DIE STRYD OM DIE TROON (11)

Dr JP Botha

Lees reeks by Die Stryd om die Troon

JUDA SE SWANESANG

Die Galdeërs verower en verwoes Jerusalem

Nadat Salmaneser en Sargon die inwoners van Samaria en omstreke na Ninevé weggevoer het, het die tyd van Juda se grootste nood ook weldra aangebreek.  Gedurende hierdie dae het die Here vir my, Jesaja gebruik om sy boodskap aan die volk te bring en die goeie koning Hiskia te bemoedig om sterk te staan teen die aanslae van die Assiriese vyand.

Ons het geweet Sanherib is op pad Jerusalem toe, nadat hy met die Fenisiese kus langs getrek het en die koning van Tirus onttroon, Askelon en Ekron tot oorgawe gedwing en sy hoofkwartier by Lakis ingerig het.

Koning Hiskia het die nodige voorbereidings teen die Assiriese aanslag getref.  Hy het die waterfonteine buite die stad toegemaak om die vyand “uit te dors” wanneer hulle sou opdaag. Ook het hy die stadsmuur se swak plekke versterk en ‘n groot klomp skilde en spiese laat maak.

Toe Sanherib vanaf Lakis een na die ander vestingstad van Juda aanval en verower, het Hiskia hom probeer omkoop om van Jerusalem af weg te bly.  Hy het iets meer as tien ton silwer en een ton goud uit die tempel en die skatkamers van die paleis aan Samherib gestuur om sy onderdanigheid te toon.  Die Assiriër was nie hiermee tevrede nie en het die algehele oorgawe van Jerusalem geëis.  Die Here het vir my gesê om vir koning Hiskia aan te raai om die stad aan Sanherib oor te gee, ten einde die volk van groot ellende te vrywaar.  Maar Hiskia was hardkoppig en het in die stilligheid ‘n opstand teen Assirië probeer organiseer, waarin Egipte hom moes kom help.

Sanherib het die komplot teen hom ontdek en ‘n sterk leërmag onder aanvoering van sy hoofkommandant na Jerusalem gestuur om die stad te gaan bedreig.  Nadat hulle kamp opgeslaan het buite die stad, het die hoofkommandant op ‘n vooruitgeskowe punt gaan staan en ‘n klomp dreigemente teen Hiskia en die volk uitgeskree.

Toe die wagte op die muur dit aan koning Hiskia vertel, het hy na die tempel gegaan en gevra dat ek ook daarheen moes kom om te bid dat die Here ons moet red.  Ek het vir die boodskappers wat my kom roep het gesê, gaan sê vir julle koning:  “Die Here sê jy moenie bang wees oor wat jy gehoor het hoe die amptenare van die koning van Assirië My belaster het nie.  Ek gaan hom onrustig maak wanneer hy ‘n berig van sy land af kry, sodat hy daarheen sal teruggaan.  Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”

‘n Paar dae later kry hierdie Assiriese hoofkommandant, wat hier by Jerusalem so teen die koning en teen die Here gestaan en vloek en raas het, berig dat Sanherib nie meer met die res van die leër by Lakis is nie.  Hy het dadelik kamp opgebreek en met sy leërafdeling na Lakis gehaas om vas te stel wat aan die gang is.  Sanherib was nie daar nie. Hy was besig om ‘n klein stadjie, Libna, wat ‘n paar kilometer noord van Lakis geleë was, in te neem.  Daarvandaan is hy met sy hele leër na die Eltekevlakte, om die Egiptenare wat vir Juda kom help het, voor te lê.

Sanherib stuur toe daarvandaan weer ‘n paar gesante met ‘n brief aan koning Hiskia in Jerusalem.  Hy skryf onder andere:  “Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie.  Jy het mos gehoor hoe ek die een land na die ander verwoes het.  Sal jý dan vrykom?”

