Dr JP Botha
Lees reeks by Die Stryd om die Troon
Ek het met hierdie werk ‘n poging aangewend om die interessante geskiedenis van al die konings van Israel te beskryf. Daar is bevind dat wanneer ‘n gelowige en vroom koning regeer het, die Here sy bewind geseën het en kon hierdie verbondsvolk rustig en beskermd leef. Maar sodra ‘n ongelowige vors hulle tot gruwelike afgodediens verlei, het die Here hulle gestraf deur toe te laat dat hulle heidense buurvolke hulle met roof- en strooptogte teister. Uiteindelik was die ongeregtigheid só groot dat koning en volk van die Noordryk deur die Assiriërs weggevoer is en dié van die Suidryk as ballinge na Babel geneem is. Maar die Here het nie sy volk totaal verwerp nie. Hy het heidense konings gebruik om hulle weer na hulle land terug te stuur, die tempel te herbou, die muur om Jerusalem weer op te rig en volgens die wet van die Here te leef. Met ons toestand in Suid-Afrika kan ons vandag iets hiervan ter harte neem en daaruit leer.
Die koningskap van Israel teenoor dié van die heidene
Toe Samuel op versoek van die volk ingewillig het om vir Israel ‘n koning aan te stel, was dit eers nadat God hom beveel het om dit te doen. Die profeet het die volk gewaarsku dat die koning vir homself buitengewone magte oor sy onderdane sou toeëien. Maar so lank as wat die koning onder die gesag van God se woord gestaan het, kon hy nie onbeperkte mag uitoefen nie, alhoewel hy soms die hele volk in sy persoon verteenwoordig het en met sy verkiesing om koning oor die volk te wees, besondere gawes van God ontvang het en deur sy onderdane gerespekteer moes word.
Met die heidennasies was dit anders gesteld. In die antieke Babilonië is die koningskap beskou as ’n gawe van hulle gode. Die koning moes as plaasvervanger van die gode, sorg dat die mense hul pligte teenoor die gode nakom. Sommige van die konings is selfs as gode beskou. Die koning het besondere gawes van die gode ontvang en is aan die gode verantwoordelik om reg en goed te regeer.
In Israel het die behoefte aan ‘n koning ontstaan om hulle suksesvol teen hulle vyande te kan lei. Maar God is beskou as die ware Koning en die aangestelde koning is aan God ondergeskik. God gee aan hom sekere gawes om die volk te regeer. Daarom het die koning van Israel nie onbeperkte mag besit nie. Hy word deur God aangewys of gekies en is dus deur die Here geroep, gesalf en toegerus en moet as sodanig deur die volk aanvaar word
Na die skeuring in Israel en die geweldige toename in afgodediens, het daar by die tien stamme ‘n aantal konings regeer wat nie deur God aangewys is nie en ook nie deur die volk aanvaar is nie. Maar in die suidelike ryk het die Here vir Juda en Jerusalem beloof dat daar altyd ‘n afstammeling van Dawid op die troon sou wees. So is al die konings wat oor Juda-Benjamin regeer het, tog indirek deur God verkies en deur die volk aanvaar.
Die monargale staatsvorm van Israel, wat met die kroning van koning Saul in die jaar 1032 vC ingestel is, is 446 jaar lank gehandhaaf, totdat dit in 722 vC met die Assiriese wegvoering van die 10 stamme ernstig gewankel het en 136 jaar daarna beëindig is met die val van Jerusalem en die Babiloniese ballingskap.
Dit was die voltrekking van God se strafgerig oor sy uitverkore volk, wat Hom nie meer gedien het nie en hardnekkig voortgegaan het om hul onheil in die gruwelikste afgodediens denkbaar te soek. Maar ‘n regverdige God wat die sonde nie ongestraf laat bly nie, is ook genadig en vergewensgesind. Daarom het die ballingskap nie eers 70 jaar geduur nie voordat Hy hulle weer teruggestuur het om die land van hulle vaders weer te gaan opbou uit die puinhope van verwoesting waarin die vyand dit gelaat het.
Sou hulle daarna die Here, hulle Verbondsgod, met meer ywer en toewyding dien as wat die vorige vyf eeue die geval was? Skaars vyf eeue later het hulle al weer so ver op ‘n dwaalpad gestap dat hulle nie eers die hemelse Koning van alle konings, wat God tot hulle redding na hulle gestuur het, herken, erken en aanvaar het nie, maar verkies het om op hulle ingeslane woestynpad die ewigheid in te stap, in plaas van om saam met Hom die glorie van sy hemelse koninkryk in besit te neem.