Dr JP Botha
Lees reeks by Die Stryd om die Troon
DIE LAASTE KONING VAN DIE JODE
Maar hulle het Hom gekruisig en verwerp
Dit is die jaar 7 vC. Die jongmeisie by die put buk om haar gevulde waterkruik op haar skouers te lig. Toe sy opkyk, skyn daar meteens ‘n sagte lig om haar en sy sien met skrik die engel wat voor haar staan, maar toe hy met haar praat, was daar gerusstelling in sy stem: “Moenie bang wees nie, Maria. Ek kom om vir jou te sê dat God jou begenadig en bevoorreg het bo alle vroue op aarde. Jy gaan swanger word en ‘n seun in die wêreld bring. Jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal as Koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
Maria het vol verwondering en biddend die vervulling van die profesie beleef en toe Jesus in die Dawidstad Betlehem gebore is, het sy Hom teer versorg en in die krip neergelê.
Daardie nag het die herders wat in die veld oor hulle skape waggehou het, besoek ontvang van die engel wat aan hulle die blye tyding van groot blydskap gebring het, dat die Saligmaker wat Christus die Here is, in die Dawidstad gebore is. Saam met die engel het ‘n hemelse leërskare God verheerlik met hul jubelsang. Die herders het die Kindjie in Betlehem besoek en vir Maria en Josef vertel wat die engel alles van Hom vir hulle gesê het.
Onderwyl die Kindjie en sy ouers in Betlehem was, het wyse manne wat sterre-kundiges was, in die Ooste ‘n ster gesien wat vir hulle beteken het dat die Koning van die Jode gebore is. Hulle het na Jerusalem gekom om aan hom hulde te bewys. Die ster het hulle na Betlehem gelei, waar hulle goud, wierook en mirre as geskenke aan Hom gebring het.
Herodus wou die Kindjie doodmaak, maar die Here het Hom met sy ouers na Egipte gestuur en hulle weer teruggebring toe Herodus dood is. Hulle het in Nasaret gaan woon, waar Jesus vir Josef, wat ‘n skrynwerker was, met sy houtwerk gehelp het.
In die jaar 6 nC het Jesus saam met sy ouers die Paasfees in Jerusalem gevier. By daardie geleentheid het Hy die skrifgeleerdes en fariseërs in die tempel verstom oor die strikvrae wat Hy hulle oor die wet en die hiernamaals gevra het, want hulle kon dit nie beantwoord nie.
Toe Jesus in die jaar 26 nC deur Johannes die Doper in die rivier Jordaan gedoop is, het die hemel oopgegaan en ‘n stem het gesê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”
Daarna het die duiwel tevergeefs probeer om Jesus met sy versoekings, sy Goddelike sending te laat versaak. Hy het sy aardse bediening in 27 nC as die Seun van die mens begin en die volk onderrig oor die koninkryk van God. Met die bergpredikasie en die gelykenisse het Hy hulle geleer om God opreg lief te hê en Hom te dien. Hy het die siekes en die lammes en die kreupeles genees en dooies opgewek met die krag van die Heilige Gees, want Hy het gekom om te dien en nie om gedien te word nie.
In die oë van die volk was Hy hoogstens ‘n begaafde profeet wat ook wonderwerke kon doen, hulle siekes gesond maak en hulle kon voed as hulle honger is. By tye wou hulle Hom koning maak, want baie het Hom aangesien vir ‘n aardse messias wat hulle van die Romeinse juk gaan bevry.
Die geeslike leiers van die volk het Hom gehaat omdat Hy hulle valsheid en dwaalleringe veroordeel het. Hulle was bang dat die volk hulle as leiers sou verwerp en vir Jesus aanhang en was jaloers dat groot menigtes Hom by tye gevolg het. Daarom was hulle gedurig in konflik met Hom oor nietighede. Hulle het naarstiglik gesoek na redes om Hom aan te kla, met die doel om Hom om die lewe te bring. Hulle het nie geweet dat God hulle op die aarde as instrument gebruik het om die goddelike roeping van Jesus deur te voer nie.
Dit was die jaar 33 nC. Jesus se triomfantelike intog in Jerusalem het plaasgevind, want Hy het gekom sodat die laaste strofe van sy aardse sending volbring moes word. Hy het vir sy dissipels die heilige Nagmaal ingestel, sodat die gelowiges sy lyding en dood kan gedenk en die almagtige Vader kan dank vir die genade wat Hy in Christus aan ons bewys het.