Koning Hiskia het die brief in die tempel voor hom oopgesprei en gebid dat die Here ons tog uit die mag van die koning van Assirië moet verlos.  Toe het die Here vir my gesê dat ek vir Hiskia moet sê dat Hy sy gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor het.  Hy sal nie in die stad inkom nie, hy sal nie ‘n pyl hier afskiet nie en nie ‘n skild teen die stad opstel nie en nie ‘n beleëringswal daarteen opgooi nie.  Met die pad wat hy gekom het, sal hy weer teruggaan.  Die Here sal die stad red om sy ontwil en om sy dienaar Dawid se ontwil.

Daardie nag het die engel van die Here 185 000 man in die Assiriese kamp doodgemaak.  Samherib is met die res terug na Ninevé.  Hy het nie weer teruggekom nie, want kort daarna is hy vermoor.

So het die Here die Dawidstad van verwoesting gered gedurende die regeringstydperk van koning Hiskia.  Dit het ongeveer in die jaar 701 vC plaasgevind en die koninkryk van Juda kon daarna nog ‘n eeu lank sy onafhanklikheid teenoor buitelandse vyande handhaaf.  Die wêreldheerskappy van die Assiriese despote was besig om te verkrummel voor die mag van die opkomende Galdese vloedgolf wat op die toneel verskyn het.

Kort nadat die Here Jerusalem van Assiriese inname gered het, het koning Hiskia baie ernstig siek geword.  Die Here het my na hom toe gestuur om vir hom te sê dat hy aan hierdie siekte sou sterf.  Hiskia was hewig ontsteld.  Hy het sy gesig na die muur gedraai en begin bid.  Onderwyl ek oor die binneplein van die stad weggestap het, praat die Here weer met my en sê:  “Gaan terug en sê vir Hiskia Ek het sy gebed verhoor.  Ek gaan hom gesond maak en sy lewe met 15 jaar verleng.”

Ek het hom dit gaan meedeel. ‘n Rukkie nadat ons ‘n vyekoek op die sweer gesit het wat die koning so geteister het, het hy begin beter word.  Toe wou hy van my weet of die Here nie vir hom ‘n teken kan gee dat hy werklik gesond gaan word nie.  Ek het gebid en die Here het vir hom werklik ‘n teken gegee.  Hy kon kies of die skaduwee op Agas se sonnewyser tien grade moet aanskuif of tien grade moet terugskuif.  Toe Hiskia vra dat dit terug moet gaan, het hierdie wonder gebeur.  Hiskia het gesond geword en nog 15 jaar geleef.

Op ‘n goeie dag het Hiskia besoek ontvang van ‘n paar manne uit die ooste.  Hulle het vir Hiskia briewe en geskenke gebring wat hulle koning Merodak-Baladan van Babel aan hom gestuur het.  Hy het van Hiskia se siekte gehoor.  Dit was duidelik dat hy ‘n bondgenoot gesoek het teen hulle gemeenskaplike Assiriese vyand en graag ‘n vriendskapverdrag wou sluit.  Hiskia het hulle alles in sy skatkamers en wapenstore gewys, voordat hulle weer terug is.

Toe het ek na Hiskia gegaan en vir hom gesê:  “Luister wat sê die Here:  Daar kom ‘n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het.  Daar sal niks oorbly nie, sê die Here.  Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel.”

Die koning was geskok, maar hy het die Woord van die Here dankbaar aanvaar in die wete dat daar in sý tyd darem nog vrede en veiligheid sou wees.

oOo

Ek is die profeet Jeremia.  Voordat die Here my in die jaar 627 vC in die regeringstyd van koning Josia van Juda tot sy profeet geroep het, het ek reeds geweet hoe Hy die profeet Jesaja gebruik het om sy Woord aan koning Hiskia oor te dra en hoe hy as raadgewer van daardie goeie koning van Juda hom bemoedig en ondersteun het in sy stryd teen die Assiriese koning Sanherib.

Ek weet ook dat koning Hiskia se seun en opvolger, koning Manasse, wat 696 tot 642 vC in Jerusalem as koning regeer het, al die goeie werk wat sy pa gedoen het, stukkie vir stukkie afgebreek het en die mees afskuwelikste afgodediens wat daar nog in ons koninkryk bedryf is, ingestel en beoefen het.

