Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Politiek is nie ʼn vuil ding soos mense beweer nie, maar ʼn heilige saak. Dis die sinvolle ordening van ʼn gemeenskap ten einde mense in vrede en geregtigheid te laat woon en werk. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor.14:40).
VOORTREKKER-PIONIERS (13)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Die skeuring in die gemeenskap (4)
Ofskoon die hoofkommandant hom oënskynlik nie veel aan die lasterpraatjies gesteur het nie, het sy aanhangers soos JFS Tredoux ook nie geaarsel om die volksraad steeds by die publiek in ‘n slegte lig te stel nie, met ‘n ruime mate van sukses. Só min ondersteuners het die raad sedert die “vrede” geniet dat sy ledetal nooit weer na meer as 16 uitgebrei kon word nie. Die praatjies van persone soos JFS Tredoux, as sou die raad die publiek verraai het, het die aansien en gesag van die volksraad sodanig laat kwyn dat dit later moeilik geword het om kandidate vir die raadsverkiesings te vind. Gedurende die laaste dae van die bestaan van die volksraad te Ohrigstad, het lede selfs begin weier om langer diens te doen as gevolg van periodieke beledigings wat hulle van persone uit die publiek tydens sittings moes verduur.
Vir Potgieter was hierdie getwis hoogs onaangenaam. Hy het hom egter stil gehou en in afwagting van Smellekamp hom gereed gemaak om ‘n ekspedisie na die noorde te onderneem. Hierteen het die volksraadsparty sterk beswaar gemaak. Beïnvloed deur gerugte as sou die Zoeloes en Swazies besig wees om nie ver van Ohrigstad af nie mekaar aan te val ten einde ‘n ou struweling te besleg en dat blankes ook in die gedrang kon kom, het hulle Potgieter verwyt dat hy met sy ekspedisie ‘n verwoesting op hulle wil laat neerkom deur hulle as prooi aan ‘n wreedaardige nasie oor te lewer.
Die hoofkommandant het hierop sy beplande ekspedisie ‘n rukkie uitgestel en daarna op ‘n tog na die noorde vertrek, wat twee maande sou duur in ‘n poging om ‘n beter handelspad na Inhambane te vind.
By sy terugkeer te Ohrigstad aan die einde van September 1847 was hy teleurgesteld om te bevind dat Smellekamp nog nie opgedaag het om die geskille te besleg nie. Hy het dan nou ook ‘n brief aan hom gerig waarin sy kant van die saak wat die ongelukkige skeuring betref, uiteengesit is en waarin die vurige hoop uitgedruk word om hierdie Hollander spoedig alhier in persoon te zien, sodat deur sy verstandige raad en tusschenkomst, alles tot genoegen zal ten einde loopen.
Hierna het hy ‘n reis na Potchefstroom en Magaliesberg onderneem om vas te stel watter en hoeveel mense nog by hom staan en om opnuut sy aanspraak op die grondgebied van Winburg en Potchefstroom te bevestig. Laasgenoemde maatreël is genoodsaak deur die feit dat kommandant Jan Kok van die Vrystaat, wat hom intussen op Potchefstroom kom vestig het, in samewerking met JH Visagie, verklaar het dat Potgieter van hierdie gronde afstand gedoen het.
Daar is tekens dat hierdie rondreis van Potgieter in sy ou geweste geen segetog vir hom was nie want nadat hy sy sending voltooi het, het HS Lombard, landdros van Vryburg aan die Volksraad te Ohrigstad geskrywe dat die mense niks met Potgieter te doen wou hê nie en onwillig was om wette te gehoorsaam wat deur hom uitgevaardig is. Die hoofkommandant was egter seker dat ten minste nege-tiendes van alle emigrante hulle op hierdie tydstip nog aan sy kant geskaar het.
Hoe dit ook al sy, toe Potgieter weer te Ohrigstad aankom en daar nog geen teken van Smellekamp was nie, het hy hom begin gereed maak om Ohrigstad te verlaat en met sy volgelinge na Zoutpansberg te trek, alwaar ‘n nuwe dorp aangelê sou word.
Dit was vir hom duidelik dat so lank as wat daar twee regerings wat mekaar vyandiggesind was op dieselfde bodem bly voortbestaan het, daar geen hoop was op vrede en vooruitgang nie. Inteendeel, in plaas van te verminder, het die twis steeds toegeneem. So byvoorbeeld was Potgieter onmiddellik na sy terugkeer van Potchefstroom genoodsaak om die volksraad te belet om plase van sy volgelinge te konfiskeer en te verkoop en die lede van dié party selfs te waarsku om nie die swartes van die omgewing teen hom op te stook nie. Die eerste het hy gedoen na aanleiding van persone soos JJ Roos, wat die raad beskuldig het dat hulle sy plaas wederregterlik verkoop het om hulle luije buiken te vul met dezelfve, en die laasgenoemde na aanleiding van die houding van die volksraad, wat so ver gegaan het dat hulle op grond van ‘n gerug as sou Potgieter van plan wees om Sekwati te gaan aanval, nie alleen heftig daarteen geprotesteer het nie, maar selfs besluit het om Sekwati te gaan help indien dit sou gebeur.
So het die Ohrigstadse moeilikhede waarin die persoonlike stryd tussen die Natallers en die Potchefstromers ‘n groot rol gespeel het, een van Potgieter se vernaamste beweegredes geword om die nedersetting te verlaat. Die twis het egter voortgeduur en die gevoelens het só verbitterd geraak, dat selfs ná die breuk in 1852 geheel is daar nog steeds persone in die republiek was wat nie “vir” die volksraad was nie en om daardie rede alleen hierdie instelling opponeer het.