Enkele ure later staan Hy aangekla voor die aardse regter Pilatus: “Is jy die Koning van die Jode?” “Ja, Ek is ‘n Koning wat van hierdie aarde af verhoog moet word, om my oorwinnarskroon in my hemelse koninkryk te ontvang.”
Die Romein het dit nie verstaan nie. Hy het ook nie geweet sy opskrif teen die kruis van Jesus is die waarheid nie: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”
Met sy opstanding uit die dood bevestig God dat Jesus sy Seun is wat sy opdrag tot op die einde uitgevoer het. Met sy hemelvaart het Hy aan die regterhand van die almagtige Vader gaan sit en aan ons die Heilige Gees as Trooster gestuur om ons in alle waarheid te lei..
Hy is baie meer as net die laaste Koning van die Jode, wat in die volheid van die tyd na hulle gestuur is, maar deur hulle verwerp is. Hy is die Kneg van die Here, die Regverdige, wat ter wille van ons oortredinge deurboor is, want Hy het die straf wat vir ons die vrede aanbring, op Hom geneem en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Maar Hy is die Koning van alle konings, die heilige Seun van die almagtige Vader, wat die heerlikheid van die hemel verlaat het, om deur sy aardse kruisdood die straf vir ons sonde op Hom te neem, omdat God ons só lief het dat Hy nie wil hê dat ons verlore moet gaan nie, want elkeen wat sy sonde bely en in Hom glo, sal die heerlikheid van die ewige lewe beërwe.
Ons aanbid Hom as die geseënde Messias van God wat gekom het, want Hy is ons Middelaar by God en ons Verlosser. Ons noem Hom Wonderbaar, ons Raadsman en ons Vredevors.
Ons aanbid Hom in al sy heerlikheid en majesteit en ons sien met groot verwagting uit na sy wederkoms, wat weer in die volheid van die tyd sal plaasvind, wanneer Hy ons kom haal om altyd saam met Hom in sy ewige heerlikheid te wees.
Amen
Bylae
Die konings van Israel en Juda in kronologiese volgorde van troonsbestyging
Gegewens van die Noordryk word kursief aangetoon
vC1032 Saul word Israel se eerste koning. Hy regeer tot sy dood in 1010.