Hy het die hoogtes wat sy pa verwoes het, weer opgebou, altare vir Baäl opgerig, ‘n Asjerabeeld gemaak, die hemel-liggame aanbid en afgodsaltare in die Here se tempel gebou.  Hy het sy eie seun as ‘n offer verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery en die oproep en raadpleging van geeste uit die onderwêreld.

Hy het die volk saam met hom ingesleep in hierdie afgrond van verderf en vir Juda saam met hom laat sondig met sy stinkende afgode.  Daarby het hy ook nog baie onskuldige mense in Jerusalem vermoor.

Toe het die Here besluit om die volk te straf.  Hy het gesê:  “Ek gaan Jerusalem met die selfde maat meet as dié waarmee ek Samaria gemeet het.  Ek gaan Jerusalem skoonvee.  Wat oorbly van die volk gaan ek oorgee in die mag van hulle vyande.  Hulle sal deur hulle vyande geplunder en uitgeroei word.”

Gedurende Manasse se regeringstyd in Juda, was die Assiriese ryk op die kruin van sy mag.  Vanaf Babilonië in die ooste tot Egipte in die suidweste, het die hele vrugbare halfmaan onder die hiel verkeer van die oorlogsugtige Assiriese despote.  Al die verowerde state was aan hulle belastingpligtig, ook koning Manasse van Juda.

Sanherib se seun, Esar-Haddon, wat hom opgevolg het nadat hy deur twee van sy ander seuns vermoor is, het die regering oor die verowerde Babel opgedra aan sy oudste seun, Sjamasjsjoemoekin.  Hy wou graag die verowerde Babel onafhanklik maak van Assirië.  Maar Esar-Haddon se jongste seun, Assurbanipal, was nie daarmee gediend nie.  Daar het ‘n bloedige oorlog uitgebreek en ouboet Sjamasjsjoemoekin het in die vlamme van sy eie paleis omgekom.

Koning Manasse het hierdie rebellie teen Assiriese gesag gesteun.  Toe het koning Assurbanipal hom in Jerusalem laat arresteer en met hake deur die neus en met bronskettings geboei, hom in die verowerde Babel as gevangene aangehou.  Hier het Manasse berou gekry oor al sy sondes en die Here om vergiffenis gesmeek.  Hy het tot bekering gekom.  Hy is na Jerusalem teruggebring en weer in sy koningskap herstel.  Toe het Manasse geweet dat die Here God is en nie sy verfoeilike dooie afgodjies nie.

Manasse se seun Amon het egter weer in sy pa  se vroeëre afgodspore geloop.  Hy het net vanaf 641 tot 639 vC in Jerusalem regeer voordat hy tydens ‘n sameswering van sy amptenare teen hom, vermoor is.  Sy seun Josia het hom in 639 vC as koning opgevolg.

Watter Godgegewe wonderlike belewenis was dit nie vir ons almal in Jerusalem om weer ‘n gelowige vroom koning te hê wat die wil van die Here gedoen het nie!  Hy het vanaf 639 tot 608 vC regeer.  In die dertiende jaar van sy regering het die Here vir my, Jeremia as sy profeet geroep.  Dit was in die veelbewoë tyd toe daar weer ‘n nuwe wêreldmag op die gesigseinder verskyn het, om die kleiner nasies omheen te oorheers.  Dit was die opkoms van die Galdeërs in Babilonië aan die Eufraatrivier.  Die Assiriese ryk was besig om onder te gaan.  Egipte het reeds al onder Assurbanipal sy vryheid herwin.  Nabupolassar van Babel het in 626 vC in opstand gekom en met behulp van die Meders het hulle Assirië verslaan.  In 614 vC word die stad Assur verower, as ook Haran in 610 vC.

Ons goeie koning Josia het Assirië se insinking gebruik om die koninkryk van Juda weer uit te bou.  Hy het sy hervormings uitgebrei tot dit ook die state van die weggevoerde Noordryk ingesluit het en selfs ook ‘n deel van die gebied wat aan die Filistyne behoort het.

