef van eerrovende beschuldigingen zoowel van zommeege uit het publiek dan wel de geheele algemeen. Hy is ‘n boete van 666 Rds opgelê wat aan JJ Burger uitbetaal is omdat laasgenoemde eintlik die laaste persoon was wat onder Giesing se beledigings gebuk moes gaan. Burger het hierdie bedrag as ‘n fonds vir die oprigting van ‘n gevangenis aan die raad terugbesorg.
Teenoor bekende handelaars soos Alexander Davidson wat nie die gemeenskap se wette oortree het nie, het die volksraad egter welwillend opgetree en hom selfs met die invordering van skuld bygestaan.
Die houding van die volksraad ten opsigte van hierdie vreemdelinge wat die republiek ondermyn en die naturelle opgestook of van wapens voorsien het, moet verklaar word uit die vrees wat daar deur die Boere gekoester is vir ‘n aanval van die omliggende naturellestamme wat sedert die vestiging van die emigrante te Ohrigstad ‘n steeds dreigender houding teenoor die Boere aangeneem het.
In die eerste plek was daar Sekwati, die naturelleopperhoof van wie Potgieter die terrein verkry het waarop Ohrigstad aangelê is. Toe die Boere hulle aanvanklik in die nuwe gebied gevestig het, was hierdie naturelleopperhoof hulle heeltemal vrienskaplik gesind. Wellig het hy nog onthou dat dit Potgieter was wat die magtige Silkaats se nek gebreek het en daarom het hy ook nie gehuiwer om die betrokke gebied aan die hoofkommandant af te staan nie. Later moes hy egter tot die ontdekking kom dat baie Boere teen Potgieter gekant was en die reg van die gemeenskap op die gebied in twyfel getrek het omdat dit uitsluitend berus het op die persoonlike afstand daarvan aan Potgieter deur Sekwati.