CHRISTENMAN, SÊ NEE! VIR PORNOGRAFIE – WANT JY KAN! (1)

Die volledige e-boek kan ook in pdf-formaat afgelaai word by Christenman, sê NEE! vir pornografie, want jy kan!

Anita Joubert

Wat sê die Bybel waarheen is jy oppad?

Meneer, het jy Jesus al aangeneem as jou Verlosser en leef jy met die verwagting om hemel toe te gaan wanneer jy sterf, maar jy is vasgevang in ‘n donker magsgreep van skuldgevoelens en minderwaardigheid oor dit wat jy doen wanneer jy alleen is? Jy is lief vir jou vrou, maar kan haar soms nie in die oë kyk nie, want jy vrees vir die dag wanneer sy jou gaan uitvang. Julle baklei dikwels, want jou spanningsvlakke loop hoog en jy kan jouself tydens ‘n argument nie beheer nie. Jou vrou vertrou jou waarskynlik nie, want sy weet dat iets verkeerd is, maar weet nie wat nie. Jy gaan kerk toe, lees jou Bybel en bid, maar dit voel vir jou asof die Here baie ver is en jy nie geestelik groei nie. Selfs jou ander verhoudings op sosiale vlak is wankelrig, want jy voel altyd skuldig.  Dan is hierdie boekie net vir jou bedoel en het God vandag met jou ‘n afspraak. Vra die Here net eers om jou geestelike oë oop te maak sodat jy kan verstaan wat jy hier lees. Dit is baie belangrik dat jy dit doen, want Satan verhoed jou om helder te dink.

Eerstens is dit baie belangrik dat ons na jou probleem kyk vanuit ‘n Bybelse perspektief. Toe die ou Kleurlingvrou, Meraai, vir Gatiep gevra het of hy dink dat hy met sy drankasem eendag in die hemel gaan kom, was sy antwoord baie vinnig en slim: “Djy sien Meraai, daar’s ‘n technical point van hemel toe gaan wat djy nie mooi verstaan nie. My asem gaan mos nie saam nie. Ek blaas hom  mos hier op aarde uit.”

Die Here gaan verseker die dag wanneer jy voor sy regterstoel moet verskyn om rekenskap te gee van dit wat jy hier op aarde gedoen het, of dit nou goed was of sleg, nie baie geïnteresseerd gaan wees in slim redenasies soos dié van Gatiep nie (2 Kor. 5:10). God het aan ons sy Woord gegee en is baie duidelik wanneer Hy vir ons sê wat Hy van ons verwag tydens ons aardse lewe. Dit is baie maklik om God se genade en Jesus se verlossingswerk aan die kruis goedkoop te maak. Ons is wel uit genade gered, dit ís ‘n gratis geskenk en ons redding is nie uit onsself nie, daarom kan ons  nie daaroor roem nie, maar Jesus het ‘n geweldige duur prys daarvoor betaal. Hy wat sonder sonde was, het die wreedste dood denkbaar gesterf sodat ons rein voor God kan gaan staan. Paulus sê vir ons in Efesiërs 5:27 dat Jesus ‘n Kerk kom haal wat Hy sonder vlek of rimpel, heilig en onberispelik, in volle heerlikheid, by Hom gaan neem.

Dieselfde genade wat ons met ons redding ontvang het, is elke dag tot ons beskikking om aan ons die krag te gee om ‘n lewe te lei wat God behaag. Paulus sê vir ons in Efesiërs 1:19 dat God dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het, ook in ons wat glo, uitoefen.