Gedurende hierdie tyd toe Assirië se militêre mag gebreek is en Babel nog nie gereed was om sy seekatarms na die suide uit te steek nie, het Egipte ‘n poging aangewend om wêreldheerskappy te verower.  Farao Nego, die koning van Egipte, het in 609 vC met ‘n groot mag opgetrek na Karkemis aan die Eufraat om vir Assur-Umballit, die laaste Assiriese koning, by te staan in sy poging om Haran te verower.  Toe hy op pad na die noorde deur Juda se grondgebied trek, het koning Josia tevergeefs probeer om hom te keer.  Ons goeie koning het in ‘n slag wat naby Megiddo in 608 vC plaasgevind het, gesneuwel.

Farao Nego kon nie daarin slaag om die gebied by Haran weer te verower uit die mag van die Babiloniërs en die Meders nie, maar hy het ‘n paar jaar lank daarna tog beheer uitgeoefen vanaf Egipte tot by Hamat aan die Orontesrivier, dit is oor die hele Palestina en Aram.

Die volk het getreur oor koning Josia.  Hulle het sy oudste seun, die goddelose Sallum, koning gemaak.  Daarna het hy die naam Joahas aangeneem.

Toe Nego terugkeer vanaf die oorlog by die Eufraat, het koning Joahas hom tegemoet gegaan en hom by Hamat in Ribla aangetref, waar hy vir hom ‘n voorlopige hoofkwartier ingerig het en waar hy toe vir Joahas as gevangene aangehou het.  Toe hy hom later na Egipte neem, het die Here vir my hierdie boodskap vir die volk gegee:  “Moenie huil oor die koning wat dood is nie, huil oor hom wat in ballingskap is, want hy sal nie terugkom nie.”

Joahas, wat maar drie maande lank koning van Juda was, het as gevangene in Egipte gesterf.  Die farao het sy broer Eljakim koning van Juda gemaak en sy naam verander na Jojakim.

Hierdie seun van die vrome Josia was weer net so goddeloos soos die meeste van sy voorvaders.  Die ontnugterde volk van Juda het te midde van die dubbele bedreiging uit die noorde en die suide, hulle troos in uiterlikhede gesoek.  Hulle het die tempel beskou as ‘n toevlugsoord in hulle nood.  Ek, Jeremia, het swaar geleef onder die oppervlakkige en afgodsgeneigde volk.

Die Here het vir my gesê ek moet in die poort van die tempel gaan staan en vir die vok sê dat hulle hul lewens en dade moet regmaak.  Hulle moet hulle bekeer van al die gruwelike sondes wat hulle doen. As hulle aan Hom gehoorsaam is, sal Hy hulle in hierdie plek laat bly.  Indien nie, gaan Hy hulle verwerp soos die tien ander stamme en Jerusalem laat verwoes.

Toe die volk met hulle vals priesters en profete dit hoor, was hulle woedend en wou my om die lewe bring, maar die koning se amptenare het dit verhoed.  Die Here het ‘n sekere Ahikam gebruik om my te beskerm.

“n Tyd daarna het ek in die dal Ben-Hinnom weer oor die ondergang van Jerusalem geprofeteer en daarna in die voorhof van die tempel ‘n kort toespraak vir die volk gehou.  Hier het Pasgur, ‘n priester, my gevange laat neem, my met stokke laat slaan en in die blok van die boonste poort van Benjamin laat sit.  Toe hy my die volgende oggend uit die blok haal, het ek aan hom geprofeteer hoe hy en sy mense saam met die ander in ballingskap na Babel weggevoer sou word en dat hy as leuenprofeet daar sou sterf.

Intussen het die stryd om oppermag tussen Egipte en Babilonië onverpoosd voortgegaan.  Nebukadnesar van Babel het in 605 vC daarin geslaag om farao Nego se groot leër wat nog steeds by Karkemis opereer het, te verslaan.  Daarna het hy die Egiptenare ook by Hamat verdryf.  Toe het die pad na Palestina vir hom oopgelê.  Dit was in die vierde jaar van koning Jojakim se regering.  ‘n Jaar later trek hy deur die Heilige land, hy verower Askelon en gaan tot by die Egiptespruit.  Juda het ‘n vasal geword van Babilonië en Jojakim het ‘n dienaar geword van Nebukadnesar.

