Die volledige e-boek kan ook in pdf-formaat afgelaai word by Christenman, sê NEE! vir pornografie, want jy kan!
Anita Joubert
Wat het met jou gebeur volgens die Bybel?
Satan het het ‘n geweldige slag geslaan toe hy daarin geslaag het om Teoloë en gelowiges in ons moderne samelewing te laat glo dat hy en sy demone nie werklik bestaan nie. Sodoende kon hy onverstoord met sy vernietigingswerk voortgaan, sonder enige teenkanting. Wanneer ‘n soldaat nie eers besef dat hy ‘n vyand het wat sy dood soek nie en waarteen hy moet veg nie, dan word hy sommer in sy slaap oorval. Jesus self sê in Lukas 10:18 dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het. Ons lees in ‘n hele aantal Ou Testamentiese boeke oor Satan se bedrywighede. Veral die boek Daniël gee aan ons ‘n duidelike dimensie van die geesteswêreld wanneer die engel vir Daniël vertel van ‘n oorlog tussen die engele van God en die demone van Satan (Dan. 10) Die Evangelies openbaar vir ons baie oor Satan se vermoë om die mens te beheers, siekte te veroorsaak en selfs diegene wat hulself daarvoor oopstel, geheel en al te beset. In Handelinge 5:3 sien ons hoe aktief hy in sy pogings is om die vroeë kerk van binne te verrot en in 13:10 sien ons hoe hy mense daarvan probeer weerhou om op die Evangelie te reageer. Openbaring 20:10 beskryf ook baie duidelik die poel van vuur en swael waarin die duiwel gegooi sal word. Volgens die Bybel bestaan hy dus ongetwyfeld en is hy die mens se grootste vyand.
Geen mens kan in ‘n vyand se gevegslinie gaan rondspeel en dink dat hy ongeskonde daarvan kan afkom nie. Miskien het jy gedink dat jou pornografie-kykery net ‘n opwindende speletjie is en dat jy net bietjie nuuskierig is, en nou is dit soos ‘n donker mag wat telkens van jou gedagtes besit neem en jy kan jouself nie keer of beheer nie. Die Bybel sê vir ons dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug (Efes. 6:12). Daarom moet ons die wapenrusting aantrek wat God aan ons gee, sodat ons weerstand kan bied in die dag van onheil (Efes.6:13). Lees gerus Efesiërs 6:10-20.
Satan en sy demone se enigste doelwit is om ons lewens, ons huwelike, en daarmee saam ook die lewens van ons kinders, te vernietig en ons saam met hom die hel in te sleep. Wanneer jou vrou jou gaan uitvang, gaan sy en jou kinders waarskynlik hul respek vir jou verloor en jou huwelik kan daarmee heen wees. Jou vrou gaan met ontsettende gevoelens van verwerping, bitterheid en onvergewensgesindheid sukkel. Indien julle skei, gaan jou kinders se kinderjare sonder die liefde, koestering en bewondering van ‘n pa na wie hulle kan opsien en wie hulle kan respekteer, tot soveel verdere hartseer en seerkry lei, dat hulle so broos en kwesbaar gaan wees dat Satan in hulle lewens ook weer ‘n uitstekende vasstrapplek kan kry. Hy is die grootste leuenaar en bedrieër van alle tye. Jesus het hom die vader van die leuen genoem. In die Paradys het hy die waarheid net so effens verdraai toe hy aan Eva gevra het of dit regtig so is dat God gesê het hulle mag van geeneen van die bome in die Tuin se vrugte eet nie. Die waarheid was dat hulle van alles kon eet, behalwe van die een boom van alle kennis. Indien hulle daarvan sou eet, sou hulle sterwe. Satan maak God dan tot leuenaar wanneer hy vir Eva sê: “Julle sal beslis nie sterwe nie.” Dit was ‘n volslae leuen, want op daardie oomblik het die mens geestelik gesterf. Net deur die genade van Jesus se verlossingswerk kan ‘n mens weer geestelik lewe.
Presies dieselfde strategie gebruik Satan vandag nog. Hy het vir jou vertel dat dit nie regtig waar is wanneer God se Woord vir jou sê dat ons rein moet lewe nie en dat ons daarsonder nie die Here sal sien nie (Heb. 12:14). Daarom het jy gedink dat dit wat jy doen, glad nie so erg is nie. Dit kan nie werklik sonde wees nie, want God lieg. Hy kan nie so wreed wees om jou so swaar te straf vir hierdie lekker ou speletjie waarmee jy besig is nie. Die waarheid is dat God heilig is en sonde haat. Daarom het Hy sy eniggebore Seun gestuur om ‘n duur prys vir ons ewige lewens te kom betaal. Hy het nie van ons marionette gemaak wat willoos deur die duiwel met sy demone en ons eie sondige natuur rondgesleep hoef te word nie. Jy het ‘n keuse. Hy het aan ons mag en outoriteit oor die duiwel gegee, deur ons verhouding met Jesus Christus en in sy Naam, maar dan moet ons die wil van ons hemelse Vader doen. Jesus sê in Joh. 14:21 “Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet…” In Johannes 14:30 en 31 sê Jesus dat die owerste van hierdie wêreld aan die kom is, maar hy het geen mag oor Hom nie, want Hy doen die wil van sy Vader. Met ander woorde, daar is net een manier om die mag van Satan oor ons lewens te verbreek, en dit is deur die wil van God te doen. In Jakobus 4:7 sê Jakobus aan die Christene regoor die wêreld: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”
Die strategie wat Satan vir die oorlog teen die mens gebruik, is om jou denke met gedagtes te bombardeer wat jou van God af kan wegtrek. Ons gedagtewêreld is dus sy slagveld. Dit is die rede waarom hy pornografiese beelde in jou gedagtes so suksesvol kan gebruik. Jy hou aan om daaraan te dink en omdat jy nie selfbeheersing toepas en jou denke verander nie, swig jy later voor die versoeking om weer en weer te kyk. Dit is presies dieselfde manier waarop enige ander sonde begin, by ‘n gedagte wat jy vertroetel. So word korrupsie, diefstal en moord ook beplan. Alles begin eers in die persoon se gedagtewêreld deur ‘n gedagte wat Satan in jou denke plant. Onthou dat hy ‘n studie van elkeen van ons maak en elke mens baie goed ken. Hy ken ons swakhede, ons vrese, ons slegte selfbeelde en ons tekortkominge. Hy weet van ons seerkry in ons kinderjare en ook wat ons die meeste pla. Hy sal baie tyd daarin belê om ons te oorwin. Sy enigste drie positiewe eienskappe is arbeidsaamheid, geduld en deursettingsvermoë.
Om dus die vraag te beantwoord wat met jou gebeur het volgens die Bybel, moet ek vir jou sê: “Jy is in die mag van Satan en sy demone deur jou eie toedoen.”