Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons liewers sterf omdat ons die waarheid praat, as om te leef en oor leuens te swyg!
VOORTREKKER-PIONIERS (9)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Vestiging van die Ohrigstadse gemeenskap (5)
Die Burger-aanhangers in die volksraad en ander persone het sedert Oktober 1845 daarop aangedring dat die grond opnuut weer van Sekwati aangekoop en die transaksie skriftelik bekragtig moes word. Alhoewel Potgieter ongetwyfeld hierin ‘n aanslag op sy persoonlike gesag moes gesien het, het hy tog onderneem om deur middel van ‘n baster, Doris Buis, Sekwati per ossewa te laat haal ten einde die raad se voornemens uit te voer. Buis het onverrigtersake teruggekeer en verklaar dat Sekwati baie agterdogtig was en nie kon insien hoe hy die grond waarvan hy reeds klaar afstand gedoen het weer ‘n tweede keer kon verruil nie.
Die raad het die saak hier tydelik laat berus totdat hulle in Julie 1846 ‘n oplossing gevind het in die koop van ‘n stuk grond "gelegen van Ohrigstad daar noordwaarts tot aan de Olifants Rivier op, en af tot aan de lyn van Delagoabaai, suidwaarts tot aan de Krokodil Rivier, weswaarts tot aan Elandsspruit en tot aan de 26ste graadlyn, oostwaards tot alwaar Krokodil Rivier in Kommatie loop, en tot aan de lyn van Delagoa Baai," van Masous die Swazi-opperhoof, vir die koopsom van 100 beeste.
Hierdie twyfel by die Boere self oor die eiendomsreg van die maatskappy op die grond wat deur Potgieter van Sekwati verkry is, het ongetwyfeld daartoe meegewerk om Sekwati se vertroue in die Boere te ondermyn en hom steeds astranter teenoor hulle te stem. So onuitstaanbaar het sy houding geword dat die volksraad mettertyd planne in werking gestel het om ‘n kommando teen hom op die been te bring.
Om die dorp teen moontlike aanvalle te beveilig, moes elke veldkornet toesien dat net die helfte van sy manskappe op ‘n keer die dorpsgebied verlaat om weiding vir hul vee te gaan soek. Hulle mog nie verder as een dagreis van die dorp gaan nie, sodat hulle spoedig in tye van gevaar weer by die geledere van die verdedigers kon aansluit.
In die tweede plek het ‘n nagenoeg kroniese staat van vyandskap tussen die Zoeloes en die Swazies wat vyande was en gedurig strooptogte in mekaar se gebiede uitgevoer het, die vrede en rus van die gemeenskap bedreig. Hierdie rusies het sulke afmetings aangeneem dat Potgieter verplig was om die Zoeloe-opperhoof Panda, wat eers probeer het om sy hulp teen Rapoza, die Swazi-opperhoof te bekom en hom later weer verwyt het dat die blankes die Swazies steun, ernstig te waarsku om nie met sy rusies teen die Swazies op blanke gebied kom oortree nie. Panda het hom nie daaraan gesteur nie en die wedersydse strooptogte het voortgeduur en soveel onrus verwek dat die volksraad opsluit gedwonge was om persone wat volgens hul insiens te ver op die buitewyke van die nedersetting gewoon het binne nader-vasgestelde grenslyne te laat terugtrek, daar men niet weet wat nog gebeuren kan door de swarte.