1012 Dawid gesalf as koning van Israel.
972 Salomo se koningskap tot 932.
932 Rehabeam sy seun, regeer 17 jaar in Juda en begin afgode dien.
930 Jerobeam word koning oor die 10 stamme. Hy maak goue kalf-afgode.
915 Abia regeer net drie jaar in Juda. Hy veg teen Israel.
912 Asa is koning tot in 872. Hy verwyder die afgode en dien die Here.
910 Nadab word na 2 jaar vermoor deur Baesa.
908 Baesa se 24 jaar van afgodediens.
887 Ela word na 2 jaar deur Simri vermoor.
886 Simri, wat net 7 dae regeer. Vermoor deur Omri.
885 Omri dien afgode. Hy bou Samaria.
874 Agab en Isébel se 22 jaar afgodediens.
872 Josafat volg Asa op. Hy was ‘n vroom koning.
853 Joram, 8 jaar lank goddeloos
853 Ahasia, 2 jaar afgodediens
852 Joram, 12 jaar lank koning en goddeloos.
841 Ahasia, goddeloos, regeer een jaar.
840 Jehu, roei Agab se geslag uit, maak Baälprofete dood, maar dien self afgode.
835 Joas, dien God 40 jaar en dwaal af.
814 Joahas, tot 798. Goddeloos
797 Amasia, dien die Here half en half. Hy het nie die afgode vernietig nie.
797 Joas, goddeloos. Verslaan Arameërs.
788 Asarja was ‘n vroom koning, word toe hoogmoedig en word melaats.
783 Jerobeam II, beleef ‘n vreedsame regering van 41 jaar, maar is uiters goddeloos.
743 Sagaria, regeer 6 maande lank goddeloos.
742 Sallum, regeer 1 maand goddeloos.
742 Menahem, onderdruk Israel 5 jaar lank.
738 Pekahia, 2 jaar lank se afgodediens.
737 Jotam, regeer drie jaar, herstel die tempel, maar laat afgodsdiens toe.
737 Peka, begin van die wegvoering deur die Assiriërs.
734 Agas, beoefen afgodediens en offer sy eie seun.
732 Hosea regeer 9 jaar, toe weggevoer deur Assiriërs.
722 Einde van die Noordryk.
714 Hiskia, vroom koning, roei afgode uit. 15 jaar by sy lewe gevoeg.
696 Manasse, herstel afgodediens, offer sy seun en vermoor baie mense.
641 Amon, 2 jaar, goddeloos.
639 Josia, regeer 31 jaar, roei afgode uit en dien die Here. Hy sneuwel in oorlog teen Egipte.
608 Joahas, na drie maande deur farao Nego gevang en na Egipte geneem.
608 Jojakim (Eljakim) , elf jaar lank ‘n goddelose regering onder beheer van Egipte.
597 Jojagin regeer 3 maande. Word deur Nebukadnesar gevang en na Babel geneem.
597 Sedekia regeer 11 jaar. Jerusalem word verwoes. Juda word weggevoer en Sedekia sterf as balling in Babel.
Die Profete
Hulle het opgetree in die tyd van die konings en die ballingskap vC :
875 Elia profeteer tot 848 vC in die Noordryk, in die tyd van konings Agab, Ahasia en Joram.
848 Elisa volg hom op tot 797 vC tot met die regering van Joas van Israel (die Noordryk).
740 Jesaja se bediening was voor en tydens die Assiriese wegvoering en daarna tot 681 vC.
627 Jeremia profeteer tot 586 vC tydens die val van Jerusalem in die tyd van koning Sedekia.
602 Daniël is in Babel tydens Nebukadnesar, Belsasar, Darius en Kores se regerings tot 559 vC.
592 Esegiël is in Babel tot 571 vC.
‘n Paar gebeure tydens die ballingskap
vC
516 Serubbabel herbou en voltooi die tempel.
475 Ester word koningin van Persië
458 Esra word na Jerusalem gestuur om die volk die wet van die Here te leer en daarvolgens te leef.
444 Nehemia kom na Jerusalem om die muur weer te herbou. Sy begeerte was soos dié van Esra om die voortbestaan van die volk van God te bevorder, te midde van ‘n omgewing van vyande. Dit was deel van die voorbereiding vir die koms van die beloofdeMessias.
Enkele van Israel se buitelandse vyande
Die Arameërs of Siriërs van Damaskus
Benhadad was koning in Asa se tyd. Hy veg teen Agab.
Hasael met sy leerowerste Naäman, in Elisa se tyd, word drie keer deur Joas van Israel verslaan.
Resin was hulle laaste koning in 738 vC, in Agas se tyd. Hy is deur die Assiriërs verslaan. Die Assiriërs van Ninevé, ‘n wrede nasie
Salmaneser III (858-824 vC) veg by Karkar teen Israel en bondgenote. Hy verslaan Hasael van Damaskus.
Tiglat-Pileser III (745-727 vC) het Babel onderwerp. Hy was “Koning Pul.”
Salmaneser V (726-722 vC) neem Samaria in en voer Israel en koning Hosea weg na Ninevé.
Egipte
Juda was dikwels in die spervuur in die stryd tussen farao Nego en Nebukadnesar van Babel.
Die Galdeërs of Babiloniërs
Nebukadnesar II (604-562 vC) koning van Babel, neem Jerusalem in, verwoes dit en voer Juda weg na Babel, saam met koning Sedekia in 586 vC.
Die Meders
Cyaxarus (584-550 vC) sluit ‘n verbond met Nabopolassar van Babel. Hulle verower Ninevé in 612 vC en verwoes dit. Cyaxarus se dogter was met Nebukadnesar getroud. Na sy dood het die vriendskap tussen Meders en Galdeërs verflou.
Die Perse
Cyrus of Kores II (koning van Ansan) (559-529 vC) neem die heerskappy oor, verower Babel en stig die Medo-Persiese ryk. Hy vaardig in 538 vC die dekreet uit wat die Joodse ballinge laat terugkeer. Sesbassar en Serubbabel kom na Jerusalem om die tempel te herbou.
Darius I regeer van 522 tot 486 vC.
Xerxes I (Ahasveros) (485-465 vC) is die vors in Ester se geskiedenis.
Artaxerxes I Longimanus (Artasasta) regeer van 464 tot 424 vC. Hy stuur vir Esra na Jerusalem om vir die volk die wet van die Here te leer, en ‘n paar jaar later ook vir Nehemia om die muur van Jerusalem te herbou.