Nebukadnesar het vir Jojakim met bronskettings laat boei met die doel om hom na Babel te neem.  Hy het al die kosbaarhede in die tempel bymekaar gemaak en dit na Babel gestuur.  Toe het hy blykbaar besluit om vir Jojakim te begenadig en hom nog as koning in Jerusalem te laat aanbly.

Die Here was besig om die straf wat Hy deur my aan Juda en Jerusalem aangekondig het, te voltrek.  Jojakim het gedurende die drie jaar wat hom nog vergun was om sy koningskap te handhaaf, in die geheim met Egipte saamgesweer om teen Babel in opstand te kom.  Maar toe kom hy te sterwe in 597 vC en word deur sy seun Jojagin opgevolg.

Nebukadnesar het Juda se ontrouheid gestraf deur voortdurend stroperbendes van Galdeërs, Arameërs, Moa-biete en Ammoniete in die land uit te stuur en uiteindelik daag hy met ‘n groot mag op om Jerusalem te beleër.  Koning Jojagin het besluit om hom persoonlik oor te gee aan Nebukadnesar.  Hy het saam met sy moeder, sy vroue, sy lyfwag, sy amptenare en sy offisiere uitgestap na koning Nebukadnesar, wat self buite by sy troepe was.  Die Galdeër het hulle almal na Babel gestuur.  Hy het ook al die soldate, tien duisend gevangenes, al die vakmanne en smede en al die rykes in ballingskap na Babel weggevoer, saam met al die skatte van die tempel en die paleis.  Net die armste mense het in Jerusalem oorgebly.  Dit was die eerste wegvoering in 597 vC.

Nebukadnesar het weer ‘n koning aangestel in die plek van Jojagin wat in 597 vC maar drie maande lank in Jerusalem regeer het.  Dit was Mattanja, ‘n oom van Jojagin.  Nebu-kadnesar het sy naam verander in Sedekia. Hierdie swakkeling het elf jaar in Jerusalem regeer en was die laaste koning van Juda en was net so goddeloos soos die meeste van sy voorgangers.

Toe ons in 597 vC met sy troonsbestyging alreeds so volkome onder die hiel van die Galdese koning verkeer het, stuur Sedekia twee priesters na my met die versoek dat ek die Here moet raadpleeg oor wat nou met Juda gaan gebeur.  Ek het hulle teruggestuur met hierdie boodskap:  “Julle moet vir Sedekia sê die Here gaan hom en al die mense in die stad oorlewer in die mag van koning Nebukadnesar. Die vyand sal die inwoners van Jerusalem afmaai, sonder om te verskoon, sonder om jammer te kry, sonder genade.”

Hulle wou my nie glo nie en het my naderhand uitgeskel vir ‘n landsverraaier, veral nadat ek aan die eerste ballinge wat reeds in Babel aangekom het, geskryf het dat hulle hul met die ballingskap moet versoen.  Hulle moet hulle daar vestig en rustig leef, want die Here sal hulle na 70 jaar weer na Juda en Jerusalem terugbring.

Hier in Jerusalem het Sedekia in die stilligheid ‘n opstand teen Nebukadnesar beplan.  Hy het met die ondersteuning van Egipte ‘n sameswering teen Babel gesmee.  Die valse profete het die gemoedere teen Babel opgesweep.  Ek het hulle gewaarsku en ek het ‘n houtjuk gedra om die volk tot onderwerping aan Babel aan te spoor.

Nebukadnesar, wat met sy leër by sy hoofkwartier in Ribla in Hamat vertoef het, was nie onbewus van Sedekia se broeiende opstand teen hom nie.  Koning Sedekia het hom egter besin en het in 594 vC sy laerkommandant Seraja na Babel gestuur om vir genade te gaan smeek.  Maar Sedekia het nog steeds hulp van Egipte verwag en het ‘n bond-genootskap met die farao Hofra aangegaan.

