KITCHENER EN TWATT

Johan Hack

Twatt is n klein vestiging op die Orkney eilande in Skotland. Die woord Twatt beteken klein stukkie grond of land volgens die ou Noorse taal. Die woord Twatt, klink eenders aan die gewone Engels waar die woord twat, met een ‘t’ as n vulgêre beskrywende woord vir n vulva beskou word. In Brittanje word die woord twat beskou as een van die mees vulgêrste woorde om iemand te beledig. Hierdie belediging sluit ook die betekenis in van ‘n swak of veragtelike persoon. ʼn Mens kan jouself nogal die gespottery indink wat die bewoners van die vestiging Twatt soms moet verduur. Daar is selfs al kommentaar gemaak dat die vestiging Twatt ook deur ‘n “ongewone hoe getal idiote” bewoon was. (Hierdie artikel is egter nie geskryf om die inwoners van Twatt nou te beledig nie.)

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 teen die Britse Ryk, was daar ‘n Britse soldaat, Herbert Kitchener, wat berug was vir sy verskroeide aarde-beleid teen die Boere. Sy strategie saam met Lord Roberts om plase te verwoes en vrouens en kinders in konsentrasie kampe te plaas, het heelwat kritiek ontvang. Ons hoef nie hier uit te brei om herrinner te word wat die nagevolge vir ons Afrikanervolk was nie.

Tydens die eerste wêreld oorlog het Herbert Kitchener die pos beklee as Britse Minister van Oorlog. Op 5 Junie 1916 was Kitchener op ʼn sending na Rusland op die skip HMS Hampshire, toe dié deur ʼn Duitse seemyn gesink is en hy gesterf het. Sy liggaam is nooit gevind nie.

Wat ʼn mens se aandag trek omtrent sy sterwe, is dat hierdie skip waarop Kitchener, die man wat soveel hartseer vir ons Afrikanervoorouers besorg het, by die Orkney eilande net noord van Skotland gesink het.

Die mense van Twatt, so word beweer, het gevoel, omdat Kitchener ongeveer ʼn myl van hul kuslyn af verdrink het, hy aan hulle behoort en dus gevoel het dat hy op ʼn ordentlike manier vereer en herdenk moes word, en so is fondse deur die mense van die Orkney eilande ingesamel om ʼn monument in die vorm van ʼn klein vierkantige toring op te rig by die kranse van die Marwick Head Natuur Reservaat, wat bewoon word deur groot getalle voëls wat teen die kranse broei, en waar die onmiskenbare reuk van guano die lug vul.

En so, terwyl die Afrikanerhelde uit ons geskiedenis op ons pleine en parke vereer word deur mooi standbeelde vir almal om te aanskou, is Herbert Kitchener se naam ingemessel op ʼn verlate onwelriekende deel van ʼn natuurreservaat, vereer deur die mense van die Orkney eilande, insluitende dié van Twatt.

Sien u die ironie hierin?