Jesus sê in Matteus 5:27-29:  “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreek gepleeg. As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.” Paulus sê in Efesiërs 5:5-6 dat iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is, nie deel het aan die koninkryk van Christus en van God nie. Moet dus glad nie verbaas wees wanneer jy die dag voor Christus moet verskyn en Hy vir jou sê: “Al het jy in my Naam geprofeteer, duiwels uitgedryf of wonders gedoen, ken Ek jou nie. Gaan weg van My af.” (Matt.7:22 en 23).  Mense wat in die Naam van Jesus wonders gedoen het, is mense wat een maal sy Goddelike reddingskrag leer ken het en Hom as Verlosser bely het, en tog is daar van hulle wat nie deel gaan wees nie van dié vir wie Hy  gaan sê: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.” Daar is nog etlike ander Skrifgedeeltes wat hierdie waarheid bevestig. Hebreërs 12:14 sê dat ons ons vir vrede en ‘n heilige lewe moet beywer, want daarsonder sal niemand die Here sien nie.

Toe Jesus sy boodskap aan die gemeente van Laudisea gegee het, het Hy gesê dat Hy hulle uit sy mond gaan spoeg, omdat hulle lou is, en nie warm of koud nie (Op. 3:16).  Hierdie boodskap was nie net aan die historiese gemeente van Laudisea gerig nie, maar het ook profetiese betekenis vir Jesus se kerk van die laaste dae. Alhoewel ons nie weet wat die dag en die uur van Jesus se wederkoms sal  wees nie, het Hy gesê dat ons die tekens sal herken. Baie Bybelnavorsers oor die eindtydprofesieë is dit eens dat sy koms nie meer ver kan wees nie.  Ons leef ongetwyfeld in die laaste dae.  Die doodse swye van die Kerk vandag oor hierdie vernietigende samelewingsonde wat besig is om soveel mense op ‘n snelweg reguit hel toe te laat gaan, se uiteinde gaan wees dat Jesus hulle uit sy mond gaan uitspoeg. Jesus sê vir ons Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hy kan dus nie nie lieg nie. Baie kerke vandag preek net dit wat lidmate wil hoor en wat hulle ore streel, en nie meer die waarheid van die Bybel nie. Oor sonde moet daar asseblief tog net nie gepraat word nie. ‘n Gemeente wat lou is, het  te veel koue in hom om warm te wees,  en hy het te veel hitte in hom om koud te wees.  Aan die een kant word  God se genade gepreek, maar aan die ander kant word sonde en dwaalleer verswyg.  Lou gemeentes en lou lidmate is mislei. Hulle dink dat hulle gered is, maar hulle is nie. Hulle bely redding deur genade, maar terselfdertyd ontbreek dit hulle geheel en al aan dieselfde heerlikheid en genade van God wat hulle bely (Rom. 3:23 ).  Jesus sê daarom vir hierdie selfde gemeentelede dat hulle dink dat hulle ryk is, maar hulle weet nie dat hulle beklaenswaardig, arm, blind en kaal is nie. (Op. 3:17)

Die Bybel sê ook baie duidelik vir ons dat wanneer ‘n mens in sonde  volhard, dit nie help om te dink jy doen allerlei ander goeie dinge in die Naam van die Here nie, soos om byvoorbeeld getrou jou tiende te gee of in ander Koninkrykswerk betrokke te wees nie. Nie een van die goeie dinge wat ‘n mens  gedoen het, sal in sy guns tel nie, want hy het ontrou geword en hy sal sterf op grond van sy sonde wat hy gedoen het (Eseg. 18:24)

In ons tyd hoor ‘n mens dikwels dat mens iemand net deur die liefde van Jesus moet nadertrek en nie veroordelend mag wees nie. ‘n Mens mag ook glo nie iemand met die hel bang maak nie. Ek glo dit is júís liefde om  iemand te waarsku wat op die verkeerde pad is. In Esegiël 3:18 sê die profeet as ‘n mens iemand nie waarsku teen sy bose optrede nie, sal die Here jou verantwoordelik hou vir daardie persoon se ewige dood. Judas, waarskynlik die broer van Jesus, sê in Judas 22 en 23 “Oor die wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.”

Met ander woorde, Meneer, jy wat vasgevang is in hierdie sonde van pornografie en dink dat jy niemand skade aandoen of te na kom nie, om dit vir jou in mooi, duidelike Afrikaans te stel: “ Volgens die Woord van die Here, is jy is reguit oppad hel toe!”