VOORTREKKER-PIONIERS (10)

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Die skeuring in die gemeenskap  (1)

In die vorige hoofstuk het ons aangetoon dat die welsyn van die Ohrigstadse gemeenskap met verloop van tyd ernstig deur veral die naturellegevaar bedreig is.  Niks het dit egter soseer in gevaar gestel as die verdeeldheid wat daar onder die inwoners bestaan het en wat daagliks groter afmetings aangeneem het nie.  Ons het reeds aangetoon dat diegene wat hulle in Ohrigstad kom vestig het inderdaad uit twee groepe bestaan het, naamlik ‘n groep wat altyd wes van die Drakensberge, veral in Wes-Transvaal gewoon het en wat sterk ondersteuners was van die baanbreker in daardie gebied, naamlik Andries Hendrik Potgieter, en ‘n groep intrekkers vanuit Natal wat onder leiding van JJ Burger, eertydse sekretaris van die ou Natalse volksraad,  daardie volksraad in die Ohrigstadse gebied wou laat herleef.

 Aanvanklik het albei hierdie partye genoeë geneem met die gesag van die ander en het hulle oënskynlik mooi saamgewerk.  Spoedig egter het daar twis tussen die twee partye ontstaan.  Die “Volksraadsparty” wou die gesag van die hoofkommandant aan bande lê omdat dit ingedruis het teen hulle opvatting van demokrasie dat alle bestuursaangeleenthede deur die volksraad behartig moet word, terwyl die “Potgieter-party” geensins van plan was om hul leier afstand te laat doen van die bestuursfunksies wat hy altyd namens hulle uitgeoefen het nie.  So het gaandeweg by albei partye die gedagte ontstaan om die gesag van die teenparty te verontagsaam en uiteindelik te vernietig.

Kentekens van die botsing was reeds vroeg in 1846 duidelik sigbaar.  Hans Botha wat op 22 Januarie 1846 voor die volksraad gedaag is om te verklaar waarom hy geen raad wil erken nie,  het as rede aangevoer dat sommige lede van die raad wat van Natal afkomstig is, na die oorgawe aan die Engelse aldaar hulle gronde verkoop het en daarom deur hom as Britse onderdane beskou word.  Jacobus Burger het hieroor baie gekrenk gevoel en het gekla dat Botha en baie ander persone wat nie die gesag van die volksraad wil erken nie hun verblyf by den Hoofcommt. Hebben.

Hy en sy groep het nou daarop aanspraak gemaak dat hulle op grond van die feit dat hulle ten gunste van bestuur deur die volksraad was, inderdaad voorstanders was van beskawing, wet en orde, dinge waaraan die hoofkommandant en sy mense nie meer bewoond sou wees nie, terwyl die Potgieteraanhangers aan die anderkant die Burgergroep as Engelsgesind beskou het en hulle selfs bestempel het as Britse onderdane wat nie die heil van die Voortrekkerrepubliek gesoek het nie. Die feit dat tydens ‘n dansparty ‘n aantal Burger-ondersteuners blykbaar in dronkmansroes sou uitgeskreeu het:  “Hoera! Port Natal bo en Andries Ohrigstad onder!” was vir hulle ‘n duidelike bewys hiervan.

In Junie 1846 het dit tot ‘n uitbarsting gekom toe die landdros van Ohrigstad blykbaar op aandrang van ’n aantal inwoners van die omgewing wat nie van Pogieter gehou het nie, aan veldkornet Abram Duvenhage opdrag gegee het om die handelaar Henry Hartley, wat die vereiste vergunning van veldkornet JL du Preez gekry het om in die Ohrigstadse gebied te kom handel dryf en ook die voorgeskrewe lisensiegeld betaal het, te belet om na die plaas van die hoofkommandant te gaan.

Waarom dié ongewone stap deur die landdros gedoen is, is nie uit die beskikbare dokumente af te lei nie en Potgieter, wat natuurlik daardeur diep beledig is, het ook nie daaroor navraag gedoen nie.  Hy het Duvenhage gelas om toe te sien dat Hartley ongehinderd toegelaat moet word om na hom toe te kom op sy plaas Strydfontein, waar hy ‘n hoeveelheid handelsware van hom vir ivoor wou ruil ten behoewe van ‘n aantal hulpbehoewendes in die gemeenskap. Duvenhage het verkies om in hierdie geval liewers die bevel van sy oom, die hoofkommandant, te gehoorsaam as dié van landdros Grobler.

