OUERS VIR CHRISTUS (3)

Ds. André van den Berg

Reeks by  Ouers vir Christus

Die voorbeeld wat gestel word

Ons het al gesien hoe belangrik liefde asook die regte voorbeeld in die ouerhuis is.

Na-apers

As ons ‘n eerlike voorbeeld stel, sal ons kinders eerlik wees.  As ons hulle met liefde omvou, sal hulle liefdevol wees. As ons geduldig met hulle is, sal hulle ook met ander mense geduldig wees.  As ons die lewe met ‘n lag tegemoetgaan, sal hulle ook ‘n sin vir humor hê. Entoesiastiese ouers kweek entoesiastiese kinders.

Kinders luister miskien nie altyd so goed na hulle ouers nie.  Maar weet jy wat doen hulle baie goed?  Hulle boots hulle baie goed na!  Kinders is gebore na-apers.   Hulle volg hul ouers se voorbeeld.  Daar is die bekende verhaal van ‘n man wat by ‘n krap kom en hom vra waarom hy so skeef loop, waarop die krap antwoord:“My pa loop skeef, my ma loop skeef; waarom sal ek nie ook skeef loop nie?” Ouers wat krom en skeef deur die lewe loop, se kinders loop gewoonlik dieselfde pad!

‘n Kind leer deur sy ouers dop te hou. Hy aap hulle na. Watter van jou eienskappe aap jou kind na?  Dit wat hy die meeste by jou sien.  En dit is….? Moenie ‘n kind tug as hy jou maar net na-aap nie.  Kry jou voorbeeld eerder reg!

‘n Gelowige het eenkeer gesê: My pa het my nooit vertel hoe om te lewe nie; hy het  my egter toegelaat om na hom te kyk”. Dis wat ouers moet doen!  As jy nie ‘n goeie pa of ma gehad het nie, sorg dat jou kinders ‘n goeie een het!

God verwag nie van ons ouers om volmaak te wees nie.  Al wat Hy vra, is dat ons vir ons kinders goed sal wees.  Min ouers besef dat teen die tyd wat ‘n kind ses jaar oud is, hulle alreeds meer as die helfte van sy karakter gevorm het.  Geleerdes sê dat jy ‘n kind net kan leer totdat hy ongeveer tien jaar oud is, daarna kan jy hom slegs beïnvloed.

Kinders is seker van die grootste gawes wat God aan die mens gee!

Gawes van God

Om ‘n douvars bondeltjie lewe in jou arms vas te hou, is seker een van die grootste vreugdes wat ons as mens beskore is.  Let op hoe wonderlik die Here vir so ‘n bondeltjie lewe voorsien.  Sodra hy in die wêreld kom, voorsien God dat daar ouers is wat hom sal versorg.  En dis belangrik dat ons ons kinders goed sal versorg, want van al die dinge wat ons hier op aarde bymekaar maak, kan ons net een iets met ons saam hemel toe vat: ons kinders!  Al die ander dinge sal ons moet agterlaat.

Kinders was vir ons Here Jesus ook baie belangrik.  By geleentheid het die dissipels geredekawel oor wie die grootste in die koninkryk van God was.  Toe neem Jesus ‘n kind en laat hom in die middel staan.  Ons behoort dieselfde te doen – ons kinders moet in die middel van ons  lewe staan.  As hulle vir Jesus belangrik was, behoort hulle ook vir jou belangrik te wees. Hulle is gawes van God – koester hulle dienooreenkomstig.

Het jy al ooit so daaraan gedink dat kinders in werklikheid God se besluit is dat die lewe moet aangaan?  Hulle is ons s’n om groot te maak, nie om te hou nie.  Ons kan hulle liefde, maar nie gedagtes gee nie.  Hulle het hul eie.  Ons kan hulle liggame versorg, maar nie hulle siele nie. Dit moet hulle self doen. Ons kan goeie voorbeelde stel, maar hulle nie dwing om dit na te volg nie.  Die lewe beweeg vorentoe en nie agteruit nie.

Die skrywer Charles Dickens was baie lief vir kinders en het by geleentheid gesê: “Hulle is geliefd in huise en harte, hierdie engele wat ons kinders noem. God se sonlig is in hulle hare vasgevang en in hulle oë blink daar nog iets van Sy glans. Hierdie weglopertjies uit die hemel maak my sagter en meer van ‘n man.  Ek verstaan waarom God sê dat sy koninkryk aan mense soos hulle behoort”.

Die wonder van die doop is dat God die kind in sy verbond intrek.  Doopouers weet dat hul kind deel van God se familie en in Sy sorg is. By die doopvont gee God hierdie kindjie wat die gelowige ouers aan God kom toevertrou het aan hulle terug met die opdrag: “Maak hom nou vir My groot”.

Wat sal jy doen as God jou ‘n goudstaaf sou gee met die opdrag om een sin daarop te grafeer wat op die oordeelsdag as ‘n samevatting van jou lewe gelees moet word?

Sal jy nie baie versigtig met die bewoording daarvan wees nie?  Inderdaad!  Daardie goudstaaf is jou kind!   Onthou: Ons kinders is die lewende boodskappe wat ons uitstuur na ‘n tyd wat ons self nie sal beleef nie.

In die bank – en makelaarsbedryf werk mense met geld wat ander aan hulle toevertrou is.  Hierdie amptenare moet van elke sent rekenskap kan gee en wie onverskillig daarmee werk, sal afgedank word.  Wat doen ons met ons kinders?  Hulle is eintlik God s’n wat Hy aan ons sorg toevertrou het.  Op die oordeelsdag sal ons van elkeen van hulle rekenskap voor ons hemelse Regter moet doen!

Volgende keer kyk ons hoe 'n gelukkige huisgesin lyk...