In die derde instansie het die kleiner naturellestammetjies onder die hiel van Manukozi onrus verwek en ‘n wesenlike gevaar vir die blanke gemeenskap begin word. Vroeg in 1846 is voor die volksraad getuienis gelewer dat van al hierdie stamme nog net die opperhoofde Modjadji, Tjarie en Gananwa die Trekkers enigsins goedgesind was maar dat Manukosi hulle optrede voorskryf. Verder was die kapteins Rasithuu, Matshaba en Moletse saam met Manukosi die Boere volslae vyandiggesind. Moletse het ‘n impi bymekaar gemaak om alle blanke jagters uit die streek waarop hy blykbaar aanspraak op gemaak het, te verdrywe. Laasgenoemde swartes het byna daarin geslaag om veldkornet Jan Valentyn Botha en Piet Potgieter, seun van die hoofkommandant, wat in die veld van Gananwa olifante gejag het, vas te keer en om die lewe te bring. Berigte dat daar alreeds sameswering tussen Manukozi en Rasithuu aan die gang was in ‘n poging om die Trekkers uit Ohrigstad self te verdryf, het die gemoedere gaandeweg meer onrustig gestem.
Los groepies naturelle het begin om wederregtelik die blanke woonbuurt binne te dring en onder hierdie omstandighede het die raad besluit om hul plan om die inwoners op die voorposte van die nedersetting nader te bring, uit te voer en onder bevel van die veldkornette in laers te laat saamtrek. Geen onderdaan van enige kaptein sou meer toegelaat word om gewapend tussen die blankes rond te loop nie. Alle burgers ontvang volmag om oortreders se wapens af te neem en by tekens van onraad hulle aan die gereg oor te lewer.
Hierdie maatreëls het nie gehelp nie. Met verloop van tyd het individuele kapteins, namate die getalsterkte van hul onderdane aangegroei het, al hoe astranter teenoor die blanke gemeenskap begin optree, soos in 1848 die geval met Maleo was, wat hom aan perdediefstal skuldig gemaak het terwyl ook die berig dat hy reeds op hierdie stadium 28 gewere in sy besit gehad het, die volksraad bereik het. ‘n Kommando is hierna op die been gebring met die doel om Maleo tot zijn plicht te brengen, wat dan ook met sukes uitgevoer is.
Intussen het die raad ook inligting ontvang dat Sekwati nog meer gewere as Maleo in sy besit gehad het en hulle was dus genoodsaak om die onwettige verspreiding van gewere en ammunisie onder naturelle deur middel van streng maatreëls die hoof te bied.
Nog ‘n naturelleopperhoof met wie onheil gedreig het was Potgieter se ou vyand, Mzilikazi. Wel was hy ver weg anderkant die Limpopo en het hy ook geen poging aangewend om terug te kom of die Boere aan te val nie, maar berigte het Ohrigstad bereik dat van die blanke kinders wat met die Liebenberg-moord in 1836 deur hom weggevoer is, nog onder sy hiel in Matebeleland gelewe het Hierdie berigte het Potgieter ontstem. Die gedagte dat blankes onder die dwinglandy van naturelle gelewe het, wellig nog as slawe, was vir Potgieter en natuurlik ook die familiebetrekkinge van dié ongelukkiges, in sonderheid JGS Bronkhorst wat ‘n goeie vriend van Potgieter was, ondraaglik. Die hoofkommandant het derhalwe gedurende die eerste helfte van 1846 planne beraam om ‘n veldtog teen Mzilikazi te organiseer ten einde dié blankes te gaan haal.
Binne die tydsbestel van drie jaar het die aanvanklike vooruitsigte om ‘n vreedsame bestaan in die nuwe gebied te kom voer, dus plek gemaak vir onrus en onsekerheid. Die mense is in hul verwagtinge teleurgestel en stadigaan het ‘n neiging posgevat om terug te trek, veral by die ondersteuners van AH Potgieter, wat soveel jare in Wes-Transvaal gewoon en nog eiendom daar besit het. Gevolglik is Potgieter se aanhang in Ohrigstad geleidelik verswak. In sy stryd om hom te handhaaf teen die nedersetters uit Natal onder aanvoering van JJ Burger, die sogenaamde “Volksraadsparty”, het dit hom op die ou end duur te staan gekom. Oor hierdie stryd word in die volgende aflewering breedvoerig uitgewei. . .