Hiermee was die vet in die vuur.  ‘n Aantal persone, lede van die Volksraadsparty,  het ‘n wydlopige dokument by die volksraad ingedien, vol klagtes oor Potgieter se “verregaande onverskillige handelwyse.” In die eerste plek word beswaar gemaak teen sy optrede in verband met die Hartley-geval en is hy daarvan beskuldig dat dit hom meer om die welsyn van die Engelsman as om dié van die hele gemeenskap te doen was. Die klag het verder gelui dat hy soos ‘n alleenheerser gehandel het en hom gesag aangematig het waarop hy nie geregtig was nie.  Tog moet onthou word dat Potgieter alleen teen die wense van ‘n aantal burgers gehandel het en geensins teen enige volksraadsbesluit nie.  Volgens die klagte ontvang hy gedurig olifantstande as geskenke ten nadele van die staatskas en is die gebrek aan werksvolk inderdaad aan sy handelwyse te wyte.  Hy sou ook onwillig wees om die grondgebied van die republiek van Sekwati aan te koop, is wederregtelik besig om ‘n ekspedisie teen Silkaats te beplan en het die staatskas met minstens 300 Rds skade berokken deurdat die plaas wat hy vir homself laat aanteken het vir hierdie som aan iemand anders verkoop kon gewees het.

Die klagskrif wat deur veldkornet Johannes Steyn ingelewer is, is op die volksraadsvergadering van 8 Junie 1846, waar tien lede teenwoordig was, voorgelees, waarop Potgieter verklaar het dat aangesien hy as ‘n verraaier beskou word hy as lid van die volksraad bedank en voortaan sy mense onder sy eie beskerming sou neem.  Hy sou die klagskrif ook later opeis.

Die gemoedere het onstuimig geraak en die vergadering is meteens verdaag want saam met Potgieter het al die aanwesige lede met uitsondering van Burger self die raadsaal in die harwar wat ontstaan het, verlaat.  Sewe van die lede wat Potgieterondersteuners was, tet twee dae hierna eweneens hulle bedanking as lede van die volksraad ingedien.  Hulle was van mening dat Jacobus Burger en Johannes van Rensburg die opstellers van die klagskrif was, met die bedoeling om Potgieter uit sy pos te lig en deur Van Rensburg te vervang.

Weens die krisis in die volksraadsvergadering was dit vir Potgieter uit die aard van die saak onmoontlik om goedkeuring van die raad ten opsigte van die voorgenome ekspedisie teen Silkaats, wat as een van die griewe genoem is, te verkry.  Gevolglik het hy nou besluit om dit op eie verantwoordelikheid aan te pak, want hoewel die volksraad nog nie ontbind was nie, het dit weens dié krisis fetlik opgehou om te fungeer.  Daarom het Potgieter op 13 Junie, voor sy vertrek, eers ‘n tydelike of provisionele raad aangestel om sake in sy afwesigheid te behartig.

Hy het intussen ook reëlings getref om die publiek op 20 September by die huis van Gert Bronkhorst byeen te roep ten einde ‘n geregshof saam te stel om die bestaande geskille te ondersoek en om reëlings vir die toekomstige bestuur van die republiek te tref.

Vir die hoofkommandant en sy volgelinge het die volksraad dus opgehou om te bestaan.  Burger en sy aanhangers het egter nie met dié toedrag van sake akkoord gegaan nie en het ‘n vergadering vir 14 Augustus belê ten einde die ledetal van die volksraad weer aan te vul, waarop Potgieter hulle dit verbied het, kragtens die mag wat aan hom op 1 Augustus verleen is naamlik dat hy  beneevens de verdere leeden van den Volksraad zal uitmaken de hoogste gezag en bestier dezer volksplanting en dat hy ook die reg gehad het om ten allen tyden alleen een Raad op te roep indien Zyn Ed het noodzakelyk oordeelt. Daarom het hy hulle aangeskryf om op 20 September met die klagskrif teenwoordig te wees, wanneer alle griewe teen die hoofkommandant behandel sou word.

Nieteenstaande die verbod van die hoofkommandant het Burgers tog die vergadering gehou, maar omdat die byeenkoms slegs deur 51 persone bygewoon is, kon daar maar net vier nuwe lede bygekies word om die totale ledetal van die volksraad weer op 9 te staan te bring, wat onvoltallig en geensins verteenwoordigend van die gemeenskap was nie.  Daarom het Burger probeer om die ontbrekende getal op hulle volgende vergadering van 1 September 1846 aan te vul, dog só min lede van die volksraad het opgedaag dat die bestaande getal volksraadslede nie uitgebrei kon word nie.

Dit blyk dus duidelik dat die ondersteuning  wat die volksraad van die kant van die publiek teen die einde van 1846 geniet het, maar klein was en tot aan die einde van 1846 het dit so gebly, sodat die raad slegs in naam bestaan het. Dit het die Burger-groep egter nie belet om ‘n verbete stryd teen die nuwe maatreëls van die hoofkommandant te loods nie.