Hierdie daad was die spyker in die doodkis van die koninkryk van Juda.   Koning  Nebukadnesar het nie op hom laat wag nie. Hy het in 588 vC met sy hele leër by Jerusalem opgedaag en begin om die stad te beleër.  Toe het koning Sedekia weer ‘n gesantskap na my gestuur.  Ek het hulle aangeraai om vrywillig oor te gee aan die vyand omdat dit vir almal die beste sou wees.  Toe het hulle my weer as ‘n landsverraaier uitgekryt en my daarvan beskuldig dat ek na die vyand wou oorloop.

In 587 vC het die Galdeërs skielik hul kamp buite Jerusalem opgebreek en in ‘n suidelike rigting weggetrek.  Toe verneem ons dat hulle’n Egiptiese leër tegemoet getrek het wat ons wou kom help.  Die blydskap was groot in Jerusalem.  Koning Sedekia het weer ‘n afvaardiging na my gestuur om te hoor wat nou gaan gebeur.  Ek het vir hulle gesê die farao se leër sal terugtrek.  Die Galdeërs sal terugkom, die stad inneem en dit verbrand.

Kort daarna wou ek na grond van my gaan kyk, buitekant die stad.  By die poort het die wagte my gevang.  Hulle het gesê ek wou na die Galdeërs toe gaan.  Die koning se amptenare het my geslaan en in ‘n soort tronk gestop en my later in ‘n leë put geplaas..  Koning Sedekia het my daar in die geheim na sy paleis laat haal en gevra of ek tog nie ‘n boodskap van die Here af het nie.  Ek het hom meegedeel dat hy in die mag van die koning van Babel uitgelewer sou word.  Toe het hy my in die binneplaas van die paleis laat bewaak.

Drie van die koninklike amptenare het gehoor dat ek vir die volk sê dat almal in die stad gaan omkom, maar elkeen wat na die Galdeërs toe oorloop, sal met sy lewe daarvan afkom.  Die koning het toe toegelaat dat hulle my weer in ‘n ander put in die binneplaas van die paleiswag gooi.  Daar was nie water in nie, maar ek het in die modder begin insak. ‘n Bediende het dit vir die koning gaan vertel, waarop hy my uit die modder laat optrek het en weer in die binneplaas laat bewaak het.

‘n Ruk daarna het hy my weer laat haal om raad te vra.  Nadat hy belowe het om my nie dood te maak nie, het ek hom aangeraai om uit die stad  na die vyand toe uit te gaan.  Dan sal hy sy lewe red en die stad sal nie verbrand word nie.

Die wispelturige koning het nie hierdie boodskap van die Here geglo nie.  Hy het voortgegaan om Jerusalem te pro-beer verdedig teen die groot leër van Nebukadnesar, wat uit die suide teruggekeer het om die beleg  van die stad te hervat.  Dit was vroeg in die jaar 586 vC toe die Galdeërs daarin slaag om die stadsmuur oop te breek.  Die Galdese offisiere het binnegegaan en by die Middelpoort gaan sit.  Waarskynlik het hulle daar gewag dat koning Sedekia en sy offisiere daar aan hulle moes kom oorgee.

Maar koning Sedekia was nie meer in die stad nie.  Hy het met sy familie, sy amptenare en die soldate in die nag op die vlug geslaan deur die poort by die koningstuin en met die pad na die Jordaanvallei probeer wegkom.  Die vyand het hulle in die Jerigovlakte ingehaal en gevang.  Hulle het vir Sedekia, sy familie en die leiers na Ribla in Hamat geneem, waar Nebukadnesar persoonlik met ‘n deel van sy troepe was.  Almal wat daarheen geneem is, is doodgemaak.  Sedekia moes toekyk hoe hulle sy seuns om die lewe bring.  Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en hom in Babel in die tronk geplaas, waar hy sy verdere blinde lewe in duisternis deurgebring het tot sy dood.

‘n Maand na die inname van die stad, het die hoof van Nebukadnesar se lyfwag, Nebusaradan, met ‘n sterk mag begin om Jerusalem op te ruim en te verwoes.  Hy het die tempel, die paleis en al die geboue afgebrand.  Die soldate het die stadsmuur om Jerusalem heeltemal afgebreek.  Al die mense wat nog in die stad en omgewing was, is krygsgevange weggevoer.  ‘n Klompie van die heel armstes is agtergelaat om die wingerde en landerye te bewerk.

Tydens die eerste wegvoering van ons Judeërs in 597 vC, toe  koning  Jojagin  as  gevangene  na  Babel  geneem is, is 3 023 mense na Babel geneem.  Na die verwoesting van Jerusalem in 586 vC is 832 weggevoer en in 581 vC is nog 745 ballinge weggevoer.  Daar is egter baie meer as hierdie  4 600 leiers en vername mense van Juda in die omgewing van Babel gevestig in Nippur, langs die Kebarrivier.

Toe Nebusaradan besig was om Jerusalem te verwoes, het hy vir my, Jeremia, baie goed behandel.  Ek kon kies of ek na Babel wou gaan, of hier tussen my volksgenote wat nog hier was, kon bly.  Ek het verkies om hier te bly.

Nabusaradan het een van ons Judeërs, Gedalja, as goewerneur aangestel om oor ons te regeer.  Hy het sy hoofkwartier by Mispa ingerig.  Hy het ons verseker dat as ons ons aan die gesag van die Galdeërs onderwerp, ons rustig en veilig onder sy sorg in die land sal bly woon.  Die Judeërs wat gedurende die oorlog na al die heidenlande in die omtrek weggevlug het, het van Gedalja se simpatieke regering gehoor en almal na Juda teruggekeer om weer hier  te kom woon.

Uit Ammon het ook ‘n aantal persone gekom, wat deur hulle koning Báälis gestuur is, onder aanvoering van ‘n sekere Ismael.  Hy het vir Gedalja vermoor en ‘n skrikbewind begin voer, baie mense vermoor en probeer om ‘n aantal na die Ammoniete te ontvoer. ‘n Groep oudsoldate onder aan-voering van Joganan, het hulle egter gered en Ismael het na die Ammoniete gevlug.

Toe wou die oorgeblewe Judeërs nie meer in ons verwoeste land bly nie, uit vrees dat die Galdeërs ons vir die moorde op Gedalja en die baie ander mense sou kom vergeld.  Hulle het vir my kom vra of die Here sal toelaat dat ons almal na Egipte gaan.  Die Here se antwoord was dat al die  Judeërs wat na Egipte vlug, saam met die Egiptenaars sal omkom in die oorlog teen die Galdeërs wat gaan kom.  Hulle sal verder deur pes en hongersnood getref word.  Maar as hulle hier in Juda bly, sal die Here hulle hier beskerm en bewaar, ten spyte van hulle gruwelike afgodediens.

Hulle het vir my geskree ek lieg; die Here het nie gesê hulle moenie in Egipte gaan woon nie.  Hulle het toe gevlug en almal wat nog in Juda was, saamgevat, mans, vroue en kinders en die prinsesse wat nog daar was en ook vir my, Jeremia, teen my sin saamgesleep en in Egipte in Tagpanges gaan woon.

Hier het hulle onmiddellik weer hulle afgodediens begin.  Hulle het met toewyding vir Astarté, hulle sogenaamde hemelkoningin, begin vereer en aanbid.  Hulle het vir my gesê so lank as wat hulle dit in Juda gedoen het, het dit met hulle goed gegaan, maar nadat koning Josia met sy hervormings gekom het, is hulle deur al die rampe en teëspoede getref!

Daarom het die Here hulle hardnekkige ongeloof en wanpraktyke swaar gestraf en het hulle nooit weer na Juda teruggekeer nie, maar in Egipte gesterf.  Maar aan die Babiloniese ballinge het die Here, ter wille van sy belofte aan koning Dawid, belowe dat hulle na 70 jaar weer na hulle land sou terugkeer.